Читать книгу Christine le Roux Keur 3 - Christine le Roux - Страница 11
Hoofstuk 8
ОглавлениеDis laatmiddag en Julia stap al langs die bykans droë rivierloop op na die berg se kant toe, na die nek waar die rivier uit die berg uitkom. Dis een van haar geliefkoosde wandelinge, veral gedurende die lang, warm somerdae. Noudat dit bedags koeler is en snags al goed koud word, stap sy nog graag hier. Dit voel vir haar asof sy in ’n tonnel loop, want die rivierloop word aan albei kante omring deur digte bosse. Sy en Radar kan ure hier deurbring. Wanneer sy moeg word, sit sy op die groot klippe en staar net voor haar uit terwyl die vreedsaamheid van die natuur haar vul. Sy luister na trekkers wat in die verte dreun, sonbesies wat skree, die geskarrel van klein diertjies, die voëls in die bome, Radar wat rondsnuffel.
Volgens André is dit droog en hy hou die lug elke dag dop vir die eerste tekens van reën. Sy is nie ’n kenner nie, maar vir haar lyk dit asof dit vandag gaan reën. Bokant die berg pak die wolke al van vroegmiddag af saam, en toe sy opstaan en verder stap, sien sy dat dit dreigend lyk. Toe sy tussen die bosse uitkom en afkyk na die plaashuis, lê die rooi dak nog in ’n kol sonskyn, maar oor die berg is die lug swart en weerligstrale skiet deur die wolke, gevolg deur ’n onheilspellende gedreun. Sy steur haar nie veel daaraan nie; sy wil nie nou al huis toe gaan nie. Die laatmiddae is lank omdat André eers teen donker huis toe kom; dis haar geliefkoosde staptyd.
Radar kom onrustig nader toe nog ’n donderslag van die berg aframmel. “Toe maar,” troos sy hom, “dis ver van ons af.” Sy tel hom op en stap aan, spring van klip tot klip in die droë rivierloop. “Ek wil net tot in die nek stap, dan draai ons om.”
Sy stap na die oorkant van die rivier omdat sy daar ’n rooi plantjie sien wat sy nie ken nie, en sy hurk nog gebukkend daarby toe sy ’n ongewone geluid hoor. Sy draai om en kyk.
In die sanderige bedding kom modderige water af, kompleet asof iemand êrens ’n kraan oopgedraai het, asof die rivier ’n leisloot geword het. Radar tjank benoud en Julia klim hoër op teen die klippe, verwonderd oor die gesig voor haar. Die dreuning word harder en vir die eerste keer voel sy ook reëndruppels op haar gesig.
Sy het al dikwels gehoor of gelees van ’n rivier wat afkom, maar dis die eerste keer dat sy dit self sien. Sy vind dit hoegenaamd nie vreesaanjaend nie; dis ’n grootse gesig. Die water rol in groter wordende golwe aan. Dit vul eers die droë bedding en stoot verbasend vinnig al hoër op sodat sy verder en verder moet terugstaan. Takke en bossies word saamgesleur, die water dreun en druis en spat teen die klippe waarop sy enkele minute vantevore nog gesit het. Dit reën nou ook harder en sy is bewus van die feit dat sy nat word, maar sy gee nie om nie. André gaan bly wees, dink sy tevrede. Hy het gesê die damme is leeg; hulle pomp al maande lank uit.
Radar is glad nie gelukkig met die toedrag van sake nie. Hy tjank en lek aan haar gesig om te wys hy dink dis tyd dat hulle huis toe gaan. Dis tóé eers dat sy besef sy is aan die verkeerde kant van die rivier.
“Ons kan nie nou deurkom nie,” sê sy en vee die reën uit haar oë. “Dit was dom van my. Ons sal moet aanstap na die bruggie daar onder.”
Sy voeg die daad by die woord, maar sy kan nie ophou kyk na die dreunende water nie en sy bly langs die rivier stap. Die klippe waarop sy gewoonlik sit, is nou heeltemal bedek deur die rasende water en dit styg steeds sodat sy gedwing word om anderkant die beboste strook te loop. Dit reën nou hard en sy besef vir die eerste keer dat dit al aand is; die donkerte is nie net te wyte aan die storm nie. Gelukkig ken sy die pad en sy stap aan, alhoewel sy haar verwens dat sy nie betyds gesorg het dat sy aan die regte kant van die rivier is nie. Om nou by die bruggie te kom, is ’n ompad en sy is deurnat en koud.
Toe André by die huis kom, is hy ook nat, maar te dankbaar om om te gee. Soos altyd gaan hy eers stort en skoon aantrek voordat hy kombuis toe loop.
Dis verbasend stil, dink hy toe hy in die gang afstap. Radar was nie daar om hom te begroet nie en in die kombuis is alles stil en skoon soos Mieta dit gelaat het voordat sy huis toe is.
“Julia?” sê hy vraend en loer by die spens ook in. Sy staan hom nie gewoonlik op die stoep en inwag nie, maar sy kom altyd nader wanneer hy by die huis kom, en nadat hy gestort het, drink hulle gewoonlik iets voordat hulle aandete eet. Hy kyk by die eetkamer in, maar dis leeg en donker. Die woonkamer ook. By die klein tafeltjie is twee plekke gedek soos altyd, maar sy is nêrens te sien nie. “Julia?” roep hy harder en stap terug na haar slaapkamer.
Sy is ook nie daar nie. Hy skakel die lig aan en staan ’n oomblik lank en kyk. ’n Trui hang oor die stoel, ’n paar skoene is uitgeskop op die mat. Hy trek die deur weer toe en stap van kamer na kamer, bewus van ’n groeiende gevoel van beklemming. Nadat hy die hele huis deursoek het, stap hy uit op die stoep en om na die buitekamer, maar ook hier is alles donker en leeg. Hy sit sy hoed op en hardloop na die waenhuis. Sy het ’n swak vir die waenhuiskatte. Miskien was sy besig om hulle te voer toe die reën begin het. Die lig brand in die waenhuis en hy voel hoe verligting oor hom spoel toe hy van agter die opgestapelde sakke voer ’n geluid hoor. “Julia!” roep hy.
Maar dis Salmon, sy voorman, wat daar besig is om gereedskap te olie en weg te sit. “Dis net ek, meneer,” sê hy. “Ek wag dat die reën ophou.”
“Weet jy waar my vrou is?” vra André. Haar motor staan daar, sy kon nie gery het nie en buitendien ry sy nooit sonder om hom te sê nie.
Salmon kyk vinnig op, sien die kwelling in sy werkgewer se oë raak. “Sy’t mos gaan stap,” sê hy. “Ons het haar laatmiddag daar bo by die nek gesien.”
André maak sy oë toe. Dit voel asof ysterbande sy bors vasklem. “Die rivier kom af,” sê hy skor.
“Mevrou sou skuiling gesoek het,” sê Salmon troostend.
“Sy loop altyd in die rivierbedding.”
Salmon swyg, want hy weet dis waar. Hulle weet almal hoe lief die nuwe mevrou vir die rivierloop is.
“Dis nou so donker,” sê hy weifelend. “’n Mens sal nie weet waar om te begin soek nie.”
Hy loop saam met André na die deur en saam staan hulle en kyk na die berg, waar die wolke nou ligter is. “Die storm trek verby,” sê Salmon. “Die rivier sal vinnig afloop.”
André draai weg. “Ek gaan my baadjie aantrek.” Hy hardloop deur die stromende water oor die werf tot op die stoep en bly staan om die water uit sy oë te skud. Hy voel magteloos, vasgevang in sy eie kop asof hy nie weet wat om te doen of waar om te begin nie. Dis iets wat hy nie ken nie; hy is te alle tye ’n praktiese mens, iemand wat vinnig besluite kan neem, iemand wat weet wat die eise van ’n situasie is.
Nou voel hy asof sy bene van lood gemaak is; sy liggaam kan nie beweeg nie, al skarrel ’n duisend gedagtes deur sy kop. Hy kan nie ry nie. Die bakkie sal onmiddellik vasval in die modder en selfs in gewone omstandighede kan ’n mens nie naby die rivier ry nie. En as hy sou stap … Waar begin ’n mens? Bo in die nek? As sy deur die water meegesleur is, is sy lankal nie meer daar nie.
Maar sterker as al hierdie wanhopige gedagtes roep hy ’n kamer voor sy geestesoog, ’n losieshuiskamer met ’n leë bed, die eienares gebuk oor die bed, besig om dit skoon oor te trek.
“Waar is my ma?” vra die klein seuntjie in die deur. Hy hou sy boeksak in sy hand, sy ander hand is nog op die deurknop.
Die eienares kom nader, haar gesig besorg. Sy steek haar hand uit, wil aan hom vat, maar hy ruk weg.
“Waar is my ma?” skree hy, sy stem skril. “Sy was vanoggend nog hier.”
Sy het in die bed gelê, ja, soos die vorige week al, haar wange rooier as wat hy dit nog ooit vantevore gesien het. Soos appels, het hy gedink, rooiwangappels. Haar vel was warm en droog; toe hy haar daardie oggend gesoen het, het hy geskrik, want dit was winter; sy gesig en hande was yskoud. Die kamer was koud, dit was net sy ma wat so warm was.
“Sy’s weg,” sê die vrou vir hom. Sy vat hom vas en hy haat haar skielik. Sy was soos sy ouma, maar nou haat hy haar. Hy hoor nie wat sy sê nie, al haar stories van hoe sy ma skielik sieker geword het en die dokter … Dit vloei by hom verby; hy kyk net na die leë bed en hy skree.
“Waar is sy? Wat het julle met haar gedoen? Ek wil my ma hê!”
André sidder, hardloop die huis in, gryp sy baadjie en flitslig en hardloop in die reën in die rigting van die rivier. Die grond in die lande is so sag en deurweek dat hy tot by sy enkels insink, maar hy hardloop totdat hy by die rivier kom. Hy laat speel die flitslig oor die water. Dit dreun en druis nog steeds, maar aan die lyn van die opdrifsels kan hy sien dat die water reeds gesak het.
“Julia!” roep hy oor en oor. Die lig speel oor die oorkantste wal. Hy loop eers ’n ent na links, dan weer na regs. Dis ’n onbegonne taak. Dis te donker; een mens kan nie die hele lengte van die rivier deursoek nie. Hy sal al sy werkers moet gaan roep, nog flitse of fakkels kry. Hy draai om en begin terughardloop. Sy asem brand in sy bors, sy voete voel nou letterlik soos lood soos die modder saampak en sy gang vertraag.
Nee, maal dit deur sy kop. Asseblief, Here, nie weer nie. Moenie my weer alleen los nie. Moenie haar ook van my wegneem nie!
Hy hardloop soos hy van die oop graf af weggehardloop het. Hy onthou hoe iemand hom gejaag het, hom gevang het, hom teruggeneem het na die leë kamer en van daar af na die weeshuis. Dit was asof hy dae lank gehardloop het, asof hy gedink het as hy ver genoeg hardloop, gaan hy sy ma inhaal, sal hy weer by haar wees, sal hy haar kan terugbring na die bed waar hy elke middag langs haar gesit het, al het dit meesal gelyk asof sy hom nie eens hoor nie. Sy was ten minste daar en meteens was sy weg.
Hy het nie geglo wat hulle vir hom gesê het nie. Wat is dood? Waar is sy? Hoe kon sy net verdwyn het? Sy was nog daar toe hy skool toe geloop het en sy was weg toe hy terugkom. Hulle het vir hom probeer verduidelik. Sy is nou in die hemel. Hoe kon sy in die hemel wees as sy ook in die groot bruin kis was wat hulle in die grond laat sak het? Hoe kon hulle haar begrawe en blomme op haar pak en vir hom sê sy is nou op ’n plek waar sy nie meer siek is nie? Sy het hom alleen gelos, dis wat sy gedoen het.
Hy was heeltemal alleen tot die dag, jare later, toe die matrone hom ingeroep het en hy en vier ander seuns saam met die goedige oom met sy grys hare plaas toe is. Vir die ander vier was dit nie dieselfde nie. Hulle het gehelp op die plaas en hoofsaaklik gespeel; hy het op die stoep gestaan daardie heel eerste middag toe oom Septimus hulle daar afgelaai het en toe hy oor die vallei kyk en omdraai en die berg soos ’n massiewe omarming agter hom sien, het iets in hom weer lewendig geword. Hy het geweet hy moet hom goed gedra, hy moet hard werk, dan sal die oom hom miskien weer nooi. Die hele vakansie was hy angsbevange omdat die ander vier soveel meer uitgelate was as hy. Hulle het makliker met oom Septimus gesels, hulle het nie – soos hy – alleen weggeloop om in die vallei te gaan stap, om teen die kranse uit te klim nie. Die hele volgende kwartaal het hy in vrees geleef: sê maar hy word nooit weer genooi nie? Sê maar hy kan nooit weer in sy kransfort sit en die hele wêreld voor sy oë sien lê nie?
André strompel met die stoeptrap op en sak op die boonste trap neer, te moeg om dadelik ’n verdere plan te formuleer. Hy pluk sy modderige skoene af, vee sy nat hare uit sy oë en probeer sy asem terugkry.
Oom Septimus het hom teruggebring, elke vakansie. Soms saam met die ander seuns, soms op sy eie, maar dit was eers jare later dat hy geweet het die plaas gaan nie van hom weggeneem word nie. Waarom oom Septimus hom gekies het, sal hy nooit weet nie. Hy weet dat hy die ou man as vader aanvaar het. Dis eers in die afgelope paar weke dat dit tot hom deurgedring het dat Julia die eintlike erfenis is. Oom Septimus het Julia aan hom nagelaat, hom gedwing om haar te aanvaar omdat die ou man geweet het hy laat hom, André, weereens alleen agter.
’n Hond blaf en André ruk sy kop op. Dit reën nou baie sag; hier en daar het die wolke in so ’n mate uitmekaar gedryf dat die maan sy flou lig deursif. Hy staar in ongeloof in die pad af. Dis ’n wit figuur wat nader kom, haar dun trui en romp soos ’n tweede vel teen haar lyf gepleister, haar hare nat teen haar kop. Sy loop kaalvoet in die modderpad, in haar hand dra sy haar skoene. Dis Radar wat nader gehardloop kom en uitbundig teen André opspring. André staan op, hou aan die stoeppilaar vas om hom staande te hou en tuur weer oor die werf, maar die wolke beweeg te vinnig, die maan het weer verdwyn.
“Sjoe,” sê Julia toe sy aan die voet van die trap kom. “Nou is ek heeltemal gedaan.”
Hy sê niks nie, staan net na haar en staar. Radar hardloop van die een na die ander, besluit dan dat hy lank genoeg nat was en skud homself so deeglik dat hy omtrent die hele stoep natspat. Dan storm hy om die hoek in die rigting van die buitekamer waar sy kosbak altyd is.
André is nie eens bewus van die hond nie; hy staan net en kyk na die druipnat figuur aan die voet van die trap. Haar bene is modderig tot by haar knieë, sy is so nat dat dit lyk asof sy nie klere aanhet nie. Die dun wit romp klou aan haar skraal lyf, die nat trui aksentueer elke ronding.
“Die rivier het afgekom,” sê sy vir hom. “Dit was die wonderlikste gesig. Ek kon my nie wegskeur nie en ek vind toe te laat uit ek is aan die verkeerde kant.” Met die agterkant van haar hand vee sy oor haar voorkop. “Ek voel asof ek ’n marathon gehardloop het. Kan jy glo, ek moes al die pad tot by die brug loop om oor te kom en selfs daar moes ek ’n hele ruk wag, want die water het te hoog oor die bruggie geloop.” Sy gee ’n laggie en begin met die trap opstap. “Dit was ’n hele avontuur. Ek het enige oomblik verwag om meegesleur te word.” Sy kyk hom vir die eerste keer ondersoekend aan. “Aarde, jy is ook nat en vol modder. Is jy ook in die storm betrap?”
“Ja.”
Sy lag weer en gooi haar nat skoene op die stoep neer. “Ek is bevrore. As ek nie nou in ’n warm bad klim nie …” Sy stap verby hom. “Jy beter ook, anders gaan ons siek word. En ek is dood van die honger.”
Toe hy vyftien minute later in die kombuis kom, is sy voor die stoof besig om sop warm te maak. Sy dra ’n langbroek en ’n dik, liggeel trui met ’n los rolkraag wat haar gloeiende gesig omraam. Haar hare is nog klam, maar word vinnig droog in die warm kombuis en val die hele tyd in haar oë.
“Hallo,” sê sy toe sy hom sien. “Voel jy ook beter?”
“Ja dankie,” sê hy beleef. Hy trek die laai oop, haal die kurktrekker uit en maak ’n bottel rooiwyn oop. Hy sit haar glas langs haar neer en gaan sit by die tafel met syne.
“Jammer om te pla,” sê sy en kyk oor haar skouer na hom. “Kan jy my haarband vir my insit? My hare val aanmekaar in my oë.”
Hy staan op, tel die haarband op en stap nader. Dis nie so maklik nie, vind hy; hy doen dit aanmekaar verkeerd.
“Nee,” lag sy en gooi haar kop terug, haar een hand nog op die soplepel. “Sit dit agter my ore in en skuif dit van voor af teen my voorkop terug. Dis reg.” Sy glimlag vir hom. “Dankie.”
Sy hande bewe toe hy gaan sit. Kort daarna is die sop warm. Hy gaan haal hulle borde in die woonkamer.
“Dis warmer hier,” sê hy toe hy die borde hou sodat sy kan inskep.
“Jy’s baie stil,” sê sy toe sy hulle sopborde vir die tweede keer vol skep. “Ek dog jy gaan in die wolke wees oor die reën.”
“Ek is,” sê hy.
“Weet jy,” sê sy en leun vorentoe, haar grys oë lewendig, “dit was die wonderlikste ding om die rivier te sien afkom. Dit was amper asof iemand ’n groot kraan hoog in die berg oopgedraai het. En so skielik! Die een oomblik was dit ’n droë bedding en die volgende ’n rasende, bruin stroom wat net hoër en hoër opstoot.” Sy lag weer, vrolik oor haar avontuur. “En daar by die bruggie … Dit was klaar so donker dat ek eenvoudig nie kon oordeel hoe hoog die water oor die brug loop nie. Dis waarom ek my skoene uitgetrek het. Ek het gedink ek sal darem ’n beter vastrapplek kry met kaal voete.” Sy glimlag, haar gesig gloeiend van die warm kombuis. “Maar ek moet erken ek was nogal skrikkerig en Radar wou die piep kry. Hy kon seker aanvoel hoe bang ek was.” Sy trek die brood nader en sny nog ’n sny. “Is daar nog van die gesnyde biltong? Ek is nog honger.”
Hy haal die biltong uit die yskas en sit dit voor haar neer. Terwyl hy koppies uit die kas haal en vir hom solank koffie skink, praat hy meteens.
“My ma was siek,” sê hy met sy rug na haar. “Ek dink ek moet geweet het hoe ernstig dit was; ek wou dit net nie aanvaar nie. Ek het soos altyd skool toe geloop en toe ek terugkom, was sy weg. Die bed was leeg. Sy was dood en weg.”
Julia kyk ontsteld op, verras deur die skielike wending in die gesprek en getref deur die emosie in sy stem. “Hoe vreeslik!”
“Ons het in ’n losieshuis gewoon,” gaan hy voort. “My ma het in ’n skoenwinkel gewerk totdat sy so siek geword het. Die eienares was … Ek het altyd gedink sy is my ouma. Aan die begin het sy vir my kom kuier in die weeshuis, maar later nie meer nie. Daar was niemand nie, totdat oom Septimus ons daardie vakansie plaas toe gebring het.”
“Het jy van die plaas gehou?”
“Soos jy,” sê hy. “Ek het om my rondgekyk en gedink as hulle my hiervandaan wegneem, sal ek doodgaan. Sedert daardie kamer in die losieshuis was dit die eerste plek waar ek gevoel het ek is tuis. Dit was dadelik myne. Ek het in vrees geleef dat oom Septimus my nie weer sou kom haal nie; dat hy die ander kinders ’n kans sou gee.”
“Maar hy het,” sê sy. “Het hy nie?”
Hy knik en kom sit weer oorkant haar, sy kop geboë. “Na die eerste jaar het hy self geskryf, self vir my gesê wanneer hy my sou kom oplaai die dag wanneer die skole sluit. Van toe af kon ek ontspan. Daardie eerste jaar het ek al om die matrone gedraai – hoe nader die vakansie gekom het, hoe dringender. Elke dag het ek gedink: vandag sal die berig kom, vandág sal ek ingeroep word, sal hulle vir my sê of hy my gaan kom haal. Terug op die plaas het ek vergeet van die weeshuis, het ek geglo die vakansie sal vir altyd aanhou.”
“Haai, André,” sê sy. “Ek kan my nie indink hoe dit moet gewees het nie. My lewe was so anders, so geborge. Het jy darem geweet … Ek bedoel, het oom Septimus vir jou gesê die plaas gaan eendag joune wees?”
Hy skud sy kop. “Nie in soveel woorde nie, nee, maar hy het my altyd verseker hy sal vir my sorg.”
Sy stoot haar bord eenkant toe. “Ek is vreeslik bly ek het met jou getrou,” sê sy opreg en skink vir haar ook koffie.
Hy kyk vinnig op, sy oë donker en onpeilbaar. “Waarom sê jy dit?”
“Wel,” sê sy effens ongemaklik, “ek het jou van geen kant af geken nie. Ek het nie al hierdie goed geweet nie, wie jy is en hoe jy grootgeword het en hoe belangrik die plaas vir jou is nie. As ek geweier het om met jou te trou, het jy die plaas verloor.”
“Ek weet.”
“Vir my is die plaas ’n bonus,” gaan sy voort. “’n Heerlike ekstra. As ek dit nooit gesien het nie, sou ek dit ook nie gemis het nie.”
Sy verskuif effens op haar stoel en lig haar voet op. By die mooi langbroek en trui dra sy haar pienk pantoffels. Sy trek die een uit en bestudeer haar voetsool. “Ek dóg dit brand,” sê sy en hou haar kaal voet uit na hom. “Kyk die sny. Ek moes op takke en goed getrap het. Dit was ook so donker.”
Hy staan op en hurk voor haar, die warm voet in sy handpalm. “H’m,” sê hy. “Ek het salf.”
Sy bly daar sit totdat hy terugkom. Sy weet die snytjies is nie ernstig nie, maar sy vind dit onverklaarbaar heerlik wanneer hy haar voet so in sy handpalm hou. Hy smeer die salf saggies aan die stukkende plekke terwyl sy sit en afkyk op sy geboë donker kop.
“Dit gaan alles afsmeer aan my pantoffel,” sê sy.
“Nee, nie as ek dit verbind nie.” Hy haal ’n rol verbandgaas uit die trommeltjie wat hy gebring het en draai dit om haar voet en enkel.
Sy is diep getref deur sy besorgdheid, maar probeer dit wegsteek. “Dit lyk nou veel ernstiger as wat dit is,” sê sy lig, “maar baie dankie. Jy is bedrewe.”
“Ek het ’n kursus in noodhulp gevolg,” sê hy en pak alles weer mooi weg voordat hy op die stoel gaan sit.
Sy staan stywerig op en begin hulle vuil borde bymekaarmaak. “Waar was jy toe die storm losgebreek het?” vra sy. “Jy was omtrent so vol soos modder soos ek.”
“Ek was nie in die storm gevang nie. Ek het by die huis gekom en jy was nie hier nie. Salmon het gesê hy het jou vroeër bo by die nek gesien.”
Sy kyk ontsteld op toe hy nie verder praat nie. “Jy het tog nie gedink ek … Ek bedoel, jy was tog nie bekommerd dat ek …?”
“Jy ken nie die rivier nie,” sê hy toonloos.
“Ek weet, maar ek kon dit darem hoor. Die vreemde dreuning.” Sy kyk hom gekwel aan. “Het jy my gaan soek? Ek hoop tog nie so nie.”
“Ek het probeer.”
“Probeer? Wat probeer?”
“Om jou te soek, maar ek kon nie. Ek was skielik … Alles het skielik teruggekom. Al die herinneringe wat ek …” Hy kyk nie na haar nie. “Hoe dit was toe ek van die skool af teruggekom het en sy net weg was. Toe het ek die flits gevat en rivier toe gehardloop, maar dit was ’n onbegonne taak. Te donker. Ek het nie geweet waar om te begin nie.”
“Ag, André.” Impulsief leun sy vorentoe, tel sy hand op en druk dit ’n oomblik lank teen haar wang. “Ek is jammer. Ek het nooit gedink jy sal bekommerd wees nie. Jy weet mos ek loop altyd rond, maar ek ken al my pad. Moenie jou oor my kwel nie. Belowe my jy sal nie. Ek is soos die spreekwoordelike kat: ek kom altyd terug.” Sy besluit dis nie nou die aangewese oomblik om hom daarop te wys dat sy oor enkele maande wel permanent weggaan en dat hy hierdie ooreenkoms in gedagte moet hou nie. “Miskien bietjie nat en verskeur.” Sy wys na haar voet en glimlag. “Met ’n paar krapmerke by, maar ek sal nie onnosel goed aanvang nie. Vertrou my.”
Hy staan vinnig op. “Ek gaan maar toesluit en slaap. Sal jy vir Radar versorg?”
Sy knik en bly lank langs die stoof staan nadat hy uit is, haar gevoelens te deurmekaar om enige sin te maak.