Читать книгу Tussen heinings - Corlia Fourie - Страница 8
5
ОглавлениеWelcome sit omtrent alles wat hy het in ’n groot swart tuinafvalsak: ’n ekstra (stukkende) langbroek, ’n uitgerekte trui met gate, deurgeloopte tekkies, ’n reisdeken, die halwe brood van gister, ’n Coke-bottel met kraanwater, en ’n gebreide mussie wat hy op ’n vullisdrom gekry het. Hy voel in sy broeksak of die paar note van gister nog daar is en steek sy selfoon, lottokaartjie en knipmes by die geld in sy sak.
Teen die heuwel af het die tarentale al begin roep: Kier-kier-kier, kier soos ’n fiets wat olie kort, en die duiwe koer in die bome. Die koppie het oornag van vaal na groen verkleur, maar Welcome sien nie die groen nie en is skaars bewus van die voëls. Hy hou net die huis skuins onder in die straat dop vir wanneer Boer Tom by die agterdeur gaan uitkom om sy koerant uit die hek te haal. Gisternag het die nuus byna net so vinnig soos die geswiep van swaeltjies in die aandlug onder die mense op Welcome se koppie versprei dat die Bokgato en hul chanas, die security mense en diesulkes, Albert’s Farm, die Northcliff-koppies en Welcome se koppie van “ongewenste elemente” gaan bevry. Van vroegoggend af het mense met supermarktrollies, tuinvullissakke, swart munisipale vullisdromme op wieletjies en verweerde koffers die straat gevat om iewers anders ’n heenkome vir vannag te gaan soek.
Daar is Boer Tom uiteindelik! Hy trek die koerant uit die hek, klim die trappies heel vinnig op vir so ’n ou man en loop by die agterdeur in. Welcome wag nog so ’n rukkie voordat hy by die koppie afklim en die klokkie by die hek gaan lui.
Tom maak die agterdeur oop: “You’re early,” sê hy, maar nie onvriendelik nie. Hy sluit die hek oop. “Jy kan die rotstuin by die sypaadjie eerste skoonmaak. Los jou goed in die tuinhuisie. Ek maak solank koffie.”
Die houttuinhuisie agter die huis is feitlik leeg, buiten net ’n paar stukke tuingereedskap in ’n hoek. En ’n stapel ou koerante en tydskrifte in ’n ander hoek. Welcome trek sy broek, T-hemp en skoene uit, en trek die stukkende broek, trui en tekkies aan. Hy vou sy uitgetrekte klere op en bêre dit in die swart sak. Die sak kom in ’n hoek van die tuinhuisie. Dis dié huisie waar hy wil bly. Waar hy sy goed wil neersit en nie sy kop af moet bekommer om dit veilig te hou nie.
Op sy hurke werskaf hy met die klein tuinvurkie in die rotstuin net buite die hek. Ná die goeie reën staan die onkruide geil tussen die plakkies, vygies en aalwyne.
Tom roep by die agterdeur. Hy gee Welcome ’n beker koffie en ’n bord toebroodjies.
“Thanks, Masta. Masta, can I sleep in the garden shed. Just for tonight?”
“Why?”
“The police. They want to catch us tonight. They will send me back to Zimbabwe, please, Masta.
“There is nothing in the garden shed. On what do you want to sleep?”
“Please, Masta, I will sleep on the newspapers and I have a blanket, please, Masta.”
“Okay, but only for tonight.”
“Thanks, Masta. Thanks.” Welcome bring sy hande saam om sy dankbaarheid te wys.
Die res van die dag neurie hy terwyl hy in die tuin werk, ’n groot gewig het van sy skouers afgeval. Om net vir een nag te kan slaap sonder om bang te wees vir die mense rondom jou. Bang dat hulle van jou goed in jou slaap gaan steel. Bang dat hulle jou iets gaan aandoen.
En môre, môre gaan hy weer soebat, sy hande mooi bymekaarbring. Tom het ’n jammerhart. En so ’n jammerhart sê nie maklik nee nie.