Читать книгу Onder die radar - Dana Snyman - Страница 21
Kom, laat ons boekevat
ОглавлениеOns het altyd saans in die kombuis geëet wanneer ons by Oupa en Ouma gekuier het.
Ek sien ons nog daar sit, in die goue skynsel van ’n paraffienlamp in die middel van die tafel: Oupa aan die kop, met Ouma en Pa en Ma en ek weerskante van hom.
Ná die ete het Ouma en Ma afgedek, en dikwels, terwyl hulle afgedek het, het Oupa ’n vuurhoutjie se punt met sy knipmes skerp gesny en die stukkies sening met daardie skerp punt tussen sy tande uitgekrap. Soms, in die winter, sou Pa opstaan en ka-klang, ka-klang met die vuuryster in die koolstoof se maag gaan krap, totdat jy die vuur daarbinne kon hoor dreun.
Dan sou Ouma die Bybel en die psalmboek voor Oupa neersit. Daarna het sy die agterdeur oopgemaak en in die rigting van Maria se kamer in die agterplaas geroep: “Maria! Marrr-i-hooeee!”
Maria het dan uit die donker gekom. Dit was vreemd, maar Maria, wat die hele dag in die huis doenig was, sou ons altyd op sulke aande daar in die kombuis groet asof sy ons glad nie in die dag gesien het nie. “Naand, baas. Naand, noi.” Dan het sy voor die stoof op die vloer gaan sit, met haar rug reguit en haar bene voor haar uitgestrek.
Oupa het nooit die Bybel sommer net oopgeslaan en gou ’n gedeelte gesoek om te lees nie. Dit was asof hy alles in stadige aksie gedoen het. Hy het eers vir ’n paar oomblikke net so stil gesit, met sy skaduwee stil agter hom teen die muur. Dan het hy gesê: “Kom, laat ons boekevat” en die Bybel stadig nader getrek, en stadig daardeur geblaai op soek na ’n gedeelte om te lees.
Op sulke aande het dit vir my gevoel asof oorle oupagrootjie en oorle oumagrootjie, wie se portrette in ovaal rame in die gang gehang het, ook teenwoordig was daar by die tafel.
Oupa was lief om uit Spreuke voor te lees – uit Spreuke of uit Job.
Dit was asof oorle Oupa self soos die moedelose, beproefde Job probeer klink het wanneer hy uit Job gelees het: “Daar was ’n man in die land Us wie se naam was Job; en dié man was vroom en opreg en godvresend . . .” het Oupa met ’n moeë stem gelees. “En vir hom is daar sewe seuns en drie dogters gebore.”
En wanneer Oupa klaar gelees het, het hy altyd formeel gesê: “Ek lees vir ons tot so ver. Kom, laat ons bid . . .”
Oupa het sy gebed altyd op dieselfde manier begin: “Dierbare, almagtige Hemelse Vader, ons kom vanaand na U toe . . .” En wanneer hy “amen” gesê het, het ons ander ook gesê “amen”. Daarna het Ouma ’n psalm ingesit. Dikwels was dit Psalm 146.
Nie een van ons het juis ’n sangstem gehad nie, maar ons het die noot agter Ouma aan gevat en gesing asof ons die donker rondom die huis weg wou sing: “Prys die Heer met blye galme, o my siel daar’s ryke stof . . .”
Ek skryf al hierdie dinge maar neer, want ek is bang ek vergeet dit. Oupa en Ouma en Pa en Ma is almal al dood.
Ek weet nie eens of daar nog mense is wat só huisgodsdiens hou nie.