Читать книгу Onder die radar - Dana Snyman - Страница 15
Agterop
ОглавлениеJy ry op die snelweg, en dan, opeens, is daar ’n bakkie voor jou in die middelbaan, met twee of drie manne agterop. Oor een se kop is ’n Rasta-mus getrek. Die ander twee se blou oorpakke is vol verfspatsels.
Dit lyk nie of hulle met mekaar gesels nie. Hulle sit met hul rûe teen die bakkie se kajuit en hulle kyk agtertoe. Hulle gaan by ’n huis of op ’n bouperseel werk, weet jy – heeldag lank gaan hulle verf of messel of kruiwa stoot, en vanmiddag gaan hulle weer in die teenoorgestelde rigting agterop hierdie selfde bakkie op hierdie selfde snelweg ry, terug township toe.
Elke dag sien jy mense agterop bakkies ry.
Soms is daar sommer agt of tien agterop die bakkie, en dis meestal mans. Dikwels is daar ’n leer of ’n kruiwa saam met hulle op die bak. Dan moet party staan of op die bak se rand sit, want ín die bak is nie genoeg plek vir almal om te sit nie. Hulle moet aan die bakkie vasklou en oppas hul pette waai nie van hul koppe nie.
Partykeer sien jy ’n pet op die snelweg lê. Dit lê daar in die linkerbaan op die teer, en die karre ry daaroor. Wanneer die wind waai, sal die pet ’n entjie die lug in fladder, voor ’n volgende kar kom en dit weer plat trap.
Jy sal na daardie pet kyk en weet dit het van iemand wat agterop ’n bakkie was se kop gewaai.
Dalk was dit ’n jong man uit die Oos-Kaap wat in die Kaap werk kom soek het se pet. Miskien was dit sy eerste dag agterop ’n bakkie saam met ander werkers, en toe hy weer sien, gryp die wind die pet van sy kop af. Nadat die wind sy pet afgewaai het, het hy dalk vergeefs vir die bestuurder geskreeu om stil te hou terwyl die ander werkers vir hom lag.
Niemand hou graag stil vir ’n dêm werker agterop ’n bakkie wie se dêm pet afgewaai het nie.
Op die platteland sien jy ook soms ’n pet in die pad lê en dan sien jy dadelik ’n prentjie in jou verbeelding: Dit is ’n skildery wat nog nie geskilder is nie – die een van die werker agterop die boer se bakkie. Die werker ry dikwels saam dorp toe om die hekke op pad oop te maak. Die hele oggend sit hy in die heklose dorp agterop die bakkie terwyl die boer by die bank en die Spar en die koöperasie ingaan.
Partykeer sal die werker afklim, en dan sal daar ’n repie koerantpapier en die oranje van ’n pakkie BB-twak in sy hand wees.
Die platteland is vol desperate mense agterop desperate bakkies. Die mans het dikwels nie oorpakke aan nie. Hul hemde fladder soos verslete vlae aan hul lywe in die wind. Soms sal hulle ’n bottel wat in ’n papiersak toegedraai is vir mekaar aangee en een vir een ’n sluk daaruit vat.
Ander kere sal daar tussen die mense agterop ’n bakkie ’n vrou wees, met ’n doek om haar kakebeen gebind, op pad na ’n kliniek waar die seer tand getrek sal word.
Soms sien jy oumas agterop bakkies, soms kinders, soms moeders met babas in hul arms.
Mense agterop bakkies kyk omtrent altyd agtertoe. Hulle kyk byna nooit na waar hulle heen gaan nie. Hulle kyk na waar hulle vandaan kom.