Читать книгу Onder die radar - Dana Snyman - Страница 17

Herderloos

Оглавление

Dominee Bennie is nie meer ons dominee nie. Hy het uit die Kerk bedank en uit die pastorie getrek.

Dominee Bennie is nou ’n eiendomsagent, hy verkoop nou huise.

Ons weet steeds wat in dominee Bennie se lewe aangaan, want dominee Bennie plaas gereeld posts op Facebook. Ons hoef nie meer oor dominee Bennie te skinder nie, hy skinder nou oor hom­self, en ons kan alles lees.

Nou die dag het iemand ’n foto van dominee Bennie op Facebook geplaas. Dominee Bennie het ’n glas wyn in die hand op die foto en dit lyk of hy op iemand se stoep sit, tussen ander mense. Hy het nou ’n stoppelbaard en sy hare is gejel en hy dra ’n rolnek­trui.

Soms plaas dominee Bennie gedigte op Facebook – gedigte wat hy self skryf. Gedigte wat nie rym nie. Vrye verse vol woede en angs.

Dominee Bennie gee ook graag sy mening op Facebook oor seks en verhoudings. Hoekom word prostitusie nie gewettig nie? vra hy. Jesus het hom dan self oor ’n prostituut ontferm. En hoekom moet ’n gay man of vrou eers seks afsweer voor hy of sy ’n predikant in die Kerk kan word?

Ons leer nou ’n kant van dominee Bennie ken wat ons nie ge­weet het bestaan nie.

Ons het nooit geweet dominee Bennie is so kwaad nie. Hy is pal kwaad. Hy is kwaad vir die Kerk en die Kerk se gesagsfigure. Hy is kwaad vir almal wat steeds in die Kerk is. Hy is kwaad vir rugby. Hy is kwaad oor apartheid en sy hele verlede: Sy onderwy­sers, sy offisiere in die army – almal wat hom geleer het die Afrikaner het ’n Goddelike roeping hier aan die suidpunt van Afrika.

Eintlik preek dominee Bennie steeds vir ons – veral laat in die aand. Op Facebook. En op die Kuberkerk se gespreksforum. Die internet is nou dominee Bennie se kansel. Maar, anders as toe hy nog in die Kerk was, probeer dominee Bennie ons nie meer met sy preke tot ’n goeie, verantwoordelike lewe roer nie. Dikwels pro­beer dominee Bennie ons skok. Of só lyk dit. Hy sê die Bybel maak nie meer vir hom oral sin nie. Die Bybel se Jesus en die historiese Jesus is nie dieselfde mens nie. Hy sê ons moet in die wetenskap vir antwoorde op die dieper vrae van die lewe gaan soek: Die skep­ping het met die Big Bang begin en alle lewe het deur die evo­lusie­proses ontwikkel. Dominee Bennie gebruik nou Einstein en Dawkins se name soos hy eens op ’n tyd koning Salomo en Paulus se name gebruik het.

Dominee Bennie gebruik allerhande hoë woorde. Hy sê ons het ’n nuwe meesternarratief nodig. Hy sê die Heidelbergse Kategismus is verouderd en uitgedien. God is toe nooit wie ons gedink het Hy is nie. Ons lewe in ’n postmodernistiese, gebroke werklikheid waarin daar nie meer absolute waarhede is nie.

Dominee Bennie is nou net so herderloos soos ons.

Onder die radar

Подняться наверх