Читать книгу Onder die radar - Dana Snyman - Страница 8

Nuwe waarhede uit ou woorde

Оглавление

Op Kersoggend besluit ek om tog maar weer ’n slag kerk toe te gaan. Dit is darem Kersfees, sê ek vir myself. Op sulke plattelandse dorpe gaan ook die afvalliges op Kersdag kerk toe.

Die diens begin om halftien, maar toe ek net ná kwart oor nege tussen die bakkies en die karre by die NG kerk in die hoofstraat stil­hou, hang die geluid van mense wat ’n psalm saam met ’n orrel sing reeds in die lug.

Die kerkgebou is hiér nog nie omring deur ’n palissadeheining soos op soveel ander plekke in die land nie, maar agter die kerk, aan die konsistorie se kant, staan ’n gedenkmuur met rye marmer­stene daarin gemessel.

’n Mens sien deesdae al hoe meer sulke gedenkmure by Afrikaanse kerke: Party lidmate verkies dit om veras te word en hier ge­­plaas te word, eerder as om te gaan rus in ’n begraafplaas wat nie meer deur die munisipaliteit in stand gehou word nie, waar die ka­­kiebos die grafte toegroei en die hek en die heinings weggedra word.

In die kerk se voorportaal lê ’n paar ouerige Bybels en twee of drie Liedboeke op ’n tafel.

Die kerk is byna vol. Ek stap tussen die banke en die singende stemme deur, en terwyl ek stap, voel dit of ek by ’n plek in myself instap waar ek bang is om te kom.

’n Paar rye van agter is vir twee mense sitplek, agter ’n man, ’n vrou en ’n dogtertjie. Ek skuif daar in, en toe ek gaan sit, buig my kop byna instinktief vooroor. Vir ’n paar oomblikke sit ek net so, met my oë toe. Toe ek ’n kind was, het ek altyd gekyk hoe die ooms en die tannies die kerk instap, en hoe hulle gaan sit en hul koppe so laat sak; en toe het ek dit ook maar begin doen. “Help my, Here,” sê ek in my gedagtes en maak my oë weer oop.

“Kom laat ons jubel voor die Heer,” sing die mense steeds. “Laat ons Hom toesing lof en eer . . .”

Die lied se woorde word op ’n skerm teen die muur langs die preekstoel gewys, maar eers sing ek nie saam nie. Eers bekyk ek alles rondom my. Alles is so bekend: die blokkiesvloere, die rooi ta­pyt in die gangetjie tussen die banke, die preekstoel met die kansel­kleed waarop ’n prentjie van ’n herder met ’n staf en ’n paar skape geborduur is. Die nagmaaltafel met die rangskikking affodille en krisante daarop. Die doopvont.

Ek het in ’n plattelandse NG gemeente soos dié grootgeword. Ek is in só ’n kerk gedoop. In só ’n kerk het ek Kinderkrans toe ge­gaan, en Sondagskool toe; en in só ’n kerk is ek een Sondag­oggend lank gelede aangeneem en voorgestel, in ’n poeierblou pak klere wat spesiaal by Coquis-mansuitrusters in Pretoria gaan koop is.

Alles hier is vir my so bekend, maar alles het ook vir my ’n biet­jie vreemd geword, want iewers tussen my twintigste en dertigste jaar het ek opgehou om kerk toe te gaan. Ek het begin twyfel aan die NG Kerk se geloofwaardigheid. Hoe kan dit wees, het ek begin wonder, dat die kerk eens sekere dogmas op grond van die Bybel kon verkondig, net om dieselfde idees later op grond van dieselfde Bybel te verwerp – apartheid, die vrou in die amp, homoseksua­li­teit, Sondagsport.

Baie predikante se preke het my ook nie meer geboei nie. Die preke was vol moeë woorde en mishandelde frases. Ek het die skry­wers van die boeke op my boekrak meer as die Kerk en die predikante begin vertrou om vir my te sê hoe moet ek lewe.

In die toring bokant ons slaan die klok een keer: halftien. Die diens hier gaan begin. “Goeiemôre,” groet die dominee, ’n ouerige man met ’n grys kop, van die preekstoel af.

“Goeiemôre,” groet party mense terug.

“Is hier enige besoekers vanmôre by ons?” vra die dominee. “Steek ’n bietjie vir ons die hande op.”

Een van dié wat ’n hand opsteek, is ’n kind wat uit Londen gekom het om Kersfees by sy ouers hier op die dorp te wees. Ek steek nie my hand op nie.

Oor die jare heen het ek soms na ander kerke as die NG kerk gegaan. Ek was selfs een of twee keer in ’n charismatiese kerk, maar dit het, glo ek, nie veel vir my siel beteken nie. Die helder, on­peilbare woorde in ’n gedig bring my nader aan God as al die “hallelujas!” en die “amens!” in die dienste van ’n pastoor of pre­diker met ’n cowboyhoed.

“Kom ons bly net so sit,” sê die predikant, “dan buig ons ons hoof­de in gebed.”

Hy bid rustig en redelik, en gee daarna nog ’n psalm op. Ons staan op en begin weer sing: “Loof, loof die Heer van alle here . . .”

Die pa voor ons staan ook op, met die dogtertjie in sy arms. Die kind staar met blou ogies oor die pa se skouer na my terwyl ons sing. Dit voel of dit my vroeëre onskuldige self is wat na my toe staar.

Sal sy nog eendag so skepties en vol vrae soos ek wees? staan ek en wonder terwyl ek na haar kyk en die psalm se woorde saam­brom. Sal daar, wanneer sy groot is, vir haar ’n NG of enige ander kerk wees? Of sal sy gelukkig en geestelik geborge wees in ’n wê­reld waarin jou internetverbinding jou weg na die waarheid en die ewigheid is, ’n wêreld waarin die etiket op jou klere of handsak jou identiteit help bepaal?

Ons gaan sit weer. Op die preekstoel blaai die predikant deur sy Bybel. Hy begin lees ’n hoofstuk uit Psalms: “Kom laat ons ju­bel tot eer van die Here, laat ons juig ter ere van die rots van ons heil . . .”

Hy maak die Bybel weer toe. Hy gaan preek oor die vreugde van Kersfees: Hoe daar ’n kindjie in Betlehem gebore is, en hoe daardie kindjie ’n man geword het wat vir die mensdom se sondes sou sterf.

Ek kyk na die mense in die banke rondom ons. Dit is asof daar ’n tam gevoel oor almal hang. Teen die dak veg ’n waaier moedig met wye arms teen die hitte. ’n Man lig sy arm en vee die sweet met ’n bruingebrande hand van sy nek af. ’n Tante sit en staar na ’n Bybel wat oop op haar skoot lê. Party van die tekste in haar Bybel, kan jy sien, is onderstreep.

Baie van die mense hier is plaasmense. Oor een oom se voorkop lê ’n wit rif van hoed dra in die son, en om die tannie langs hom se een vinger is ’n stukkie pleister gedraai. By hulle sit ’n man en ’n mooi vrou en twee seuntjies. Die man dra ’n smal pienk dassie. Hy is die oom en tannie se seun, wat nou ’n ingenieur of ’n rekenmeester in die stad is, raai ek. Hulle kuier net vir Kersfees op die plaas.

Miskien kyk ’n mens op Kersdag met meer genade na jouself en dié rondom jou; miskien is dít een van die laaste oorblywende wonders van Kersfees. Want opeens tref dit my: hierdie mense wat ek hier sien, is die NG Kerk. Die NG Kerk bestaan uit mense.

Mense met bruingebrande hande en smal pienk dassies.

Mense met kinders in Londen en Bybels vol onderstreepte teks­verse.

Mense wat, nes ek, oor die jare heen deur predikante en teoloë en sinodes verwar en selfs mislei is.

Mense wat, ondanks als, aanhou om Sondag ná Sondag kerk toe te kom, en basaar te hou, en geld vir Bybelverspreiding en sending­werk in Hongarye in te samel. Mense wat hul kinders Sondagskool toe stuur.

Op die preekstoel lig die predikant sy arms. Hy is klaar gepreek.

“Ons sluit nou af met ‘Stille nag’,” sê hy.

Die lied se woorde verskyn op die skerm, maar dis nie nodig nie. Ons ken “Stille nag” se woorde. Ons staan op en begin dit sing as­of ons nuwe waarhede uit daardie ou-ou woorde probeer los­sing.

Die pa voor ons staan weer met die dogtertjie in sy arms. Die kind staar weer oor sy skouer na my, die hele tyd staar sy na my terwyl ons sing.

Eers toe die orrel stil is, kyk sy weer vorentoe en vra saggies vir haar pa: “Pappa, hoekom huil hierdie oom hier agter ons so?”

Onder die radar

Подняться наверх