Читать книгу Christine le Roux Keur 3 - Christine le Roux - Страница 12

Hoofstuk 9

Оглавление

Julia ry ingedagte dorp toe. Sedert die storm twee weke gelede het dit nog nie weer gereën nie, maar dis koud en bewolk. Sy moet kruideniersware gaan koop en voel eintlik sommer lus om op die dorp rond te loop. André was nie by die huis toe sy gery het nie, maar sy het ’n briefie op sy lessenaar gelos en vir Mieta gevra om hom te sê waarheen sy is.

Die afgelope twee weke het sy baie gedink en die belangrikste gevolgtrekking waartoe sy gekom het, is dat André glad nie soos Wilhelm is nie. Sy besef dit is byna vanselfsprekend – geen twee mense is dieselfde nie – maar dis tog vir haar ’n deurbraak. Sy kan André nie behandel asof hy Wilhelm is nie. Hy is in der waarheid presies die teenoorgestelde.

Wilhelm het nog altyd gekry wat hy wou hê. Hy was ’n enigste kind, soos sy, en sy ouers het hom baie bederf. Waarom hy hom dus voorgedoen het as ’n onseker mens wat haar liefde en ondersteuning nodig gehad het, sal sy nooit weet nie. Dit was alles doelbewus sodat hy sy sin kon kry. André, aan die ander kant, is te alle tye onselfsugtig; hy vereis niks van haar nie, behalwe dat sy blykbaar nie sommer moet verdwyn nie. Noudat sy weet hoe traumaties sy kinderdae was, is dit die minste wat sy kan doen.

Hy is baie stil sedert die aand van die storm. Volgens hom het hy baie papierwerk om te doen en saans sit hy agter sy lessenaar en werk, eerder as om by haar te sit. Sy vermoed dat hy ook skaam voel oor alles wat hy daardie aand gesê het en sy laat hom dus in vrede.

Op die dorp gekom, gaan sy eers na die supermark toe en loop daarna by die winkels rond. In ’n winkelvenster sien sy ’n pragtige geruite wolbaadjie en gaan in om dit aan te pas.

Sy koop dit en pas sommer nog klere aan sodat sy uiteindelik uitstap met ’n hele klomp pakkies en ’n gevoel van tevredenheid. Sy was nog nooit iemand wat baie winkels toe gegaan het nie, miskien ook weens Wilhelm se voorskrifte. Om klere te koop is ’n mors van geld, het hy haar verseker. Die geld moes gespaar word vir hulle eie huis. Sy het gedink dat dié projek die moeite werd is en het elke sent gespaar en baie geld aan die huis bestee nadat hulle dit gekoop het. Dit was eers na die tyd dat sy besef het hoe goed Wilhelm aantrek, dat hy hom nooit te kort sou doen nie. Dit was sy wat die opofferinge moes maak, nie hy nie.

Sy verwerp hierdie gedagtes. Sy is dors en stap na die teekamer waar sy altyd tee drink, maar toe sy die deur oopstoot, bly sy staan en tree dan vinnig terug. By ’n tafeltjie, ernstig aan die gesels, sit Wilma en André. Sy druk die deur toe en loop vinnig weg, kortasem van skok. Daar is ’n ander kafee op die hoek, nie so gesellig nie, en sy loop hierheen, gaan sit moedeloos by ’n tafeltjie en gooi haar pakkies op die stoel langs haar neer.

“Koffie, asseblief,” sê sy vir die kelner. Sy vou haar hande op die tafelblad en is verbaas om te sien dat hulle bewe. Sy het geen reg om so te voel nie, maar daar is ’n kol op haar maag. Is dit waar hulle mekaar ontmoet?

Toe die koffie kom, drink sy so vinnig dat die eerste mond vol haar lippe brand. Haar opgewondenheid is gedemp; sy wens sy het liewer by die huis gebly. Nee, maan sy haarself tot kalmte, sy mag nie so reageer nie. Wilma is sy vriendin; hulle het ’n verstandhouding gehad, hoe informeel ook al, totdat sy wat Julia is, op die toneel verskyn het. Wanneer sy vertrek het, sal hulle hulle verhouding voortsit. Maar sy voel nogtans siek en sit in die niet en staar.

Dis vreemd, moet sy erken. Sy het nie so gevoel toe sy Wilhelm en sy meisie in haar woonkamer sien sit het nie. Toe was sy kwaad, nou is sy teleurgesteld.

André sit oorkant Wilma en luister na haar gebabbel. Sy vertel hom van haar leerlinge, ’n lang en nie baie interessante storie nie. Hy was by die koöperasie en die bank en het by die teekamer ingeloop om gou iets te drink. Sy was reeds daar en hy het by haar gaan sit omdat hy nie eintlik ’n keuse gehad het nie.

Terwyl sy praat, bekyk hy haar. Haar blou oë blink, haar gesig en hande beweeg voortdurend terwyl sy praat. Sy skud haar kop, lag, haar krulhare wip heen en weer.

Julia is altyd stil, dink hy afgetrokke. Dis net haar grys oë wat alles wys. Haar bewegings is ekonomies, sy waai nie haar hande en lyf rond nie. Hy hou daarvan om na haar te kyk wanneer sy met iemand anders praat of sommer net na die televisie sit en kyk. Die twee streng lyne langs haar mond het bykans heeltemal verdwyn. Haar gesig het ontspan sedert sy op die plaas gekom het. Sy glimlag nou maklik, lag meer ontspanne.

“Jy luister nie na my nie,” sê Wilma beskuldigend.

“Jammer,” sê hy, “ek het iets onthou wat Julia …”

Wilma se gesig verstrak; sy trek haar mond op ’n plooi. “Hoe gaan dit met haar?”

“Goed, dankie.”

Wilma lag goedig. “Foei tog, sy probeer so hard om ’n goeie boervrou te wees.”

“Wat bedoel jy?” vra hy, sy stem merkbaar koeler.

“Die koeksisters wat sy vir die basaar gemaak het. Ek het haar gebel en gevra of sy wil help.”

“Wat was fout met die koeksisters?”

“Pure kluitjie,” lag sy vrolik. “Ek blameer haar nie; ek het self gesukkel toe ek ’n kind was en my ma my geleer het.”

Hy lewer geen kommentaar nie, lig net sy teekoppie en drink klaar. Dis nie lekker nie; die tee smaak vrank. Julia is die enigste mens wat regtig lekker tee kan maak – warm genoeg, nie te sterk of te flou nie.

“Gelukkig het ek eers een geproe,” gaan Wilma onbekommerd voort. “Ek het dit toe maar teruggehou. Haar reputasie is veilig.”

Sy wenkbroue skiet op. “Haar reputasie?”

“Jy weet hoe is mense,” sê sy goedig. “As hulle haar koeksisters gekoop het en uitgevind het …”

Hy kyk na sy horlosie, tel die rekening op en skuif sy stoel agteruit. “Gelukkig is Julia nie die soort mens wie se reputasie afhang van iets so belaglik soos soetgoed nie,” sê hy kalm. “Sal jy my verskoon? Ek het nog dinge om te doen. Dankie vir die geselskap.”

Sy staan ook op, haar gesig verkreukel, haar onderlip uitgestoot. “Julle moet kom kuier,” sê sy bot.

“Ons sal.” Hy betaal, stoot die deur vir haar oop en knik dan. “Totsiens.”

Sonder om te wag, stryk hy aan, maar toe hy verby die kafee op die hoek loop, vat hy aan sy sak en stap binne om sigarette te koop. Terwyl hy wag, kyk hy onbelangstellend rond en sien vir Julia. Sy sit met haar rug na hom en hy stap verras nader.

“Julia!” sê hy. “Jy het nie gesê jy kom vanmiddag dorp toe nie.”

Sy ruk om, haar oë donker en smeulend. “Jy was nie daar nie,” sê sy koud. “Ek het vir Mieta gesê.”

Hy gaan sit oorkant haar nadat hy die pakkies op ’n ander stoel gesit het. “Wat makeer? Kon jy nie kry wat jy gesoek het nie?”

“Ek het meer gekry as waarna ek gesoek het,” sê sy.

Hy kyk haar vraend aan, maar sy sit net somber voor haar en kyk.

“Wil jy nog koffie hê?” vra hy dan.

“Ja.”

Hy lig sy hand en roep die kelner nader. “Ek het pas tee gedrink, maar ek sal saam met jou koffie drink.”

“Ek weet,” sê sy bitter. Voordat hy iets kan sê, gaan sy voort: “Ek het aan Wilhelm gesit en dink. Hy was ryk, weet jy. Hy het altyd genoeg geld gehad. Daarvoor het sy ouers gesorg. Om my te kul was net ’n speletjie. Ek moes al die opofferinge maak, ek was die een wat suinig moes leef, elke sent moes spaar. Dis waarom ek nooit klere gekoop het nie.”

Hy kyk verward van haar na die hoop pakkies. “Het jy nie genoeg geld gehad om te koop wat jy wou nie? Dis mos nie nodig nie. Daar is genoeg geld.”

“Ek praat nie van ons nie.” Sy kyk hoe die kelner die koffie voor hulle neersit. “Vergeet daarvan, dis nie belangrik nie. Hoe gaan dit met Wilma?”

Hy skrik effens. “Wilma?”

“Jy en sy het pas klaar tee gedrink,” sê sy geduldig. “Ek het julle gesien.”

“Hoekom het jy nie ingekom nie?” vra hy verbaas.

“Ek wou nie inbreuk maak op julle samesyn nie.”

“Julia,” sê hy berispend. “Sy is ewe veel jou vriendin.”

“Nee, ek dink nie so nie.”

“Toe kom sit jy hier en dink bitter gedagtes oor jou Wilhelm?” vra hy.

“Hy is nie my Wilhelm nie!” Haar oë flits.

“Ek het geen benul wie hy is nie,” sê hy eerlik. “Jy wou nog nooit vir my sê nie.”

“Hy is die man met wie ek sou trou, die man saam met wie ek ’n huis gekoop het, die man wat toe die hele tyd agter my rug nie net al my aardse besittings doelbewus ingepalm het nie, maar dit boonop gedoen het vir hom en die eintlike liefde in sy lewe.”

“Wie was sy?” vra hy.

“Ek weet nie. Ek het nooit uitgevind nie – ook nie belanggestel nie. So ’n Wilma-meisietjie, sag en mollig.” Sy suig haar asem in. “Ek is jammer. Dit was ongevraag.”

Hy laat dit verbygaan. “En toe? Wat het jy gedoen?”

“Ek het hom hof toe gevat. Ek was ontsaglik woedend. Dit was onsmaaklik en dit het maande geduur, maar ek het gewen. Hy moes alles teruggee.”

“Ek sien. En dis waarom jy mans verpes en geweier het om met die testament hof toe te gaan?”

“Natuurlik.” Sy voel nou beter, asof sy van opgeboude gal ontslae geraak het. “En waarom ek dit hier in ’n kafee vir jou sit en vertel, weet ek ook nie.”

“Jy moes dit die een of ander tyd vertel. En dis hy wat daardie aand gebel het?”

“Ja,” antwoord sy somber. “Waarom, weet ek nie. Ons het niks meer om oor te praat nie.”

Hy sit sy koffie afgetrokke en roer. “Is jy bang ek doen dit ook aan jou?” vra hy. “Kul jou, vat alles van jou af weg?”

Sy kyk op. “Nee,” sê sy. “Nee, ek is nie bang daarvoor nie.”

“En tog het jy weer alles in my hande oorgelaat. Jy het gesê, as ek reg onthou, dat jy die grassnyers en trekkers sal regmaak solank ek al die formaliteite met die prokureurs behartig.”

“Ek weet. Dit maak nie sin nie – nie na wat ek deurgemaak het nie – maar ek vertrou jou.”

“Ek is bly.” Hy kyk haar ernstig aan. “Want ek sal dit nooit doen nie.”

“Ek weet.” Sy drink haar koffie en kyk verby hom.

“Waarom is jy dan nog steeds so boos?”

Sy haal haar skouers op. “Ek het jou al vantevore gesê: dis ’n oerreaksie. Ek kan dit self nie verklaar nie. Ek wil nie in ’n teekamer inloop en my man saam met ’n ander meisie sien sit nie. Dis so eenvoudig soos dit.”

Hy kyk vinnig na haar, ’n onleesbare emosie op sy gesig. “Ek is jammer. Ek het nie besef jy dink aan my as jou man nie.”

“Ek ook nie – nie my man in die gewone sin van die woord nie. Jy is eerder my goeie vriend, maar tog.” Sy kyk hom beskuldigend aan. “Sal jy daarvan hou as jy my saam met ’n ander man sien sit?”

“Nee,” sê hy dadelik.

“Nou ja? Daar is nie ’n verklaring vir die gevoel nie, dit is net so.”

Hy is nie so seker daarvan nie, maar sê dit nie.

“Hierdie Wilhelm,” sê hy dan versigtig. “Was jy e … lief vir hom?”

“Ek moet gewees het, waarom anders het ek gedoen wat ek gedoen het? Of meer korrek: ek het gedínk ek is lief vir hom.”

“En hy. Was hy lief vir jou?”

Sy skud haar kop. “Dit sal ek regtig nooit weet nie. Ek dink nie so nie. Ek dink Wilhelm was so gewoond daaraan om te kry wat hy wou hê dat hy nooit ernstige gevoelens gehad het nie. Ek dink nie hy weet wat liefde is nie.”

“Dis ’n algemene toestand.”

Sy kyk verbaas na hom. “Bedoelende?”

Hy lyk ongemaklik. “Ek dink mense verwar dit maklik met iets anders of … Dis ’n vaardigheid wat jy vroeg in jou lewe moet aanleer en as dit nie gebeur het nie, sal jy nooit weet nie.”

Sy antwoord nie, sit net na hom en kyk. Praat hy nou van homself? Kan hy niemand liefhê nie, omdat hy so liefdeloos grootgeword het? Voordat sy egter iets kan sê, staan hy op, baie doelgerig.

“Ons het ’n plaas wat vir ons wag,” sê hy. “Ek kan nie heelmiddag in kafees rondsit nie.”

“Dis nie my skuld as jy van een meisie na die ander beweeg nie,” sê sy kalm. “Ek weet nie wat jou kennisse van jou moet dink nie.”

Hy gee ’n skewe glimlag, begelei haar na haar motor, maan haar om versigtig te ry en stap dan terug na sy bakkie.

Julia dink die res van die middag aan wat hy gesê het en daardie aand roer sy die onderwerp weer aan.

“Was jy al ooit lief vir iemand?” vra sy. Omdat dit koud genoeg is, het hulle ’n vuur in die kaggel aangesteek en sy sit knus op die bank, haar bene onder haar ingevou, haar oë op die vlammende stompe.

Hy laat sak die koerant wat hy gelees het. “Is jy in ’n bui vir ontboeseminge? vra hy.

Sy kyk hom streng aan. “Ek het jou van Wilhelm vertel en wat jy vanmiddag gesê het, het my laat dink. Ek, wat grootgeword het met liefdevolle ouers en dus wat jy sou noem ’n kennis van liefde, het so ’n fout gemaak, my so misgis. Jy het nie. Wel, nie so ver ek weet nie.”

“Nee,” sê hy ontegemoetkomend.

Sy kyk hom gebelg aan. “Watse soort antwoord is dit? Nee wat?”

“Ek het nie so ’n fout gemaak nie.”

“Presies,” sê sy tevrede. “En ek wil weet waarom nie.”

“Omdat ek hoegenaamd geen kennis dra van liefde nie, afgesien van die eerste ses jaar van my lewe.”

“Was jy nooit verlief nie?” vra sy nuuskierig. “Toe jy ’n jong seun was?”

“Ek veronderstel so,” gee hy teësinnig toe. “Maar net op ’n afstand. Ek het nooit iets daaromtrent gedoen nie; ek was te bang.”

“Waarvoor? Die meisies?”

“Miskien.”

Sy dink ’n ruk lank hieroor na. “Maar was jy lief vir oom Septimus?”

“Dit was iets anders,” protesteer hy. “Hy was ’n vaderfiguur.”

“Ja, maar tog. As jy in staat was om een mens lief te hê, beteken dit jy is ook in staat tot die emosie.”

Hy rol sy oë. “Moet ons so diep delf?”

Sy lag. Wat sy eintlik wil weet, is presies hoe hy oor Wilma voel. Hy het al dikwels gesê sy is net ’n vriendin, maar sy is nie so seker daarvan nie. As sy wat Julia is, nie in sy lewe verskyn het nie, sou hy wel die een of ander tyd met Wilma getrou het, daarvan is sy seker.

“Was jy dikwels verlief?” vra hy skielik.

“Nee. Ja. Ek weet nie. Ek veronderstel so.”

“Dis vier antwoorde.”

Sy haal haar skouers op. “Ek het selfs vóór die gemors met Wilhelm ’n effens siniese uitkyk gehad,” erken sy. “Ek was skepties oor die maanskyn-en-rosegeur-storie. Liefde het vir my na die soort ding gelyk wat ’n mens jou kop laat verloor.”

“Waarom het jy dan toegelaat dat Wilhelm jou so manipuleer?”

Sy staar na die vlamme, haar gedagtes ver. As iemand anders hierdie vraag gevra het, was sy nou kwaad, juis omdat sy dit al soveel keer self gevra het.

“Hy was baie aantreklik,” erken sy. “Dit het my blind gemaak aan die begin. En baie sjarmant. Oordrewe manlik voor ander mense, maar nie regtig nie. Hy het my die indruk gegee dat hy eintlik onseker is van homself, dat my ondersteuning en liefde baie belangrik was.” Daar is ’n siniese trek om haar mond. “Ek was seker gevlei; ek het myself gesien as die een wat sy selfvertroue sal opbou. By my kon hy ontspan, homself wees.”

“En die hele tyd het hy jou verkul?”

Die lyne keep weer langs haar mond, haar oë word koud. “Ek veronderstel so. Maar genoeg nou hiervan.”

“Ek stem saam.” Hy tel weer die koerant op. “Wanneer kom jou ouers?”

“Volgende week.” Haar gesig verhelder. “Dit gaan so lekker wees. Gee jy nie om dat my mense so knaend kom kuier nie?”

“Knaend?” vra hy met geligte wenkbroue. “Dis die tweede besoek in ses maande. Dis nog net Sandra wat hier was.”

Sy vind dit nogal vreemd toe haar ouers ’n week later op die plaas aankom, want vir hulle is alles bekend, bekender as wat dit vir haar was toe sy daar aangekom het. Haar ma vertel hoe sy vir oom Septimus raad gegee het oor die kleurskema van die gastekamer, hoe hulle die modernisering van die kombuis bespreek het.

“Wel, Ma het goeie raad gegee,” erken Julia. “Alles is nes ek daarvan hou. Ma kan sien ek het niks verander nie.”

Die eerste aand sit hulle voor die kaggelvuur en haar pa vra André uit na die boerdery. André antwoord so hoflik soos altyd, maar haar pa val hom in die rede.

“Jy kan nie vir ons meneer en mevrou sê nie,” protesteer hy. “Julle is al ses maande getroud. Ons is nou jou ouers.”

’n Vreemde uitdrukking flits oor André se gesig. “Ek sal probeer,” sê hy.

Julia kyk hom simpatiek aan. Hierdie probleem het sy nie voorsien nie.

Toe sy die volgende oggend ligdag wakker word en net weer wil omdraai om nog ’n bietjie te slaap, staar sy ’n ernstiger probleem in die gesig. Haar ma het die gewoonte om vroeg soggens tee te maak, dit vir Julia te bring en dan by haar op die bed sit terwyl sy drink. Hulle intiemste gesprekke vind gedurende hierdie oggendkuiertjie plaas. Haar ouers gaan nooit aparte slaapkamers vir ’n jonggetroude paartjie aanvaar nie. Sy dink nie verder nie, maar spring uit die bed uit, gryp haar kamerjas en hardloop langsaan na André se kamer toe. Sy weet hy staan baie vroeg soggens op, doen sy oggendrondtes en kom dan weer huis toe vir ontbyt. Sy hoop net hy is al uit, want sy kan haar ma in die kombuis hoor neurie en koppies hoor klink.

Sy klop nie eers nie, maar ruk net die deur oop. Sy is bly om te sien André is al op. Sy gooi haar kamerjas op die vloer neer en kruip in sy groot bed in. Sy kan water hoor loop, maar sy kan haar nie nou daaroor kwel nie; sy is te besig om die komberse aan die ongebruikte kant los te woel en die kussings onder haar kop in te druk.

’n Oomblik later maak hy die badkamerdeur oop en kom te voorskyn. Gelukkig het hy ’n handdoek om sy onderlyf gedraai, maar hy bly verstom in die deur staan en kyk na haar.

“Moet niks sê nie,” fluister sy dringend. “My ma is al besig om tee te maak en sy gaan enige oomblik hier inkom. Sy doen dit al haar lewe lank en sy gaan geen storie glo van ons wat aparte slaapkamers verkies nie. Sy sal weet dis bog. Ek het altyd gesê die enigste rede waarom ek sal trou, sal wees sodat ek in die winter agter my man se warm rug kan slaap en nie langer met koue voete hoef te lê nie.”

Hy staar nog steeds na haar, sy hare nat oor sy voorkop. “Inderdaad,” sê hy dan. “Moet ek langs jou kom inkruip?”

“Nee,” sê sy verontwaardig. “Jy kan maar aantrek, sy weet mos ’n boer staan vroeg op.”

Hy is nie so seker dáárvan nie, dink hy terwyl hy na haar staan en kyk. Sy dra die een of ander warm, sagte wit kledingstuk, haar wange gloei van die gejaag, haar hare hang los en deurmekaar om haar gesig. As hy elke oggend langs so ’n gesig moet wakker word, gaan plaastake nie baie hoog op sy lys van prioriteite wees nie.

Maar hy sê niks nie, haal net sy klere uit die kas en stap terug na die badkamer om aan te trek. Julia kruip dieper onder die komberse in omdat dit koud is en sy ten minste moet lyk asof sy pas wakker geword het en nog half aan die slaap is.

Oomblikke later is daar ’n ligte kloppie aan die deur en haar ma se stralende gesig verskyn om die deur, ’n gelaaide skinkbord in haar hande.

“Môre,” sê sy vrolik en sy sit die skinkbord op die tafeltjie neer.

“Môre, Mams,” sê Julia en stoot haar regop teen die kussings. “Dis darem nie nodig om in my eie huis vir my tee in die bed te bring nie.”

“Dis vir my lekker,” sê haar ma en kyk na die halfoop badkamerdeur. “Is André nog hier? Ek het vir hom ook ’n koppie gebring.”

“Hy trek net aan,” sê Julia bedees.

Sy kyk op toe André verskyn, nou warm aangetrek in ’n langbroek en trui, sy hare gekam. Hy het blykbaar tot verhaal gekom en besluit om saam te speel, want hy gaan sit gemaklik aan sy kant van die bed en kyk na Julia met klein lagduiweltjies in sy oë.

“Lekker geslaap, skat?” vra hy ernstig.

Sy skiet ’n waarskuwende blik na hom en vat die koppie tee wat haar ma aangee. “Ja, dankie.”

“Sy’s nie ’n baie flukse boervrou op ’n winteroggend nie,” sê hy vir haar ma. “Soos u kan sien.”

“Ag, dis dan nog nie eens behoorlik lig nie,” kom haar ma tot haar verdediging.

André vat ’n stuk beskuit. “En sy bak darem wonderlike beskuit.”

Haar ma, ook nog geklee in nagklere en warm japon, gaan sit in die enigste leunstoel en kyk stralend van die een na die ander. Sy drink ’n paar slukkies tee en raak skielik aangedaan; toe sy weer opkyk, blink haar oë.

“Kind,” sê sy vir André, “ek besef nou eers ek het nou twee kinders.” Sy sluk. “Ek wou altyd so graag ’n huis vol kinders gehad het, maar … dit was nie so bestem nie.” Sy knip haar oë en glimlag weer. “Nou het ek twee, ’n seun én ’n dogter.”

Julia voel soos ’n skurk en verander die onderwerp. “Slaap Pa nog?”

“Hy lees gister se koerant,” sê haar ma.

André drink sy tee klaar en staan op. “Ek gaan julle alleen los tot later. Baie dankie vir die tee.” Hy sit sy koppie neer en wil net wegstap, maar buk dan oor die bed. Julia, wat verwag dat hy haar op die voorkop sal soen, lig haar kop. ’n Oomblik lank kyk hy diep in haar oë, dan soen hy haar op die mond, hard en dringend. Sy snak na asem, maar hy het klaar weggedraai en is op pad na die deur. “Sien julle later,” sê hy en verdwyn.

Julia hou die koppie op die piering vas, want dit rinkel gevaarlik.

“Elke dag sê ek hiervoor dankie,” hoor sy haar ma se stem asof van ver af. “Dankie dat jy betyds weggekom het van daardie vent af en André gekry het. Julle is vir mekaar gemaak. Hoe kan ’n mens dit verhelp om vir hom lief te wees?”

Julia maak ’n stikgeluid en hou haar koppie uit vir nog tee.

Christine le Roux Keur 3

Подняться наверх