Читать книгу Tussen heinings - Corlia Fourie - Страница 5

2

Оглавление

Sarita Wessels was haar hare onder die stort en skrop haar lyf daarna met ’n borsel totdat haar vel gloei. Sy droog haar met hardhandige bewegings af, asof sy die vetrolle wil wegvryf, spuit reukweerder onder haar arms en ook waar haar groot borste hangvoue maak.

Sy kies ’n smaraggroen kaftan wat haar bruin oë komplementeer.

Terwyl sy haar grimering met groot sorg aanwend, neurie sy saam met Neil Diamond “Sweet Caroline, good times never seemed so good, I’ve been inclined to believe they never would.”

Die sanger is ’n skelm plesiertjie. As mense oor haar musieksmaak uitvra, vertel sy van haar liefde vir Bach, Beethoven en Mozart, maar eintlik het sy ’n eklektiese musieksmaak wat ook die Beatles en Afrikaanse sangers soos Amanda Strydom en Laurika Rauch insluit.

Maar vanoggend is dit net sy en Diamond.

Sy het reeds twee koppies sterk koffie gedrink. Sy skakel die ketel aan. Dalk groen tee. Sy het iewers gelees dit maak maer. Japannese drink dit glo saam met elke ete. Maar dis so sleg, smaak soos medisyne. Dalk moet sy vir haar ’n plak donker sjokolade koop op pad werk toe. Donker sjokolade is glo baie gesond, het sy iewers gehoor. Oor die radio?

Net vanoggend was sy weer van die voue om haar lyf bewus, van haar arms wat dril as hulle beweeg, van haar stamperbene.

Nie dat sy ooit daarvan kan vergeet nie. Hoeveel kennisse het haar nie al van dié of daardie wonderlike dieet vertel nie. En haar ma tob oor haar enigste dogter se gewig omdat daar nie ’n man in haar lewe is nie. Sy het al vir haar ma probeer verduidelik dat as jy mans wil ontmoet, jy nie by ’n vrouetydskrif moet werk nie. Maar van toe af vra haar ma elke keer as sy haar bel of besoek wanneer sy vir haar ’n ander werk gaan kry.

Sarita het liefs nie vertel van die talle geflopte afsprake wat sy gehad het nadat sy by ’n maatsoekagentskap op die internet aangesluit het nie. Dalk was sy net te realisties toe sy haar voorkoms beskryf het. Dalk moes sy nie gesê het sy is baie oorgewig nie. Maar hoe op aarde kan jy honderd kilogram wegsteek as jy ’n afspraak met ’n man nakom? En die twintig plus afsprake vir koffie was ’n mors van tyd. Omtrent al die mans was oorgewig, nog selfs meer gewigtig as sy. En sy soek nie iemand om haar te troos en saam met haar dik te wees nie. Sy soek ’n mooi man wat haar kan inspireer om maer te word. Een van die mans het eintlik net ’n ma gesoek. Sy ma is onlangs oorlede en hy het openlik gesê dat hy iemand soek om hom te bederf, vir hom lekker toebroodjies in te pak kantoor toe en sy plek skoon te hou. Hy is glo nie eens daaraan gewoond om sy handdoeke van die badkamervloer af op te tel nie. ’n Ander een het weer gekla dat vroue hom nie verstaan nie. Hy het verlore gelyk en sy het vermoed hy soek ’n soort reddingstou om hom teen die lewensafgronde uit te sleep. Daarna het sy ’n koffieafspraak gehad met ’n man wat daaroor gespog het dat hy al met enige moontlike en onmoontlike meisie ’n verhouding gehad het: van anoreksies tot ondergewig, tot maer, tot normale gewig, tot effe oorgewig. Sy sou die eerste obese een op sy kerfstok wees. Toe hy dit sê, het sy haar handsak gegryp en uitgeloop sonder om een keer terug te kyk. Toe het sy ook besluit om nie meer sulke afsprake te maak nie.

’n Jong vrou wat sy by een van haar vriendinne ontmoet het, het vertel dat sy ná 65 sulke afsprake uiteindelik die man ontmoet het met wie sy nou ’n verhouding het. Op daardie oomblik het Sarita besluit sy is nie só desperaat nie.

Sy pak drie hardgekookte eiers, ’n paar slaaiblare en ’n klompie klein tamaties in ’n kosbakkie. Sy hoop dat dit haar honger tot vanaand kan weghou.

As sy net so tien kilo’s kan verloor. Daarna nog tien. Nie omdat dit haar ma pla dat sy oorgewig is nie. Nie omdat daar nie ’n man in haar lewe is nie. Sommer net. Vir haarself.

Vroegoggend toe Elize uitgaan om Beeld op te tel, staan haar buurman met sy grys kop op die grasperkie voor sy huis met ’n beker in sy hand.

Elize kry die afstandbeheer, maak die hek oop en stap tot by die man. Sy stel haarself voor en sê: “My innige simpatie. U vrou, nie waar nie?”

Hy neem haar uitgestrekte hand. Sy handdruk is ferm. “Cecile was baie siek en tog was dit heel onverwags. Ek dink nie ’n mens is ooit heeltemal voorbereid op die einde van ’n lewe nie.”

Ook nie die einde van ’n huwelik nie, dink Elize, maar sy sê: “U moet sê as daar iets is wat ek kan doen meneer … e …”

“Ehlers,” sê hy. “Tom Ehlers. Sê sommer Tom. Maar daar is nie regtig iets nie. Dis nou al meer as twee jaar dat ek haar … versorg het.”

Sy oë is helderblou en lewendig, sy kop en skouers verbasend regop vir so ’n ou man. Sy dik hare staan ’n bietjie wild om sy kop asof hy dit lanklaas laat sny het.

“Daar is darem seker kinders wat u … jou kan bystaan. Ek het gister jongmense hier gesien.”

“’n Neef se seun en sy vrou, en hulle kinders. Ons enigste kind is in Londen … hy is darem op pad …”

“Gaan hy ’n rukkie bly?”

Tom glimlag. “Ek glo nie. Hy wil eintlik niks meer met die land te doen hê nie. Hy wou hê ek en sy ma moet in Engeland by hom gaan bly, maar ek is te oud om te verplant … en dan was daar haar siekte …”

“Teken van die tye, die families wat so oor die aarde versprei word.” Elize vererg haar so ’n bietjie vir haarself omdat sy aan niks anders as dié cliché kan dink nie. Sy is jammer vir die ou man, maar dink nie dat sy heeltemal opreg oorkom nie. Sy wou hom nog gevra het oor die man wat sy gister in sy tuin sien werk het, maar besluit om eerder by ’n ander geleentheid daarna te vra – dalk gaan sy dan regtig onsensitief klink.

Haar tuin, wat eintlik net bestaan uit ’n strook struike en ’n tuinpaadjie voor die huis en nog struike buite die heining, is erg verwaarloos. Die hele agterplaas is geplavei.

Sy het nooit daaraan gedink om vir die vrou van wie sy die huis gekoop het te vra om die tuin so netjies te hou soos wat dit was toe dit geskou is nie. Sy het gedink ’n mens hou jou tuin netjies totdat die mense aan wie jy dit verkoop het daar intrek, maar die oomblik toe die kontrak geteken is, het die vorige eienaar opgehou om haar tuin te versorg sodat die onkruide oral uitskiet, selfs tussen die steenplaveisel van die sypaadjie.

En sy wil nie sommer enigeen van die straat af as tuinwerker huur nie. Dis te gevaarlik. Jy hoor te veel van mense wat deur hul tuinwerkers doodgeslaan word.

Die res van die week werk Elize hard: sy praat met vryskutte oor artikelidees; sy en Bessie bespreek ’n artikel wat Bessie gaan skryf oor vervoer na en van ’n plakkerskamp – Bessie en ’n fotograaf sal Donderdagaand daar oorslaap en Vrydag met ’n taxi werk toe ry om te sien hoe lank die trippie duur. En hoe dit is om in ’n plakkerskamp oor te bly.

“Maar waag jy nie te veel nie?” wil Elize tog ’n bietjie bekommerd weet.

“Nee, my ma se huishulp het alles gereël en sy sê daar is nie op die oomblik probleme nie.”

Maggie en ’n fotograaf sal by Muldersdrift gaan ondersoek instel na misdaad en wat daar gedoen word om aandag aan die probleem te gee.

“Bly maar so ver as moontlik weg van politiek af.”

“Is dit hoegenaamd moontlik?” vra Maggie. Sy lyk soos lente in ’n perskekleur rok.

“Maak jou fokuspunt vroue en hoe hulle die situasie beleef.”

Elize sit saam met Maggie en Bessie op ’n bank onder ’n boom in die tuin. Dis vir haar makliker om daar met die twee jong vroue te praat, weg van Hermia se fronse en verergde en afkeurende gebare. Elize het die eerste dag al besluit om haar so min moontlik aan Hermia te steur, maar sy kan nie help om feitlik die hele tyd daarvan bewus te wees dat Hermia nie saamstem met die meeste goed waaroor sy met die joernaliste praat nie. Selfs tydens haar telefoongesprekke met vryskutjoernaliste kyk Hermia fronsend op van haar lessenaar asof sý pas iets onvanpas gesê het.

Voordat sy huis toe gaan, sien Elize Michelle se sms: “Pappa het my vroeg kom haal en ons is op pad Laeveld toe.” Nie ’n “x” of ’n “lief vir Mamma” nie. Haar pa is by ’n ander vrou, maar dit lyk of Michelle háár vir die situasie blameer.

Maar sy wil nie die naweek daaroor tob nie.

Elize, haar enigste broer, Eben, en sy Engelssprekende vrou, Catherine, gaan fliek en uiteet. Hy moet net soms van die kinders af wegkom, het hy gesê, maar toe sy vra of hy en Catherine dan nie alleen wil uitgaan nie, het hy net gesê: ’n ander keer. Sy het geweet hulle doen dit sodat sy nie alleen moet wees op ’n naweekaand nie. En sy was bly oor hulle bedagsaamheid. Maar het tog gewens dat sy nie so swaar op hulle moes leun nie.

Elize hoor die snikke toe sy die stoeptrappies oploop.

In die voorportaal trek die sekretaresse ’n geamuseerde gesig. “Drama-drama!” sê sy.

In die groot oop kantoor sit Bessie op haar stoel by haar rekenaar, haar kop in haar hande. Sy snik so hard dat Elize dink daar moet dood in haar familie wees. Maar nie toe sy na Sarita kyk nie. Sarita se uitdrukking is iewers tussen vererg en geamuseerd.

Gloria, die jong uitlegkunstenaar, haar goue krulle met ’n lang serp weggebind, kyk vlugtig op en glimlag. Gryskop Ulla konsentreer op haar skerm.

“Wat gaan aan?”

Bessie kyk op met gewonde oë.

“Hermia het gesê my naam gaan nie by die plakkerskamp-artikel kom nie. Sy gaan ’n skuilnaam, haar eie skuilnaam, daarby sit.”

“Hoekom?”

“Oor ek dit glo nie goed genoeg geskryf het nie … en oor sy nog so baie daaraan moes werk.”

“Ek sal met haar praat.”

“Sal nie help nie. Sy’s nou by Lettie om vir haar te sê.” En Bessie huil nog harder.

Elize sien toe eers dat Lettie se deur toe is.

Bessie se gesig word rooi. Woede stoei met die trane. “Hermia is ’n blerrie feeks …” kners sy.

“Kom ons gaan drink koffie. Ek betaal.” Toe Bessie nog talm, sê sy: “Toe, toe, jy kan nie met haar praat as jy in so ’n toestand is nie.”

Elize neem Bessie na Cresta. Hulle bestel cappuccino’s by Nino.

“Ek het van mense wat saam met Hermia gewerk het, gehoor dat sy ’n poephol is wat die lewe vir ander onaangenaam maak,” sê Bessie wat opgehou huil het, maar nie haar grief wil laat los nie. Die wit van haar oë is nog baie rooi.

Elize het min of meer dieselfde gehoor, maar wil nie ’n senior medewerker voor ’n junior afkraak nie. “Bessie, jy moet my vertrou. Bly hieruit. Gaan aan met jou werk. Ek sal dit hanteer.”

“Goed,” sê sy, maar nie voordat sy Elize in die oë gekyk het nie. “Ek wou jou al gevra het: Hoekom het jy by ’n vrouetydskrif begin werk? Ek bedoel, ek sal nie Beeld hiervoor verruil nie.”

“Ek het eintlik weggehardloop,” sê Elize. “Ek is pas geskei, en wou nie die hele dag in my eks en sy nuwe liefie se gesigte vaskyk nie.”

“Ek het nie geweet nie … en julle huis teen die bult met die uitsig oor die stad … bly jy nog daar?”

“Nee, dis verkoop.”

“Ag nee, as ek jou sien, dan dink ek aan jul lekker huis …”

“Hoe weet jy van die huis?”

“Onthou jy nie, ek het eenkeer toe ek nog ’n student was saam met jou gery vir ’n storie en jy het by jou huis aangery omdat jou dogtertjie siek was … sy’s seker nou al yslik groot?!”

“Ja, Michelle is al veertien.”

Bessie vee haar wit cappuccino-roomsnor met ’n papierservetjie af. “En hoe reageer sy?”

“Dis nie vir haar maklik nie.”

“Natuurlik nie … waar bly jy nou?”

“Greymont.”

Bessie dink ’n oomblik na, glimlag toe en sê: “Jy het darem flippen ver bultaf geval.”

Ten spyte van die seer gevoel wat in haar keel nesskop die oomblik as iemand iets persoonliks oor die egskeiding sê, wil Elize lag. “Ja, flippen ver geval.”

Bessie bestel nog ’n cappuccino en sy wil ook ’n croissant met kaas daarby hê. “Ek sal vir myself betaal,” sê sy.

Toe hulle by die tydskrif se hek inry, sien hulle albei dadelik vir Hermia op die bankie onder die boom in die tuin sit en rook.

“Gaan binnetoe,” sê Elize. “Ek gaan met haar praat.”

“Maar ek wil net vir haar gaan sê …”

Elize kyk na Bessie wie se gesig weer besig is om te verkleur. “Los dit net. Ons kan nie saamwerk as ons almal vir mekaar kwaad is nie.”

Bessie ruk haar skouers terug sodat haar lang oorbelle rondswaai, maar sy klim tog uit en loop die huis binne.

Hermia is elegant aangetrek, so elegant dat sy netso wel in ’n Franse modetydskrif sou kon sit. Maar haar rug en nek is onelegant vorentoe gebuig en sy suig aan haar sigaret met ’n verbete uitdrukking op haar gesig.

Elize wens sy kon met iets diplomaties wegval, soos dat sy van Hermia se uitrusting hou, maar pleks daarvan begin sy op haar gewone reguit manier: “Ek het gedink Bessie het ’n goeie artikel oor haar besoek aan die plakkerskamp geskryf.”

“Ek nie,” sê Hermia. Sy buk vorentoe, laat val haar sigaret op die grond en trap daarop. “Ek het groot dele oorgeskryf, ook ’n nuwe intro, en haar taalgebruik is beroerd. Ek het haar oorspronklike storie en my veranderinge. Ek het die twee kopieë vir Lettie gegee. Sodra sy dit gelees het, kan jy daarna kyk. Ek is seker daarvan dat jy met my sal saamstem.”

“Wat ek van die storie gehou het,” sê Elize en voel ’n krieweling van ergernis soos ’n wurm aan haar ingewande vreet, “is die eerlikheid, die manier waarop ons onkunde oor die kultuur en die gewoontes van mense met wie ons die land deel, ontbloot word. Goed, haar taalgebruik is nie van die beste nie, maar dis niks slegter as dié van ander jong joernaliste nie. En ek het gesien sy het nie ’n sterk genoeg intro geskryf nie, maar is dit nie juis die werk van ’n sub om die taal te verbeter en moontlik die intro oor te skryf nie?”

“Ek het tot drieuur laas nag aan die storie gewerk … as daar ’n naam moet bykom, sal dit myne moet wees …”

“Jy het natuurlik saam met ’n fotograaf met ’n taxi na ’n plakkerskamp gery, die aand saam met ’n gesin geëet, die nag daar geslaap en die volgende oggend vieruur opgestaan om ’n taxi te haal om betyds by jou werk te wees.” Elize wens sy kan die sarkasme uit haar stem vee, maar sy is so vererg dat sy haarself nie kan help nie. Hoe gaan ek saam met dié vrou werk? wonder sy.

“Ek dink in elk geval die storie is passé. Ons mense wil nie meer lees oor hoe swaar húlle kry nie. En ons gestryery hieroor is bloot akademies. Die artikel sal boonop nie in die tydskrif wat gepubliseer gaan word, verskyn nie.”

Nou vererg Elize haar eers. “Wie sê so?”

“Ek,” sê Hermia. “En Lettie het met my saamgestem.”

“Maar ons kan nie wegskram van die werklikheid nie. Ons kan ook ’n artikel skryf oor wit plakkerskampe … oor plaasaanvalle … Maggie gaan skryf oor misdaad in Muldersdrift, misdaad is ’n werklikheid waarmee ons hier in Johannesburg moet saamleef.”

Hermia steek nog ’n sigaret aan en blaas die rook uit. Sy lag ’n bietjie uit die hoogte. “Dis duidelik dat jy nie eintlik ’n idee het van wat by vrouetydskrifte aangaan nie. Al die stories wat jy tot nou toe uitgedink het, is koerantstories. By vrouetydskrifte gaan dit daaroor om vroue te bemagtig, om hulle goed te laat voel oor hulleself, om hulle te wys hoe hulle hulself kan verbeter – hul uiterlike, sowel as hul innerlike … ons bly weg van politieke stories en sulke onaangename dinge.”

“Ek verstaan dat ’n mens positief moet wees, maar ek verstaan nie die ontkenning van die Suid-Afrikaanse werklikheid nie. Ek verstaan dat ons stories oor haar- en velversorging moet plaas en resepte moet gee, ek verstaan dat ons opgewonde moet word oor die akteurs van Sewende Laan, maar wat ek nie kan verstaan nie, is dat dit voel of ons in … of dit net so goed Londen, New York of Parys kon wees. Dit is beslis nie die geval nie. Ons bly in Afrika.”

“Almal wat nog met dié resep gelol het, het hul gatte gesien, Femina bestaan nie meer nie en Fair Lady se sirkulasie val.”

“Ek gaan met Lettie hieroor praat. Bessie se naam moet by die artikel wees,” sê Elize en staan op.

Hermia trap die tweede sigaret dood en staan ook op.

“Wat ek nie kan verstaan nie,” sê sy, “is: waarom is jy aan die kant van ’n junior joernalis? ’n Mens sou dink dat jy my sou wou ondersteun. Ek waarsku jou: Moenie ’n vyand van my maak nie.”

Sy praat of dit oorlog is, dink Elize toe sy binnetoe gaan om met Lettie te praat.

Die woede waarmee Michelle vir Fransie op die judomat takel, laat Elize met ’n droë mond sit en kyk.

Michelle pluk aan Fransie se lapel en probeer ’n skouergooi. Toe Fransie blok, gryp Michelle haar vriendin (?) se gordel agter haar rug vas en swaai haar regterheup in vir ’n heupgooi. Met haar lang bene kry Fransie dit reg om die gooi te fnuik, maar toe sy met haar een been bo-oor Michelle se heup trap, steek Michelle haar regterbeen uit en pootjiegooi Fransie hard. Fransie hou vas en Michelle val bo-op haar op die mat. Hulle val so hard dat Elize seker is sy het ribbes hoor kraak. Toe Michelle regop sit, kreun Fransie en hou haar hande beskermend oor haar ribbes.

Faan, die afrigter, is dadelik by. “Michelle, dis judo, the gentle art, nie ’n stoeiwedstryd nie,” raas hy. “En, Fransie, hoeveel keer moet ek nog vir jou sê om ’n breekval te doen as jy gegooi word. Om nie vas te hou nie … Jy kan jouself en jou opponent beseer.”

Michelle staan op sonder om na Fransie te kyk. Sy trek haar judoklere reg, buig vir die mat en loop na die kleedkamer.

Fransie bly kreun, maar toe Elize haar skoene uitskop en nader gaan, kom sy orent.

“Fransie,” vra Elize, “waar is dit seer? Moet ek jou dokter toe neem?”

Die kind hyg met ’n vertrekte gesig. “Nee, tannie, ek dink nie iets is gebreek nie. Michelle het net my wind uitgeval.”

“Ek sal jou by die huis gaan aflaai.”

“Dis nie nodig nie, tannie.”

Dit lyk of Fransie seerkry as sy asemhaal en Elize wag totdat sy uiteindelik uit die kleedkamer kom. Sy loop darem nou regop. (Michelle het intussen die sleutels gegryp en in die motor gaan wag.)

Faan beduie vir die judoka op die mat om voort te gaan en kom na Elize aangestap.

“Mevrou Greeff, is dit moontlik dat Michelle Dinsdae en Vrydae ’n uur langer kan bly? Ek wil hê die beginnermeisies moet bietjie die gevoel van die mat kry – so ’n bietjie begin veg. En ek wil hê Michelle moet help. Ek sal haar daarvoor vergoed.”

Sy hou nie van die manier waarop sy al gesien het hy vir Michelle kyk nie, maar miskien sien sy net goed wat nie daar is nie. “Het jy al met Michelle gepraat?”

“Ja, sy wil graag.”

“Dan het ek nie beswaar nie.”

Op pad na Fransie se huis ’n paar blokke verder praat die twee meisies nie met mekaar nie.

Elize wil uitklim om met Annabelle te praat, maar Fransie keer haar.

“Nee, tannie, moenie vir my ma sê nie. Ek voel al klaar beter.”

Elize wag totdat Fransie agter die groot muur van haar huis verdwyn voordat sy wegtrek.

“Vertel my wat op die judomat gebeur het,” sê sy vir Michelle. “Ek verstaan nie. Wat gaan tussen jou en Fransie aan?”

“Sy’s sommer net simpel.”

Toe Elize aanhou vra, sê Michelle: “Ek wil nie nou daaroor praat nie, Mamma. Anderdag.”

Elize kyk weer na die nors profiel van haar dogter en sug innerlik. In die verte is daar donker wolke en twee ligflitse kruis mekaar. Bokant hul kop trek ligter reënwolke tussen die donkeres deur. ’n Storm gaan enige oomblik losbars. En voor hulle nog by Northcliff Corner kom, begin dit hard te reën met byna dadelik yslike haelkorrels wat luid teen die ruite vasslaan. Elize ry by die Engen-garage in en gaan staan op een van die parkeerplekke.

“En nou?” vra Michelle ongeduldig. “Hoekom sit ons net hier? Wag ons vir beter dae?” Daar is spot in die kind se stem en Elize herken die “wag vir beter dae” as iets wat sy al vir Michelle gesê het as dié lê en boek lees pleks van om haar huiswerk te doen.

“Wag vir die hael om op te hou … oor die radio gehoor dis wat ’n mens moet doen in ’n haelstorm. Daar is minder skade aan die motor as jy stilhou as wanneer jy ry.”

Michelle sê sag maar nie so sag dat Elize nie kan hoor nie: “Uchi mata, tai otoshi, kosoto gari.” Toe sug sy, haal haar Blackberry uit en sê: “Ek laat weet net vir Pappa waar ons is.”

Gelukkig hou die hael nie te lank aan nie en die korrels bly, dankie vader tog, klein. Maar dit reën nou in alle erns. Toe sy by Engen wegtrek, skakel sy haar hoofligte aan. Dit neem drie keer so lank soos gewoonlik voordat hulle uit die verkeer die stiller pad huis toe vat. Sy probeer die stroom water aan die kant van die pad vermy, maar dit is reeds so groot en breed dat sy die water teen haar deur hoor vasslaan. Eenkeer het haar motor in so ’n storm gaan staan, en sy sug verlig toe die huis se hek voor hulle oopswaai.

Tussen heinings

Подняться наверх