Читать книгу Tussen heinings - Corlia Fourie - Страница 14
11
ОглавлениеTwee mans van die Patrol Watch wag by Elize se hek saam met Michelle en Tom. Die jong Patrol van gemiddelde bou en lengte met vaal hare en oë, groet Elize altyd vriendelik as hy by haar verbyry. Die ouer man het sy nog nooit gesien nie. Hy is langer en breër met donker hare, ’n blas vel met akneemerke en olierige donker hare. Albei die mans het koeëlvaste onderbaadjies aan by hul donker langbroeke en blou kortmouhemde. Albei dra swart stewels waarby hulle broeke ingesteek is. Hulle hande is op die pistole in die pistoolhouers van hul gordels.
Paraat en slaggereed vir enige skiet-gebeurlikheid, dink Elize.
Ná sy die agterdeur oopgesluit het, staan sy terug. Die jonger man maak die deur oop en gaan binne. Toe hy in die gang afstap, trek hy sy pistool uit die houer. Die ouer een bly buite staan, sy hand nog steeds op sy pistool in die houer. Elize kan die TV op die mat in die middel van die sitkamer sien staan.
Die jonger man glimlag gerusstellend toe hy terugkom.
“Buiten die klein venstertjie in die hoofslaapkamer wat gebreek is en die geskeurde gordyn lyk alles reg. Julle moet maar self kyk of iets weg is, maar ek dink jou dogter het hulle verras en hulle het toe gevlug.”
“Maar hoekom het my alarm nie afgegaan nie?” vra Elize bekommerd.
“Ek vermoed hulle het in die huis rondgekruip,” sê die jong man. “Jou sensors sit bo naby die plafon.”
“Ag nee, wat nou?” vra Elize.
“Mevrou, jy sal of elektriese drade op jou tuinmuur moet laat aanbring, of buitesensors. Ek sal vir jou die naam en nommer gee van iemand wat betroubaar is. Hy doen ook klein werkies en sal die gebreekte ruit kan vervang. Hy’s baie billik,” sê die ouer man.
Elize gaan die huis binne, gevolg deur Michelle wat rondkyk asof sy verwag die inbrekers gaan skielik van iewers af verskyn. Haar houding is waaksaam, soos op die judomat.
In die hoofslaapkamer is die een venster wawyd oop en die nuwe wit kantgordyn hang deur die middelste reling van die diefwering buitentoe. “Maar is dit regtig moontlik vir enige mens om tussen die diefwering deur te kruip? Ek sal nie eens my kop daardeur kan kry nie,” sê Elize verstom.
“Mevrou, hulle stoot kinders deur om dan sleutels te soek en deure oop te sluit,” sê die jong man wat in die deur bly staan het.
“En gelukkig steek ons die sleutels weg,” sê Michelle. “En dis hoekom hulle nie die teevee kon steel nie.”
Toe Elize die kantgordyn terugtrek, sien sy die gordyn is horisontaal byna in twee geskeur. “Ek en Michelle maak ook al die vensters toe as ons uitgaan, dus weet ek nie hoe hulle die venster so maklik kon oopkry nie.”
Toe onthou sy die een wag het gesê ’n venster is gebreek.
“Waar is die gebreekte venster?”
Hy trek die gordyn langs die oop venster weg.
Die een kothuisvenstertjie in die paneel reg langs die vensterhandvatsel is stukkend en toe Elize die gordyn verder wegtrek, sien sy klein stukkies glas op die teëls agter haar groot ligbeige russtoel.
Michelle se oë is groot. Sy sê: “Ek háát die buurt.”
“Ek dink buitesensors gaan die oplossing wees,” sê Elize.
“En as jy bang is daar is iets by die huis verkeerd as jy van die skool af kom, dan bel jy net en ek sal die huis vir jou kom uitcheck,” sê die jong man vir Michelle.
Michelle is gerusgestel. “Dankie, dis gaaf.”
Daar is ’n glans in die jong wag se oë as hy na Michelle kyk. ’n Glans waarvan Elize nie hou nie. Wanneer het sy so agterdogtig teenoor mans geword? Is dit net oor die egskeiding? Is dit net omdat sy deur een man verkul is? Of dalk het sy daardeur net meer bewus geword van seksuele onderstrominge.
Elize dink dat dit agterna altyd maklik is om te sê jy moes tekens raakgesien het. Dan sê jy vir jouself: Hoe kon ek so blind gewees het? Dalk wou ek maar net nie sien nie. Maar as dinge besig is om te gebeur, dinge waaroor jy in die duister gehou word, weet jy nie noodwendig altyd wat die tekens beduie nie.
Jare gelede toe sy Anton ontmoet het, het hy haar vertel dat sy een groot begeerte is om ’n trefferboek te skryf. Hy het nie ’n brandende begeerte gehad om ’n skrywer te word nie, nee, hy wou ’n treffer, ’n wêreldwye treffer, skryf: iets wat so ’n groot impak sou maak soos Harper Lee se To Kill a Mockingbird of Boris Pasternak se Doctor Zhivago.
Ná hul troue het hy omtrent elke weekaand in sy studeerkamer verdwyn om sy treffer te beplan terwyl sy die kos gekook en die skottelgoed gewas het. Eers was dit die storie van sy grootwordjare in apartheid-Suid-Afrika; ná nog ’n paar ander idees wat geweeg en toe vere bevind is, wou hy ’n spioenasieroman aanpak. ’n Spioenasieroman wat eers sou afspeel gedurende die Tweede Wêreldoorlog met die spioen ’n Duitser, maar later het die spioenasietema na Suid-Afrika in die tagtigerjare verskuif toe ’n kommunis agter elke bos gesit het. Die volgende klompie jare het hy nie meer ’n storie bedink nie, maar navorsing oor spioene gedoen.
Intussen het sy leer kook, die huis versorg en verder haar aande verwyl met lees. As sy baie van die boek van ’n bepaalde skrywer gehou het, het sy ook ander boeke van daardie skrywer gelees. So het sy vir Margaret Atwood, A.S. Byatt en Ian McEwan leer ken. Sy het ook elke Afrikaanse skrywer wat sy gedink het die moeite werd is, gelees. Maar nooit in al die tyd was dit haar begeerte om fiksie te skryf nie. Sy was die ewige ywerige leser, sonder wie geen skrywer kan klaarkom nie. Was sy dan nie met ’n skrywer, altans ’n voornemende skrywer, getroud nie!
Toe hulle al hoeveel jare lank getroud was, en sy haar daarin berus het dat hulle nooit ’n kind sou kry nie, het sy verwag. Sy het elke fase van die swangerskap geniet, amper selfs die naarword soggens tydens die eerste drie maande.
En toe Michelle gebore is, het sy weer elke fase van die baba se ontwikkeling intens meegemaak. Sy was vir byna ’n jaar lank tuis totdat sy weer voltyds gaan werk het. Haar vriendin, Annabelle, met drie klein kinders in drie jaar, en die laatlam, Fransie, ses jaar later, het aangebied om Michelle op te pas. Sy bly in elk geval tuis om haar kinders te versorg, een meer sou byna geen verskil maak nie, het sy gesê.
Totdat Michelle skool toe is, het sy bedags by Annabelle gebly en in die laerskool is sy smiddae saam met Fransie huis toe.
Het sy te min aandag aan haar man gegee? Dalk wel. Sy het hom nie meer bewonder soos toe sy hom pas ontmoet het nie. Hy was maar net ’n gewone mens. Nie iemand buitengewoons soos hy graag geglo het … en ander wou laat glo nie.
Maar al was hy net ’n doodgewone man, sou sy nie daaroor gedroom het om hom te los nie. Sy is seker daarvan dat as jy iemand goed genoeg ken, daardie iemand, soos almal anders, ook maar net doodgewoon is. Dis geen rede om te dink dat die gras iewers anders weliger sal groei nie.
’n Ruk gelede het Anton al hoe meer saans laat begin werk. Omdat hy terselfdertyd ook meer verantwoordelikheid by die koerant gekry het, het sy dit nooit bevraagteken nie. Wanneer hy wel vroeër as gewoonlik tuisgekom het, het hy soms gesê dat hy net ’n draai wou gaan stap, en as sy bekommerd gesê het dit is gevaarlik om in die aand alleen rond te loop, het hy geantwoord dat hy versigtig is. Sy het nie geweet een van die jong sekretaresses by die werk het in ’n tuinwoonstel daar naby ingetrek nie.
Hulle verhouding het so uitmekaar begin val dat hy verskonings begin uitdink het om nie seks te hê nie. (Elize wat onder die indruk was dat net vroue gesê het hulle is te moeg vir seks of het ’n kwaai hoofpyn, het teen daardie tyd begin wonder of daar ’n ander vrou is. Maar sy het nooit aan een by die werk gedink nie. Want Anton en die vrou het mekaar by die werk so goed as geïgnoreer.)
Hulle is na ’n verhoudingsielkundige waar Anton vertel het van sy vervelige huwelik, sy vervelige lewe en die vervelige buurt waarin hy bly. Elize was verstom, want sy het gedink hy het alles wat hy wou hê. Het hy dan nie toe al jare lank elke aand na sy studeerkamer verkas om te skryf nie. Maar toe moes sy hoor dat hy sy werk haat en dit net doen omdat hy verpligtinge het. (Sy en Michelle was verpligtinge, nie plesier nie. Hy het dit nou wel nie so reguit gesê nie, maar dit was waarop dit neergekom het.)
Haar verstomming het in woede verander. Nou al jare lank maak sy die beste van hulle huwelik deur min (indien enige) eise aan hom te stel. Sy het haar aangepas by haar situasie as die vrou van die man wat ’n treffer wil en gaan skryf. ’n Man wat dus so min moontlik by die huis gedoen het, selfs al het sy gewerk. ’n Man wat nie eens geweet het hoe om ’n eier te kook nie. ’n Man wat selde by sy kind se skoolgeleenthede was.
Hoe dom kan ’n mens wees?
En terwyl sy nog stomend gewonder het of haar huwelik nog hoegenaamd die moeite werd is, het sy twee oproepe gekry wat dit duidelik gemaak het dat haar lewe totaal gaan verander.
Die eerste oproep was van een van Anton se vriende wat haar gevra het of sy nie baie kwaad vir hom is nie.
“Waarom moet ek vir hom kwaad wees?” het sy ongemaklik gevra.
“Omdat hy sy hele salaris by Ceasar’s Palace weggedobbel het.”
“Wat?”
Sy kon dit nie glo nie.
“En,” het die vriend voortgegaan, “Dit was nie die eerste keer nie. Hy gaan dobbel elke maand, want hy sê hy sukkel om rekeninge betaal. Ek dog iemand moet vir jou sê …”
Dieselfde aand het sy ’n oproep gekry van ’n buurvrou wat sy skaars geken het. Die vrou het gesê sy bel omdat sy sou wou hê dat iemand haar onder dié omstandighede moes vertel. “Jou man kuier byna elke aand by ’n jong meisie wat ’n paar maande gelede by my tuinwoonstel ingetrek het. Sy werk saam met julle.”
Sy het hom ingewag, weifelend tussen hartseer en woede. Hy was kwaad vir sy vriend, gesê dat hy skaars ’n honderd rand elke maand wegdobbel. En wat die meisie betref: “Watse bewyse het die bemoeisieke vrou?” het hy gevra. “Watse bewyse het sy? Het sy foto’s geneem?”
Toe het sy geweet die storie van die affair was waar. Hy het net te veel gepraat, was net té verontwaardig. Net te veel die buurvrou daarvan beskuldig dat sy nie bewyse het nie. Die nag toe hy slaap, het sy opgestaan, na sy studeerkamer gegaan en sy rekeninge en betalings nagegaan. Omdat sy ook gewerk het, het hulle aparte bankrekeninge gehad en was vir aparte rekeninge verantwoordelik. Sy het in ’n huis grootgeword waar daar nooit onbetaalde rekeninge was nie. Sy was versigtig met geld en het uit haar heelwat kariger salaris baie van die betalings gedoen. Sy het dus nooit vermoed dat hy finansiële probleme kan hê nie. Hy het altyd met groot flair vir haar en Michelle na duur restaurante geneem. Sy het gedink hy werk goed met geld. Sy het nooit aan onbetaalde rekeninge gedink nie. Maar daar was laaie vol van die goed.
Dat die gemors uitgesorteer sou moes word, was duidelik. Wat vreemd was, was dat hy amper verlig gelyk het dat hy uitgevang is oor die geld. Nog vreemder was dat hy eintlik van haar verwag het om die probleme op te los.
Maar voor sy nog haar gedagtes agtermekaar kon kry, is haar pa dood.
Eben het alle reëlings in verband met die begrafnis getref en ook later die testament afgehandel, hoewel hulle albei as eksekuteurs van die boedel aangewys is. Hy het later vir haar gesê hy het gesien sy ly aan skok, maar dit daaraan toegeskryf dat hulle albei hul ouers op ’n betreklik jong leeftyd kort ná mekaar verloor het. Hy het nie geraai dat daar iets met haar huwelik verkeerd was nie, want Anton het net soos altyd teenoor hom opgetree.
Die dae wat daarop gevolg het, het die een in die ander gevloei en alle bakens vernietig, byna soos ’n rivier in vloed alles meesleur. Sy het onbetaalde verlof by die werk geneem. Sy wou nie in Anton of die meisie se oë vaskyk nie …
Wat nog vreemder was, was dat nadat hy haar een middag kort ná die buurvrou se oproep van sy baie affairs vertel het, hy daarna skielik niks van ander verhoudings geweet het nie, byna asof hy sy kop gestamp het en aan geheueverlies ly.
Selfs toe hy en die meisie later saam by ’n huis ingetrek het, het Anton gesê hulle is net vriende. Sy het gewonder of hy regtig dink sy is so dom en of hy dit ter wille van Michelle sê.
Nou vertel Michelle dat haar pa in alle erns aan sy spioenasieroman begin werk het. Hy werk saans en naweke ook.
En aand ná aand spioeneer hy op haar, ry hy by haar huis verby en kyk by haar motorhek in na haar eensame karretjie.