Читать книгу Christine le Roux Keur 3 - Christine le Roux - Страница 9
Hoofstuk 6
ОглавлениеJulia gaan vir die eerste keer saam met André kerk toe en alhoewel dit onjuis sou wees om te sê haar verskyning aan sy sy veroorsaak ’n beroering, kan sy nie verhelp om te voel hoe mense haar bekyk nie. Gelukkig het hulle laat gekom sodat daar nie tyd was om voor die diens met mense te praat nie, en sy het ’n uur om haar voor te berei. Dis die eerste keer in ’n lang ruk dat sy weer kerk toe gaan en sy verwelkom die bekende gevoel van rustigheid en vrede. Miskien verbeel sy haar, maar dit het gelyk asof die predikant in haar rigting glimlag, ’n warm, verwelkomende glimlag, vaderlik en vol aanvaarding.
Sy vind dit ook uitsonderlik gerusstellend om langs André te sit, sy mou teen haar kaal arm, hulle hande wat die gesangeboekie saam vashou. Dit laat haar gedagtes afdwaal, sy probeer haar emosies ontleed. Sy was onder die indruk dat haar ideaal is om aan niemand te behoort nie. Sy hou nie van die woord behoort nie; sy is niemand se eiendom nie en sal dit ook nooit weer wees nie. Geen verhouding waarin die een aan die ander behoort, kan aanvaarbaar of gesond wees nie. Waarom voel sy dan so geborge aan André se sy?
Wees goed vir mekaar, het haar ouers gesê. Sy troos haar met hierdie woorde. Dit is al wat dit is. André is goed vir haar en sy kan nie stry dat dit iets is wat sy waardeer nie. Hy het Radar vir haar gegee toe haar hart stukkend was oor Plato. Die een kan nie die ander vervang nie, maar die nuwe hondjie hou haar so besig, dring so aan op al haar aandag en liefde, dat sy nie tyd het om langer oor Plato te treur nie.
Soms wonder sy met ’n beklemde hart wat oor ’n jaar gaan gebeur. Sy kan nooit vir Radar terugneem Pretoria toe nie en wat doen sy dan sonder hom? Maar sy troos haar vinnig: sy sal nog gereeld plaas toe kom.
Na kerk staan hulle buite rond en sy word aan verskeie mense voorgestel; daar is te veel name om te onthou.
“Ek voel asof ek onder ’n vergrootglas was,” sê sy vir André toe hulle terugry plaas toe. “Dink jy hulle keur my goed?”
“Jy lyk baie mooi,” sê hy.
“Dis nie waarvan ek praat nie,” sê sy ergerlik. “Maar dankie. Hulle het my nie deurgekyk om te sien of ek mooi genoeg is nie, hulle wou sien of ek goed genoeg is vir jou.”
“Dink jy so?” vra hy geamuseerd. “En wat, na jou mening, is goed genoeg vir my?”
“Ek weet nie.” Sy swyg ’n minuut of twee. “Was Wilma daar?”
“Nee.”
“Kom sy na die braaivleis toe?” vra sy nuuskierig.
“Ja. Sy bring iemand saam.”
“O.” Sy herkou hierdie inligting. “En jy gee nie om nie?”
“Dit sou onregverdig wees,” sê hy redelik, “gesien my omstandighede.
“Watse omstandighede?”
“Jy,” sê hy eenvoudig. “Ek is nou getroud.”
Sy maak haar handsak oop en haal haar sonbril uit. Die Februarie hitte is versengend. Sy het nie geweet dit kan so warm word nie.
“Hoe voel jy daaroor?” vra sy neutraal. “Na ’n maand.”
“Waaroor – Wilma, of die feit dat ons getroud is?”
“Wel, eintlik albei, maar meer in die besonder oor die getroude lewe.”
“Dis minder gekompliseerd as wat ek verwag het.”
“Dis waar,” sê sy vertroulik, asof hulle iets bespreek wat hulle nie eintlik persoonlik raak nie. “Ek het gedink dit gaan ’n meer gespanne situasie wees en dit is nie.”
“Vind jy dit ook?”
“O ja,” sê sy eerlik. “Ek het verwag dat ek op my tande sal moet kners, dat dit ’n geval gaan wees van merk elke dag af op die kalender en hoop die jaar gaan gou verby.”
“Werklik? Het ek so ’n onplesierige indruk geskep?”
“Nee, nee,” verseker sy hom. “Dit het niks met jou te make nie. Dis net dat ek nie saam met iemand wou bly nie. Die blote gedagte om weer saam met ’n man …” Sy bly vinnig stil, kyk deur die syvenstertjie.
“Het jy dit al vantevore gedoen?”
“Ja,” sê sy koud. “En ek wil nie daaroor praat nie.”
Hy dring nie aan nie.
Hy dring nooit aan nie, dink sy in die volgende paar dae terwyl sy voorberei vir die braaivleis. Alles wat sy doen, aanvaar hy. Hy dwing nooit sy wense op haar af nie. Vir haar is dit ’n unieke ervaring omdat Wilhelm presies die teenoorgestelde was. Elke cliché oor die manlike geslag was op hom van toepassing: hoof van die huis, die een wat die besluite neem, die een wat die septer swaai, te alle tye sterk en vol bravade. Sy, wat hom beter geken het, het geweet wanneer hulle alleen was, was hy anders; die Tarzan-rol was uitsluitlik vir buitestanders. Ten spyte van die oordrewe manlikheid het hy nie veel belangstelling getoon in haar as vrou nie. Sy kon dit nie verstaan nie, sy het geglo daar is iets met haar verkeerd. Hy het haar nie begeerlik gevind nie; dit was sy wat tekortgeskiet het. Dit het die skok op die ou end net groter gemaak, haar vernedering omgesit in haat en wraak.
Sy dwing haar gedagtes in ’n ander rigting. Op hierdie vreedsame plaas mag hy nooit binnedring nie.
Die dag van die braaivleis is dit so warm dat sy dit moeilik vind om tafels en stoele op die grasperk rond te dra. Sy wil liewer in die huis bly waar dit koeler is. Gelukkig begin dit afkoel teen die tyd dat die mense aankom en haar kop draai binne minute weer van al die name en vreemde gesigte. Sekere gesigte herken sy van die kerk af, maar oor die algemeen is dit net ’n warreling van laggende mense en opmerkings oor die hitte. Sy is half senuagtig en sy het van Wilma vergeet, totdat André na haar toe kom met ’n meisie aan sy sy.
“Wilma,” sê hy, “dit is Julia.”
Julia skud haar hand en glimlag terwyl sy die meisie bestudeer. Sy is kort en effens mollig, maar mooi. Haar ligbruin hare is kort en krullerig en sy het ’n besonder ligte vel en blou oë. Dis moeilik om te sien wat sy dink. André los haar by Julia omdat hy by die vuur benodig word en die twee meisies staan na mekaar en kyk.
“André het my van jou vertel,” sê Julia vriendelik, al voel sy vreeslik ongemaklik.
“Dan was jy in ’n beter posisie as ek,” sê Wilma. “Ons het niks van jou geweet nie.”
“Nee.” Julia gee ’n laggie wat in haar eie ore kunsmatig klink. “Ons het nogal vinnig besluit.”
“Ken julle mekaar al lank?” vra Wilma. Sy is nie onvriendelik nie, maar haar stem is afsydig.
“Oom Septimus was my peetpa. Hy en my ouers kuier al die jare oor en weer.” Sy weet dis nie ’n antwoord nie, maar dis al wat sy kan dink om te sê.
Wilma kyk na die mense wat op die grasperk staan of by die tafeltjies gaan sit. “Dit het al ’n tradisie geword,” merk sy op, “dié braaivleis op André se verjaardag.”
Julia beteuel haar emosies en snak nie hardop na asem nie, maar haar kop draai. Sy het gesien die meeste mense het geskenke gebring en sy het naïef genoeg gedink dit is geskenke vir hulle as gasheer en gasvrou, of dan trougeskenke. Sy kners op haar tande van frustrasie en woede teenoor haarself. Sy het die vorms by die landdroskantoor ingevul, sy het André se geboortedatum ingevul, hoe kon sy daarvan vergeet het?
“Ja,” sê sy vals, “en vanjaar dien dit ’n dubbele doel.”
“Hoe so?” vra Wilma.
“Dis ook ’n geleentheid vir my om almal te ontmoet.”
“Natuurlik. Jy is mos nie van hierdie omgewing nie.”
Julia kyk vinnig na haar. “Nee, ek kom van Pretoria af.”
Wilma wys in die rigting van die vallei wat nou in donkerte voor hulle lê. “Ek het hier op ’n plaas grootgeword. Ek hou nou skool op die dorp, maar bly nog steeds by my ouers.” Sy glimlag lieftallig vir Julia. “As die plaaslewe eers in jou bloed is, kry jy dit nie sommer uit nie. Ek dink ek sal doodgaan as ek ooit hier moet weggaan. In die stad sal ek nooit aard nie.”
Die woorde is baie onskuldig, maar Julia weet wat die meisie vir haar sê. Sy wat Julia is, pas nie hier in nie; Wilma wel. Stadsmeisies weet nie hoe dit is om hier te woon nie en behoort ook nie te probeer indring nie.
“Ouderus was nog altyd vir my ’n spesiale plek,” antwoord Julia ewe vriendelik. “Vandat ek klein was. Ek herontdek dit nou en dis vir my ’n groot vreugde.”
“Wat het jy in die stad gedoen?” vra Wilma.
“Ek het my eie tuindiensonderneming.” Sy vertel wat dit alles behels en hoe lief sy vir plante is.
Wilma kyk krities na die blombeddings. “Hoekom maak jy dan nie hier ook tuin nie?”
“Dis te laat in die seisoen,” sê Julia kortaf. “Dis te warm. Ek beplan groot veranderings vir die lente.”
“O,” sê Wilma en haal haar skouers op. “Ek is nie eintlik ’n tuinier nie, maar ek het altyd vir André gesê hy behoort iets te doen, dit lyk treurig. Elke keer wanneer ek hier gekom het, het dit my opgeval.”
Julia wonder waarom sy ooit jammer gevoel het vir Wilma.
“Wel,” sê sy hartlik, “jy hoef jou nie langer daaroor te kwel nie. Soos ek gesê het, ek het groot planne vir die lente.”
Wilma draai effens om en kyk na die huis. “Het jy die huis ook verander? Ek sou dit graag wou sien.”
“Nee. Oom Septimus het dit so deeglik gemoderniseer dat daar geen verbetering nodig is nie.” Haar stem is nou koel.
Wilma lag gemoedelik, asof sy en Julia iets deel wat die res van die mense nie weet nie. “Ek vra maar, want André … wel, jy weet hoe hy is.”
“Wat bedoel jy?”
“Hy kom mos nie so ver om ’n ding te doen nie, al val die dak op hom in.” Sy lag weer asof sy van ’n kind se streke vertel. “Hy sal net ’n stuk sink oor sy bed sit en gaan slaap.”
“Dink jy so?” vra Julia, en sy probeer nie eens meer vriendelik klink nie.
“As ’n mens hom nie dwing om ’n ding te doen nie, sal hy nooit so ver kom nie,” sê Wilma. “Maar nou ja, jy is kennelik ’n vasberade soort mens. jy het gekry wat jy wou gehad het.”
Julia sien dat André oor die koppe van die mense na hulle kyk. Wat hy dink, weet sy nie, sy gesig wys niks nie, maar sy kyk af na Wilma en glimlag.
“Jy sal my moet verskoon. André het my nodig by die vuur. Miskien is die vleis reg; ek kan seker die ander kos nader bring.”
“Het jy hulp nodig?” vra Wilma.
“Nee dankie, alles is onder beheer.”
Julia swaai weg en stap doelgerig na André. “Is die vleis reg?” vra sy stroef.
Hy kyk vinnig na haar. “Jy klink kwaad.”
“Ek is, maar dis nie nou ter sake nie. Sal ek die ander kos uitdra?”
Toe almal met gelaaide borde kos na sitplek soek, tik sy teen haar glas, laat die rumoer effens bedaar en lig haar glas terwyl sy sorg dat sy langs André staan.
“Mag ek vra dat u ’n heildronk drink op André?” roep sy bo die stemme uit.
Almal lig hul glase. “Op André!” roep hulle. “Op die jonggetroudes! Op André en Julia!”
Sy draai na hom, tik haar glas liggies teen syne en neem ’n slukkie. ’n Lang oomblik kyk hulle na mekaar. Haar oë skitter met ’n vreemde lig, haar wange gloei. Vir hom lyk sy op daardie oomblik na ’n eksotiese blom in haar kanariegeel rok en met haar glansende, donker hare.
Toe sy later, nadat almal vertrek het, haar skoene uitskop en kaalvoet heen en weer loop om glase en borde bymekaar te maak, kan hy sien sy is steeds kwaad.
“Wat makeer?” vra hy. “Ek het gedink dit was ’n groot sukses.”
“Hoekom het jy nie vir my gesê dis jou verjaardag nie?” vra sy ontstoke.
“Dis mos nie belangrik nie.”
“Dit is! Almal het geweet, behalwe ek.”
“Ek is jammer.” Hy kyk haar ondersoekend aan. “Kom,” stel hy voor. “Jy het hard genoeg gewerk vanaand. Mieta-hulle sal die res doen. Kom ons gaan sit en drink ’n rustige koppie tee.”
In die stoepkamer val sy op die bank neer, kruis haar bene onder haar en sit grimmig voor haar en uitkyk.
“Was jy lief vir Wilma?” vra sy toe hulle elkeen met ’n koppie tee sit. “Regtig lief? So lief dat jy nie sonder haar kon leef nie?”
“Nee.” Hy haal sy sigarette uit en hou die pakkie vir haar. “Is dit sy wat jou so kwaad gemaak het?”
“Ja,” sê sy kortaf en leun vooroor sodat hy die sigaret vir haar kan aansteek.
Noudat die aand verby is, besef sy eers hoe gespanne sy daaroor was. Sy besef ook nou eers hoe moeg sy is en dat sy sedert die oggend vroeg nie eintlik veel gesit het nie. Sy voel letterlik hoe haar stywe skouers en nek begin ontspan.
“Dis lekker om te sit,” sê sy en leun terug teen die bank, haar oë toe. “Ek was so bang dis nie ’n sukses nie, of dat die mense nie van my gaan hou nie.”
“Natuurlik sal hulle van jou hou.”
“Nie almal nie,” sê sy luiweg, haar oë nog toe. “Nie Wilma nie.” Sy maak haar oë oop en kyk na hom met meer drif. “Is dit nie vreemd nie? Sy was so besitlik oor jou, asof net sy weet watter soort mens jy regtig is. Sy het in soveel woorde gesê dat ons net getroud is omdat ek so vasberade is.”
“Jy ís vasberade,” sê hy.
“Maar dis nie waarom ons getroud is nie!”
“Nee,” erken hy. “Dit is nie. Maar waarom sê jy dit is vreemd?”
“Nie wat sy sê nie,” sê sy met kwalik bedekte afkeer. “Ek vind my reaksie op haar vreemd. Ek het nog altyd vir haar jammer gevoel, maar toe sy begin praat, was dit …” Sy haal haar skouers op. “Ek wou haar oë uitkrap. Dis eintlik belaglik. Sy het meer reg as ek om besitlik te wees oor jou.”
Hy glimlag, ’n warm glimlag wat tot by sy oë strek. “Genade,” sê hy, “jy laat my voel soos ’n opperhoof wie se vroue oor hom baklei.”
“Ons het nié baklei nie,” sê sy uit die hoogte. Sy leun vorentoe en skink nog tee in. “Was jy van plan om met haar te trou?”
Hy lyk ongemaklik. “Ek weet nie. Ek het jou al vertel dat ons eintlik net goeie vriende is.”
Sy glimlag ondeund. “Ek weet ek vra persoonlike vrae, maar as jou vrou het ek seker die reg. Jy dink dus nie jy gaan dadelik met haar trou wanneer ek weg is nie?”
Hy frons. “Dis nie die soort vraag wat ’n vrou vir haar man behoort te vra nie.”
“Ek weet,” erken sy. “Maar moenie.”
“Moenie wat nie?”
“Met haar trou nie.”
“Ek kan nie; ek is met jou getroud.”
“Na die tyd,” sê sy ongeduldig. “Wanneer ek wég is. Vólgende jaar.”
“Hoekom nie?” vra hy, sy gesig weer uitdrukkingloos.
“Ek hou nie van haar nie. Sy is nie … nie die regte vrou vir jou nie. Ek sal nie daarvan hou nie.”
“Hierdie gesprek word vreemder en vreemder.” merk hy op. “Jy wil dus nommer twee goedkeur? As daar ’n nommer twee is.”
“Ja.”
“Waarom?”
“Sommer,” sê sy koppig. “Ek sê jou mos ek het ’n oerreaksie. Ek kan dit nie verklaar nie. Ek weet net sy is nie die regte vrou nie.”
“Ná jou,” dink hy hardop, “gaan niemand die regte een wees nie.”
“Ekskuus?” vra sy. “Wat het jy gesê?”
“Niks nie.”
Sy vou haar bene reguit en gaap. “My skouers voel stokstyf. Ek dink ek was banger vir vanaand as wat ek besef het.” Sy sit en afkyk na haar tone, kyk dan skugter op. “Geluk met jou verjaardag, in elk geval. Ek is baie jammer ek het nie onthou nie.” Sy lag. “Ek het nie eintlik die reg om so naar te wees oor jou Wilma nie; sy het ten minste onthou.” Sy wikkel haar skouers.
“Kom sit hier,” sê hy en wys na ’n regop stoel. “Ek sal jou skouers masseer.”
Sy gaan sit en maak haar oë toe, haar kop vorentoe gebuig. Sy sterk vingers knie en gryp haar skouers en nek. Hy doen dit so bedrewe dat sy letterlik voel hoe die spiere ontspan, warm en sag word.
“H’m,” sug sy behaaglik. “Waar het jy geleer om dit te doen?”
“Dis die eerste keer dat ek dit probeer.”
Hy kyk af op haar wit nek, ontbloot omdat die hare vorentoe val, en hy onderdruk die begeerte om met sy hand daaroor te streel.
“Sê my,” sê sy toe hy klaar is en sy weer regop sit en haar nek en skouers ontspanne beweeg. Sy het die band van haar hare afgehaal en skud haar hare uit haar oë. “Weet jy iets van jou ouers? Wie hulle was, wat met hulle gebeur het?”
“Ek kan my ma onthou,” sê hy. Hy steek weer ’n sigaret aan en gaan staan voor die venster, sy rug na haar gekeer. “Nie veel nie, ’n teenwoordigheid, ’n reuk, ’n aanraking, hoe sy gelag het, hoe ek gevoel het wanneer ek by haar was.”
“Is sy dood?” vra sy sag.
“Ja.”
“En jou pa?”
Hy beweeg sy skouers. “Sy was nie getroud nie. Ek weet nie wie hy was nie.”
Sy staan vinnig op, tel haar skoene en die haarband op. “Jy maak dit regtig nie maklik vir ’n mens nie.”
Hy draai om, kyk haar onbegrypend aan. “Wat bedoel jy?”
“Ek hou nie van mans nie,” sê sy geselserig. “Jy weet dit. En ek wíl nie van hulle hou of veral vir hulle jammer voel nie.”
“Ek sou dit haat as jy vir my jammer voel.”
Sy kyk hom lank aan voordat sy na die deur stap. “Jy is reg. Dit sou ’n belediging wees. Goeienag.”