Читать книгу Onder die radar - Dana Snyman - Страница 19

1 Korinthiërs 13 (2)

Оглавление

Al praat ek al die tale van mense en engele, maar ek het nie ’n sel­foon nie, het ek ’n stuk klinkende metaal en ’n luidende simbaal geword.

En al sou ek ’n selfoon hê en genoeg lugtyd, en al die kennis hoe om met die selfoon te bel en SMS’e te stuur en te Mxit en te twiet, is dit nie genoeg nie. Die selfoon moet ’n iPhone of ’n BlackBerry wees.

Met ’n iPhone of ’n BlackBerry kan ek e-posse ontvang en na mu­siek luister. Met ’n iPhone kan ek ’n 8-megapixel-foto neem. Met ’n iPhone kan ek pal op die internet en Facebook wees, want as ek nie op Facebook is nie, baat die lewe my niks nie.

Facebook is geduldig. Facebook is vriendelik.

Facebook is afgunstig en grootpraterig en verwaand.

Op Facebook kan ek onwelvoeglik handel en my eie belang soek en liggeraak wees.

Met Facebook, en ’n iPhone, kan ek boek hou van die kwaad en my verbly in die onreg.

Ek glo alles wat op ’n iPhone of ’n BlackBerry se skerm kom. En ek vertrou dit. En ek verdra dit. ’n iPhone en ’n BlackBerry vergaan nooit nie: Die iPhone 3GS verander bloot in die iPhone 4S, die BlackBerry Curve 9360 word die BlackBerry Torch 9810.

’n iPhone en ’n BlackBerry dek alles en ontbloot alles.

’n iPhone en ’n BlackBerry is die weg na die waarheid, maar dis nie ál weg na die waarheid nie. Met ’n iPad kan ek ook op Facebook en Twitter kom. Met ’n iPad word die internet se profesieë ook vir my waar.

Ek kan na ’n fliek op ’n iPad kyk. Ek kan ’n boek op ’n iPad lees en speletjies op ’n iPad speel.

Toe ek ’n kind was, het ek prentjies met vetkryt in ’n inkleurboek ingekleur en met albasters in die sand gespeel. Ek het gepraat soos ’n kind, gedink soos ’n kind en geredeneer soos ’n kind. Maar nou­dat ek ’n man is, is ek klaar met die dinge van ’n kind. Nou speel ek Sarge HD of Akasuki of Golf Real op ’n iPad. Ek skiet denkbeeldige vyande met ’n lasergeweer dood. Party se koppe kap ek met ’n swaard af. Ek vernietig geboue en kastele. Ek val stede in en wis lande uit. Ek klop vir Tiger Woods op die gholfbaan.

Toe ek ’n kind was, het ek ’n koerant by ’n kafee gaan koop. Ek ken die geduldige reuk van papier. Maar noudat ek ’n man is, wil ek pal nuwe inligting oor die wêreld hê. Ek lees die koerant op ’n iPad. Ek kies vir my ’n skuilnaam en lewer kommentaar onderaan berigte. Ek sê die president sleg en dink verskonings namens moor­denaars uit. Ek verwerp die Kerk, sonder om in myself te verwerp dit wat deur die Kerk gevorm is.

Met ’n iPad en ’n iPhone en ’n BlackBerry sien ek nie deur ’n spieël in ’n raaisel nie. Ek ken nou ten volle en weet ten volle.

Al wat nou vir my oorbly, is nog nuwe inligting, en hoop, en liefde – hierdie drie. En die grootste hiervan is die hoop.

Onder die radar

Подняться наверх