Читать книгу Onder die radar - Dana Snyman - Страница 13

Winternag

Оглавление

In die winter luister Lucky Msutu smiddae oor die radio hoe koud dit in die nag gaan word. Vieruur die middag sê hulle oor Lesedi FM of dit gaan sneeu of ryp en of die water in die nag ys gaan word.

As die radio sê die water gaan ys word, weet hy hulle moet vuur maak in die paola, die twintigliteroliedrom wat hy vol gate gekap het.

Hy wag tot ná sononder voordat hy vuur in die paola maak, want hout is ’n gesukkel. Die bome in die munisipale kamp is omtrent almal al uitgekap. Hout is ver stap en swaar dra.

Hy maak nie bedags vuur by sy mokhukhu, sy sinkhut, nie. Die son is die vuur in die dag. Hy wag totdat dit donker is, dan pak hy die hout in die paola. Wanneer die vuur hoog brand, kom staan die ander by hom by die paola, lyf teen lyf teen lyf. Hulle staan daar en trek die hitte in hul lywe op.

Hy weet nie altyd hoeveel van hulle op sulke aande daar is nie. Dis hy en sy vrou, sy twee seuns en sy een meisietjiekind. Sy klein boetietjie is ook daar, en dié se girlfriend. En sy ander boetie, die een wat stadig in die kop is. Net MmaMsutu, sy ma, kom staan nie saam met hulle by die vuur nie. MmaMsutu lê nou al hóé lank op ’n matras op die vloer in die mokhukhu, onder die komberse, met haar maer lyf en haar hoes.

Hulle wag vir die slaap daar by die vuur, en wanneer die slaap kom, wag hulle nog ’n bietjie, dan maak hulle hulle reg om by die mokhukhu in te gaan. Hulle kan nie almal gelyk in die mokhukhu gaan lê nie. Die mokhukhu is te klein daarvoor. Binne is ’n bed, twee stoele en ’n kas waarop die kombuisgoed is.

Sy vrou en sy klein boetie se girlfriend kry die bed, want sy klein boetie se girlfriend dra ’n kleintjie in haar lyf. Sy vrou en sy boetie se girlfriend gaan lê eerste. Daarna gaan die kinders by die mo­khu­khu in. Die seuns en die meisies moet apart lê, op stukke karton en komberse op die vloer.

Sodra die kinders hul lê gekry het, lig hy en sy klein boetietjie die paola met stokke op en dra dit by die mokhukhu in. Hulle sit die paola in die middel van die mokhukhu op die vloer neer sodat die kole se warm asem oor almal kan blaas.

Hy maak altyd seker sy boetie – die een wat stadig in die kop is – lê ver van die meisiekinders af voordat hy langs sy vrou op die bed onder die komberse inkruip. In die nag word hy soms wakker en dan kyk hy of party kinders nie te naby aan die paola geskuif het agter die hitte aan nie.

Vuur versprei vinnig deur ’n mokhukhu.

’n Tienjarige verstandelik gestremde seun het eergisternag in ’n plakkers­hut in Sebokeng naby Kempton Park doodgebrand. Drie ander mense, waaronder ’n bejaarde vrou, het ernstige brandwonde opgedoen. Mnr. Lucky Msutu, die seun se pa, het vergeefs probeer om sy kind uit die vlamme te red. Volgens ’n woordvoerder van die polisie aan die Oos-Rand het die brand glo ontstaan nadat ’n konka vol brandende kole in die nag in die hut omgeslaan het.(Beeld, 24 Junie 2011)

Onder die radar

Подняться наверх