Читать книгу Tussen heinings - Corlia Fourie - Страница 11

8

Оглавление

Vrydagaand laai haar broer en Catherine vir Rika by Elize af. Eben en Catherine wil alleen wees om oor hul toekomsplanne te dink en die seuns is by maats, maar Rika het aangedring om na haar niggie te gaan.

Elize gee glad nie om vir die onverwagte maat vir Michelle nie. Die niggies is van kleins af dik pelle en nou het sy ’n kans om die pak tydskrifte wat sy vroeër die week gekoop het deur te werk. (Daar is wel baie vrouetydskrifte op kantoor, maar jy is nie veronderstel om meer as een huis toe te neem nie.)

Elize wil haar so vinnig moontlik vergewis van hoe alles in die tydskrifwêreld werk, sodat sy nie so dikwels opmerkings maak wat almal verbaas na haar laat kyk nie.

Die niggies het gevra of hulle ook van die tydskrifte kan deurblaai en toe Elize ja sê, het hulle na Michelle se kamer verkas. Waar sy by die eetkamertafel sit, hoor Elize hulle opgewonde stemme. Die twee gaan ook kort-kort kombuis toe om vrugtesap te skink en neute in bakkies saam kamer toe te neem. Later die aand maak hulle nie meer die deur behoorlik toe nie en toe Elize soontoe gaan om van die ander tydskrifte te kry (en hulle te vra om die musiek – die tipe musiek waarvan tieners hou, maar wat vir Elize ’n hoofpyn gee – sagter te draai), hoor sy iets wat haar by die deur laat staan en onbeskaamd luister.

“Ek weet nie of ek sal kan kom kuier nie,” sê Michelle. “My ma sê die vliegkaartjies Nieu-Seeland toe is baie duur.”

“My pa het gesê hy sal sorg dat jy kom kuier, al moet hy dan ook vir die kaartjie betaal. Onthou, jy en jou ma is ons enigste familie.”

“My ma sê sy sal nie graag in ’n land wil woon waar alles Engels is nie. Sy is te lief vir Afrikaans.”

“My pa sê daar is baie Afrikaners in Nieu-Seeland, duisende in Auckland waar ons dalk gaan woon. Hulle het Afrikaanse dae waar hulle pannekoek en koeksisters eet en Afrikaanse sangers tree ook daar op. Jy kan selfs biltong en droëwors daar koop.”

“Maar dit reën glo baie daar … en dis koud.”

“’n Mens word daaraan gewoond, sê my pa. Dis makliker om aan reën gewoond te raak as aan ’n rewolwer teen jou kop.”

“Het jy dan ’n rewolwer teen jou kop gehad?”

“Nee, maar my ma-hulle het vroeër vanjaar en nou weer Klein-Eben …” Sy klink tranerig. “Ek sal my maats mis … en vir jou en jou ma, maar nie die … die blerrie kaffers nie,” en nou klink haar stem hard en skel.

Elize voel hoe die vreeslike woord haar skok. Wanneer laas het sy iemand dit hoor sê? Nie in haar vriendekring of by haar werk nie. En sy het Eben en Catherine dit ook nog nooit hoor gebruik nie.

Vanwaar nou skielik?

Het Rika dit by die skool gehoor of praat haar ouers nou so ná die aanval? Is die rassegevoel maar net so deel van ons dat so ’n skok dit na die oppervlak bring?

Michelle giggel. “Goed my ma kan jou nie hoor nie. Maar wat van Unice? Sy’s dan jou beste vriendin? En sy’s swart.”

“My ma sê sy is nie swart nie, want sy het nie die mentaliteit van ’n Afrikamens nie omdat sy by wit mense grootword.”

“My ma sê alle swart mense is nie eenders nie, nes alle wit mense nie eenders is nie.”

“Ons sal sien wat julle sal sê as dit met julle gebeur, as julle die dag aangeval word.”

Daar is ’n oomblik stilte. Dan vra Michelle: “Gaan jy al jou boeke saamvat?”

“Die trek is te duur, ons sal nie alles kan saamvat nie. Jy kan van my boeke kom haal as ons klaar gepak het.”

“Cool,” sê Michelle. “Maar móét julle gaan … so ver weggaan? Ek sal jou so mis.”

“Ek sê mos jy gaan vir ons kom kuier,” sê Rika wat nog steeds tranerig klink.

Elize klop en stoot die deur oop. “Kan ons ruil?”

Sy gee vir hulle ’n pak tydskrifte, kry dies waardeur hulle geblaai het en gaan sit weer by die eetkamertafel. Dit was dus nie net skokpraatjies nou die dag van Catherine nie. Hulle dink ook nie eens meer oor hulle toekoms soos Eben gesê het hulle gaan doen nie. Hulle beplanning is al so ver dat hulle dit met hulle kinders bespreek.

Elize se wêreld het verlede jaar begin disintegreer. Eers haar ma se dood ná ’n beroerte en kort daarna is haar pa ook oorlede. Toe die skok van Anton se berge skuld wat sy nooit eens vermoed het nie. Toe Jo se selfdood. Sy was nog besig om te worstel met skuldgevoelens oor haar beste vriendin se dood toe sy van Anton se affair bewus geword het.

Toe sy in die rigting van ’n egskeiding praat, het hy gelag asof hy verlig was. Asof hy uiteindelik gekry het wat hy al vir ’n baie lang tyd wou hê.

En nou maak haar enigste broer, sy vrou en drie kinders hulle reg om die land te verlaat.

Eben is haar enigste naby familie. Sy het ’n ouer niggie in die Kaap, maar dié het haar nog nooit juis aan haar of Eben gesteur nie.

Ná die egskeiding het sy probeer om kontak te behou met Anton se broers en hulle vroue, maar hulle het haar gou laat verstaan dat wat hulle betref die verhouding tussen hulle vir goed verby is. Hulle het darem gesê dat Michelle by hulle kan kom kuier. Maar sy wou nog nooit.

Die enersheid in die spyse van feitlik alle vrouetydskrifte, of dit nou Suid-Afrikaanses of oorseses is, laat háár slegte spysvertering kry. Wat het haar besiel om te dink dat sy (dalk) van dié tipe werk sal hou?

’n Motor ry stadig, baie stadig bultop. Elize loer deur die gordyn, net betyds om te sien dis Anton s’n. Net betyds om te sien hoe hy by haar hek inkyk. Sy laat die gordyn vinnig sak voordat hy haar kan sien uitkyk. Dis nie die vinnigste pad van waar ook al na sy nuwe tuiste nie. Hy moet spesiaal die draai gery het om by haar huis verby te ry. Vir wat? Om by haar hek in te kyk om te sien of sy daar is? Om te sien of daar iemand by haar is? Hoekom die belangstelling? Hy wou haar nie meer hê nie en kon nie wag om by die ander vrou in te trek nie. Hoekom nou oor haar wonder?

Sondagaand kan sy dit nie meer hou nie. Sy bel vir Eben op sy selfoon, vra hom of hy by sy gesin is. Hy sê nee, hy werk in sy studeerkamer. Die res van die gesin kyk TV.

Sy sê dat sy gehoor het hoe Rika vir Michelle sê dat hulle Nieu-Seeland toe gaan emigreer.

“Nee, Rika is verkeerd om nou al te dink dis ’n gegewe. Ons het al in die rigting begin dink … oor ons opsies gepraat, niks meer nie.”

“Wel, sy dink dat julle beslis gaan en ek wou net vir jou vra … sê … soebat om eers mooi daaroor na te dink.”

“Natuurlik sal ons goed dink, deeglik beplan, dit sal nie ’n halsoorkop besluit wees nie.”

Sy weet nie wat om nog te sê nie. Sy wil nie kinderagtig wees nie, wil nie vir hom sê dat haar hart gaan breek as sy hom ook moet verloor nie.

“Ek het by die koerant ’n e-pos uit Nieu-Seeland gekry van ’n vrou wat sê hoe moeilik hulle aanpassing is, hoe graag sy wil terugkom, maar dat hulle net daar bly omdat haar man te hardkoppig is om te erken dit was ’n fout …”

“Moenie neul nie,” sê hy effe ongeduldig soos toe hulle kinders was, “ek belowe ons sal goed daaroor dink.” En dan, sagter: “Ons het ’n muur met elektriese drade bo-op regom die erf, ons het diefwering, ons het veiligheidsdeure, ADT en ’n rewolwer, en nogtans kon ons hulle nie uithou nie … wat meer kan ek doen?”

Miskien moet julle veiligheidskameras kry, dink sy, maar sê dit nie. Sy weet sy moet nie langer aanhou nie, kan ook aan geen woorde dink, geen argument ophaal om hom te probeer oortuig nie, daarom groet sy maar, gaan maak vir haar bossietee en klim met ’n boek in die bed.

Tussen heinings

Подняться наверх