Читать книгу Onder die radar - Dana Snyman - Страница 7

Reën

Оглавление

En dan kom die reën.

In die oggend sal daar ’n wind wees, maar dit sal nie ’n moede­lose wind wees wat los papiere straataf laat warrel nie. Dit sal ’n warm wind wees wat die sterte van die dorp se windpompe noord laat draai en dit daar hou.

Oom Andries van langsaan sal op sy voorstoep uitstap en hy sal nie frons nie. Hy sal kyk na die vaal wolkbank wat soos ’n verlore belofte op die horison talm en sê: “Nou moet hierdie wind net hou.” Want soms draai die wind en begin uit die weste te waai, en dan waai dit die wolke weg.

By oom Osche se winkel sal ’n nota teen die deur wees: Kom binne. Deur toe weens wind. En in die winkel sal almal versigtig oor die wind praat, want almal weet in die Noord-Kaap kan selfs ’n verkeerde woord die wind laat draai.

By die koöperasie sal oom Flippie sy tiervelhoed afhaal en op die toonbank neersit. “Voel julle die vog in die lug?”sal hy vra en die sweet met ’n plat hand van sy bleek voorkop vee.

Daar sal nog tekens wees, behalwe die sweet op oom Flippie se voorkop en die wolke en die wind. Op die grond langs die huis en op die stoep en teen die buitekamer se muur sal strepies-strepies rysmiere beweeg, en naby die slagpale sal ’n skilpad oor die pad stap, in die kliprantjies se koers.

In die ooste sal ’n flou strepie maan skuins in die lug hang, en Pa sal daarna wys en sê: “Het julle gesien, die maan gooi uit?” Maar Ma sal nog nie vir ou Souf aansê om al die huis se vensters toe te maak nie.

Dan, iewers in die namiddag, sal daardie wolkbank van die ho­rison af lig en afsonderlike wolke word wat oor die oopte aan­kom. Die wind sal nou koeler wees en oom Andries sal weer op sy stoep gaan staan. “Die wolke moet nou net nie afkoel nie, anders kry ons vandag hael,” sal hy sê, en iewers sal ’n hoenderhaan kraai.

Die wolke sal laag oor die dorp skuif en daar sal nie ’n gedonder en geblits van weerlig wees nie. Daar sal net so ’n vae gerammel in die wolke wees, asof iemand stoele in een van die hemel se agterste kamers rondskuif.

Dan sal daar ’n druppel op die huis se sinkdak val – net een druppel. Jy sal daardie druppel duidelik hoor, dan sal daar ’n oom­blik se stilte wees, soos in die kerk net voor Dominee die seën uit­spreek. Dan sal daar nog ’n druppel val, en nog een. Dan sal daar baie druppels wees, en gou sal jy iets in die lug ruik, so ’n varserige, gronderige reuk – die reuk van genade.

Ons sal deur die huis hardloop en vensters toemaak, en Ma sal ’n ou handdoek bring en dit oprol en dit voor die kombuisdeur gooi sodat die water nie van die agterstoep af by die kombuis instroom nie.

Later sal oom Andries met ’n reënjas oor sy skouers by sy ag­ter­deur uitkom en krom na die reënmeter draf wat aan ’n paal in sy jaart hang. Ma sal begin praat van pannekoek bak en nog later sal die telefoon lui. Hoeveel het al daar by julle geval? Hier by ons het ons al 12 millimeter gehad.

Dit sal reën, o, dit sal reën.

Onder die radar

Подняться наверх