Читать книгу Christine le Roux Keur 3 - Christine le Roux - Страница 6

Hoofstuk 3

Оглавление

Omdat Julia so vroeg gaan slaap het, word sy wakker toe die eerste daglig deur die ruite kruip. Sy voel verbasend uitgerus; toe sy die vorige aand in die bed geklim het, het sy ’n slaaplose, rustelose nag voorsien, maar die teenoorgestelde het gebeur. Vir die eerste keer in baie maande het sy droomloos geslaap en nie langer as vyf minute wakker gelê nadat sy die lig afgeskakel het nie.

Sy bad vinnig, trek aan en stap suutjies uit in die gang waar dit nog donker is. Geen geluid is hoorbaar nie, en sy druk die groot voordeur versigtig oop, bang dat sy André sal wakker maak. Sy gee ’n paar tree vorentoe, loop uit op die stoep en weet so seker as wat sy daar staan dat sy verloor het.

Voor haar lê eers ’n halfmaanvormige grasperk, omring met ’n bosagtige heining wat dit skei van die eerste weiland. Van daar af daal die een afgekampte stuk groen weiland na die ander af na die vallei waar miswolke nog hang en meng met die rook wat hier en daar draal uit ’n woonhuis, verskuil tussen verre bome. Sy het nie besef die huis lê so hoog teen die voetheuwels van die berge nie en dat daar dus so ’n uitsig van die stoep af is nie. Sy stap vorentoe en klim met die trap af.

Op die grasperk draai sy om en kyk terug. Agter die huis klim die berge geleidelik, in diep voue en plooie, asof iemand dit met sorg so gevorm het, tot by die hoë pieke in die verte, dié tyd van die oggend ook nog verskuil in miswolke. Uit die skoorsteen aan die agterkant van die huis trek ook rook, maar daar is niks mistieks omtrent die huis nie. Dit staan groot en solied teen die helling, asof dit deel is van die berg en altyd deel daarvan sal bly. Die stoeppilare wat die sinkdak ondersteun, is wit en lyk selfs witter in die eerste sonstrale. Sy draai weer om en kyk om haar. Aan die oostekant is die lug pienk met ’n skerp geel streep waar die son deurgebreek het. Terwyl sy betower staan en kyk, vervaag die pienk, word alles geel en oranje en helder.

Op daardie oomblik kom André om die hoek van die huis gestap en bly verstom staan toe hy haar sien.

“Jy is vroeg op,” sê hy.

“Ek het vroeg gaan slaap.”

“Dis waar. Het jy goed geslaap?”

“Ek het lank laas so goed geslaap.”

Hy kyk haar ’n oomblik lank skerper aan, maar wys dan na die huis. “Daar is koffie in die kombuis.”

Sy bly nog ’n oomblik staan, teësinnig om die toneel voor haar prys te gee.

“Dis so pragtig,” sê sy en swaai haar arm om alles in te sluit. “Ek het nie geweet … Ek het nie verwag dat dit só mooi gaan wees nie.”

“Ek weet,” sê hy, en hy wys dat sy moet vooruitstap.

In die kombuis ontmoet sy vir Mieta en sy onthou weer haar kinderdae, want alhoewel die kombuis ook gemoderniseer is, is die verandering nie drasties nie. ’n Elektriese stoof staan oorkant die koolstoof, maar dit lyk vir haar na ’n blote ornament aangesien Mieta skynbaar net die koolstoof gebruik. Die geelhoutkassies lyk ook nuut, maar dit is moontlik net gerestoureer. Die groot ou tafel staan nog in die middel van die vloer wat nou geteël is en nie meer met linoleum bedek is nie. Die wasbakke is van vlekvrye staal en nie meer van marmer nie. Sy trek ’n stoel uit en gaan sit by die tafel terwyl Mieta vir hulle koffie inskink. André gaan sit nie ook nie, hy leun teen die kas, sy koffiebeker in sy hand. Mieta tel ’n toegebinde bondel wasgoed van die vloer af op en verdwyn daarmee by die kombuisdeur uit.

“Dit kán nie,” sê Julia moedeloos.

“Wat kan nie?”

Sy maak ’n radelose gebaar met haar hand. “Dit alles. Dit kan nie prysgegee word nie.”

Sy stem is toonloos. “Nee.”

“Jy moet dit ondraaglik vind,” sê sy, “die blote gedagte.”

Hy beweeg sy kop effens. “Ek kan nie pleit nie,” sê hy dan en die woorde kom stadig en moeisaam uit. “Ek het nooit iets gehad nie. Nie ’n eie huis of … Ouderus is die enigste huis wat ek ken. Hierdie plaas is my enigste tuiste, maar ek weet ook dat dit in die eerste plek jou besluit moet wees. Jy ken dit nie, dis nie deel van jou” – hy huiwer, dis kennelik moeilik vir hom om so te praat – “wese nie,” sê hy dan. “Jy het ’n huis en loopbaan, jy kan hiersonder klaarkom. Jy is die een wat die grootste opoffering sal moet maak.”

“Ek het ten minste geen ander …” Sy vind dit ewe onsmaaklik om hieroor te praat en dwing haar tot saaklikheid. “Geen ander persoon in my lewe nie. Jy het.”

Hy haal sy skouers op, swyg.

Sy laat sak haar kop meteens in haar hande en klem haar vingers om haar kop. “Ek mag nie vir jou jammer wees nie!” sê sy hard. “Ek is vir niemand jammer nie. Ek doen wat ek wil.”

Hy swyg steeds.

“Hoekom het hy dit gedoen?” vra sy wanhopig en kyk op na hom. “Jy het saam met hom geleef, hom beter geken as ek. Waar het hy aan so ’n verregaande plan gekom?”

“Ek weet nie.” Hy loop na die stoof, tel die koffiepot op en skink hulle albei se bekers weer vol. “Ek dink die afgelope paar weke aan niks anders nie. Ek weet nie of die prokureur dit aan jou genoem het nie: hulle reken ons sou hierdie verspotte voorwaarde in die hof kon betwis.”

“Nee!” Haar stem word yl, so intens is dit. “Ek het gesê geen verdere hofsake nie! Dis erg genoeg dat ek weer met prokureurs deurmekaar is.”

Hy kyk haar vraend aan, wag dat sy verder moet verduidelik.

“My redes is nie ter sake nie,” sê sy koud. “Ek weier net, dis al. Dit kan maande duur, dit kos ’n ongelooflike klomp geld en op die ou end …” Sy skud net haar kop.

“Hulle het vir my gesê ons sal moet bewys dat oom Septimus nie meer by sy volle positiewe was nie – ontoerekeningsvatbaar. En dit gaan onmoontlik wees. Almal wat hom geken het – sy vriende, die dominee, die werkers hier op die plaas – almal weet dat hy tot die laaste oomblik helder van verstand was.” Hy sluk. “Die oggend voordat hy dood is, het ons nog gesit en praat oor boerdery. Hy was die hele tyd helder, hy het selfs nog grappe gemaak. Daar is nie sprake van … dat hy nie geweet het wat hy doen nie. En die testament self is deur sy prokureur opgestel en deur getuies onderteken. Alles is reg en wettig.”

Sy kyk af na haar hande. “Dis net ’n jaar, maar ’n jaar kan oneindig lank wees.”

Hy sit sy beker neer. “Moenie vir my wag vir ontbyt nie. Sê vir Mieta wanneer jy wil eet; ek kom eers teen nege-uur in.”

Hy knik vir haar en verdwyn by die kombuisdeur uit. Sy bly net daar sit. Later kom Mieta terug en bak vir haar ’n eier.

“Hoe lank ken jy vir meneer Malan?” vra Julia.

Mieta kyk op, haar verkreukelde gesig een groot glimlag. “Hy was nog klein, so ’n opgeskote jongetjie. Foei tog, en sonder ’n mammie, het die ou meneer gesê. ’n Wees.”

“Ja,” sê Julia, en sy begin eet.

“Maar die ou meneer was lief vir hom asof dit sy eie kind was,” gaan Mieta voort. “Ek dink dis omdat meneer André van die begin af nes die ou meneer gevoel het oor die plaas. Hulle was so eenders. Nooit veel gepraat nie, maar hulle het mekaar verstaan. Die een het geweet wat in die ander een se kop gebeur.”

“Dan moet hy swaarkry na oom Septimus se dood?” sêvra Julia.

“Ai, juffrou.” Mieta vee oor haar oë. “Dit was bitter dae vir ons gewees. Meneer André het net so gesit, elke aand, elke oggend. Niks gesê nie. Hy’s nie ’n prater nie, maar ek weet hy voel die leegte in die huis.” Dan verhelder haar gesig. “Maar die ou meneer was ’n goeie man.” Sy kyk na Julia en herhaal: “’n Goeie man. Meneer André het vir ons gesê die prokureur sê daar is vir ons gesorg. En ek weet …” Sy kyk Julia diep in die oë. “Ek wéét hy het vir meneer André gesorg. Die plaas is nou syne soos dit hoort.”

“Hoort dit so?”

Mieta knik en draai terug na die stoof toe. “Die ding waarvoor jy lief is, word joune,” sê sy. “Dit kan nie anders nie.”

“Nee,” sê Julia, en sy staan op. “Dit kan seker nie anders nie. Dankie vir die ontbyt. Ek gaan ’n ent stap.”

Sy loop agter uit en begin verby die huis teen die rante uitstap. Aan haar regterkant lê die hoenderhokke; ’n werker is besig om eiers uit te haal en hy knik vir haar. Sy knik terug en stap aan. Elke nou en dan moet sy ’n hek oopmaak, wat nie altyd maklik is nie – die hekke is stram en baie oud. Sy klim hoër op en voel hoe die son begin steek. Sy rol haar hempsmoue op en stap aan totdat sy by ’n plaat bome kom waar sy kan sit en uitrus. Voor haar het die uitsig verbreed; die huis met sy rooi dak het nou klein geword, die vallei na onder selfs kleiner en die ander huise in die verte blote spikkels kleur tussen hulle omringende bome. Dis die vreedsaamste landskap wat sy nog ooit gesien het. As sy haar kop net effens draai, sien sy die berg agter haar, nou eintlik helder, afgesien van die valleie en voue wat donkerpers bly. Sy is bewus van ’n vrede soos sy nog nooit in haar lewe gevoel het nie. Is dit wat oom Septimus vir haar wou gee? Is dit wat hy met sy vreemde voorwaarde wou bewerkstellig? Het hy geweet sy sal nie hierheen kom tensy hy haar dwing nie?

Sy staan op, ongemaklik met dié gedagtes, en begin terugstap.

Die res van die oggend ondersoek sy alles op die werf, loer by die waenhuis in, bekyk die skure, gaan sit op die wal van die plaasdam en kyk na die blasende eende wat op ’n veilige afstand van haar af protes aanteken teen haar teenwoordigheid.

“Los my uit,” sê sy vir hulle. “Ek pla niemand nie.”

Tydens middagete sien sy André vir die eerste keer weer. Hy is nie spraaksaam nie en hulle eet grotendeels in stilte terwyl sy hom onderlangs dophou. Hy lyk nie soos sy haar voorgestel het ’n boer sal lyk nie. Vandag dra hy wel ’n kakiebroek en -hemp, maar hy is oor die algemeen goed versorg – beter as sy, dink sy wrang. Sy naels is nie kort afgebreek soos hare nie, hulle is netjies geknip. Toe hy van buite af gekom het met sy sonbril nog op, het hy allermins na ’n boer gelyk. Sy het ongetwyfeld ’n misplaaste en geykte idee van hoe ’n boer behoort te lyk.

“Wat sê jou ouers hiervan?” vra hy meteens.

“Hulle weet nie hiervan nie, en ek is ook nie van plan om hulle te vertel nie.”

Hy draai sy kop vraend skuins. “Waarom nie?”

“Hulle is oud,” sê sy ferm, “om mee te begin. Ek is die enigste kind, gebore in hulle middeljare. Ek dink nie hulle sal so iets kan verwerk nie.”

“En as ons …” Hy lyk ongemaklik. “As jy sou besluit om tog met my te trou?”

“Dan stel ek hulle in kennis.” Haar stem word ’n hele paar grade kouer. “Sonder om iets van oom Septimus se testament te vertel. Ek is nié van plan om die grap van die gemeenskap te word nie.” Sy vang sy oë in hare vas, haar lippe dun, twee onaantreklike lyne langs haar mond. “Dit is my onwrikbare voorwaarde in hierdie hele gemors. Niemand mag weet nie. Ek sal onder geen omstandighede duld dat mense na my kyk en giggel en agter toe deure oor my lag nie.”

“Niemand weet nie,” sê hy. “Net die prokureur.”

“Sorg dat dit so bly,” sê sy streng, maar ontspan tog effens. “Ek het vir Sandra vertel, my vriendin en vennoot.” Sy skiet ’n vinnige blik in sy rigting. “Nie dat ek al besluit het nie.”

“Nee,” sê hy. Hy kyk na sy horlosie. “Dis Saterdagmiddag. Is daar iets wat jy wil sien of doen?”

Sy is verbaas. “Ek sou graag meer van die plaas wou sien. Ek het vanoggend hier bo uitgeklim.”

“Ek weet,” sê hy. “Ek het jou gesien.”

Sy lig haar wenkbroue. “Inderdaad?”

Hy staan op. “Ons kan ry wanneer jy reg is.”

Sy volg hom en dié keer ry hulle met die bakkie. Eers neem hy haar met die grondpad langs soos hulle die vorige aand ingekom het, dan draai hy af. Die hele tyd verduidelik hy, wys vir haar waar die oorspronklike grens was, watter kampe vir volstruise of angorabokke of beeste is, wat lusern is, wat nie.

Toe hy op ’n gegewe punt langs die rivier ry, kyk sy na hom. “Is ons nou op my grond?”

Hy glimlag effens. “Ja, die rivier is joune.”

“Hou stil, asseblief,” sê sy, en hulle klim uit. Sy stap tot op die wal van die stroompie en staan daarna en kyk. Dis nie diep nie, maar die water kabbel helder oor die klippe. Sy gee ’n laggie, trek haar skoene uit en klim versigtig af sodat die koue water oor haar kaal voete loop.

“My eie rivier,” sê sy peinsend. Sy draai terug en kyk na hom wat nog op die wal bly staan, sy oë verberg agter sy sonbril. “Eintlik kan jy nie stry nie,” sê sy. “’n Mens kan jou eintlik doodlag oor die hele ding. As ek net ’n jaar lank met jou getroud bly, is hierdie rivier myne. En wat dan? Moet ek vir my ’n hartbeeshuisie hier oprig en hier kom bly? Wat maak ek met my rivier wanneer die jaar verby is? Waarom het oom Septimus dit nie ook voorgeskryf nie?”

Hy kom effens nader, gaan sit op ’n groot klip en steek ’n sigaret aan. “Ek kan dit by jou huur, of jy kan hier ’n huis bou.”

Sy loop heen en weer in die koue water; die klippe is glad en rond onder haar voetsole.

“En wat gaan die gemeenskap dáárvan dink? Meneer en mevrou Malan het ’n jaar lank saamgewoon en nou is hulle bure. Elkeen in sy eie huis, op sy eie stuk grond. Jy moet erken dis lagwekkend.”

“Dit sou gewees het as daar nie soveel op die spel was nie. Vir jou is dit niks meer as ’n tussenspel nie, vir my is dit … my hele lewe, die enigste lewe wat ek ken.”

Sy bly staan, haar hande op haar heupe. “Moenie op my gevoel speel nie,” sê sy waarskuwend. “Die jare dat ek my deur ’n man laat inloop het, is verby. Ek vertrou julle nie.”

“Ek kan dit sien,” sê hy sag. “Sal ons verder ry?”

“Nee,” sê sy koppig. “Dis lekker hier. Ek hou van my rivier.”

Hy protesteer nie. “Watse werk doen jy?” vra hy na ’n ruk.

Sy stap steeds heen en weer; buk nou en dan af om ’n mooi klippie op te tel terwyl sy vertel.

“Ek hou daarvan,” sluit sy af. “Ek hou van vroetel in die grond en om goed te plant en dit te sien groei. Ek is my eie baas en ek vind dit bevredigend om nie tussen mense te werk nie. Ek verkies plante en bome se geselskap.”

“Die tuin hier is verwaarloos,” merk hy op. “Miskien het jy gesien. Dis net die rose wat floreer.”

“Ek het gesien, ja. Leë beddings met ’n paar verpotte jakobregops en gousblomme. Ek haat gousblomme.”

“Hoekom?” vra hy op sy stil manier.

“Hulle stink.” Sy kom nader gestap en gaan sit op ’n klip ’n ent van hom af. “As ons trou,” vra sy en gooi die klippies van een hand na die ander, “hoe doen ons dit?”

“Ons dominee sal die huweliksbevestiging waarneem.”

“Nee.” Haar stem is weer skerp. “Ek bring nie my siel in die gedrang nie. Ek gaan nie ’n klomp goed belowe wat ek nie bedoel nie. En dit voor God.”

“Miskien sou dit die beste wees as ek Pretoria toe kom,” sê hy. “Ons kan in die landdroskantoor trou en niemand hier hoef iets te weet nie.”

“Dis nie wat jy wou gehad het nie,” sê sy.

“Nee,” erken hy. “Maar ek het ook nie voorsien hoe ek sou voel nie; dit was soos om te hoor jou hele lewe gaan van jou weggeneem word.”

Sy kyk hom ondersoekend aan. “Dis wat ek die minste van alles verstaan. Dis wreed. Waarom het oom Septimus dit aan jou gedoen?”

Hy skud net sy kop. “Ek weet nie.”

Sy tel weer haar skoene op en trek hulle aan. “Ons kan maar ry.”

Die res van die middag ry hulle rond en hoe meer sy sien, hoe magteloser voel sy. Waarom is dit nie ’n lelike, verwaarloosde plaas nie? dink sy bitter. Dit sou dit soveel makliker gemaak het. Waarom is hy nie ’n brutale, selfsugtige bees van ’n man nie? As sy hom van die staanspoor af kon gehaat het, was dit makliker. Sy wil nie vir hom jammer voel nie, maar sy kan nie help om simpatie te hê met sy situasie nie. Waarom het die plaas en veral die huis onmiddellik so ’n aantrekkingskrag vir haar? Waarom voel sy so tuis, is sy klaar besitlik oor “haar” rivier?

Sondagmiddag toe hulle terugry na die lughawe toe, weet sy dat sy nie langer kan baklei nie. Om haar goedjies in te pak, om ’n laaste keer in die lang, donker gang af te stap, was moeilik. Sy wil nie weggaan nie. Sy wil elke oggend op die stoep uitstap en kyk na die ongelooflike uitsig, die panorama van lappe groen en berge, van bos en klip en rivier. In minder as twee dae het sy ’n rus gevind waarna sy jare lank al soek en sy wil dit nie prysgee nie.

“Dis goed,” sê sy vir hom toe hulle ry. “Ek sal dit doen.”

“Sal jy met my trou?”

“Jy vra dan so mooi,” sê sy sarkasties. “Ja. Laat ons dit maar doen en agter die rug kry. Dis oor twee weke Kersfees. Gaan jy weg?”

“Nee.”

“Ek gaan na my ouers toe,” sê sy. “Net ’n paar dae lank oor die Kerstyd. Sal ons dit direk daarna maak? ’n Kalenderjaar, het hulle gesê. Ons kan dit netsowel van Januarie af maak.”

“Dis goed,” sê hy. “Reël dit vir die Saterdag na Kersfees. Ek sal opvlieg. Kan jy alles reël?”

“Ja. Maar ek sal met my motor hierheen kom; ek sal baie bagasie hê. Meubels en linne hoef ek seker nie te bring nie.”

“Nee,” antwoord hy. “Tensy jy natuurlik goed het waarsonder jy nie kan leef nie.”

“My hond,” sê sy dadelik. “My musiek.”

“Natuurlik.”

Op die lughawe staan die ligte vliegtuig wat sy moet haal al op die aanloopbaan en sy sug by voorbaat toe sy dink aan die lang reis terug. Sy steek haar hand uit en skud syne.

“Dankie vir die naweek. Ek sal jou bel en op die hoogte hou van die reëlings. Jy kan jou prokureur in kennis stel en ek sal met myne skakel. Ek veronderstel hulle roer nie voordat hulle ’n afskrif van ons huweliksertifikaat in hulle hande vashou nie.”

Hy glimlag effens. “Nee, seker nie. Ek hoop jy reis veilig terug.”

Sy knik en stap na die vliegtuig sonder om weer om te kyk. Sy weet hy staan nog daar. Toe sy al sit en deur die venstertjie kyk, kan sy nog sy skraal gestalte in die son sien staan, sy hand effens opgelig om die lig van sy oë af te skerm. Selfs toe hulle opgestyg het en die vliegtuig ’n laaste draai maak voordat dit begin klim, verbeel sy haar sy kan hom nog sien staan.

Christine le Roux Keur 3

Подняться наверх