Читать книгу Christine le Roux Keur 3 - Christine le Roux - Страница 5
Hoofstuk 2
ОглавлениеTot die naweek werk Julia teen haar gewone spoed en met die intensiteit wat deel geword het van haar lewe. Dit skakel onnodige getob uit. Terwyl sy doringagtige rankplante terugsnoei of huiseienaars adviseer oor die uitleg van hulle tuine, het sy nie tyd om te dink aan haar probleme nie. Sy betrap haar egter dat sy tog saans, voordat sy aan die slaap raak, ou herinneringe probeer opdiep oor Ouderus. Sy onthou dat sy die huis misterieus en onnatuurlik groot gevind het, maar sy besef dit kan bloot wees omdat sy toe klein was.
Daar was hoë, donker gange, onthou sy, slaapkamers so groot soos hulle sitkamer by die huis, hoë beddens waarop sy moes klouter, ’n kombuis wat rokerig en vreemd geruik het, nie soos haar ma se kombuis nie. Maar meer as dit kan sy nie onthou nie. Die herinnering aan die plaas self bly vaag. Sy weet daar was diere, vir haar as stadskind ’n rariteit. Eende wat koggelend op die werf geloop het en waarvoor sy bang was, beeste, volstruise. Oom Septimus het gesê sy moenie naby hulle kom nie; volstruise is nie groot hoenders nie; hulle is gevaarlik en hulle skop.
Saterdagoggend takel sy haar woonkamer. Waarom sy dit doen, kan sy nie regtig sê nie. Dis nie asof sy Sandra se voorstel ernstig opgeneem het nie, asof sy regtig dink Sandra en Dolf gaan in die huis kom woon in die jaar wat sy, Julia, weg is nie. Nee, sy oortuig haarself dis bloot omdat die huis so deurmekaar geword het dat sy niks meer kan kry wanneer sy daarna soek nie. Sy gaan haal groot vullissakke en sorteer al die geskrifte en papiere, gooi hope daarvan weg. Sy dra houers met plante uit op die stoep of na die kweekhuis langs die stoep en teen die aand se kant is sy tevrede. Selfs haar lessenaar lyk netjies, te netjies eintlik. Plato lyk ook verward – die hoop ou koerante waarop hy altyd gelê het, is weg.
Nadat sy aandete gemaak het, toe sy in haar nagklere op die bank in die skoon woonkamer sit, kyk sy peinsend na die telefoon. Sy probeer dit miskyk, dwing haar aandag terug na die tydskrif wat sy lees, maar na ’n ruk staan sy op en gaan soek in haar klerekas na die romp wat sy gedra het die dag toe sy meneer Brink gaan spreek het.
Selfs toe sy met die kaartjie wat hy haar gegee het, in haar hand sit, twyfel sy nog. Solank sy dit alles ignoreer, bestaan dit nie, was alles ’n verspotte onderbreking van haar daaglikse roetine. Maar sy kán dit nie ignoreer nie. Die nommers op die wit karton spring rond, eis om erken te word. Uiteindelik staan sy sugtend op, gaan sit agter haar lessenaar en tel die gehoorstuk van die telefoon op. Sy skakel met dom vingers, stadig en deeglik, met een oog op die kaartjie asof sy nie reeds die nommer uit haar kop ken nie.
“Malan,” sê ’n stem aan die ander kant.
Haar eerste reaksie is om die gehoorstuk neer te wil sit. Dis ’n ontegemoetkomende stem, ’n stem wat niks verraai nie.
“Julia Naudé,” sê sy dan en maak keelskoon.
“Goeienaand,” sê hy.
Sy weet glad nie wat om verder te sê nie en verwens haar impulsiwiteit. Sy moes eers mooi gedink het, alle moontlike wendinge in die gesprek gerepeteer het.
“Meneer Brink het gesê ek moet u bel,” sê sy lomp, “die prokureur aan hierdie kant.”
“Ja,” sê hy.
Sy vererg haar vir sy onbehulpsaamheid. “U is natuurlik bekend met die verregaande voorwaardes in oom Septimus se testament.”
“Ja, ek is.”
“Ek het gesê ek weier om eens daaroor te dink,” sê sy bitsig. “Niemand kan dit van my verwag nie. Ons leef nie meer in die Middeleeue nie. Wat my betref, kan die plaas dadelik verkoop word en die geld na liefdadigheid gaan.”
“Ek begryp.”
Vir die eerste keer is sy bewus van emosie in sy stem. Wat dit is, kan sy nie sê nie, maar daar is iets. Die stem is nie meer so onbetrokke nie.
“Vanselfsprekend,” gaan sy voort. “Niemand kan van my verwag om so ’n belaglike voorwaarde na te kom nie.”
“Nee,” sê hy.
Sy is lus en beëindig die gesprek daar en dan. “Meneer Brink dink dit sal ’n goeie plan wees as ek eers kom kyk hoe die plaas lyk,” sê sy. “Dis die enigste toegewing wat ek bereid is om te maak. Watse verskil dit gaan maak, gaan my verstand te bowe.”
“Dis ’n mooi plaas,” sê hy.
“Wat het dit met die prys van eiers te maak?” vra sy bitsig. “Ek het ’n huis hier, en ’n florerende onderneming. Ek soek nie ’n stuk grond nie. Hoe mooi dit is, is dus nie ter sake nie.”
“Wanneer wou u kom?” vra hy beleef en hy ignoreer haar onvriendelikheid.
Sy woorde haal die wind uit haar seile. “Ek weet nie – nie voor volgende naweek nie. Ek kan Vrydagmiddag afvlieg en Sondag terugkom.”
“Dis in orde. Sal u my die presiese tye laat weet? Dan sal ek op die lughawe wees.”
“Dis net ’n mors van geld,” sê sy stuurs. “En tyd. Ek het beter dinge om te doen.”
Hy antwoord nie hierop nie. Op die agtergrond hoor sy ’n radio speel.
“Ek sal laat weet,” sê sy. “Goeienag.” Sy sit die gehoorstuk neer en staar na die instrument asof dit gevaar inhou. Sy moes nie gebel het nie. Iets het in beweging gekom wat liewer in die kiem gesmoor moes geword het. Dan haal sy haar skouers op en gaan maak koffie. Dis nie vir die Malan-man wat sy dit gedoen het nie, ook nie vir die prokureur of selfs vir haar eie gemoedsrus nie – dis vir oom Septimus.
Die plaas was sy lewe, dit weet sy. Dit was sy gesin, sy geliefde. Wanneer sy so daaraan dink, word die situasie draagliker. Miskien was dit die enigste manier waaraan hy in sy siek toestand kon dink om sy peetkind aan sy geliefde plaas voor te stel. Miskien, juis omdat hy nooit self getrou het nie, het hy nie besef watter groot stap so iets is nie. ’n Transaksie, het hy seker gedink, ’n manier om twee mense elkeen ’n erfporsie te gee.
Sy skud haar kop. Dis verspot. Oom Septimus was miskien eksentriek, maar hy was ’n nugter mens, modern in sy denke. En … hy het haar die indruk gegee, al die jare wat sy hom geken het, dat hy haar welsyn op die hart dra. Waarom dan? Waarom?
Sandra dink dis ’n uitstekende plan dat sy die plaas gaan bekyk. “Ek sê al lankal dis tyd dat jy wegkom,” sê sy. “Ek het van die begin af gesê dis nie ’n goeie ding dat jy hier aanbly nie. Die huis is tog vol herinneringe, jy is nog in dieselfde stad as …”
“Ek gaan net vir die naweek,” antwoord Julia. “Moenie gevolgtrekkings maak nie. Ek gaan net kyk.”
Sandra, altyd so keurig versorg, kyk Julia krities aan. “En dra tog hierdie week handskoene wanneer jy in die grond krap. Jy wil darem ’n goeie indruk maak.”
“Nee, ek wil nie. Wat skeel dit my wat die man van my dink?”
“Miskien moet jy nuwe klere koop. Wanneer laas het jy iets moois gekoop? Ek praat nie van hemde en langbroeke nie, ek praat van iets vrouliks.”
“Sandra,” sê Julia afgemete, “jy laat my klink na ’n agtiende-eeuse prinsessie wat vir die eerste keer aan haar beloofde prins voorgestel gaan word. Ek gee nie ’n duiwel om wat Malan van my dink nie. My dae van dinge doen om ’n man te plesier, is lankal verby, soos jy goed weet.”
“Ja,” sug Sandra. “Ek weet, en ek sê nog dis die grootste skade wat hy jou aangedoen het. Jy kán mooi wees en jy ís vroulik, maak nie saak hoe hard jy probeer om anders te wees nie.”
“Los my uit,” sê Julia en Sandra gooi haar hande in die lug.
Toe Sandra Julia Vrydagmiddag lughawe toe neem, is sy bly om te sien dat Julia ten minste netjies aangetrek is. Ook haar naels is skoon – kort, maar ten minste skoon. Sy dra ’n wit langbroek met ’n donkerblou baadjie oor haar skouer. Haar hare is skoon en nie soos gewoonlik van haar gesig af vasgemaak nie; dit hang los en word met ’n fluweelband van haar voorkop af weggehou.
“Sien jou Sondagaand,” sê sy toe sy vir Julia aflaai. “Geniet dit.”
“Ha!” is al wat Julia hierop te sê het.
Die vlug is lank, omdat Julia in Port Elizabeth moet oorklim na ’n ligte vliegtuig wat vir haar lyk asof dit nooit eens oor ’n heuweltjie sal kan lig nie, laat staan ’n bergreeks. Maar dit doen dit wel, en toe die son begin sak, klim sy uit en kyk soekend na die klompie mense wat om die klein lughawegeboutjie rondstaan.
Daar is ’n paar mans in kortbroeke en oopnekhemde. Aangesien sy geen benul het hoe oud André Malan is nie, loop sy huiwerig na ’n man wat eenkant staan, sy hare yl gekam oor ’n breë pankop. Net voordat sy haar hand uitsteek om hom te groet, storm iemand by haar verby en omhels die man. Sy staan vinnig terug, verbouereerd en verleë.
“Juffrou Naudé?” sêvra iemand agter haar en sy swaai om, so vinnig dat sy hom omtrent omstamp met haar naweektas wat sy sommer in haar hand dra.
“Ja.” Sy steek haar hand uit en skud syne. Hy lyk glad nie soos sy haar hom voorgestel het nie. Sy is self lank, maar hy is ten minste ’n kop langer as sy. Hy is ook nie geklee in ’n kortbroek nie – hy dra ’n ligte, baie netjiese langbroek, ’n wit hemp en ’n beige linnebaadjie. Sy dik, donker hare groei sterk van sy voorkop af en hy dra ’n sonbril, iets wat haar meer verbouereerd maak omdat sy nie sy oë kan sien nie. “Aangename kennis.”
“Is dit al die bagasie wat u het?” vra hy, en hy vat die naweektassie by haar.
Sy gee dit nie sommer prys nie. “Dis nie swaar nie, ek kan dit self dra.”
“Ek sal dit dra.” Sy stem is onemosioneel. Hy lag nie vir haar of raak ergerlik oor haar vasberadenheid nie, hy konstateer bloot ’n feit. “Is dit al?”
“Ja.”
“Dan moet ons maar ry, dis nog ver plaas toe.” Hy stap voor haar uit, nie na ’n modderbesmeerde bakkie of vragmotor soos sy verwag het nie, maar na ’n netjiese, blinkskoon motor. Hy sluit die passasiersdeur vir haar oop, maak die deur agter haar toe en bêre haar tas in die bak.
“Het u ’n goeie vlug gehad?” vra hy beleef toe hy langs haar inklim en die enjin aanskakel.
“So goed as ’n mens kan verwag in daardie ou sprinkaantjie,” antwoord sy.
Dis reeds skemer, en dit word vinnig donker terwyl hulle ry, sodat sy nie veel van die omgewing kan sien nie. Sy weet ook glad nie waaroor om te praat nie. Met die werklikheid wat hulle onder die oë moet sien, voel sy dit sal onvanpas wees om oor alledaagshede te praat.
“Ek is jammer oor u oom se dood,” sê hy.
“Dankie.” Na ’n lang stilte besef sy dit word van haar verwag om iets te sê. “Maar u het hom seker ook goed geken, dalk nog beter as ek. U voel die verlies seker meer.”
“Ja,” sê hy kortaf.
Hulle ry nou deur die verligte strate van die dorp en hy wys na plekke: die bakkery, die garage waar hy altyd petrol ingooi, die supermark, die koöperasie. Sy weet nie waarom dit nodig is dat sy dit weet nie, maar sy maak asof sy belangstel en knik af en toe.
“Die plaas is ongeveer dertig kilometer van die dorp af,” sê hy. “Wanneer was u laas hier?”
“Toe ek omtrent ses jaar oud was.”
Hy beweeg sy kop effens, maar aangesien dit nou donker is in die motor, kan sy nie sy gesigsuitdrukking sien nie. “Dis lank gelede. Baie dinge het verander.”
“Hoe lank woon u al hier?” vra sy beleef.
“Tien jaar voltyds, maar ek het natuurlik my skool- en universiteitsvakansies ook hier deurgebring.”
Dis iets wat sy nie geweet het nie en sy wonder waarom, maar sy wil nie nuuskierig klink nie en swyg dus. Die kopligte van die motor verlig die teer en die gras aan weerskante van die pad, en al wat hoorbaar is, is die geluid van die bande op die teer. Sy word vaak; die stippellyne op die pad wat onder die enjinkap ingly en die telefoonpale wat verbyswiep, het ’n hipnotiese uitwerking. Sy is bly toe hy eindelik van die groot pad afdraai en hulle oor ’n stamperige grondpad tussen bosse ry.
“Die pad is sleg,” maak hy verskoning. “Die kwaai reën wat ons gekry het na die droogte het eintlik baie skade gedoen. Ek sal die pad een van die dae weer skraap.”
“Het julle nou water?” vra sy om darem iets te sê.
Vir die eerste keer klink hy optimisties. “Ja. Die damme is vol en die rivier loop steeds.”
Sy maak asof sy rondkyk, maar eintlik kyk sy na hom. Hy het besonder mooi hande vir ’n boer; hulle rus liggies en ontspanne op die stuurwiel. Sy druk haar eie hande tussen haar knieë in en besef skielik waarom Sandra so oor haar hande geneul het. Die afgelope jaar het sy nie eintlik veel aandag aan haar voorkoms gegee nie; haar hande is grof en vol krapmerke. Die motor maak ’n draai op die werf en hou stil. Al wat Julia kan sien, is wit geboue en die huis.
“Ons is hier,” sê hy en maak sy deur oop. Sy bly sit en kyk na die huis. Sy herken dit dadelik en is eintlik verwonderd dat sy ooit vergeet het hoe dit lyk. Dit lyk nou so bekend: die trappe wat na die stoep lei, die breë stoep wat om drie kante van die huis loop, die toringagtige hoekkamers op die stoep – was dit nie oom Septimus se kantoor nie? Al die ligte op die stoep brand. Dit omgewe die huis met sy rooi dak in ’n verwelkomende gloed en sy voel weer ses jaar oud, asof sy met die trap op wil huppel en in die lang gang af wil dans. Sy kom eers tot verhaal toe sy sien hy hou die deur geduldig vir haar oop. Dis iets waarvan sy gewoonlik nie hou nie – sy is in staat om ’n deur self oop te maak – maar nou klim sy verdwaas uit.
“Ek herken dit,” sê sy stadig. “Dis presies soos ek dit onthou.”
“Aan die buitekant van die huis is nooit verander nie.” Hy wys dat sy voor moet stap en sy klim die trap stadig op. Sy wens sy kan ontslae raak van die dromerige gevoel, asof sy in ’n nuutgevonde werklikheid instap. Sy moet nugter bly. Maar die gevoel bly; dit word trouens al hoe sterker terwyl sy in die gang afstap.
“Dit ruik selfs dieselfde,” sê sy lomp.
Die gastekamer is onbekend. Sy staan by die deur, eintlik verlig om weer meester van haar gevoelens te wees. Die kamer is so groot soos sy dit onthou, maar verder is niks herkenbaar nie. Waar donker hangkaste gestaan het, so groot en donker dat sy vir hulle bang was, is nou ’n muur van wit ingeboude kaste. Eenkant, waar die klein sitkamertjie was – sy onthou hoe haar ma daar gesit het om haar, Julia, se lang vlegsels uit te kam – is nou ’n moderne, smaakvol geteëlde badkamer. Die hoë houtbed is weg; in sy plek staan twee moderne driekwartbeddens met wit-en-groen geblomde dekens oor. Die gordyne is van dieselfde stof, die twee leunstoele voor die wye koepelvenster is groen, die mat naaswit. Dit lyk soos ’n suite in ’n deftige hotel – behalwe dat dit na rose ruik. Op die tafeltjie tussen twee stoele staan ’n enorme boepenspot vol rose, eintlik oorvol.
“O,” sug sy, “die rose!”
“Dis omtrent al wat oor is van die ou blomtuin,” sê hy en sit haar tassie op die stoel neer.
“En die kamer is anders,” sê sy. “Die ou, donker kaste … Ek was altyd bang daar kruip hekse weg.”
“Oom Septimus het die huis binne gemoderniseer,” sê hy sonder om te laat blyk wat hy dink van hekse in klerekaste. “Toe u laas hier was, was daar seker net die een badkamer in die gang.”
“Ja.” Sy onthou dit. ’n Saal van ’n vertrek en ’n bad met pote wat soos ’n leeu s’n gelyk het, koperkrane wat sy nie self kon oop- of toedraai nie, harde handdoeke so groot soos lakens.
“U wil seker uitpak en opfris,” sê hy. “Ons kan iets drink en dan eet. Mieta het alles voorberei voordat sy huis toe is.”
Sy knik en hoor hoe hy die deur saggies agter haar toemaak. Sy kan dit nie verhelp nie; dit voel asof iets waaroor sy geen beheer het nie, van haar besit geneem het. Terwyl sy haar kledingstukke uitpak en ophang, haar hande en gesig was, haar hare borsel, probeer sy haar regruk, maar sy kan nie. Dis soos ’n mantel wat oor haar geval het; die knoop stewig onder haar ken vasgemaak.
Sy is weer klein en gelukkig en onskuldig. Sy glo nog die lewe is ’n heerlike ding, vol uitdagings en vreugde. Hoe kan ’n huis dit aan ’n mens doen? wonder sy terwyl sy hande vol koue water in haar gesig spat. Hoe kan ’n mens in ’n ander, beter wêreld instap deur bloot van een huis na ’n ander te beweeg? Wat is daar in hierdie huis wat haar vir die eerste keer in ’n lang tyd veilig en geborge laat voel?
Gedagtig aan Sandra, smeer sy lipstiffie aan haar lippe, werp ’n laaste, kritiese blik in die spieël en stap in die gang af na die sitkamer. As sy gehoop het sy kan van die vreemde gevoel ontslae raak, was sy verkeerd, want die sitkamer lyk nog soos altyd: groot, diep ou stoele en banke, tafeltjies van donker hout, swaar, ornamentele vertoonkaste, outydse staanlampe met kappe vol kraletjies en fraiings.
André Malan staan op toe sy binnekom; hy het reeds ’n glas in sy hand.
“Wat sal u drink?” vra hy.
“Witwyn … koue witwyn, asseblief.”
Hy verdwyn in die gang af en kom terug met ’n bottel wat hy bedrewe oopmaak.
“Hier,” sê hy. “Gesondheid.”
Sy knik net en drink ’n sluk. “Ek was nie voorbereid hierop nie,” sê sy dan. “Die atmosfeer van die huis. Die manier wat …” Sy kan nie die regte woorde vind nie en probeer liewer ook nie. Kopskuddend drink sy haar wyn.
“Gee u om as ek rook?” vra hy beleef.
“Nee, ek het self op ’n tydstip ’n pakkie per dag gerook.” Sy dwing haar gedagtes weg van die herinneringe af, van nagte sonder slaap, van een sigaret na die ander totdat haar oë, haar longe, haar hart gebrand het. “Hierdie huis,” sê sy dan, “op wie se grond staan dit?”
“Myne,” sê hy en sy oë flits vinnig in haar rigting sonder om iets te verraai, “op die oorspronklike Ouderus.”
“Ek sien.” Sy voel magteloos, asof sy nie meer beheer het oor wat gebeur nie.
“Die rivier loop oor u gedeelte.”
Sy knik stadig. “En sonder die rivier?”
“Sukkel ons. Dis waarom oom Septimus die grond jare gelede teruggekoop het.”
Sy kyk op na hom. “Kan u dit nie by my koop nie?”
“Nee.” Sy gesig bly uitdrukkingloos.
“Kan u ouers nie help nie?” Sy staan vinnig op, sit haar glas neer en vat sonder om te vra een van sy sigarette, wat sy aansteek voordat hy dit kan doen. “En kan ons maar die formele aanspreekvorm laat vaar? In die omstandighede waarin ons ons bevind, is dit ’n bietjie belaglik. My naam is Julia.”
Hy maak ’n beweging met sy kop. “Ek is André. En nee, ek het nie ouers nie.”
“Ek is jammer,” sê sy. “Ander familie?”
“Nee.” Hy draai sy glas in sy hand rond, bestudeer die patrone wat die kristal maak wanneer die lig dit vang. “Ek is ’n weeskind. Dis hoe oom Septimus … Ek bedoel, hy het baie jongmense gehelp.”
“Ek was nie bewus daarvan nie,” sê sy verbaas. “Het hy jou aangeneem?”
“Nee. Hy het my studiegeld betaal en ek het vakansies hier op die plaas gewerk. Omdat ek ’n belangstelling gehad het in die boerdery, het hy my universiteit toe gestuur om ’n landbougraad te kry. Sedertdien bestuur ek die plaas. Die afgelope paar jaar doen ek alles; hy was nie meer sterk genoeg om te boer nie.”
“En as die plase verkoop word?” vra sy. “Wat gaan jy dan doen?”
Vir die eerste keer is daar emosie op sy gesig. “Ek weet nie …” Hy gaan met moeite voort. “Daar is altyd mense wat soek na ’n goeie plaasbestuurder.”
Sy maak haar oë ’n oomblik lank toe. Moenie vir hom jammer voel nie, dreun dit deur haar kop. Hy is net ’n man, moenie dat sy verlies jou raak nie. Dis soos ’n refrein: geen man mag haar weer manipuleer nie; gevoelens mag nooit weer ’n rol speel nie.
“Ja,” sê sy dan nugter. “Natuurlik.”
“Is jy honger?” vra hy na ’n paar minute stilte.
“Ja,” sê sy, alhoewel dit nie waar is nie. Sy wil net nie langer bly sit nie. Sy volg hom na die groot eetkamer waar twee plekke gedek is aan die lang geelhouttafel.
Hy loop heen en weer na die kombuis toe, sit bakke kouevleis, slaai en brood voor haar neer.
“Eet jy altyd hier?” vra sy terwyl sy inskep.
“Nee, ek eet in die kombuis of sommer in die stoepkamer voor die televisie.”
Sy begin eet, haar oë op die bord voor haar. “Hoe oud is jy?” vra sy dan.
“Vyf en dertig.”
“Ek is agt en twintig.”
Hy lewer nie hierop kommentaar nie en hulle eet in stilte verder.
Sy protesteer nie toe hy haar glas wyn vol gooi nie; dis asof sy dit nodig het, asof dit iets is om aan vas te hou omdat sy al hoe meer voel asof sy meegesleur word deur iets wat heeltemal buite haar beheer is. Dis ’n gevoel wat sy haat, waarteen sy hard veg.
Toe hulle klaar geëet het, neem hulle hulle koffie na die stoepkamer, weereens ’n vertrek wat gerusstellend is omdat sy dit nie herken nie. Daar is rottangmeubels met bont kussings, daar lê tydskrifte en koerante op die tafel en op die matjie voor die televisie lê ’n hond, grys om die mond en oud. Hy kyk na Julia en maak ’n steungeluid.
“Oom Septimus s’n,” sê André en hy vryf die hond oor die kop. “Hy lê sy laaste dae hier om.”
“Ek het ’n hond,” sê sy. “Plato, ’n labrador.”
Hy knik en gaan sit, steek weer ’n sigaret aan.
“Dis ’n belaglike situasie!” bars sy skielik uit. “Het jy nie ’n vriendin nie? ’n Verloofde? Iemand met wie jy beplan het om te trou nie?”
“Ek het ’n vriendin,” sê hy gelykmatig. “Ons is goeie vriende.”
“Weet sy …” Sy maak ’n moedelose gebaar. “Weet sy van die testament?”
“Nee. Niemand behalwe die prokureur weet nie.” Hy kyk op na haar. Sy sien weer die emosie in sy oë, maar sy kan dit nie peil nie. “En jy?”
“Nee! Ek was … Ek ís hoegenaamd nie van plan om te trou nie.” Sy sit haar leë koppie neer. “As jy my sal verskoon, dink ek ek moet nou gaan slaap. Dit was ’n lang dag.”
Hy staan hoflik op. “Goeienag.”
Sy knik en loop uit, haar voete meteens tam en slepend.