Читать книгу Onder die radar - Dana Snyman - Страница 16

Blye versekering

Оглавление

Bang? Nee wat, my oom. Oom het niks om voor bang te wees nie. Hoe sê hulle in die Bybel? Wees nie bevrees nie. By my is oom se geld in veilige hande. Kyk my in die oë, oom. Ontspan, oukei? Relax net, soos hulle sê. Ek weet mos oom het hard gewerk op die plaas vir die geld. Kom ek vertel oom ’n ding: Oom se R800 000 is veiliger hier by my as in die bank. Kyk maar wat gebeur op die oomblik in Griekeland en in Amerika. Jy kan die banke nie meer vertrou nie. En ek gee oom amper dubbeld die rente wat die bank gee. Binne ses maande maak ek oom se R800 000 vir oom meer as ’n miljoen! Waar anders gaan oom dit kry? Ek sê altyd: As kin­ders van die Here mekaar die dag nie meer kan vertrou nie, wie kan dan? Daar’s baie skelms in hierdie bedryf, my oom. Oom sien self die stories in die koerante. Die ouens kom met hul slimpraatjies, en dan môre, oormôre verdwyn hulle met die beleggers se geld – onskuldige mense soos oom s’n. Oom weet wat met Krion gebeur het, en met Fidentia, en met Realcor. Ek is nie een van daais nie, my oom. Ons werk net met wettige markinstrumente. Ons vat oom se R800 000 en sit dit in ’n fonds. Dan werk ons met daai geld, ons wérk met daai geld. Ek het mannetjies hierso wat 24/7 voor die computers sit en die markte dophou en met daai geld werk – als wettig. Als wettig. Ons het ook baie geld ingestoot in die kanola-aanleg wat hulle by Malmesbury gaan bou. Dis eintlik nog ’n geheim, maar ek kan dit maar vir oom sê: Hulle gaan die kanola-olie met ’n pypleiding van Malmesbury af Kaap toe pomp en uitvoer. Kanola is die goud van die toekoms, my oom. BMW in Duitsland is klaar besig om ’n model te ontwikkel wat op kanola gaan loop. Hier is als, ek kan vir oom als wys, swart op wit. Oom kan rustig teruggaan plaas toe en gaan boer; ek sal mooi na oom se geldjies kyk. Ek gaan nie vir oom jok nie. Dis nie altyd maklik nie. Die markte is deesdae geweldig wolletiel, geweldig. Maar ek weet waar my krag vandaan kom, oom. Ek sê altyd: Die Here wil nie hê ons moet arm wees nie. Ek dink baie dae kyk Hy na hierdie land, en dan huil Hy oor al die armoede wat Hy sien. Ek is nie skaam om te sê ek leef goed nie. Ek het my huis teen Kanonberg, ek het my strandhuis, ek het my plaas in die Karoo, ek het my karre en my goed. Maar weet oom wat maak my die gelukkigste? Om iemand soos oom se geldjies te vat en binne ses maande ’n miljoen daar­van te maak – dít maak my happy. Ek prys die Here daarvoor! Oom is verniet bang. As oom dan net hier onderaan die bladsy vir my oom se handtekeningetjie kan maak, net hiér. Dit beteken maar net oom gee toestemming dat die geld uit oom se rekening na myne oorgeplaas word. Teken maar net hier. So, ja. Piekfyn. Oom gaan nooit spyt wees nie. Die Here hoor my. Dit kan ek oom belowe.

Onder die radar

Подняться наверх