Читать книгу Tussen heinings - Corlia Fourie - Страница 9

6

Оглавление

Ná die begrafnis en Thomas se vertrek, alleen in sy stil huis met net die geluid van karre wat nou en dan verbyry, duiwe op die dak, ’n hond wat iewers blaf, mense wat pratend straatop loop, het Tom stom by sy eetkamertafel bly sit. Die wond was so diep dat die senupunte vernietig was. Daar was geen gevoel nie; net verlamming …

Hy kruip in die bed en bly dae lank daar.

Een middag (hy is nie seker watter dag nie) hou sy hekklokkie lank aan met lui en toe hy uiteindelik opstaan en by sy kombuisvenster uitkyk, is hy net betyds om die jong meisie van langsaan te sien wegloop.

Sy moet maar loop.

Hy gaan stort, trek die bed skoon oor, haal twee snye brood uit die vrieshokkie, ontdooi dit in die mikrogolf, maak vir hom ’n kaas-en-tamatie-toebroodjie en gaan lees sy e-posse. Daar is ’n lang een van Thomas, drie dae gelede gestuur, wat sê hy het weer veilig in Londen aangekom. Sy pa moet asseblief na sy eie gesondheid omsien. En onthou om sy deure te sluit. Lank gelede het hy dieselfde vir Thomas gesê toe hy vir die eerste keer uit die huis is en Tom nie seker was dat sy seun (so besig met intellektuele dinge) gesond sal eet as hy op sy eie is nie.

’n Paar dae gelede het Thomas hier saam met hom by sy kombuistafel gesit, sy elmboë op die tafel, sy gesig ontevrede. “Maar, Pa, dis nie veilig vir jou om so alleen te bly nie. Verkoop die huis en kom Engeland toe. My plek is groot genoeg vir ons al twee. En as jy dan siek word, of verswak, is daar behoorlike versorging beskikbaar. Of ek sal bedags ’n versorger kry om na jou om te sien. Geld is nie ’n kwessie nie. Ek het ’n goeie werk en ek het geen ander verpligtinge nie. Pa, dis nou net ek en jy. Ons het net vir mekaar.”

Hy het niks gesê nie. Sy seun is vir hom amper ’n vreemdeling. Nie net omdat hy in Engeland woon nie. Van kleinsaf al. Hy kon Thomas as kind ook nie verstaan nie, kon nie eens raai wat in sy kop aangaan nie. Daar was nooit probleme met die kind wat sy skoolwerk betref, of eens by die huis nie. Thomas was van altyd af pynlik netjies en het omtrent elke middag by sy tafeltjie, wat as lessenaar diens gedoen het, gewerk. Wanneer sy skoolwerk klaar was, het hy ’n boek gelees. Hy moes Thomas soebat om ’n bal te gaan skop in die park, of te gaan swem of enigiets anders fisieks te doen. Hy het nooit gevra om ’n vriend of ’n vriendin huis toe te bring nie. As tiener het dit nooit gelyk of hy in meisies belang stel nie. Soms het Tom gewonder of hy nie gay is nie, maar nee, dit het ook nie gelyk of hy in seuns belang stel nie. Hy was net altyd alleen, heeltemal tevrede met sy boeke en sy eie geselskap.

Teen Thomas se slaapkamermure is (nou nog) afdrukke van sterrestelsels, komete, planete, nie van atlete of filmsterre nie. Nie dat Tom ’n haan onder die meisies was nie, maar hy kan tog onthou hoe hy as jong hoërskoolseun ’n afdruk van ’n baie sexy foto van Gina Lollobrigida wat met ’n pruilmond vooroor leun, haar borste beurend teen ’n lae hals, aan die binnekant van sy kas geplak het en hoedat hy gereeld gemasturbeer het terwyl hy na haar halslyn gestaar het. Sou Thomas gemasturbeer het terwyl hy na die sterrehemel gekyk het? Het hy ooit gemasturbeer?

Toe hy hom eenslag wou vertel van hoe babatjies in die wêreld kom, het Thomas gesê: “Pa, ek weet. Ek het al ’n hele paar boeke daaroor gelees.”

Tom het na sy seun se alwetende oë gekyk en gedink: Ja, jy sal my stellig ’n hele paar dinge oor die onderwerp kan vertel. En toe nooit weer na seks verwys nie, selfs skuldig gewonder hoeveel kere Thomas dalk al geluister het na die geluide wat agter sy ouers se toe kamerdeur gehoor kon word, want die kamers is nie ver uitmekaar nie.

Dis ook nie net oor hy eintlik niks het om vir sy seun te sê (of as hy eerlik moet wees, die seun nie belang stel om enigiets met hom te deel nie) dat hy nie Londen toe wil gaan nie. Maar hy en Cecile het jare gelede by Thomas gaan kuier. Dit was hoogsomer in Londen en inderdaad twee dae lank sweetwarm, maar daarna het dit begin reën en vir omtrent tien dae aanmekaar bly reën, die vaal lug hangend aan die dakke van die geboue. Dit was trietsig tot binne-in sy siel.

En wat was daar in Londen om te doen nadat hulle die British Museum en die museums in Museum Road besoek het? En die paleis van buite beskou en die katedrale en kerke bekyk het? Thomas het gepraat van die mooi parke, maar in die reën is dit ook nie so aangenaam om buite rond te loop nie. Cecile was mal oor al die winkels in Oxfordstraat en ook om Harrods in Knightsbridge verdieping ná verstommende verdieping te verken. Hy, wat nooit daarvan gehou het om inkopies te doen nie, het agter haar aangedrentel terwyl hy sy bes gedoen het om gape te onderdruk.

Van die televisie het Tom buiten die nuus en ’n paar ander programme feitlik niks verstaan nie. Veral die sitkoms was in so ’n vreemde Engels dat dit netso wel Italiaans kon wees. Thomas het heerlik gelag en gesê dat ’n mens die vreemde cockney-aksente ná ’n paar maande gewoond raak.

Saans het Thomas hulle na ’n pub of anders na ’n deftige eetplek geneem. Die pubs kon hy nog verdra, maar die yslike bedrae wat Thomas op die deftige etes uitgegee het, was vir hom eens te erg. As houtwerkonderwyser – totdat houtwerk as vak afgeskaf is by die skool waar hy klasgegee het – was daar nooit geld vir luukses nie. Cecile het nooit gewerk nie en baie geld is uitgegee op boeke en rekenaaraanpassings vir Thomas wat op laerskool reeds na die klasse vir begaafde kinders by die JCE aangery moes word.

Hy het verstaan dat Thomas vir sy ouers iets wou teruggee, maar Tom het nog altyd gevoel ’n ouer gee vir ’n kind sonder dat daar enige verpligting op die kind rus om terug te gee. Jy wou mos die kind gehad het. Die kind het nie gevra om in die wêreld te kom nie. Tom het verlang na sy groentetuin in sy agterplaas met die vars tamaties, wortels en kropslaai, die geur van gesaagde hout, die son wat elke oggend in sy slaapkamervenster opkom, die tarentale wat soggens vroeg uit die koppie swerm, die donderstorms, boerewors en poetoepap en Afrikaans – om dit te hoor en te gebruik. Dit het hom nie ontgaan dat Thomas soms met hulle Engels gepraat het nie. Thomas het selfs laggend na homself as ’n Soutie verwys.

Wat sou sy Afrikaanse pa en ma sê as hulle moes weet hulle kleinkind kan kwalik nog Afrikaans praat? Of gee voor hy kan nie juis Afrikaans praat nie? Of gee net nie ’n hel meer om oor Afrikaans nie.

Toe hy vir Welcome verlof gegee het om een nag in die tuinhuisie oor te slaap, het hy reeds vermoed dat hy langer gaan bly. Hoe sal hy vir hom kan sê om weer buite te gaan slaap terwyl sy tuinhuisie feitlik leeg is?

Die eerste aand gee Tom vir sy onverwagte oorslaapgas ’n bord ingemaakte boontjies met tamatiesous en ’n paar Viennas. Ook ’n beker rooibostee.

Welcome het koerante op die vloer van die tuinhuisie in die vorm van ’n bed uitgepak en hom reeds daarop tuisgemaak. Hy klap sy hande teenmekaar voordat hy hulle uithou vir die bord kos.

Die volgende dag – in die laatmiddag – hou die mooi nuwe buurvrou met die donker hare en groen oë – hy probeer haar naam onthou, maar dit is weg – se motor voor sy huis stil. Hy maak sy voordeur oop nog voordat sy en haar dogter die klokkie lui, sluit die veiligheidshek oop en nooi hulle binne.

Die buurvrou en haar dogter bly buite staan. Sy sê sy het net kom hoor hoe dit met hom gaan.

Hy sê nie: Ek voel soos Jan Rabie se robot wat net aanhou beweeg en geraas maak. Hy sê ook nie dat hy ’n besluit geneem het om op te staan, terwyl hy eintlik net sy kop wil toetrek nie. Hy sê: “Onder omstandighede goed.”

Sy vra of hy asseblief sy huisnommer of sy selfoonnommer vir hulle sal gee, want Michelle is sommige weekmiddae alleen tuis en sy sal net soveel beter voel as sy weet die kind kan met iemand in aanraking kom wat langsaan woon. “Dis net vir veiligheid,” sê sy. “Net vir ingeval iets gebeur,” voeg sy haastig by. “Sy sal jou nie sommer pla nie.”

Die dogter staan en frons, maar toe sy sien hy kyk vir haar, glimlag sy vir hom. Heel waarskynlik wou die kind nie hê haar ma moes kom hulp vra nie. Dink moontlik sy is groot genoeg om vir haarself te sorg.

Hy sê hy gaan papier kry om die nommer vir hulle neer te skryf, maar die vrou maak haar handsak oop en haal ’n aantekeningboekie en ’n pen uit.

Daarna sien hy die jong meisie dikwels smiddae as sy by die buurhek ingaan. Soms laai haar ma haar by die huis af, soms ’n man wat hy raai haar pa is. Sy slaan elke keer haar arms om sy nek en soen hom asof sy hom nooit weer wil los nie. Soms kom sy en haar ma eers baie laat by die huis aangery. Wanneer hy in sy groentetuin staan, sommer net staan omdat hy daar so homself voel, hoor hy haar partykeer woedend met haarself praat aan die ander kant van die muur.

“Sy kan so aanhou …” hoor hy die kwaai jong stem. “Ek wíl nie …” en dan praat sy in ’n vreemde taal of ’n brabbeltaal, hard asof sy vloek: “uchi mata, kataguruma, ashiguruma …”

Hy pluk dan aspris aan takke of stamp die modder van sy waterskoene af – sodat sy kan weet hy hoor haar, maar dit maak blykbaar geen indruk nie. Die vreemde woorde vlieg vinniger oor die muur as duiwe deur die lug.

Hy gaan maak koffie en drink dit by die kombuistafel en terwyl hy daar sit, luister hy onwillekeurig of hy geluide in die slaapkamer hoor. Vir een enkele sekonde het hy gedink Cecile lewe nog, het hy geluister of sy beweeg, hom nodig het. Een enkele sekonde hét sy nog vir hom geleef voordat die werklikheid van haar dood tot hom deurgedring het. Die niks in die slaapkamer, die niks in die dubbelbed … van nou af tot in ewigheid die niks.

Hy gaan na Thomas se slaapkamer, trek net sy skoene uit en val op die bed neer. Kyk na die sterrestelsels teen die mure. Thomas was altyd gefassineer deur swart gate. Eers, het hy vir sy pa vertel, is daar die geboorte van die jong, helder sterre wat groter en groter word totdat hulle reusesterre is wat uiteindelik so groot en swaar word dat hulle uitbrand sodat daar net ’n swart gat in die hemelruim agterbly waar daar eens lig was. In elk geval is dit min of meer so iets. Thomas sou dit wel oorvereenvoudig het sodat sy pa kan verstaan. Volgens Thomas weet niemand nog wat aan die ander kant van ’n swart gat is nie. Net niks? ’n Volledige niks … as ’n mens van gasse as niks kan praat? Of wag daar dalk nog sterrestelsels?

Wat maak dit eintlik saak?

Hy het ’n vol lewe gehad. Hy het ’n bydrae gemaak. Hy het baie moeite met die kinders gedoen toe hy nog skoolgehou het. Nou nog is daar van sy gewese leerlinge wat vir hom skryf om te sê hoeveel hy vir hulle beteken het. Hy het ’n huis gebou, ’n vrou liefgehad, ’n kind grootgemaak. ’n Kind wat vandag sy plek in die wêreld vol staan, selfs al is die plek in ’n ander land.

Hy draai sy gesig na die muur sonder sterre. Later word hy wakker toe dit nagdonker is. Hy gaan kombuis toe, kyk in die yskas, maar is nie lus vir enigiets wat daarin is nie. Hy maak weer koffie, gaan kamer toe, skakel die radio aan en luister na die herhalings van die dagprogramme.

Maar toe dit dag word, trek hy sy kop toe …

Hy droom hy val in ’n swart gat af. Die swart gat suig hom in en hy hou net aan met val … waar is die lig? wonder hy. Is dit hoegenaamd moontlik dat ’n swart gat net kan aan- en aanhou?

Hy ruk wakker. Hy het waarlikwaar uit sy bed op die grond geval. Hy sukkel regop. Voel darem nie of iets gebreek het nie. Net sy een elmboog is vrek seer.

Iemand klop aan die voordeur.

Hy kyk deur die slaapkamervenster, sien dis skemerdonker. Hy het die hele dag geslaap.

Die geklop hou aan. Die mens of mense kan natuurlik sy motor deur die hek langs die huis sien staan.

Dalk sy kleinneef of een van die bure.

Hy vryf sy hand deur sy hare en gaan maak die deur oop.

Dis die meisie van langsaan.

“Oom, my ma braai vleis, wil oom kom saameet?”

“Nee dankie,” sê hy. “Ek wil vroeg vanaand in die bed kom.”

Sy kyk hom op en af. Die kind kan wragtig sien hy kom nou net uit die bed.

“Oom kan net eet en dan tjaila. Ons gaan self nie laat opbly nie. Dis ’n weekaand”

“’n Ander aand,” sê hy. Hy voel sleg omdat sy bly staan en hy die deur so te sê in haar gesig toemaak. Die deur is skaars toe, toe klop sy weer.

Hy wag ’n rukkie voordat hy die deur vir die laspos oopmaak.

“Oom, kom sê dan net asseblief vir my ma hoe om ’n vuur te maak. Sy gaan die vleis verbrand.”

Hy kyk na die ernstige soebatgesiggie voor hom. “Nou maar goed, maar ek gaan net sorg dat daar genoeg kole is.”

“Dis dooddollies. Oom hoef nie te bly vir ete nie.”

Hy sê vir haar hy kom nou-nou.

“Oom moenie te lank draai nie. Die vuur is al aangesteek.”

Hy sê hy is nou daar. Hy stort, skeer, trek skoon klere aan en loop oor na die bure. Die meisie het nie oordryf nie. Die vrou wou net die rooster met skaaptjops op die vuur sit toe hy daar aankom.

Die meisie beduie met haar oë vir hom om in te gryp. “Ek dink die kole is nog nie heeltemal reg nie,” sê hy teësinnig.

Die vrou kyk van hom na die vuur. “Ek weet eintlik niks van vleisbraai nie,” gee sy toe. “My man het altyd gebraai terwyl ek die pap en die slaai gemaak het.”

“Nou los die die braaiery vir my,” sê hy.

Die meisie glimlag met hom asof hulle twee gekonkel het teen haar ma. Die vrou vra wat hy wil drink en sy en die meisie gaan saam die huis binne.

Hy was al ’n paar keer hier toe die vorige mense nog hier gebly het. Die hele klein agterplaas is geplavei en daar is ’n ingeboude braai, tafel en sementbankies om die tafel. ’n Lekker buite-onthaalplek.

Die jong meisie kom by die agterdeur uit met ’n glas rooiwyn vir hom.

“Dankie, oom,” sê sy vriendelik, dan: “Ek is so lief vir braaivleis, maar vandat ons hier bly, het ek nog niks anders as gebrande vleis geëet nie.”

Hy sê hy sal haar leer vleisbraai en sy sê dankie en dat hy sommer haar ma ook moet leer. Hy vra haar uit oor haar skool, haar vakke en haar stokperdjies, en hulle gesels daaroor totdat haar ma weer by hulle aansluit. Hy kan nog steeds nie onthou wat hul name is nie, maar gelukkig sê die vrou vir die meisie om neute in die kombuis te gaan haal en sy noem die kind op haar naam: Michelle.

Die kole vra vir die vleis en Tom voel hoe die spuug in sy mond begin versamel toe hy die tjops op die rooster sit.

Oor die muur sien hy sy donker, alleen huis. Hy het wragtig vergeet om die buiteligte aan te skakel. Seker ook die alarm vergeet. Maar hy dink darem Welcome is daar.

Die vrou vra vir Michelle om haar te help en hulle bring die borde, messegoed, die slaai. Die potjie met pap en sous word ook op die rooster gesit waar die vuur nie te warm is nie.

Wat de hel is die vrou se naam?

Hy moet hom inhou om nie die kos sonder kou af te sluk nie. Hy kan nie onthou wanneer laas hy ’n ordentlike bord kos geëet het nie.

Selfs toe hy hulle later die aand groet en huis toe gaan, weet hy nog nie wat die mooi donkerkopvrou se naam is nie.

Tuis gaan hy sy e-posse deur en kyk ’n DVD wat Thomas vir hom gebring het.

Toe hy uiteindelik gaan slaap, is dit reeds ná tweeuur in die nag.

Hy sluimer in en weet toe wat haar naam is: Elize. Hy skakel die lig aan en skryf die naam in sy dagboek by vandag se datum. Elize. Hy skryf ook Michelle neer, vir ingeval hy haar naam ook weer vergeet.

Tussen heinings

Подняться наверх