Читать книгу Christine le Roux Keur 3 - Christine le Roux - Страница 4

Hoofstuk 1

Оглавление

Julia Naudé sit moeg agter haar lessenaar en stoot die hope papiere eenkant toe sodat sy die dag se pos kan begin lees. Haar donker hare is in haar nek vasgemaak in ’n poniestert; oor haar wang lê ’n modderstreep. Plato, haar labrador, lê by haar voete en hap elke nou en dan na ’n mot wat van buite af ingekom het om om die leeslamp te fladder. Die woonkamer, wat ook dien as kantoor, is deurmekaar. Die meubels word oorskadu deur potplante, klimplante, bakke en houers vol saailinge, potte, bottels en houers vol insekdoder, plantvoeding, reklamemateriaal van kwekerye en hardewarewinkels.

Julia skeur die een koevert na die ander oop en plaas die rekeninge eenkant. Sy is net van plan om die res te los en te gaan kos maak, toe een koevert haar aandag trek en sy dit oopmaak. Fronsend lees sy die brief, gee dan ’n laggie en kyk af na Plato.

“Hoor bietjie hier,” sê sy en vryf sy nek tussen haar vingers. “Oom Septimus se prokureur sê ek is ’n erfgenaam en ek moet hom so gou moontlik kom spreek, aangesien die testament te ingewikkeld is om in ’n brief uiteen te sit. Nou toe nou!”

Sy gooi die brief neer en staan op. Die hond volg haar en gaan lê op die koel teëls van die kombuisvloer terwyl sy vleis uithaal en ’n pan op die stoof sit.

Terwyl sy slaai maak en koue aartappels sommer saam met die vleis in die pan gooi, dink sy aan oom Septimus. Hy was nie familie nie; sy kan nie eens meer onthou hoe haar ouers hom leer ken het nie. Hy was ’n oujongkêrel tot sy dood twee weke gelede, ’n boer. Sy onthou vaagweg dat sy as kind op die plaas was, maar hy het elke tweede Julievakansie Transvaal toe gekom om by haar ouers te kom kuier. Nadat hulle aan die Suidkus afgetree het, het hy elke winter kom kuier, die soel weer het hom geval. Dis waar sy hom die laaste keer gesien het – verlede Julie, ses maande gelede, toe sy by haar ouers gaan kuier het om uit te rus na die hofsaak. Sy ruk die pan ru eenkant toe, dis nie iets waaraan sy nou wil dink nie.

Oom Septimus het oud geword, dit was haar eerste waarneming. Oud en maer. Eers na die tyd het haar ma vertel dat hy toe pas gehoor het van die kanker en dat hy goed geweet het hy het net enkele maande oor om te lewe. Vir haar het hy niks gesê nie. Hy was die simpatieke oom wat sy sedert haar kinderjare geken het – nog vol grappe en wyshede, steeds die beste luisteraar wat sy nog ooit geken het. In die middae het sy en hy langs die see gaan stap, nie ver nie omdat hy gou moeg geword het, en dit was tydens hierdie wandelings, by mekaar ingehaak, dat sy haar hart uitgepraat het, vir hom die hele storie vertel het. Hy het net geluister, nie probeer raad gee of troos nie. Hy het toegelaat dat sy ontslae raak van ’n bietjie van die bitterheid en woede, die haat en wrok.

Toe sy hoor hy is dood, was sy diep geroer en baie hartseer. Sy kon nie na die begrafnis toe gaan nie omdat sy te besig was en omdat sy plaas, waar hy begrawe is aan die voet van die Swartberge, te ver was. Haar ouers het die begrafnis bygewoon en haar vertel daarvan. Sy laat haarself nie meer toe om te lank oor enigiets te tob nie, dit was een van haar sterkste voornemens en die een waarby sy hou. In haar gedagtes was hy nie regtig dood nie, sy sou hom altyd onthou as die liewe ou man wat hy was – haar peetpa wat nooit ’n verjaardag vergeet het nie, wat toe sy klein was, altyd geweet het watse verrassing haar die meeste sal plesier. Sy het net voortgegaan met haar werk en nie te veel daaroor gedink nie.

Die tuinversorgingsdiens wat sy en ’n vriendin begin het, het gegroei, uitgebrei en ’n wins begin toon, maar dit is harde werk. Sy is nie tevrede om by die huis te sit en haar werkers alleen uit te stuur in die bakkie nie. Sy is orals by, het ’n persoonlike belangstelling in elke tuin. Die harde, fisieke werk is goed; dit laat nie tyd vir dink of voel nie, en dít pas haar uitstekend. Sy wil nooit weer voel nie. Sy wil met plante werk, nie met mense nie. Sandra, haar vriendin, doen die kantoorwerk, beantwoord die telefoon, staan voornemende kliënte te woord. Sy wat Julia is, wérk.

Sy besit nie meer ’n rok nie; elke oggend trek sy ’n skoon denimbroek, ’n hemp en seilskoene aan en klim in die bakkie. Wanneer sy saans by die huis kom, bad sy, handel die noodsaaklike werk af en gaan slaap. Sy gaan nooit uit nie, en sy sien niemand behalwe die mense wat vir haar en saam met haar werk nie. Dit pas haar. Sy is nie gelukkig nie, maar sy is tevrede.

Sy skep vir haar kos in en skep Plato s’n in sy bak. Sy eet sommer by die kombuistafeltjie en spoel haar bord uit toe sy klaar is. Wat sou oom Septimus vir haar nagelaat het? wonder sy. Sy voel skuldig omdat sy daaraan dink; die ou man het meer vir haar beteken as ’n klompie rand wat hy dalk nagelaat het, maar sy kan nie ontken dat ekstra geld sal help nie.

Vroeg die volgende oggend bel Julia die prokureur en nadat sy na haar dagprogram gekyk het, reël sy om hom twaalfuur te gaan spreek. Effens ergerlik sorg sy dat sy eers by die huis ’n draai kan maak om darem net ’n romp aan te trek in plaas van die langbroek, en twaalfuur stuur ’n sekretaresse haar by die kantoor van meneer Brink in.

Meneer Brink is jonger as wat sy haar hom voorgestel het. Hy staan beleef op en wag totdat sy sit. Voor hom op die lessenaar lê ’n dik pak papiere, en hy skuif dit heen en weer asof hy senuagtig is terwyl sy skerp oë haar bestudeer.

“Juffrou Naudé,” sê hy nadat sy sekretaresse vir hulle tee gebring het, “ek is bevrees u oom het ’n uiters onortodokse testament nagelaat. Dit is ’n nuwe een, in Augustus eers opgestel, en kanselleer dus die vorige.”

“Ja,” sê sy bot. “Hy het toe geweet hy gaan nie meer lank lewe nie.”

“Presies.” Hy skuif weer die papiere heen en weer. “Ek is natuurlik nie sy eie prokureur nie; my kollega het my bloot gevra om die saak aan hierdie kant te hanteer omdat hy gereken het ’n brief is nie voldoende nie.”

“Hoekom nie?” vra sy fronsend.

“E … U sal verstaan sodra ek dit vir u uiteensit.” Hy kyk na haar stroewe gesig en lyk selfs meer senuagtig. “My kollega in die Kaap verseker my hierdie testament is wettig en geldig, dit kan nie sommer afgeskryf word as ’n eksentrisiteit van ’n siek ou man nie. Blykbaar het sy prokureur daar hom probeer oorhaal om dit nie te doen nie, maar hy was vasbeslote.”

“Liewe aarde,” sê sy koel. “Dink u nie u moet maar vir my sê wat daarin staan nie? Al hierdie duistere verwysings help nie eintlik nie.”

“E …” sê hy. “Ja.” Hy kyk op na haar. “U is nie getroud nie?”

“Nee, natuurlik nie,” sê sy koud.

“Ken u ’n meneer Malan? André Malan?”

“Nee.”

Hy sug en tel die boonste papiere op. “Ek sal dit vir u probeer opsom; ek dink dit sal die maklikste wees. U oom –”

“Hy was nie regtig my oom nie,” val sy hom in die rede. “Hy was nie familie nie, net ’n ou vriend van my ouers, my peetpa.”

“Ja, presies.” Hy sluk. “Hy het op die plaas Ouderus geboer.”

“Dis reg.”

“En enkele jare gelede het hy die aangrensende plaas bygekoop. Blykbaar was dit oorspronklik een plaas en dit was altyd sy ideaal om dit weer een te maak. Elke stuk beslaan rofweg agtduisend hektaar.” Hy kyk weer op om te sien of dit vir haar iets beteken. “Dis groot, juffrou. Ons praat van ’n groot plaas.”

“Ja,” sê sy geduldig. “Ek was as kind laas op die plaas, maar ek onthou dit was groot.”

“U oom, Septimus Verwey, het die oorspronklike stuk van Ouderus aan meneer André Malan nagelaat en die nuwe stuk aan u.”

Sy lig haar wenkbroue. “Hy deel dus weer die plaas in twee?”

Meneer Brink kug. “Nie regtig nie, soos u spoedig sal begryp.”

“En wie is hierdie André Malan?” vra sy. “Oom Septimus het nie kinders gehad nie.”

“Nee, meneer Malan was … is … sy bestuurder. Meneer Verwey kon lank reeds nie meer die hele boerdery behartig nie; ek dink, as ek reg onthou, dat meneer Malan al tien jaar lank die plaas bestuur.”

“Ja,” sê sy, haar stem steeds koel en sonder veel belangstelling. “Dan is dit seker niks minder as reg dat hy die een helfte erf nie.”

Meneer Brink besluit om die bul by die horings te pak. “U oom wou nie hê dat die plaas weer verdeel word nie, juffrou Naudé. Hy laat een helfte elk aan u en meneer Malan na, op voorwaarde dat julle trou.”

Sy maak haar mond oop, haal diep asem en gee ’n ongelowige laggie. “Wát? Wat het u sopas gesê?”

Hy lyk baie ongemaklik. “Ek het u gewaarsku dat die testament baie onortodoks is. U en meneer Malan moet trou en ’n jaar lank …” sê hy en kyk af na die papier voor hom, “’n volle kalenderjaar lank saam op die plaas bly. Die woonhuis, wat u dalk sal onthou, is op die oorspronklike gedeelte van Ouderus. Weier u om dit te doen, word die plaas verkoop en gaan die geld na liefdadigheidsorganisasies.”

Sy staar na hom in volslae ongeloof. “Dis Middeleeus!”

“Ek weet,” stem hy saam.

Sy staan op. “En heeltemal belaglik! Niemand kan verwag dat ek eens hierna luister nie. Verkoop die plaas, ek gee nie om nie.”

Hy draai sy kop skuins, bestudeer haar waar sy ergerlik voor hom staan. “Wat van meneer Malan?”

“Wát van hom?” Sy gluur hom vurig aan.

“Hy ken die plaas, dit is syne. As u weier, verloor hy sy plaas ook.”

“Foei tog,” sê sy sarkasties. “Is dit miskien my skuld?”

“Nee.” Hy sug beswaard. “Sit asseblief.” Hy wag dat sy gehoorsaam. “Daar is natuurlik ook kontant wat deel is van die erfporsie. Dit word kwartaalliks vrygestel, mits u getroud is. Indien nie, gaan dit ook na liefdadigheid.”

Sy begin lag – ’n harde, vreugdelose geluid. “Julle kan nie ernstig wees nie,” sê sy. “Dis die soort ding wat ’n eeu gelede gebeur het om grond in ’n familie te hou of grond by te kry. Gereëlde huwelike.”

Hy knik. “Ek moet met u saamstem, maar onthou, dis net ’n jaar lank. Meneer Verwey het slegs ’n kalenderjaar as voorwaarde gestel. Ek veronderstel dit staan u vry om na ’n jaar u helfte aan meneer Malan te verkoop en terug te kom stad toe.”

Sy sit vooroor gebuig in die stoel en kou aan haar onderlip terwyl sy haar kop skud asof sy tot elke prys helderheid moet kry. “En daar is geen ander oplossing nie?”

“Daar is, ja.” sê hy. “Maar meneer Malan het reeds laat blyk dat dit vir hom buite die kwessie is. Indien een van julle julle helfte aan die ander een verkoop, hoef julle nie te trou nie.”

Sy lyk verlig. “Dankie tog! Hy kan my stuk koop.”

“Nee.” Meneer Brink sug. “Ek herhaal, meneer Malan kan dit nie bekostig nie. Ek weet nie presies wat grond in daardie omgewing werd is nie, maar my kollega reken so ’n stuk grond kan meer as ’n miljoen rand kos. Soos u weet, het hulle pas jare van wurgende droogte en swaarkry beleef.” Hy kyk haar weer ondersoekend aan. “Sou dit binne u vermoë wees om meneer Malan se gedeelte te koop?”

Sy uiter weer ’n vreugdelose laggie. “Nee, natuurlik nie. Ek het my eie tuindiens en daarop skuld ek nog geld. Die kapitale uitleg was groot, ’n bakkie, al die masjiene … Genade tog!” Sy druk haar hand teen haar voorkop. “Waarom sou oom Septimus so iets uitgedink het? Hy het nooit getrou nie en was altyd so simpatiek, die soort man by wie ’n mens kon raad vra. Hy het altyd geluister. Toe ek hom in Julie by my ouers gesien het, was hy ’n … ware steunpilaar.”

“Kyk,” sê meneer Brink en vroetel weer met die papiere. “Ek dink ons sou die testament hof toe kon neem en …”

“Nee!” sê sy ru, haar hand afwerend voor haar. “Ek gaan nie weer hof toe nie. Geen hofsake nie!”

Dit lyk asof hy wil uitvra, maar haar gesigsuitdrukking laat hom seker besef dat dit nie sal help nie.

“Wat dan?” vra hy. “Is u bereid om die bepalings van die testament te aanvaar?”

“Nee,” sê sy, “natuurlik nie. Ek is hoegenaamd nie van plan om te trou nie. Nie hier nie, nie met iemand wat ek ken nie en seer sekerlik nie met ’n volslae vreemdeling nie. Verkoop die plaas en gee die geld vir liefdadigheid.” Sy staan op. “En nou moet u my verskoon; ek het werk om te doen.”

“Juffrou Naudé,” keer hy terwyl hy ook opstaan. “U moet aan meneer Malan ook dink. Die plaas is al wat hy het. U besluit beïnvloed hom ook.”

“Waarom sal ek my oor hom kwel?” vra sy ongevoelig. “Hy moet sy eie potjie krap.”

“Die plaas ís sy potjie,” sê hy, en hy glimlag effens asof hy baie humoristies was.

“Dit het steeds niks met my te doen nie,” sê sy.

Hy tel ’n pen op, skryf iets op ’n kaartjie en hou dit uit na haar. “Hier is sy telefoonnommer. Ek sou tog voorstel dat u hom bel. Op slot van sake is hierdie vreemde testament julle albei se probleem. Ek dink dis niks minder as reg dat u hoor wat hy te sê het nie.”

Sy vat die kaartjie, maar kyk daarna asof dit besmet is. “Hy is seker bereid om dit te doen, net om sy heilige stuk grond in die hande te kry.”

“Nee, so ver ek weet, was sy reaksie dieselfde as u s’n, maar ja, ek dink tog daar is meer vir hom op die spel. U het ’n ander lewe hier, u eie huis en onderneming …”

“Presies.” Sy druk die kaartjie in haar sak. “Ek kan nie dink dat enigiets sal verander deur met hom te praat nie.”

“Miskien moet u na die plaas gaan kyk. Ek hoor dis ’n pragtige plek. ’n Groot gedeelte is berggrond en …”

“Wat sal dit aan die saak verander?”

“U verander miskien van plan. Dis maklik om van hier te sê: verkoop die plaas en gee die geld weg. As u dit eers sien en besef dat dit aan u behoort, mag dit tog u besluit beïnvloed.”

“Nee,” sê sy koud. “Nie as dit nog steeds beteken ek moet ’n jaar lank met ’n volslae vreemdeling saamleef nie.”

“Dink daaroor,” sê hy en steek sy hand uit om te groet. “Dis so ’n onregverdige testament dat ons, soos ek gesê het, miskien daarby baat kan vind om hof toe te gaan.”

“Nee,” sê sy, haar stem kwaai. “Ek het gesê geen hofsake nie.” Sy knik in sy rigting en loop by die deur uit.

Heelmiddag, terwyl sy in die warm son werk, bevele gee, toesig hou, vuil en sweterig word, dwing sy haar gedagtes weg van die belaglike testament af. Dis nie moeilik nie; daar is iets so sprokiesagtig daaromtrent dat sy dit nie ernstig kan opneem nie.

Maar toe sy teen vroegaand saam met Sandra by haar lessenaar sit nadat hulle die dag se sake afgehandel het, vertel sy haar die storie.

“Het jy al ooit in jou lewe iets so belaglik, so vergesog, so verspot, so gewoon banaal gehoor?” sluit sy af.

Sandra loop in die kamer rond, trek droë blare van die potplante af, stoot ’n venster wyer oop, streel Plato oor sy kop.

“Nee,” erken sy. “En ook nog nooit soveel byvoeglike naamwoorde om dit te beskryf nie.”

“En meneer Brink verwag dat ek daaroor moet nadink,” blaas Julia stoom af. “Ek het gesê hulle moet die plase verkoop en my nie langer pla nie.”

“Haai, nee!” Sandra draai om en gaan sit, haar blou oë berispend. Sy is fyn en blond en popmooi, ’n voorkoms wat misleidend kan wees. Sy is hoogs intelligent met ’n skerp sakebrein. Die feit dat sy byna permanent verlief is en op die oomblik versot is op ’n jongman wat die grond aanbid waarop sy loop, doen nie afbreuk aan haar vermoë om koelkop te bly nie. “Ek sou nie so vinnig reageer nie.”

“Jy verwag tog nie óók dat ek regtig daaroor moet nadink nie,” protesteer Julia. “Ék? Na alles wat gebeur het?”

Sandra kruis haar bene en vou haar hande op haar skoot. “Ek sou eers vra waarom oom Septimus dit gedoen het,” sê sy kalm. “Begin altyd by die begin.”

“Waarom?” Julia gooi haar hande in die lug. “Ek weet nie! Ek kan aan geen enkele rede dink nie. Ek was laas op die plaas toe ek omtrent ses jaar oud was. Ek het nog nooit ’n wens uitgespreek om daar te bly nie. Waarom? Hy moet gedwaal het. Sy siekte moet hom … Ek weet nie.” Sy staan op, begin heen en weer loop in die deurmekaar vertrek. “Miskien was hy verdoof. Ek weet nie. Ek het hom in Julie alles vertel en hy het soveel begrip gehad. Hy het geweet hoe ek voel! En ek … ek het gedink hy verstaan. Hy het self nooit getrou nie, jy kan dus nie sê dat hy ’n oordrewe romantiese siel of so iets gehad het nie. Dit maak nie sin nie.”

“Dit is nogal romanties,” sê Sandra. “Hoe lyk die man? Wie is hy? Het jy hom al ooit gesien?”

“Nee,” sê Julie kortaf. Sy vee haar hare van haar voorkop af, haar groot grys oë steeds vol klein vlammetjies. “En dit maak ook nie saak nie. Ek wil niks van mans weet nie; níks!”

“Nie almal is soos …”

“Bly stil,” waarsku Julia skerp. “Ek wil nie sy naam hoor nie. Liewe aarde, ek het ’n nuwe lewe begin en alles gaan goed. Ek soek nie omwentelinge en herries nie. Soos ek nou leef, is perfek.”

“Jou oom Septimus het nie so gedink nie,” sê Sandra kalm. “As jy my vra, het hy dit gedoen omdat hy aangevoel het jy moet wegbreek of … wel, so iets.”

“Onsin.” Julia val in ’n stoel neer. “Hy het nooit ingemeng nie. Hy was altyd die volmaakte peetpa. Ek kon vir hom briewe skryf en alles vertel, my hart uitpraat, en hy het geluister en op sy besadigde manier raad gegee. Dit was so van my kinderdae af. Ek het hom net elke tweede jaar gesien, maar dit het nie saak gemaak nie. Tyd en afstand het nie ons verhouding geraak nie. En nou … na sy dood doen hy dít!” Haar stem is bitter. “As ek net ’n miljoen rand gehad het.”

“Wat sou dit gehelp het?” vra Sandra. “Dan het jy die hele plaas besit en dan? Sou jy alleen kon boer?”

“Nee, natuurlik nie.” Julia vleg haar vingers inmekaar, haar gesig somber. “Dis hy wat die miljoen moet hê sodat hy my kan uitkoop. Dis die oplossing.”

“Hy het dit nie. Vergeet daarvan. Nie na die droogte nie.”

“Presies.” Julia staan op en loop kombuis toe; na ’n ruk kom sy terug met twee glase koeldrank. Die ysblokkies klingel koel teen die glas. Toe sy weer sit, druk sy die koue glas teen haar warm wange.

“Jy het weer nie jou hoed gedra nie,” merk Sandra op en kyk haar vriendin streng aan. As die een wat die binnenshuise deel van hulle onderneming hanteer, kom sy selde in die son; sy word nooit vol modder nie, sy baklei nie met halsstarrige grassnyers nie. “Jy verrinneweer jou vel.”

“Ek het ’n sterk vel en jy verander die onderwerp van die gesprek.”

Sandra knik. “Kyk, dis geen probleem nie. ’n Jaar is nie lank nie. Dolf kan jou helfte van die werk oorneem. Hy het buitendien voorgestel dat ons hom as derde vennoot aanstel. Jy weet self ons kan al byna nie alles hanteer nie. Met ’n tweede bakkie kan ons uitbrei.”

“Dolf,” sê Julia afgemete. “Die blonde Adonis wat op die oomblik aan jou voete kniel.”

Sandra word nie kwaad nie; daarvoor is sy en Julia al te lank vriendinne.

“Ek is nogal lief vir hom,” sê sy gelykmatig. “Ek dink dis net moontlik dat ons sal trou.”

Julia kyk skuldig af. “Jammer, San. Dit was ongevraag. Ek is ’n verbitterde oujongnooi en jy moet my maar vergewe.”

“Oujongnooi? Jy is agt en twintig, maar soos jy jou verniel, sal jy teen volgende jaar veertig wees!”

Julia lag vir die eerste keer. “Dankie, hoor! Ek sal my wyerandstrooihoed en molvelhandskoene dra. Sal dit jou tevrede stel?”

Sandra glimlag soet. “Miskien, maar om terug te kom na jou probleem toe. Dis net ’n jaar lank, sê jy, ’n kalenderjaar. Ek is nie ten gunste van ’n los-en-vas-trouery nie, maar die hemel weet, baie mense doen dit onder die vaandel van liefde, maar met dieselfde gevolg: die skeihof na ’n jaar.” Sy kyk belangstellend na Julia. “Wat gebeur na die jaar? Gee jy jou helfte aan hom?”

Julia skud haar kop moedeloos. “Dan kan ons blykbaar doen wat ons wil. Kan jy nou sien waarom ek sê dis vergesog? Wat wou oom Septimus bereik het met sy voorwaarde?”

“Ek weet nie, maar dis wat my so interesseer. Hy moes gedink het op die een of ander manier gaan jy baat vind by ’n jaar op die plaas. Dis al waaraan ek kan dink. Miskien het hy gehoop jy kry weer vrede, kom oor jou verbittering.”

Julia byt die ergerlike antwoord wat in haar gedagtes opkom, terug en wag eers ’n sekonde of twee voordat sy antwoord.

“Miskien,” gee sy dan teësinnig toe. “Maar waarom dan die voorwaarde dat ons moet trou? Dit sou heeltemal aanvaarbaar gewees het as hy bloot gesê het ek moet ’n jaar lank op die plaas gaan bly voordat ek die grond mag kry.”

“Dit sou nie ordentlik gewees het nie,” sê Sandra ondeund. “Wat sal die mense sê?”

“Ag.” Julia se stem is smalend. “Ons is op die drumpel van die een en twintigste eeu. Wie gee om?”

“Oom Septimus,” sê Sandra kalm. “Hoe oud was hy? Sewentig?”

“Ongeveer, ja.” Julia staan weer op, te rusteloos om te bly sit. “Regtig, ek het nie hierdie soort onsin nodig nie. My lewe is weer rustig, die toekoms was beplan, alles loop soos dit moet.”

Sandra kyk op haar horlosie en spring op.

“Ek moet ry; Dolf kom my nou-nou oplaai. As ek jy is, vriendin, bel ek die man. Wat is sy naam nou weer? Malan? Bel hom en hoor wat hy dink. Doen wat die prokureur voorgestel het: gaan kyk hoe lyk die plaas. Neem ’n jaar verlof terwyl ek en Dolf die onderneming hanteer. Met die kontantdeel van die erfporsie kan ons lekker uitbrei wanneer jy terugkom.”

Julia staan net na haar en kyk, haar woede en ergernis meteens opgedroog.

“Ek word weer gemanipuleer,” sê sy, haar stem tam. “Ek is weereens uitgelewer aan ’n man, nee, twee of drie, van oom Septimus tot die prokureur tot hierdie Malan-vent. Dis al weer mans wat die toutjies trek. En net omdat ek te siek en sat is om weer ’n keer te baklei, weer hof toe te gaan om alles uit te sorteer, weer …” Sy bly moedeloos stil.

“Jy moet dit nie so sien nie,” sê Sandra simpatiek. “Jy is jou eie baas. As jy dit doen, is dit omdat jy iets daaruit gaan kry. ’n Plaas, geld. Wanneer die jaar verby is, kan jy mos jou helfte aan Malan verhuur. Dit behoort jou ’n goeie inkomste te gee vir die res van jou lewe. En ’n jaar lank kan jy daar tussen die berge gaan sit sonder om dag na dag bang te wees jy loop Wilhelm –”

“Ek wil nie sy naam hoor nie!” Julia se oë is nou swart van woede.

“Jammer,” sê Sandra, onbeïndruk deur Julia se hewige reaksie. “Maar jy weet wat ek bedoel. Dink daaroor.”

Julia bly in die sitkamer sit totdat dit later donker word en Plato sy groot kop onder haar hand inskuif en tjankgeluide maak om haar te wys hy is nogal honger en dat dit laat word.

“Ja,” sê sy moeg. “Kom ons gaan kombuis toe.” Sy buk af en druk haar wang teen sy kop. “Jy is die enigste mansmens wat ek naby my kan verduur.”

“Woef!” blaf Plato tevrede en hardloop gly-gly oor die klipvloer agter haar aan kombuis toe.

Christine le Roux Keur 3

Подняться наверх