Читать книгу Christine le Roux Keur 3 - Christine le Roux - Страница 8
Hoofstuk 5
ОглавлениеToe dit in die ooste begin lig word en die eerste gryserige strepe die hoër dele van die vallei losmaak uit die donkerte, ry hulle met die plaaspad op na die huis. Julia voel styf en seer, haar oë branderig van die min slaap. André wou nie weer toelaat dat sy bestuur nie en alhoewel hy nie ooglopend moeg lyk nie, begin sy tog sekere tekens herken: ’n stywigheid om die mond, sy hande wat die stuurwiel stywer vashou as wat nodig is.
“Hier is ons,” sê hy en klim uit. Hy bly ’n oomblik lank staan, rek sy arms bokant sy kop uit voordat hy omstap en haar uithelp.
Plato spring dankbaar uit, draf soos ’n mal ding in sirkels rond, hardloop met die trap op en weer terug, ruik aan alles. Juno, oom Septimus se ou hond, kom waggelend nader op sy stywe bene en die twee honde beruik mekaar, maar dis gou vir Plato duidelik dat Juno geen kompetisie is nie en die ou hond kry selfs ’n bietjie lewe en probeer sukkelend byhou.
“Dis so pragtig,” sê Julia en kyk af oor die mistige vallei. Sy draai na André. “Ek is so bly om terug te wees.”
Hy kyk net na haar en glimlag effens, dan begin hy die bagasie aflaai. In die gang wil sy sommer direk aanstryk na die gastekamer toe, maar hy keer haar.
“Wag,” sê hy. Hy lyk effens ongemaklik. “Mense gaan praat. Mieta gaan praat. Ek het vir haar gesê jy is die soort mens wat aandring op jou eie slaapkamer, maar die gastekamer is aan die verste punt van die huis en dit sal tog vreemd voorkom.”
“Natuurlik,” sê sy geredelik. “Waar wil jy hê ek moet slaap?”
“Dis my kamer,” beduie hy. “Dis waar ek nog al die jare slaap, dus het ons die hoofslaapkamer vir jou reggemaak. Dis langs myne. Gee jy om?” Voordat sy kan antwoord, gaan hy voort: “Dit het dit ook makliker gemaak om te verduidelik. Ek het vir Mieta gesê ek is so gewoond aan my kamer wat ek sommer as kantoor ook gebruik dat dit nie nodig is om nou al my goed oor te dra na die hoofslaapkamer nie.”
“Ek sien,” sê sy en stoot die deur van haar nuwe kamer oop. “Ek sal nou en dan stukkies onderklere in jou kamer laat rondlê en jy kan af en toe ’n hemp of broek oor my stoel hang.” Sy glimlag guitig vir hom, al lyk hy nie asof hy dit so humoristies vind nie.
Die nuwe kamer is ook mooi. Dis min of meer so groot soos die gastekamer, behalwe dat hier net een groot koperbed is. Sy loop dadelik nader en gaan sit op die rand.
“H’m,” sê sy. “Lekker bed.” Toe al haar bagasie op die mat staan, kyk sy na hom. “Wat doen jy gewoonlik op ’n Sondag?” vra sy.
“Nie veel nie. Teen die middag moet ek kyk dat die diere versorg is en so.”
“Goed,” sê sy en staan op. “Dan gaan jy nou eers slaap.”
Sy wenkbroue lig. “Gaan ek?”
“O ja. Hoe lank bestuur jy nie nou al nie?”
Hy beweeg terug na die gang. “Mieta kom nie vandag in nie. Ek sal vir ons ontbyt maak. Jy is seker honger?”
Sy stap by hom verby. “Ek kán kos maak. Ek sal dit maak.”
Hy lyk verbaas, maar vergesel haar na die kombuis.
Terwyl hulle solank tee maak, maak sy al die kaste oop en kyk wat in elkeen is.
“Is jy ’n besitlike soort mens?” vra sy oor haar skouer. “Of gee jy nie om as ek oorneem nie?”
“Ek gee nie om nie.”
Hy het by die tafel gaan sit en hy lyk vir haar nou baie moeg. Miskien is dit bloot omdat hy ongeskeer is, dink sy, maar sy haas haar, gooi eiers in die pan en sny brood. Hy eet dankbaar, sy kan sien hy is honger.
“Dis darem vreemd, nè?” sê sy mymerend toe sy oorkant hom sit. “Jy is skaars vier en twintig uur gelede hier weg en hier is ons, terug en getroud.”
Hy glimlag net en vee oor sy ongeskeerde ken met ’n vieserige uitdrukking. “Gaan jy nou uitpak?”
“Nee,” sê sy beslis. “Ek gaan nou slaap. Jy ook. Het jy genoeg geeet? Dan kan jy maar gaan bad en slaap.”
“Ek slaap nie in die oggende nie.”
“Vandag gaan jy. Ek sal opruim.”
Toe hy weg is en sy die geluid van lopende water hoor, verwonder sy haar oor haar beslistheid. Wat skeel dit haar of hy moeg is of nie? Dis omdat hy anders is as die meeste mans wat sy ken, anders as … Wilhelm. Sy gril nog as sy die naam selfs in haar gedagtes sê. Wilhelm was selfsugtig. Sy hele lewe, nee, húlle hele lewe was ingestel op sy gerief. Dit was nooit nodig om besorg te wees oor hom nie, hy het te goed vir homself gesorg.
André is … anders. Sy dink aan wat haar ma gesê het: hy is die alleenste mens wat sy ken. Ja, dink sy, dis waar, maar daar is meer. Dis nie net sy alleenheid wat haar tref nie, dis sy sagtheid. Sy skrop die pan en spoel hulle borde en koppies uit. ’n Vreemde woord vir ’n groot, sterk man, maar dis waar. Nie dat sy haar daardeur gaan laat sag maak nie, besluit sy ferm. O nee. Dis maar net soos dit is; sy neem kennis van hierdie eienskappe van hom.
In die volgende paar dae word haar eerste indrukke versterk. Waarvoor sy veral waardering het, is sy hoflikheid. Wanneer sy in ’n kamer inkom, staan hy op. Aan tafel trek hy haar stoel vir haar uit. ’n Man met sulke goeie maniere gaan nie ’n moeilike vennoot wees nie; om die waarheid te sê, dit gaan meehelp om die jaar aangenaam te laat verbygaan.
Sy pak al haar besittings uit en vul die ingeboude kaste met haar klere. Sy konnekteer haar musiekstel en pak haar boeke in die boekrak in die televisiekamer.
Bedags, veral soggens vroeg voordat dit te warm word, gaan stap sy en Plato, elke dag ’n ander rigting. Plato pas goed aan, behalwe dat hy die eende nie kan weerstaan nie. Hoe kwater hulle word en hoe harder hulle vir hom blaas, hoe wilder blaf hy. Sy probeer hom van die dam af weghou, maar sy moet ’n paar keer per dag uitgaan om na hom te roep omdat hy so ’n herrie veroorsaak.
Sy en Mieta verstaan mekaar en sy leer die huis ken. Wat Mieta regtig van haar en haar rol in die huis dink, weet sy nie. Volgens Mieta het André vir Wilma gehad, maar Julia het een naweek kom kuier en ’n paar weke later ingetrek as sy nuwe vrou. Dit moet vreemd lyk, maar Julia kan dit ook nie aan haar verduidelik nie. Of Mieta bewus is van die vreemde toedrag van sake aangaande hulle slaapreëlings weet sy ook nie. Om die een of ander onverklaarbare rede is dit belangrik, voel sy asof haar eer op die spel is.
Wat sy die eerste oggend vir André gesê het, was nie net ’n grap nie. Sy gooi haar nagrok op André se bed nadat hy vroegoggend uit is op sy rondtes en loop kastig doodluiters daarna en soek wanneer sy weet Mieta is besig om sy kamer skoon te maak. Wanneer sy objektief daaraan dink, kry sy lag vir haarself, maar sy hou ook nie op nie.
Hy is een middag in sy kamer – hy het trouens net uit die badkamer gekom – toe sy klop en instap, ’n ekstra tandeborsel en ’n pienk waslap in haar hand. Sy stap verby hom, hang die waslap langs syne in sy badkamer en druk die tandeborsel in die glas langs syne.
“Moenie vir my vra waarom ek dit doen nie,” gebied sy hom. “Ek het net ’n verskriklike afkeer van mense wat oor my praat of moontlik oor my doen en late spekuleer.”
“Ek gee nie om nie,” sê hy beleef.
Dit lyk nie asof Mieta hoegenaamd spekuleer nie; sy sit hulle gestrykte wasgoed alles op Julia se bed neer en Julia voel inderdaad getroud wanneer sy André se kaste oopmaak en sy klere wegpak.
Oor die algemeen vind sy hulle daaglikse samesyn ongelooflik rustig en ongekompliseerd. Sy het nie besef teen watter woeste pas sy die afgelope jaar gewerk het nie. Vir haar was dit die enigste medisyne. Nou is elke dag soos ’n skoon bladsy, daar is niks op geskryf nie; dis ’n wonderlike oopte waardeur sy kan stap, waarin sy kan stilstaan net wanneer sy wil.
Gedurende die eerste twee weke is die enigste ander mense wat sy sien die werkers op die plaas. Eintlik vind sy dit ’n bietjie vreemd en noem dit aan André.
“Ek dog in ’n landelike gemeenskap kuier julle oor en weer,” sê sy. “Bure en goed.”
“Almal was weg oor Kersfees,” sê hy. “Hulle kom nou terug. Ek het gewonder of ons dalk iets moet hou, ’n braaivleis miskien. Dan kan jy almal ontmoet. Ek het uit die aard van die saak nie veel onthaal nie, veral nie die afgelope maande sedert oom Septimus siek geword het nie.”
Sy sit en nadink. “Ek wil die mense ontmoet, maar is dit nie ’n onnodige komplikasie nie?” vra sy. “Dit gaan dit moeiliker maak wanneer die jaar verby is.”
“Jy kan nie so redeneer nie,” sê hy redelik. “’n Jaar is lank genoeg. Ons kan nie maak asof jy nie bestaan nie.”
“Dis waar. Goed, kom ons hou ’n braaivleis.”
Sy bestudeer hom waar hy met die koerant op sy skoot sit. Hy is altyd netjies geklee, maar die mosterdkleurige hemp wat hy nou en ’n paar keer vantevore gedra het, irriteer haar. Sy vind dit ’n afstootlike kleur en boonop pas dit hom nie.
“Luister,” sê sy, “gooi daardie hemp weg. Ons het stoflappe nodig en dis net die regte kleur vir ’n stoflap.”
Hy kyk verbaas op. “Hoekom moet ek dit weggooi?”
“Dis lelik.”
“Is dit?” Hy kyk af na die hemp asof dit die eerste keer is dat hy dit sien.
“Ja,” sê sy beslis. “Dit pas jou glad nie. Jy kan wit of blou of enigiets anders dra, maar daardie geel laat my dink aan die dae toe ek skeelhoofpyn gekry het.”
“Goed,” stem hy in op sy rustige manier. “As jy daardie rooie van jou sal weggooi.”
Sy is verstom. “My rooie?”
“Ja.” Hy hou sy oë op die koerant.
Sy is so verras dat sy nie eens stry nie.
Toe sy die volgende oggend na ontbyt die geel hemp op haar bed sien lê, haal sy haar rooie uit die kas en knip albei seremonieel in vierkante wat sy vir Mieta gaan gee om as stoflappe te gebruik. Toe gaan sy uit en roep na Plato sodat hulle kan gaan stap.
Juno is twee dae nadat sy op die plaas gekom het dood, asof hy met Plato se koms besluit het dat die plaas nou in goeie hande is; hy kan maar weggaan. André het haar vertel die hond was al veertien jaar oud en het sedert oom Septimus se dood vinnig agteruitgegaan. Julia is egter nie so seker dat Plato ’n goeie plaashond gaan word nie; sy moet gedurig met hom raas omdat hy histeries blaf vir enige dier wat hy sien.
“Plato!” roep sy nou en stap uit op die stoep. Sy fluit. “Kom, honne, ons gaan stap!”
Sy knik vir die werker wat oor die werf ry met die trekker en sleepwa en fluit weer. Op daardie oomblik kom Plato uit die oop waenhuisdeur gestorm, opgewonde en tjankend, kennelik besig om die waenhuiskatte te treiter. Dit gebeur alles so vinnig dat sy nie kans het om ’n waarskuwing te skree nie. Een oomblik hol ’n goue bondel na haar toe en die volgende oomblik sien sy hom tol tussen die wiele van die trekker.
“Nee!” skree sy in ’n stem so hard en skril dat dit haar eie ore seermaak. Sy storm vorentoe, maar voordat sy by hom kniel, weet sy reeds dis te laat om iets te doen. Hy is dood.
Sy val op haar knieë in die rooi stof en druk haar kop teen syne wat nog warm is. Sy huil soos sy in jare nie gehuil het nie. Die hond se goue pels word nat van haar trane terwyl Magiel, die trekkerbestuurder, langs haar staan en verskonings mompel. Die hond was te vinnig, hy kon niks doen nie. Sy hoor hom nie, sy huil te hard.
“Plato,” sê sy oor en oor. “Nee, kom terug!”
Sy hoor die bakkie stilhou, maar sy bly net daar sit, vooroor gebuig in die stof, die hond se lewelose kop in haar arms.
“Julia,” sê André, en hy kniel langs haar. “Wat het gebeur?”
“Ek het hom geroep,” huil sy. “Hy’t uit die waenhuis gestorm en reg onder die trekker ingehardloop. Dis my skuld. Ek moes hom nie geroep het nie.”
Hy vat haar aan die skouer. “Kom, daar is niks wat ons kan doen nie. Ek is so jammer.”
Sy laat haar teruglei na die huis. Hy laat haar in die stoepkamer sit en vra Mieta om vir hulle tee te maak. Sy bly inmekaargekrimp op die rottangstoel sit, haar arms oorkruis oor haar bors gevou terwyl die trane onophoudelik oor haar wange stroom.
“Hy’s al wat ek gehad het,” sê sy. “Hy was die enigste ding wat myne was.”
Hy sê niks nie, skink net die tee in toe dit kom en dwing haar om die soet, warm vloeistof te drink.
“Hy was nie die werf gewoond nie,” sê hy naderhand. Sy hart is seer toe hy na haar geboë kop kyk. Die fluweelband wat sy altyd dra om haar hare uit haar gesig te hou, het afgeval; die syerige, donker hare val soos ’n gordyn oor haar gesig. Hy is verbaas dat sy met haar sardoniese uitkyk op die lewe so gebroke kan huil, en hy voel hulpeloos omdat hy nie weet hoe om haar te troos nie.
“Hou op huil,” pleit hy na ’n ruk. “Jy gaan jouself siek maak.”
Haar skouers verstyf, sy soek in haar sak rond vir ’n sakdoek en vee haar oë af. Toe sy opkyk, is haar grys oë nat en geswel en sy byt haar lip vas, maar sy is weer kalm.
“Ek huil nie gewoonlik nie,” sê sy styf en skink vir haar nog tee in.
“Ek is regtig baie jammer,” sê hy. “Ek weet wat hy vir jou beteken het. Ons sal hom begrawe.”
“Dankie,” sê sy formeel en ontwyk sy oë.
Die volgende paar dae sien hy haar omtrent nie. Mieta vertel hom dat sy vir haar kos inpak en na die berg stap. Soms wanneer hy in die bakkie rondry, sien hy ’n spikkel kleur hoog teen een van die hellings en raak hy net meer bekommerd. Sy ken nie die berg nie; daar is kranse en skeure waarvan sy nie bewus is nie. Toe sy nog ’n hond by haar gehad het, was hy minder bekommerd oor haar, maar nou het hy ’n goeie rede. Soos ’n antwoord uit die hemel kry hy ’n oproep van ’n vriend by wie hy ses maande gelede al ’n skaaphond bestel het. Sy vriend vertel hom dat die werpsel oud genoeg is en dat sy voorman André se hondjie sal bring wanneer hy dorp toe gaan.
Toe die hondjie afgelewer word, is Julia nie daar nie. Omdat André haar kort na middagete hoog teen die berg sien loop het, sluit hy die hondjie in die buitekamer toe en loop agter Julia aan.
Dis ’n warm dag, maar in die bergklowe is dit koel en hy probeer in die skadu klim. Kort-kort roep hy na haar, maar as sy hom hoor, antwoord sy nie. Hy weet sy klim dikwels in die rigting van die rooi kranse, ’n formasie ongewone klip van waar ’n mens ’n wonderlike uitsig na alle kante het. Toe hy uitasem om een van die fortagtige punte klim, sien hy haar sit, haar knieë opgetrek en haar ken op haar hand. Haar oë staar in die verte en sy ruk soos sy skrik toe sy hom sien.
“Hier is jy,” sê hy onnodig en gaan sit ’n ent van haar af.
“Wat maak jy hier?” vra sy toonloos. “Het jy nie werk nie?”
“Ek het jou kom soek.”
“Hoekom?”
“Ek het iets wat ek vir jou wil wys.”
Sy beweeg haar kop en klem haar hande stywer om haar opgetrekte knieë. “Ek hou daarvan om hier te sit.”
“Ek weet.” Hy het nou sy asem terug na die vinnige klim en staan op. “Toe ek jonger was, was dit my geliefkoosde plek.” Hy wys na die uitsteeksels. “Kan jy sien dat dit na ’n fort lyk? Ek het wonderlike dae hier beleef, so alleen allerhande speletjies gespeel.”
Sy draai haar kop en kyk vinnig na hom. “Watse soort speletjies?”
Hy lyk verleë. “Ag, alles. Dit was my koninkryk en ek was die dapper ridder wat die drake van my vesting af weggehou het.”
Sy draai weer haar kop vorentoe en staar oor die vreedsame panorama van valleie en landerye tot by ’n horison wat bewe in die hitte.
“Ek huil nooit nie,” sê sy skielik.
“Dan is dit miskien goed dat jy dit nou gedoen het.”
Sy kyk hom wantrouig aan. “Hoe weet jy dit?”
Hy krap met ’n stokkie tussen die los klippies rond. “Omdat ek nooit huil nie.”
“Net omdat jy ’n man is?” vra sy, iets smalends in haar stem.
“Nee, omdat ek nie kan nie. Nie eers toe ek ’n kind was nie.”
Sy sit lank na hom en kyk, al is sy gesig weggedraai en dra hy soos gewoonlik sy sonbril.
“Is dit wat jy vir my probeer sê? Dat ek my sit en doodhuil oor ’n hond, en jy wat veel meer as ek verloor het, huil glad nie?”
Haar woorde kwets hom; sy kan sien hoe hy letterlik wegruk van haar. Sy voel so sleg dat sy vinnig oorleun en haar hand op sy arm sit.
“Ek is jammer. André, ek is jammer. Ek is ’n heks. Vergewe my.” Sy voel sy armspier soos staal onder haar hand. “Ek moet ophou hiermee,” sê sy bedruk. “Ek het geen reg om my seerkry op ander mense uit te haal nie.”
Hy kyk na haar en glimlag effens. “Dit maak nie saak nie. Ek is taai.”
Sy staan op, stof haar langbroek af en tel die strooihoed met sy blou en geel blomme op. “Wat wil jy sê – dat jou skouers breed genoeg is om my sweepslae te weerstaan?”
Hy staan ook op en hulle begin afklim.
“Ja,” sê hy. “Ek breek nie maklik nie.” Hy hou sy hand uit om haar te help. Alhoewel sy eers geaffronteer wil voel, moet sy erken dis gerusstellend om sy hand stewig vas te hou terwyl hulle teen die klipperige helling gly en struikel.
“Dis jou trouhoed,” merk hy op toe hulle op gelyker grond begin stap.
“Ek weet, maar ek het Sandra belowe ek sal my nie langer verrinneweer nie.”
“Het jy dit altyd gedoen?”
“My voorkoms was nie ’n prioriteit nie,” sê sy styf. “Ek sit my nie en mooimaak vir iemand anders nie.”
“En nou?” vra hy. “Waarom doen jy dit nou?”
Die vraag betrap haar onkant. Verbouereerd soek sy na ’n koel antwoord. “Ek sê mos ek het Sandra belowe. Ek hoef nie hierdie jaar daagliks in die grond rond te krap nie. Buitendien is die son hier veel skerper.”
“Ek sien.” Hy maak vir haar die eerste hek oop. “Jy moenie sommer enige rigting inslaan op die berg nie. Daar is plekke wat gevaarlik is.”
“Ek weet,” sê sy. “Ek sit altyd daar waar jy my gekry het. Van daar kan ek die hele wêreld sien. Ek hoef net ’n halfuur daar te sit, dan is my kop heeltemal leeg.”
“Wil jy jou kop leeg hê?”
“Ja,” sê sy kortaf.
Hulle kom by die volgende hek en hy sukkel om dit oop te kry. “Party van hierdie hekke moet vervang word,” merk hy op.
“Ek klim sommer bo-oor. Dis te veel van ’n gesukkel om hulle oop te maak.”
“Maar dis doringdraad.”
“Ek skrik nie vir doringdraad nie.”
Hy kyk vinnig na haar. “Ek kan dit sien, ja.”
Toe hulle op die werf kom, kyk sy nuuskierig om haar rond. “Wat wou jy vir my wys?”
“Kom.” Hy stap om na die buitekamer toe, maar voordat hy nog die deur oopgesluit het, kyk sy al na hom met oë waarin daar weer lig skyn, want van agter die toe deur kom die droewige gehuil van die hondjie. Die oomblik toe die deur oop is, skiet hy uit; sy wollerige swart-en-wit lyfie spring met een wriemelende beweging in Julia se arms in.
“André!” sê sy, op haar knieë, haar strooihoed skeef gestamp, haar arms vol hond. Sy koes laggend heen en weer omdat die hondjie tjankend aan haar gesig lek.
“Sy naam is Radar,” sê hy. “Moenie vir my vra waarom nie, want ek weet nie.”
“Omdat hy so slim is,” lag Julia en druk hom teen haar bors vas. “Omdat hy alles kan sien.”
“Hy gaan ’n werkende hond wees,” sê hy streng. “Jy gaan hom leer. Ek sal jou help, maar as hy nie vinnig leer nie, gaan hy ook … seerkry.”
Haar oë verdonker, haar gesig verstrak. “Ek sal hom leer,” sê sy vinnig. “Hy gaan ’n baie gehoorsame hond wees.”
“Dis goed.” Hy kyk op sy horlosie. “My werk wag. Ek sien jou later vanmiddag.”
“André!” roep sy agter hom aan. “Dankie.”
Hy lig sy hand effens en stap weg sonder om eens om te kyk.
Toe hy teen skemer moeg en natgesweet voor die waenhuis stilhou, staan hy en kyk hoe sy, nou geklee in ’n kortbroek en hempie, kaalvoet op die grasperk besig is met haar eerste les.
“Sit,” sê sy vir die hondjie wat haar beteuterd aankyk en rollend agter haar aanhardloop wanneer sy wegstap. “Nee,” sê sy, sit hom weer op sy agterstewe neer en stap weg. “Sit!”
André skud sy kop en kom nader. “Hoe lank is jy al besig?”
Sy kyk op. Haar hare is in ’n poniestert gebind en sy lyk agtien jaar oud, indien nie jonger nie. “Ure.”
“Dan kan hy nou maar bietjie rus. Kom ons gaan drink iets.”
Sy tel die hondjie onder haar arm op en stap voor hom met die stoeptrap op, haar lenige, bruin bene blink en sterk, haar skraal heupe fiks in die stywe kortbroekie. Dit is asof dit die eerste keer tot hom deurdring: dis sy vrou, dink hy verstom. Hierdie mooi meisiekind is sy wettige vrou.
“Wat is dit nou?” vra sy en bly staan op die stoep om terug te kyk.
“Nee, nee, niks nie,” sê hy vinnig.