Читать книгу Tussen heinings - Corlia Fourie - Страница 6
3
ОглавлениеSarita word die nag van blitse en die donderweer wakker. Dit voel vir haar of al die geweld van die natuur op haar dak gekonsentreer is. Sy trek die gordyne oop, en lê en kyk na die skouspel in 3-D. Dit het vroeër die middag gehael en nou weer, selfs erger dié keer. Dit voel of die korrels uit ’n groot hoogte soos klippies teen die dak en ruite gesmyt word. Sy staan op, trek haar kamerjas aan en loop na haar sitkamer, want die storms kom gewoonlik uit die westekant en al kyk die sitkamervensters wes, klap dit nie so hard daarteen soos teen die slaapkamervenster nie. En selfs in dié donker nag is sy bewus van die nog donkerder skadu van haar groot akkerboom. Miskien is dit die gatkant van die storm wat haar kamervensters met soveel geweld tref. Uiteindelik hou die hael op en val daar net druppels reën met rumoerige uitbundigheid teen die ruite.
As dit dag was en die storm nie so erg nie, het sy buite op die stoep gaan staan. Sy lief die sensuele gevoel van reën wat jou hele lyf tot op jou vel deurweek.
Sy word halfsewe wakker pleks van die gebruiklike sesuur. Maar sy drink nog steeds haar eerste koppie filterkoffie van die dag in haar bed terwyl sy na Monitor luister. Vanoggend maak sy ook aantekeninge in ’n boek, ’n nuwe groot aantekeningboek wat sy spesiaal vir haar nuwe werk gekoop het. Sy het reeds byna al die skrywers wat sy vanweë haar lang verbintenis met die tydskrifwese leer ken het, geskakel om vir hulle te vra om verhale te stuur – langes wat sommer so oor vyf, ses tydskrifblaaie kan strek. Sy skryf nog ’n paar name neer.
Sy voel skielik weer of haar werk belangrik is, want in al die jare dat sy by ’n vrouetydskrif gewerk het, het haar werk al hoe minder geword. Jare gelede was daar ’n hoofstuk van ’n vervolgverhaal plus twee lang verhale in elke uitgawe. En die tydskrif was tweeweekliks.
Theresa (want in haar kop noem sy die nuwe tydskrif klaar soos Ulla voorgestel het) is soos ’n nuwe begin. Sy voel weer lus om werk toe te gaan. Sy het energie en voel nie moeg en lusteloos as sy soggens wakker word nie. Gister het sy selfs die sjokoladekoek wat ’n dag of wat onaangeraak op haar eetkamertafel gestaan het, vir Lina gegee.
Iets wat sy nog met niemand gedeel het nie, is haar droom om ’n roman te skryf. ’n Roman wat soveel indruk moet maak soos Marlene van Niekerk se Agaat. Nou die dag het ’n vrou by hulle leeskring vertel toe sy onlangs in Swede was, was Agaat heel bo aan die Sweedse boektrefferlys.
Sarita het al heelwat kere begin aan ’n roman, maar elke keer het sy haarself ná net ’n paar bladsye so gekritiseer, omdat sy gewéét het dit sal nie so fantasties soos Agaat wees nie, en die storie versmoor. Sy wil ook net met die heel beste skrywers in Afrikaans saampraat – of anders kan sy maar tot die dag van haar dood tjoepstil bly.
Dis nou al ná sewe sien sy toe sy haar koppie neersit. Sy sal binnekort moet gaan stort. Maar voor sy nog uit die bed kan kom, lui haar selfoon.
Dis Elize. Sarita moet asseblief vir Lettie sê dat sy laat sal wees. Lettie antwoord nie haar foon nie.
Elize klink so uitasem dat Sarita vra of daar fout is. “My broer-hulle is laas nag aangeval …”
“Ag aarde,” sê Sarita en dink aan haar dokterbroer en sy gesin in Perth in Australië. Hulle is ’n paar jaar gelede landuit, juis omdat hy sy gesin teen so iets wou beskerm. “Is hulle beseer?”
“Ek dink nie so nie, maar ek gaan nou kyk hoe groot die skade is.”