Читать книгу Tussen heinings - Corlia Fourie - Страница 12
9
ОглавлениеStadig kom die lewe terug in Tom se ledemate en in die deel van sy brein wat met die alledaagse gemoeid is. Dis net sy emosies wat weier om uit hul verlamming op te staan.
Hy maak sy huis skoon, was die wasgoed en gaan hang dit op. Terwyl hy in die agterplaas besig is, lui sy hekklokkie.
Hy besluit eers om dit te ignoreer omdat dit heel waarskynlik ’n bedelaar is, maar die klokkie hou aan en aan met lui.
Hy stap agter om die huis.
’n Baie maer man staan by die hek. Hy kon netso wel in die Tweede Wêreldoorlog in ’n Joodse konsentrasiekamp gewees het. Sy oë lyk glaserig. Drank? Dwelms? Sy klere is vuil. Sy skoene vodde. “Please, I have to go to hospital. Please. Just ten rand. Please.”
Seker al die sesde man wat dié maand geld kom vra om hospitaal toe te gaan. Kan hulle nie ’n ander storie uitdink nie?
“Sorry, no money.”
“I’m hungry, please,” die man haal sy een hand van die hek af en vryf oor sy maag.
Tom sug. Sy pa het gesê jy mag nooit ’n honger mens met leë hande wegstuur nie, maar dan het daar destyds nooit soveel mense met honger mae by hul huis in Pretoria aangeklop nie.
Die honger mense neem net toe. Jaar ná jaar, nee, maand ná maand, om presies te wees, week ná week word hulle meer. Maar dié maer man met die wasige oë lyk of hy aan dwelms of drank verslaaf is.
Hy gaan nietemin by die agterdeur in, maak ’n toebroodjie. Sit kaas daarop en haal ’n piesang uit die vrugtebak.
Hy gee dit deur die hek aan.
“Just five rand, please,” sê die man toe hy die kos vat.
“No money,” sê Tom en loop tam by sy agterdeur in.
Hy loop na die tweede slaapkamer, die kamer waar hy begin slaap het toe Cecile siek geraak en snags in die bed lê en rondrol en kreun het. Dis sy wat voorgestel het dat hy in Thomas se ou kamer gaan slaap.
En nou nog kan hy nie teruggaan na die groter slaapkamer met die dubbelbed nie. Hoewel hy die matras vervang, die beddegoed oor en oor gewas en al die vensters dae lank oopgemaak het, ruik hy nog die kanker in die kamer.
Net as hy sy kop diep in haar kas druk, kan hy háár ruik. Soos sy eens was: lemoenbloeisels …vanielje …
Toe hy ’n kind was, het sy ma op ’n Saterdagoggend een keer per maand sy en sy broer se mae “skoongemaak”. Hulle moes ’n eetlepel kasterolie op ’n nugter maag drink en ná die kasterolie het sy vir hulle dadels gegee om die kasteroliesmaak te verdoesel. Hy kon daarna nog nooit weer dadels eet nie. Die oomblik as hy ’n dadel naby sy mond bring, proe hy kasterolie.
En nou vermy hy die groot slaapkamer.
Hy skakel die radio aan en gaan lê op die enkelbed. Die radio bly op RSG ingestel. Hy luister nooit na ’n ander stasie nie. As daar iets is waarvan hy nie hou nie, soos die jazzprogram op Maandagaande, skakel hy dit af. Maar nou luister hy na Amoré Bekker. Haar empatieke aanslag, haar roomkaas-stem. Dis nou die tipe vrou wat hy graag vir ’n skoondogter sou wou hê. Hoe mal dat hy aan ’n skoondogter dink as Thomas nog nooit in verhoudings belang gestel het nie …
Welcome loop straatop, straataf op soek na werk.
Hy het twee briewe in sy sak wat Tom geskryf het om met die soek te help, een in Engels en een in Boertaal.
By baie huise is daar net ’n swart vrou wat vir hom sê die mense soek nie tuinhulp nie. Hulle het iemand. Iemand soos die swart vrou se seun of haar man of ’n vriend se vriend.
By ander huise blaf die honde so dat hy nie kan hoor wat daar vir hom oor die interkom gesê word nie, dan sê hy dankie en loop aan.
Maar hier en daar is daar tog mense tuis.
By die eerste so ’n huis is die vrou kwaad. Sy skree: “Hier is altyd iemand wat die klokkie lui. Ek kry nie ’n oomblik se rus nie. Bedel, bedel, bedel. Bedel en steel. Dis al wat ‘júlle’ kan doen.”
Welcome praat mooi. Hy sê hy soek werk. Tuinwerk.
Die vrou skree dat sy nie tuinwerk het nie. Hy moet weggaan en wegbly, anders bel sy die polisie.
By ’n kleiner huis kom ’n ou vrou met massas wit krulle en ’n kamera na die hek. Sy kiek, sê toe vir hom dat sy nou ’n foto van hom het sodat as daar by haar huis ingebreek word, sy die foto vir die polisie sal gee. Sy sê sy neem foto’s van almal wat kom werk vra, want dis die mense wat kom werk vra wat later inbreek en steel.
In die volgende straat sê ’n vrou hy moet die sypaadjie voor haar huis skoonmaak. Sy gee vir hom ’n tuinvurkie en ’n swart sak. Hy maak die hele sypaadjie skoon, werk dwarsdeur middagete, want in omtrent elke gleufie tussen elke twee stene groei daar onkruide van verskillende soorte, asook grasse wat hy met sy vingers probeer uitgrou omdat die tuinvurkie nie die werk wil doen nie. Toe hy uiteindelik klaar is, gee die vrou vir hom ’n pienk noot deur die hek aan. Hy dog dis ’n paar pienk note wat sy so netjies klein gevou het. Hy het vir haar gesê hoeveel Tom hom per dag betaal. Maar dis net een noot. Hy sê vir haar dis te min geld …
Sy sê sy het nie meer nie en anyway hy hoef nie weer vir haar te werk nie. Sy draai om en loop haar huis binne.
Hy sit die geld in sy sak en gaan huis toe.
Die volgende dag probeer hy ander strate.
Nadat die vrou by een van die huise Tom se Boerbrief gelees het en vir hom gevra het waar hy vandaan kom, vra sy vir hom of hy ’n werkpermit het. Toe hy nee sê, begin sy hom uit te skel. Sy sê dié land sal nooit regkom solank die hele res van Afrika oor die grense stroom om hier in die strate te kom rondloop, te bedel, te steel, of selfs te werk nie. “Our systems can’t cope with all you people … our hospitals, our schools, our roads, our jails, even our squatter camps are already full …” en sy gaan aan en aan.
Uiteindelik sê sy: “Just you wait …”
Sy neem die Boerbrief binnetoe en kom toe buitentoe en gee die brief vir hom oor die hek aan. Hy sien Tom se mooi getikte brief is nou met ’n lelike handskrif tot heel onder volgeskryf.
Hy gaan terug huis toe.
Toe hy nog so langs die pad loop, ry ’n motor van die Bokgato se chanas stadig by hom verby. Die man kyk hom goed uit.
Net voordat hy om die draai ry, sien Welcome die chana check hom weer in sy truspieëltjie.
Toe hy by Tom se hek ingaan, gaan die agterdeur oop.
“Jy’s vroeg terug,” sê Tom. “Niks werk gekry nie?”
Welcome skud sy kop en gee vir Tom die brief. Tom se oë gly oor die papier, toe frommel hy dit op en sê hy sal ’n ander een skryf.
Een aand ’n paar dae later toe Tom die agterdeur oopmaak nadat Welcome geklop het, vra Welcome hom om vir hom geld te leen. Hy soebat dat sy ouers swaarkry en dat hy al een is wat vir hulle geld kan stuur.
“They go to bed hungry, please, Masta.”
Tom dink: Hy het duidelik nie werk gekry nie en as hy begin leen, hoe gaan hy dit terugbetaal? Maar aan die ander kant probeer hy darem. En as jy nie werk kan kry nie, wat bly oor: bedel of steel. Wat sou hy byvoorbeeld gedoen het as hy in Welcome se posisie was? Seker ook oor ’n grens gestap het as hy gedink het daar is hoop vir hom in ’n ander land. Welcome sou nie hierheen gekom het as hy werk in sy eie land kon kry nie. Hy is nie lui nie. Hy is heel waarskynlik nie dom nie. Hy het net geen kwalifikasies nie. Hoe anders, hoe bevoorreg is sy eie seun nie. Hy is ook in ’n vreemde land, goed, heel wettig, maar ’n land waar deure nie in sy gesig toegeklap word nie.
Hy sê vir Welcome dat hy die volgende oggend geld sal trek.
Welcome slaan sy hande saam. “Thanks, Masta.”
“My name is Tom. Call me Tom.”
“Yes, Masta. Thanks, Masta.”