Читать книгу Onder die radar - Dana Snyman - Страница 10

Opruim

Оглавление

Nog net die kat bly oor.

Die man ry by die huis se hek in, maar hy druk nie die knoppie op die afstandbeheer wat die motorhuis se deur laat oopgaan nie. Hy hou in die oprit stil. Die oggendson hang in die boom by die voordeur se blare. Die man klim uit die kar. Hulle het in ’n hotel oornag, want die lorrie het gister die laaste meubels kom haal. Die meeste goed het hy aan ’n tweedehandshandelaar verkoop. Die res – die Wetherlys-stel en die linnekas wat hy by sy ouma geërf het – is saam met die kinders se fietse en die ander goed in die vraghouer wat met die skip Australië toe gaan.

Die man sluit die voordeur oop, stap deur die leë portaal en luis­­ter na sy voetstappe op die teëls asof dit dié van ’n vreemdeling is. Hy gaan by die kombuis in. Die kat se bakke staan naby die ag­ter­deur, langs die yskas wat nie meer hier is nie. Hy stap weer by die kombuis uit. Hy kyk vlugtig by die studeerkamer in. Op die blou mat is ’n vaal kol waar sy voete gerus het wanneer hy by die lesse­naar gesit het.

Die kat lê in haar mandjie by die venster in hul jongste se kamer. Hy het geweet die kat sou hier wees, want sy was elke oggend hier wanneer hy sy jongste kom wakker maak het. Hy buk en tel die kat op en stap vinnig met haar in sy arms deur die huis, voor die klank van sy voetstappe uit. Hy maak haar in die kar toe, dan kom hy terug en sluit weer die voordeur. Hy talm ’n rukkie in die tuin. In die bome kwetter voëls. Hy wou nog die voëls se name ge­leer het, en die bome s’n, en die struike en die blomme s’n.

Hy gaan klim terug in die kar. In die truspieëltjie sien hy die kat op die agtersitplek sit, gehurk, met al vier pote onder haar gemmer­lyf.

Toe hy by die hek uitry, kom die ou man wat al vir hoeveel jaar in die bure se tuin werk, op die sypaadjie aan. Die ou man kom staan langs die kar. “Loop baas nou?” vra hy.

“Ek gaan nou, ja,” antwoord hy. “Jy moet mooi bly, nè?”

“Is die miesies-hulle klaar daar oorkant?”

“Ons vlieg môre eers.”

Die ou man lig sy hand en beduie na die agtersitplek. “En die kat, baas? Loop hy saam?”

Hy antwoord die ou man nie. “Jy moet mooi bly, nè?,” sê hy weer, en ry weg.

Die man ry in die straat af, druk die knoppies wat die kar se agtervensters laat sak. Dalk spring die kat vanself uit. Die man ry al vinniger, met ’n kar vol wind. Die kat sit steeds op die sitplek toe hy voor die veearts se spreekkamer stilhou. Hy klim uit, maak die agterdeur oop en tel die kat op. Hy stap in die paadjie af en hy pro­beer om nie die kat se sagte pels te voel nie.

Dis net ’n kat, dink hy. Dis net ’n kat, dit is net ’n bleddie kat.

Onder die radar

Подняться наверх