Читать книгу Christine le Roux Keur 3 - Christine le Roux - Страница 7
Hoofstuk 4
Оглавление“Ek was ’n lafaard,” sê Julia oor en oor vir Sandra in die volgende paar weke terwyl sy inpak en organiseer. “Net so! Twee dae, en ek kapituleer heeltemal! Omgeval soos ’n strooihalm in die wind. Sonder slag of stoot.”
Terug in haar huis en bekende omgewing is haar besluit selfs meer onverklaarbaar, maar wanneer sy aan die plaas dink, weet sy sy kan nie anders nie.
“Dit het ’n bekoring wat ek nie kan beskryf nie,” probeer sy vir Sandra verduidelik. “Ek kan net in geykte uitdrukkings verval. Jy moet kom kuier en self kom kyk. Die eerste oggend toe ek op die stoep uitstap, het ek reeds geweet. Dit was asof my siel kon oopmaak, asof ’n skoon, vars wind vir die eerste keer in jare deur my kop gewaai het.”
“En André Malan?” wil Sandra weet. “hy is tog die een met wie jy moet trou, nie die plaas nie. Wat het jy van hom gedink?”
“Hy is nie ’n bedreiging nie,” sê Julia. “Hy het goeie maniere; hy is baie hoflik, baie eenkant. Ek dink nie dit sal moeilik wees om ’n jaar lank in dieselfde huis as hy te leef nie. Hy sal nie met my sukkel nie, as jy weet wat ek bedoel. Hy sal sy gang gaan en ek myne.” Sy kyk na Sandra wat besig is om rekeninge te liasseer op haar gewone, doeltreffende manier. “Onthou net, hy is ewe min lus vir hierdie ding. Selfs minder as ek, omdat hy ’n vriendin het.”
“Dan is dit ’n groot opoffering vir hom,” sê Sandra besorg.
“Nie in vergelyking met wat hy gaan verloor nie. Die meisie moet net wag totdat die jaar verby is. Sy sal nog daar wees, veronderstel ek, en dan het hy die plaas.” Om die een of ander rede vertel sy nie vir Sandra van André se agtergrond nie, miskien omdat sy skaam is dat sy deels uit jammerte vir hom geswig het. “En ek het my rivier.” Sy lag elke keer wanneer sy hieraan dink en onthou hoe sy gevoel het toe sy kaalvoet oor die gladde klippe geloop het. “Kan jy dit glo? My eie rivier! André en sy tweede vrou kan oor ’n jaar met hulle lewe aangaan en hy sê hy sal my deel by my huur. Ek dring net aan op permanente toegang tot my rivier.”
Sandra skud net haar kop. Sy nooi Dolf oor, en alhoewel Julia hom steeds beskou as ’n verliefde tiener, moet sy erken dat dit klink asof hy weet wat hy doen en asof die onderneming veilig sal wees in sy en Sandra se hande. Hy gaan in Sandra se woonstel bly en Sandra sal Julia se huis oppas.
Julia bel ook vir meneer Brink. “Ek het na die plaas gaan kyk,” sê sy vir hom, “en u was reg, dit was iets wat ek moes doen. Die plaas is hierdie belaglike voorwaarde werd. Ons kan nie toelaat dat dit verkoop word nie. Ek en meneer Malan trou die Saterdag na Kersfees.”
Meneer Brink klink nogal verbaas, asof hy nie gedink het hulle sal dit doen nie. Hy wens haar nietemin voorspoed toe en vra – soos sy verwag het – dat hulle ’n afskrif van die huweliksertifikaat aanstuur sodra hulle dit het.
Sy tref alle reëlings, maak ’n afspraak met die landdros vir drie-uur die Saterdagmiddag en pak in om na haar ouers toe te ry.
Haar ouers is, soos altyd, bly om haar te sien, kloek om haar rond, maak haar geliefkoosde disse en raas omdat sy, na hulle mening, te maer is.
“Dis warm in Pretoria,” sê sy vir haar ma. “Ek verloor my aptyt wanneer dit so warm is en ek was ook besonder besig. Almal is met vakansie; ons het baie werk. En ek moes inpak.”
Sy het tydens die rit na die Suidkus ’n halfdosyn keer in haar gedagtes gerepeteer hoe sy haar ouers van haar besluit sal vertel. Uiteindelik besluit sy dat daar eintlik net een manier is en dit is op die man af en sonder veel verduidelikings. Sy pak net klaar uit en wag totdat al die gewone vrae gevra en nuus uitgeruil is.
“Ek trou Saterdagmiddag met André Malan en vertrek direk daarna plaas toe.”
Haar ouers kyk haar in stomme verbasing aan. “Jy doen wát?” vra haar pa. “Wie is André Malan? Septimus se André?”
“Oom Septimus se plaasbestuurder.”
Haar ma knik. “Natuurlik. Ek het nie geweet jy ken hom nie, liefie.”
“Ja,” jok Julia ongemaklik. “Oom Septimus het die plaas aan ons albei nagelaat en as ons trou, is dit soveel makliker.”
Haar ma kyk haar skepties aan. “Jy het dan gesê jy gaan nooit trou nie. Na Wilhelm en –”
“Ek weet,” val Julia haar vinnig in die rede. “Ek gaan ook nie in hierdie huwelik in met verspotte romantiese idees nie. Julle weet dis nie iets waarin ek glo nie.” Sy probeer gerusstellend klink, al vind sy die situasie ’n bron van verleentheid. “As dit nie werk nie, werk dit nie.”
Die laaste opmerking skok haar ouers. “Nee,” sê haar pa. “Ek weet julle moderne jongmense is anders en jy weet ons was nooit ten gunste van die opset wat jy en …wel, daardie vent gehad het nie, maar ’n mens trou nie met só ’n houding nie. Ek en jou ma is al veertig jaar lank getroud. Ons het getrou in die vaste wete dat dit sál slaag.”
“Ek weet, Pa, maar dinge is nou anders. Die lewe is nou anders.”
“Julle moet dit laat slaag, liefie,” sê haar ma ernstig en vat haar hand vas. “Jy verdien nou ’n bietjie geluk. Maar waarom so skielik? Wil julle nie ’n groot troue hê nie?”
“Nee,” sê sy bot. “Ons is te oud daarvoor.”
“Mag ons dit darem bywoon?” vra haar pa. “Ons kan saam met jou ry en dan terugvlieg. Jy weet ek hou nie meer daarvan om so ver te ry nie. My oë is nie meer wat hulle was nie.”
“Natuurlik,” glimlag sy vir hulle. Sy hou nie daarvan om vir hulle te jok nie, juis omdat hulle nog altyd so onderskragend was; alles wat sy gedoen of besluit het, het hulle nog altyd onvoorwaardelik ondersteun, al weet sy dat sy hulle ongetwyfeld baie kwelling veroorsaak het. “Dan kan julle hom ontmoet.”
“Ons het hom al ontmoet,” sê haar ma, verbaas dat sy dit nie weet nie. “Hy is mos al lank op die plaas. Die laaste paar keer wat ons daar was, was hy al daar. Septimus help hom al van sy skooldae af. Septimus het die afgelope dertig jaar baie jongmense gehelp. Dis nie iets waarmee hy ooit te koop geloop het nie, maar hy was nou betrokke by die weeshuis en enigeen met talent en ’n begeerte om te leer, is deur hom aangemoedig en gehelp.”
“Ek het dit regtig nie geweet nie,” sê Julia eerlik. “Oom Septimus was ’n goeie mens.”
“André was altyd ’n spesiale geval,” vertel haar ma verder. “Ek dink hy was die enigste een wat ’n belangstelling in die boerdery getoon het; dié dat Septimus hom universiteit toe gestuur het.”
“André was altyd spesiaal vir Septimus. Hy was vir hom lief soos vir ’n eie kind, hulle het mekaar verstaan,” sê haar pa.
Dat haar ouers soveel van André weet, is vir Julia ’n groot verrassing en eintlik ook ’n verligting. Hulle ken hom beter as sy, dink sy wrang. Sy het hom nog net een keer gesien, hulle blykbaar al dikwels.
“Nou toe,” sê sy gemaak vrolik. “Dan moet ons besluit julle goedkeuring wegdra.”
“Hy’s ’n goeie man,” sê haar pa, “’n liewe seun. Sal jy goed wees vir hom?”
Die vraag slaan haar asem weg. “Ek … ek sal probeer,” sê sy flouerig.
“Ek weet die afgelope paar jaar was vir jou moeilik,” sê haar ma. “Jy het swaargekry en ek en Pa het ons gekwel omdat jy so hard en bitter geword het. Maar jy het ons en jou hele uitgebreide familie. Jy het grootgeword met vastigheid. Die jongman het dit nie gehad nie. Hy het niemand behalwe oom Septimus gehad nie. En daar was altyd iets omtrent hom …” Haar ma skud haar kop, soek na die regte woorde. “Julle het ’n slim, moderne uitdrukking daarvoor, maar ek weet nie hoe om dit te verduidelik nie. Hy is alleen. Dis in sy oë. Die allenigheid wat van diep binne af kom, ’n ding wat van jou geboorte af saam met jou is.”
Julia kou ingedagte aan haar lip. Dís die emosie wat sy gesien het, die min kere dat hy iets gewys het. Alleenheid. ’n Verskriklike alleenheid.
“Ek wil gaan swem,” sê sy bruusk en sy staan op. “Die tropiese hitte vang my. Gaan Pa saam?”
Toe sy later saam met honderde ander vakansiegangers deur die louwarm branders duik, berispe sy haar weer. Sy mag nie vir hom jammer voel nie. Dis hoe mans jou aan hulle voete kry. Die vrou is die een wat altyd verstaan, altyd toegewings maak, altyd die minste is, in die misplaaste denke dat sy op dié manier werk aan hulle liefde, aan die gedeelde band. En wanneer hy jou onder sy voete vertrap, is jy die een wat seerkry. Nee, besluit sy terwyl sy haar staan en afdroog en geïrriteerd kyk na al die mense, die roomyskarretjie en jillende kinders, sy sal nie uit haar pad gaan om hom seer te maak nie, sy is nie ’n monster nie, maar sy gaan haar ook nie aan hom blootstel nie. Nooit nie. Nie weer nie. Geen man gaan haar weer in sy mag kry nie.
Twee dae na Kersfees ry sy en haar ouers terug, en Saterdagoggend gaan haal Sandra en Dolf vir André op die lughawe.
“Ek gee nie om hoe onortodoks julle huwelik is nie,” sê Sandra streng vir Julia toe sy aanbied dat hulle vir André op die lughawe gaan haal, “maar ’n mens sien nie jou bruidegom op jou troudag nie.”
Julia lag net en gee vir Sandra ’n beskrywing van André sodat sy hom darem sal herken. Sy het ook ernstig met haar vriendin gepraat en haar ’n eed laat aflê dat sy nooit die ware toedrag van sake vir enigeen sal vertel nie, nie eens vir Dolf nie. Wat Dolf betref, is hulle reëlings aangaande die onderneming permanent.
Sy het ook toegegee aan Sandra se geneul en ’n hele dag in die stad saam met haar vriendin deurgebring om inkopies te doen. Haar tasse, klaar gepak en in die motor gelaai, is gevul met nuwe klere.
“Ja, onderklere ook,” het Sandra vasbeslote gesê. “En nagklere.”
“Maar Sandra,” het Julia geprotesteer, “jy weet tog hoe dit gaan wees. My kamer is heeltemal aan die ander kant van die huis. Dis mos nie ’n regte huwelik nie.”
“Dit maak nie saak nie,” het Sandra streng gesê. “Jy gaan nie in jou stokou T-hemde slaap nie. Jy besit nie eens ’n kamerjas nie en jou dienlike ou onderklere is genoeg om ’n oes te laat misluk. Koop mooi goed; ek wil kant en valletjies sien.”
Vir die seremonie self het sy selfs ’n rok gekoop. Nie een met kant en valletjies nie, maar nietemin ’n mooi rok van roomkleurige linne. Daarby dra sy ’n wyerandhoed vol blou en geel blomme.
Toe hulle voor die landdroskantoor stilhou, voel Julia vreemd senuagtig, veral toe sy Sandra en Dolf by André op die trap sien staan. Sy probeer saaklik optree, maar val amper oor die eerste trap, ongewoond aan die hoë hakke. Haar enigste troos is dat André net so ongemaklik lyk.
Sy was net van plan om haar hand uit te steek om hom te groet toe hy – wat natuurlik verder gedink het as sy – nader staan en haar vinnig op die wang soen. Wat haar nog meer verbaas, is die hartlikheid waarmee hy haar ouers groet. Hy laat selfs toe dat haar ma hom omhels.
Die seremonie is binne drie minute verby, waaroor sy dankbaar is, en hulle skuif die twee goue ringe aan mekaar se ringvingers. Toe André haar oor die telefoon na haar ringgrootte uitgevra het, het sy gedink dis onnodig, maar nou is sy dankbaar. Dit sou ’n verleentheid gewees het as hulle sonder ringe hier opgedaag het.
Nadat die register geteken is, ry hulle almal na ’n restaurant waar haar pa vonkelwyn bestel en ’n heildronk op hulle instel. Alles is vir Julia ’n bietjie onwerklik. Dis asof hulle almal meedoen aan ’n toneelstuk wat teen almal se voorspelling in tog lyk asof dit slaag. Hulle ry terug na die huis toe en Sandra neem haar ouers lughawe toe.
“Wees gelukkig, skat,” sê haar ma toe sy haar vasdruk. Haar ma is nie gewoonlik ’n emosionele mens nie, maar daar is ’n intensiteit in haar stem. “Wees goed vir mekaar, julle verdien dit. Jy én hy.”
Julia voel weer soos ’n skurk en dit maak haar kortaf toe almal uiteindelik weg is en net sy en André agterbly.
“Hoe laat is jou vlug?” vra sy.
“Ek kan nie toelaat dat jy alleen ry nie,” sê hy kalm. “Ek het gedink ons kan saamry.”
“O?” vra sy skerp. “Maar ek wou sommer nou gery het. Ek hou daarvan om deur die nag te ry.”
“Dis in orde.” Hy loop afgetrokke deur die woonkamer, kyk na alles, bestudeer haar skilderye en foto’s. Dit bly vir haar die vreemdste situasie waarin sy nog ooit was. Hierdie man, so netjies geklee in sy donker pak, is die man met wie sy enkele ure gelede getroud is. Dis bisar, om die minste daarvan te sê.
“Ons kan nie só ry nie,” sê sy en wys na hulle klere. “Ek gaan eers iets gemaklikers aantrek. Jy seker ook?”
Sy is net op pad om hom na die gastekamertjie toe te neem toe die telefoon lui. Sy lig die gehoorstuk op. “Julia Naudé.”
“Malan,” sê André op sy sagte manier agter haar.
Sy hou haar hand oor die mondstuk. “Ekskuus?”
“Malan,” herhaal hy. “Jy is nou Julia Malan.”
Sy staar ’n oomblik lank na hom en gaan dan voort met die gesprek, maak ’n aantekening en sit dit waar Sandra dit Maandagoggend sal sien.
“Jy kan hier uittrek,” sê sy en stap die gang af. Hy volg met die klein tassie wat hy saamgebring het.
Sy trek ’n denimlangbroek en ’n T-hemp aan en toe sy uitkom, het hy ook klaar verklee. Sy begin toesluit. Plato loop al agter hulle aan, verward en snuiwend aan André se broekspype.
“Is dit jou eie huis?” vra André beleef.
“Ja.” Haar stem is ferm. “Afbetaal en myne. Dis klein, maar dis al wat ek nodig het.”
“Dis ’n lekker plek,” merk hy op. “’n Mens kan sien jy is ’n tuinier, dis net blomme waar jy kyk. Gaan jy dit nie mis nie?”
“Natuurlik,” sê sy kortaf, “maar Sandra sal goed daarna kyk. Ek beplan om tuin te maak op die plaas.”
Sy sluit die voordeur toe, kyk vir ’n laaste keer na die huis en loop na haar motor om die agterste deur vir Plato oop te hou. Hy spring dadelik in en gaan sit in die spasie wat sy vir hom gelaat het tussen die tasse en dose. Sy wil omstap na die bestuurderskant, maar André hou reeds vir haar die passasiersdeur oop.
“Ek sal bestuur,” sê hy.
Sy sluk haar woorde terug en klim in. Dis nog te vroeg om nou al te baklei. Sy kyk ook nie terug toe hulle wegry nie. Sy het ’n besluit geneem en sy sal daarby hou. ’n Jaar is nie só lank nie.
“Ek het nog nie eens tyd gehad om te vra hoe jou vlug was nie,” sê sy toe hulle ry. “Het jy en Sandra mekaar gou herken?”
“O ja,” sê hy. “Ek het seker soos ’n bruidegom gelyk.”
Sy kyk vinnig na hom, onseker of hy ’n grap maak, maar sy gesigsuitdrukking verraai niks nie.
“Ek het nie besef jou ouers is spesifiek jóú ouers nie. Hulle het dikwels op die plaas gekom.”
“Ek weet. Ek was net so verbaas toe ek hoor hulle ken jou eintlik beter as ek.” Sy haal haar skouers op. “Dit het alles makliker gemaak.”
“In watter opsig?”
“Wel, dit was erg genoeg om sommerso onverwags te moes vertel dat ek binne enkele dae trou. Die feit dat dit darem is met iemand wat hulle ken en van wie hulle hou, het dit vergemaklik.”
Hy draai sy kop effens. “Hou hulle van my? Hoe weet jy dit?”
“Hulle het so gesê. Jy dink tog nie ma’s en pa’s sal …” Sy sluk die res van haar woorde in, spyt oor haar gebrek aan takt. “Ek is jammer. Jy het nie ondervinding van hoe ouers optree nie.”
“Nee,” stem hy saam. “Ek het nie.”
“Hoe ook al,” sug sy, “hulle keur jou goed. Wat hulle oor ’n jaar gaan sê, weet ek nie.”
“My leuse was nog altyd om een dag op ’n slag te hanteer,” sê hy. “Om jou vooruit reeds oor iets te bekommer, help nie. Dit los nie die probleem op nie en versuur net elke dag.”
“Dis waar.” Terwyl hulle ry, speel sy met die breë goue ring aan haar vinger. “Ek moet jou nog terugbetaal vir die ring,” sê sy afgetrokke en kyk na sy hand en die blink ring. “Wat gaan ons doen omtrent geld? Hoe gaan ons dit reël?”
“Ek sal jou Maandag na die bank neem. Ek het gedink ’n gesamentlike bankrekening is seker die beste. Oom Septimus se trustgeld sal seker eers veel later inbetaal word wanneer die boedel beredder is. Dis nie net ’n geval van handig die huweliksertifikaat in, en alles is meteens ons s’n nie.”
“Ek wil nie eens daaraan dink nie,” kla sy. “Sulke soort goed maak my moeg. Ek plant liewer ’n tuin of maak die grassnyer reg.”
Hy kyk met nuwe belangstelling na haar. “Kan jy grassnyers regmaak? Wat van trekkers?”
Sy lag; dis nie iets wat sy dikwels doen nie. “Ek kan seker probeer, solank jy onderneem om met die prokureurs te heul.”
“Akkoord.”
Hulle ry ’n lang ruk in stilte. Om hulle begin die son sak en die lug verkleur in skel oranje en rooi.
“Ons kan later stilhou en iets eet,” stel hy voor en kyk oor sy skouer na Plato. “Jou hond moet seker ook sy bene rek.”
“H’m.” Sy onderdruk ’n gaap. “En jy kan nie heelpad bestuur nie. Ons moet omruil.”
By Kroonstad ry hulle van die snelweg af, hou stil by ’n padkafee en eet iets. Sy haal Plato se bak uit en voer hom. Toe hulle weer ry, bestuur sy.
“Miskien moet jy bietjie slaap,” stel sy voor. “Ek sal jou wakker maak wanneer ek moeg word.”
Hy doen dit, so vinnig dat sy eintlik verbaas is. Hy rol sy baadjie op, druk dit soos ’n kussing tussen sy kop en die syvenster in en binne minute kan sy aan sy rustige asemhaling hoor dat hy slaap. Dis al heeltemal donker, maar haar oë is gewoond daaraan, en in die flou lig wat van die paneelbord af kom, bestudeer sy sy gesig.
Hy is nie lelik nie, besluit sy. Sy hoef definitief nie skaam te wees om saam met hom gesien te word nie. In sy slaap lyk hy ook jonger; die effense stywe trek om sy mond en oë is ontspanne en weg. Sy voel hoe haar hart weer versag en sy veg daarteen, hou haar oë op die nimmereindigende teerpad wat voor hulle uitstrek. Maar sy kan dit nie verhelp nie – toe sy haar weer kom kry, kyk sy intens na hom. Hy is nou haar man, besef sy verras. Die hand wat so ontspanne op sy skoot lê, die vingers effens na bo gekrul, dra ’n goue ring identies aan die een aan haar vinger. Dit bind hulle. ’n Jaar lank is hulle aan mekaar verbind, in die oë van die wet sowel as in die oë van almal wat hulle ken. Dis ’n vreemde gedagte. Sy frons effens en kyk hom met nuwe intensiteit aan.
“Jy gaan ’n gat regdeur my gesig kyk,” sê hy sonder om sy oë oop te maak. “Hou jou oë op die pad.”
Sy is heeltemal onkant betrap. In die donker voel sy hoe sy rooi word. “Ek dog jy slaap,” sê sy.
“Ek het, maar jy kyk my wakker.” Hy sit regop, trek sy vingers deur sy hare wat nou los oor sy voorkop val en haal sy sigarette uit.
“Ek het ’n fles koffie ingepak,” sê sy koel om haar verleentheid weg te steek. “Dis agter my sitplek; voel daar rond.”
Hy haal dit uit en skink vir hulle albei.
“H’m,” sê hy. “Dis lekker. Is jy al moeg, of het die studie van my jou wakker gehou?”
“Jy kan my nie kwalik neem nie,” sê sy. “Hier ry ek in die nag op pad na ’n relatief onbekende bestemming saam met ’n volslae vreemdeling met wie ek enkele ure gelede getroud is.”
“Ek is tog nie ’n bedreiging nie?”
“Nee,” erken sy. “Dis nie asof ek verwag jy gaan in ’n weerwolf verander nie. Dis net dat ek jou glad nie ken nie.”
Hy haal sy skouers op. “Ek ken jou ook nie.” Hy wys met sy hand. “Trek van die pad af, dis al middernag. Ek sal nou bestuur.”
Hulle klim albei uit en laat Plato bietjie rondloop. Sy haal ’n trui uit omdat die naglug nogal koud is. Hulle ruil plekke om en nou is dit sy wat opkrul om bietjie te slaap, behalwe dat die koffie haar ’n tweede asem gegee het.
Beskerm deur die donkerte sien sy kans om meer uit te vra as wat die geval in helder daglig sou wees.
“Het jy jou … e …vriendin vertel?” vra sy.
“Vanselfsprekend.”
“En? Wat was haar reaksie?”
Sy kan letterlik voel hoe die spiere in sy gesig saamtrek. Toe sy na hom kyk, sien sy hoe sy kakebeen styf span.
“Sy het seergemaak gevoel.”
“Miskien moet ons haar die waarheid vertel. Sy is ’n onskuldige omstander; dis nie reg dat sy hierdeur ontstel word nie.”
“Nee,” sê hy streng. “Ons het ooreengekom ons vertel niemand nie.”
“Ja, maar sy … Wat is haar naam?”
“Wilma.”
“As julle lief is vir mekaar, is dit nie regverdig dat …”
“Ek het min ondervinding van liefde,” sê hy styf, sy oë ferm voor hom op die pad.
“O,” sê sy verbaas. “Julle is dus nie regtig verlief nie?”
Hy sug. “Wil jy nie nou slaap nie?”
“Nee,” sê sy koppig. “Ek dink ek het die reg om voorbereid te wees op die moontlike drama wat vir my wag.”
“Daar sal geen drama wees nie,” verseker hy haar.
“Ek wil nie beskuldig word daarvan dat ek jou van haar afgerokkel het nie.”
“Wilma sal nooit so iets doen nie.” Sy stem is nou baie koud.
Sy woel haar reg om te slaap. “Ek hoop nie so nie. Indirek bewys ek haar ’n guns deur tot hierdie huwelik in te stem. Jy kry jou plaas en sy kan jou oor ’n jaar kry.”
“Dis nie nodig om so brutaal te wees nie.”
“Ek is jammer,” sê sy sonder om jammer te klink. “Ek glo nie aan enige vorm van romantiese liefde nie, dus moet jy my vergewe as ek hardvogtig klink. Dis alles net verskonings wat mense uitdink om ander mense te manipuleer.” Plato snuif in haar nek en sy reik na agter en vryf sy nek. “Liefde is iets soos my liefde vir my hond. Dit is geldig en toelaatbaar en onselfsugtig.”
Hy lewer nie hierop kommentaar nie en na ’n ruk raak sy aan die slaap, net bewus van die egalige dreuning van die enjin in haar ore.