Читать книгу Tussen heinings - Corlia Fourie - Страница 4

1

Оглавление

Later in die dag, sê die weermense, word dit 28 grade, maar vroegoggend in Oktober is dit nog koud in Johannesburg.

In die huise in die straatjie van die voorstad wat bergop loop, begin mense wakker word. Voëls swiep deur die lug en kwetter in die bome. Die bome is swaar behang met bloeisels. Die soet reuk van heuningblomme verdring byna alle ander geure, aangenaam sowel as onaangenaam. In die kombuis van ’n huis skuins oorkant die koppie wag ’n ou man, Tom, met ’n beker koffie vir Beeld om afgelewer te word. Hy luister of daar al beweging in die slaapkamer is, maar hoor niks.

Uit die koppie kom die geluid van tarentale wat wei. Met ’n aargh, aargh, uggh hardloop hulle teen die koppie af die straat in. Tom maak sy venster oop en “sjie, sjie, sjie” jaag hy hulle aan. Binnekort kom die eerste bus en hulle sal seker padgee, maar netnou hardloop die voorste tarentaal onder die bus in en die swerm is so onnosel dat hulle agterna sal neuk. “Sjie, weg, weg,” roep hy. Die voor-tarentaal aargh, aargh, aargh straatop en die ses ander aargh agterna.

Verbrands, daar’s al klaar ’n hiëna by die asblik. Grawe, grawe, gooi goed uit op die sypaadjie, haal Cecile se inkontinensie-weggooidoeke uit, ruik so wragtig daaraan …

Hy maak die venster oop: “I have put everything you can use in that carton next to the bin.”

Die man kyk kwaad op. Hy is kort en stewig met ’n kop wat lyk of dit sonder nek in sy bors verdwyn. Hy laat val skille op die sypaadjie. Hy is van sy pet tot by sy skoene vuilswart. Geel rubberhandskoene. “Do you know what I am looking for? No? So how can you say I can use nothing.”

“Well, just put everything back,” sê Tom, jammer dat hy iets gesê het. Moet ’n werklose man wees wat nogtans, desnieteenstaande, ’n bestaan probeer maak. Maar die geruik aan die doeke … sy privaat wêreld ingedring …

Die man pak alles weer in die vullisblik. Nou is hy by die oranje herwinningsak. Hy bekyk die koerante. Vat niks. Maak die deurskynende plastieksak oop. Haal net ’n groot jogurthouer uit. Hy hou dit op na die venster.

“I only take …”

Tom knik.

Net die eerste opraap van die oggend. Die helfte van die goed wat hy elke Maandag netjies skoongemaak in die herwinningsak los, word uitgesteel voordat die herwinningsmaatskappy se mense dit kom haal.

Die man met die geel handskoene loop oor die straat.

Onder om die hoek hoor hy ’n supermarkkarretjie aankom wat deur iemand gebruik word om sy asblikvondste in te vervoer.

A, hier’s sy koerant nou.

’n Polo hou stil en ’n seun met ystervarkhaartjies klim uit, waai vir die ou man by die venster en druk die koerant by die hek in. Tom waai terug. Hy sluit die agterdeur oop, klim die trappies in sy pantoffels af en trek die koerant uit die hek.

Die hoofstorie op bladsy een gaan oor mense wat in Muldersdrift vermoor is. Tom weet die res van die koerant gaan ook vol moord en doodslag wees.

Hy maak nog koffie. Luister. Nog geen geluid uit die slaapkamer nie.

Kan dit wees dat Cecile vanoggend laat slaap? So laat? Gewoonlik begin sy al vroeg te beweeg, selfs te kreun. Gewoonlik lê sy dan met oop oë vir hom en wag …

Hy loop kamer toe.

Hy hoor die bus by die bushalte voor die huis langsaan stilhou.

In die deur bly hy staan en kyk na die stil vrou in die bed. Sy lê op haar sy, haar kop weggedraai van die deur af.

Hy is weereens bewus van die reuk. Maak nie saak hoe skoon hy die kamer hou nie, maak nie saak dat die beddegoed dikwels gewas word nie. Maak nie saak dat hy lugverfrissers met natuurlike geure gereeld in die kamer spuit nie. Maak nie saak dat hy die vensters so wyd moontlik oopmaak nie. Hy ruik nog steeds haar siekte in die kamer.

Die bus vertrek.

Sy lê te stil, skrik hy, en loop nader …

Sy lyk heel rustig, kop na die venster, na die lig gedraai, oë toe, mond effe oop. Selfs voordat hy haar pols voel, weet hy dat sy nie meer lewe nie, heel moontlik in haar slaap dood is. Hy was nie by haar nie, want hy slaap deesdae in die ander slaapkamer, waaraan hy nou nog dink as Thomas se kamer, hoewel Thomas al lank uit die huis is.

Gevoelloosheid oorval hom toe hy die dokter bel en heel saaklik met hom praat. Hy kyk op sy horlosie. Thomas in Londen sal nog nie weg wees werk toe nie. Hy sal hom nou dadelik bel voor hy enigiemand anders laat weet.

Welcome Nkosi word stram wakker. Die arm waarop hy gelê het, voel dood. Hy nies, vee die snot aan sy mou af en sit regop. Al weer die droom gehad. Daai man, daai Boer se gesig, opgeskroef van woede. En dan … en dan …

Gaan daai man altyd met hom wees. Altyd in sy kop wees. Hom nag ná nag besoek? Hy weet nie eens of die Boer dood is nie. Dalk lewe hy nog. Maar nee, ná daardie hou … sy kop … die bloed …

Hoekom het die Boer sy gun uit die kluis probeer haal?

Hoe dom kan jy wees?

Hy het dan daar by hom gestaan met die kierie.

Nie nou daaraan dink nie. Nee, al waaraan hy moet dink, is hoe om die dag klaar te maak.

Hy trek die baadjie waarop hy geslaap het aan. Hy loop ’n entjie weg van die slapendes, trek sy gulp oop en pie sodat borreltjies in die stowwerige grond vorm. Hy trek sy gulp toe. Hy voel in die sak vir sy knipmes en die stuk droë brood van gister.

Hy moet hier wegkom. Dié plek loop reguit hel toe. Jy kan enigiets hier kry: dwee, of dagga soos hulle dit hier noem, shebeendrank, guns … sommige nagte selfs items of chicks soos die mense hier vroumense noem. En soms verskyn hier gesteelde goed soos rekenaars, TV’s, selfone … om ’n nag of drie later weer te verdwyn. Nie dat almal hier skelms is nie, party van hulle is maar net ouens wat werk soek en die pad van wie weet waar af Egoli toe gevat het. En nie werk gekry het nie.

Elke tweede ou is ’n Zimbo nes hy. Die Zimbo’s en die ander Africans het hier in die doodloopstraat agter die koppie vir hulle met sink-en-plastiek-huisies kom nesskop. Nes hy. Net, hy het nie eens ’n huis nie, slaap sommer in die oopte.

Maar die Bokgato of die Bo 4, soos die mense hier die cops noem, weet van hulle. Weet dat hier soms gesteelde goete onder die bossies en tussen die klippe weggesteek word. Elke paar maande is daar raids, kom die Bokgato met hul chanas soos die Patrol Watch en die mense wat in regte huise langs die teerstrate bly.

Mense agter razor wires, agter hoë mure, agter electric heinings.

En by een van dié huise in die eerste teerstraat onder die koppie is dit waarop Welcome sy hart gesit het. Waar hy glo hy sal kan bly sodat honger mense nie snags as hy slaap sy goed deursoek nie. Dis by die ou Boer, Tom met die siek vrou, hier onder in die straat wat hy sy huis wil maak. Want Tom het ’n tuinhuisie wat so te sê leeg is, ’n wegkruipplekkie waarin hy saans kan slaap en planne kan maak om nog werk te kry. En die beste van alles: daar is ’n stort met warm water in die buitetoilet. Hy het alles al mooi uitgekyk die paar keer dat hy daar gewerk het.

Michelle se pa het haar vir skool kom haal. Nou staan Elize die asaleas by haar agterdeur en natgooi terwyl sy vir haar huiswerker wag.

’n Dubbelverdieping- tuisgemaakte karretjie kom verby. Dit het ’n houtraamwerk wat met sakke oorgetrek is. Hoogvol plastiekhouers. Laat Elize dink aan die karretjiemense van kleintyd in die Karoo. Pleks van donkies is dit ’n maer, verflenterde man wat die karretjie trek. Pleks van windhonde wat agter die karretjie draf, sit die hele buurt se honde agter hekke en heinings ’n keel op asof hulle bedreig word. Die man staan kort-kort en rus. Vra toe of sy vir hom water het.

Sy gaan haal ’n botteltjie met kraanwater uit haar yskas en gee dit deur haar traliehek vir hom aan.

Elize kyk weer op die wekker langs die stoof. Al so laat? Sy kan nie langer vir Lina wag nie. Die treine is seker weer laat, of daar is ’n busstaking, hoewel sy niks oor die radionuus gehoor het nie. Sy kry haar handsak op die kombuistafel, maak die agterdeur toe, skakel die alarm aan, luister na die alarm se waarskuwingsgeluid terwyl sy die agterdeur oopmaak, toemaak en sluit. Sy sluit ook die veiligheidsdeur, klim die trappe af, sluit haar motor oop met die afstandbeheer, klim in, druk die hek se afstandbeheerknoppie, wag dat dit oopswaai, maak seker dat haar kar nie teen die hek sal skuur nie en ry versigtig agteruit. Sy wag in die inrypad tot die hek toegaan voor sy wegry.

Die lykswa staan nie meer voor die buurhuis nie.

Sy is amper by haar bestemming toe haar selfoon begin lui. Seker Lina wat nou voor die toe hek staan. Sy ignoreer dit. Sy wag vir die verkeer, draai dan regs in Beyers Naudé. ’n Entjie verder draai sy links en feitlik onmiddellik weer regs, ry ’n paar honderd meter in die straat af, draai weer regs by ’n huis se oprit in en hou by ’n toe hek stil. Sy klim uit, druk die knoppie, sê wie sy is toe ’n vrouestem vra. Toe die hek oop is, ry sy binnetoe en stop agter ’n hele ry motors.

Dis ’n paar tree na die stoep en die oop voordeur. Die vrou by die lessenaar kyk op, maar sê niks nie.

“Elize Greeff,” stel sy haarself voor. “Lettie van Graan het gesê …”

“Hulle het al begin,” sê die vrou sonder om te sê wat haar naam is.

Sy beduie met ’n slap wit handjie agtertoe.

Elize volg die stemme deur ’n vertrek met ’n warboel van lessenaars, stoele, en bokse met rekenaars, deur ’n kleiner leë vertrek na ’n gang met deure aan albei kante. Die stemme, nou so hard dat sy amper kan hoor wat daar gesê word, lei haar deur ’n groot kombuis na ’n toegeboude agterstoep.

Lettie van Graan sien haar dadelik raak. Lettie se blonde hare is tot net onder haar ken reguit gesny met ’n sypaadjie en ’n gordyntjie. Sy laat sak haar groot bruin oë opsigtelik na haar horlosie.

Die groep mense by Lettie kyk om.

“Jammer ek is laat,” sê Elize, “my huishulp …”

Lettie stel haar aan almal voor: twee joernaliste, een wit, een bruin, een sub (net een sub?), twee kunstenaars en ’n verhaalredakteur. Elize sal later probeer om al die name te onthou. Sy het lang, dik Sarita Wessels, wat ’n paar huise van haar af bultop woon, al ontmoet. Sarita is ondanks haar groot lyf ’n heel aantreklike en goedversorgde vrou met ’n dik bos bruin hare. Sy het ’n oranjegeel kaftan aan en dra drie stringe groen krale. Sarita is al jare lank rooi rose se verhaalredakteur. Nou seker was. Sy het nie eens geweet Sarita is weg by die tydskrif nie. Dis Sarita wat Lina aanbeveel het omdat sy nog nooit enigiets uit die huis laat verdwyn het nie. En ja, dis nogal belangrik as jy jou huis vir iemand ooplos terwyl jy nie self daar is nie. Lina vat dalk niks nie, maar sy kan nie Afrikaans verstaan nie omdat sy uit die Oos-Kaap kom en Elize, wat geen swart taal kan praat nie, verstaan dikwels nie Lina se Engels nie.

Sy het al van die modieuse sub – Hermia – gehoor. Glo baie goed met die woord op papier, maar minder vaardig met die woord as sy met haar medewerkers te doen het. Die jong wit joernalis, Bessie, ja, dis haar naam, Bessie, het ’n tyd lank ’n internskap by Beeld gedoen. Bessie se groot blou oë kyk vriendelik na Elize en sy groet met ’n knik van haar kop sodat die kraletjies van haar lang, dun oorbelle vrolik saamskud.

“Ek het nou net vir die ander genoem dat ons baie van vryskutte gebruik gaan maak,” sê Lettie. “’n Hele paar bekendes gaan onder hul eie name vir ons werk en ’n hele paar, wat by ander publikasies werk, onder skuilname. Ook die mode, skoonheid en kos sal deur vryskutte gedoen word.”

“Is dit wys?” vra Sarita. “Al die vrouetydskrifte het redakteurs vir daardie afdelings en dan het hulle nog helpers ook.” Haar dubbelken dril in haar nek as sy praat.

“Ons gaan nie probeer om beter te wees as hulle op dié gebied nie,” sê Lettie en sy glimlag asof sy baie in haar skik is met haar antwoord. “Daardie afdelings is baie duur. Ons sal vir die vroue meer gee om te lees, meer artikels met diepte, meer verhale. Ons mik vir volwasse vroue.”

“’n Afrikaanse Woman and Home dus,” sê die elegante Hermia. Sy knik haar kop goedkeurend. “Ek hou van die idee.”

“Wat artikels betref,” gaan Lettie voort: “Almal van julle moet dink aan artikelvoorstelle wat julle teen die einde van die week aan Elize kan gee.”

“Sarita, vertel bietjie wat jy alles vir verhale beplan.”

Sarita praat entoesiasties van vervolgverhale, van verhale, sy noem name van bekende skrywers wat gaan meewerk. “Wat ons ook gaan doen,” sê Sarita en pouseer dramaties, “. . . ons gaan ’n volle bladsy (of twee, het Lettie belowe) aan gedigte afstaan.”

Toe niemand entoesiasties lyk nie, sê sy: “Ek het dit geïdentifiseer as ’n leemte by tydskrifte. Daar is genoeg mense wat belang stel, wat bydraes wil maak … en natuurlik hoef ’n mens hulle nie te betaal nie, hulle sal maar net te bly wees om hulle gedigte gepubliseer te sien.”

“Het die baba al ’n naam?” vra die bruin joernalis, Maggie, vir Lettie. Sy het ’n fyn gesiggie, sensuele mond, rooibruin hare, donker oë en ’n gladde ligbruin vel. Toe sy aan Elize voorgestel is, was Elize daarvan oortuig dat sy haar naam nog nooit by ’n berig raakgelees het nie.

“Ek het gedink aan Uniek,” sê Lettie asof sy lank en diep oor die titel nagedink het.

“Briljant,” sê Hermia.

Almal anders proe onseker aan die naam. Die ouer uitlegkunstenaar lyk of dit haar slegte spysvertering gee. “Ek hou van ’n vrouenaam vir ’n vrouetydskrif,” sê sy. “Maar iets moderns en sjieks … soos Theresa.”

“Ek hou daarvan,” sê Bessie en kantel haar kop sodat haar een lang oorbel byna aan haar skouer raak.

“Nog voorstelle,” vra Lettie.

“Wat van Poplap?” vra die mooi jong kunstenaar met dik geel krulhare wat woes om haar kop staan.

“As dit ’n kinderblad was, Gloria …” dril Sarita.

“Of Pamperlang,” sê Gloria asof daar nie pas op haar vorige voorstel getrap is nie. Gloria, goue krulle, dit pas, dink Elize.

“Uniek, Theresa, Poplap, Pamperlang … Nog voorstelle?” vra Lettie.

Daar word nog ’n klomp name bygevoeg: Dapper Dames, Flink Vroue, Femme (Frans uitgespreek, sê Hermia), Me. (ook van Hermia), Lewenstyl en Lewensvreugde of Stylvol (van die ouer uitlegkunstenaar), Mod …

Toe niemand nog iets het om by te voeg nie, sê Lettie: “Soos ek reeds vir sommige van julle gesê het, daar is genoeg geld om ons ses maande lank aan die gang te hou – drie oefenmaande en drie maande waarin ons in die winkels sal wees – en daarna gaan dit van elkeen van ons afhang of ons ons voete in die mark gaan vind. Maar nou moet ons aan die werk spring. Daar is reeds rekenaars en lessenaars en stoele vir almal. Hulle moet net reggesit word.”

Die res van die dag is almal besig om hul persoonlike werkstasies in te rig.

Toe Elize kwart voor ses voor die skoolhek stilhou, kom Michelle dikmond na die kar aangestap. Haar lang blonde hare is in so ’n stywe perdestert vasgemaak dat haar wenkbroue boontoe getrek word. Sy het nog steeds haar judo-uniform aan. Sy maak die deur oop, smyt haar skooltas oor die rugleuning op die agterste sitplek neer, klim in sonder om te groet en klap die deur toe.

Sy maak haar gordel vas, maar leun teen die deur aan asof sy so ver moontlik van haar ma af probeer wegkom.

“Jammer ek is laat,” sê Elize toe sy wegtrek. “Eerste dag … nuwe werk.”

Michelle antwoord nie.

“Jy kon mos maar by Fransie-hulle se huis gewag het.”

Elize kyk vlugtig na Michelle wat stip voor haar kyk.

“Hoekom het jy nie by Fransie gewag nie?”

“Ons is nie meer vriende nie.”

“Hoekom nie? Het julle baklei?”

“Ek is nie lus om nou daaroor te praat nie.”

Elize byt op haar tong. Sy het die irritasie in Michelle se stem gehoor, maar besluit om nie te reageer nie. “Ek dink ons moet vanaand gaan pizza eet,” sê sy. “En ek is honger. Ons kan sommer nou al by die pizzaplek stilhou.”

“Nee, ek wil eers gewone klere gaan aantrek.”

Hulle ry in stilte.

In die huis kyk Michelle verbaas na die opgestapelde skottelgoed in die wasbak. “Ek dog Lina was hier.”

“Ek het gewag en gewag, kwart voor nege gery. Ek was laat vir ’n vergadering.”

“Ag nee, dan’s niks ook gestryk nie.”

Waar Elize by die kombuistafel sit en deur die koerant blaai, hoor sy Michelle brom in haar toe slaapkamer en hoe sy die kasdeure toegooi. Sy hoor haar die deur oopmaak en na háár kamer gaan en die kas oopmaak.

“Bly uit my kas uit,” roep sy.

“Ek leen net ’n swart T-hemp.”

Michelle het blou denimjeans aan by die swart T-hemp, sien Elize toe sy inkom. Haar lang ligte hare hang los op haar skouers. Sy is baie skraal, waarskynlik ’n kombinasie van gene en die judo, dink Elize. Sy is aantreklik met helderblou oë (soos haar pa) en ’n groot mond met ’n eiesinnige opwipbolip, maar gelukkig nie so popmooi soos haar vriendin Fransie nie. Popmooi vroue sukkel dikwels om hul brein en talente te ontwikkel. Dis of hulle hulle so verlustig in hul uiterlike, asof dit ’n prestasie is wat hulle behaal het, eerder as ’n gawe, dat hulle nie werk aan ander dinge nie. En ander mense, nie net mans nie, reageer so positief op vroulike skoonheid dat die besitter daarvan dink die hele wêreld moet haar haar sin gee. Wel baie keer. Beslis so in Fransie se geval. Dis dalk glad nie so sleg dat Michelle en Fransie ’n uitval gehad het nie. Solank sy net ’n ander beste vriendin kry. Op veertien het jy so iemand nodig.

“Los net jou Blackberry tot ons weer by die huis is,” sê Elize toe hulle oorkant mekaar sit en Michelle se duime begin werk.

“Boodskap van Pappa,” sê Michelle asof dit alles moet verklaar.

Hulle eet in stilte omdat Michelle nadat sy ’n paar keer aangespreek is, wel opgehou het om vir haar pa sms-boodskappe te stuur, maar nou eintlik niks het om te sê nie.

Elize vra hoe dit by die skool gegaan het en Michelle sê goed, maar daar was net die gewone goed, niks interessants nie.

Elize vertel van al die titels wat vir die nuwe tydskrif uitgedink is en Michelle trek haar gesig. Sy dink Poplap is ’n simpel naam, en glo nie dat enige van die ander name jongmense sal trek nie.

“Jongmense het in elk geval nie geld vir tydskrifte nie. Hulle lees hulle ouers s’n.”

“Maar hulle sê tog vir hulle ma’s as hulle van ’n tydskrif hou …”

“En dan koop hul ma’s dit.”

Hulle lag, maar dan versink Michelle weer in haar eie gedagtes terwyl sy die pizza aanval.

Terwyl sy eet, dink Elize wat sy vanaand nog alles by die huis moet doen voordat sy kan gaan slaap.

Tussen heinings

Подняться наверх