Читать книгу Onder die radar - Dana Snyman - Страница 20

Fanie

Оглавление

Sy ma weet, sê Fanie. Hy het dit vir haar gesê, al wou hy nie eintlik nie. Shame.

Hy het die oggend by haar in die ouetehuis gaan kuier, sê Fanie, en toe sit sy weer daar in haar stoel voor die venster, met haar brei­werk en haar blokraaisel en goed.

Ek ken vir tannie Kittie, Fanie se ma. Sy en my oorlede ma was beste vriendinne. Saam het hulle die wêreld se pyn probeer weg­bak en -brei. Hulle het aan die ACVV behoort. Hulle het in die kerk­koor gesing en Santa-seëls verkoop ten behoewe van teringlyers. Hulle het op kerkbasaars gewoel, en op ’n Saterdagoggend op die sypaadjie voor Spar by ’n môremarktafel pannekoek gebak om geld in te samel vir die Bettie Greeff Tehuis vir Ongehude Moe­ders.

Hulle het met reghoekige houtbussies muntstukke gekollekteer vir sendingwerk in Malawi, in Japan en in Zoeloeland. Hulle het komberse en blikkieskos ingesamel vir vloedslagoffers. Hulle het vir die padkampkinders koekies gebak en een keer per jaar, net voor Kersfees, geskenke vir die kinders in die kinderhuis gaan gee.

En hulle kon bid, o, hulle kon bid: O, Heer, U is die pottebakker en ek is die klei, maak my en vorm my na U wil.

Hul kinders – ek en Fanie en die ander – was voorop in hul ge­bede en gedagtes en dade. Hulle het eerder daardie paar spykerskoene vir die atletiek gekoop as die nuwe kerkrok. In ’n blikkie in ’n laai het hulle spaargeld gebêre wat later moes help betaal vir ’n skooltoer of ’n universiteitshandboek.

Hulle het ook gebid vir die straatveërs, die polisiemanne, die dokters en die staatspresident. Hulle het gebid vir die ellendige, siek kind in die onderdorp. Vir drie dae het hulle vir die kind gebid en glase vol mengsels van boegoe en Lennon se medisyne aan­gedra. Op die vierde dag toe breek daardie kind se koors. ’n Week later toe speel die kind weer saam met sy maatjies in die son.

Ook vir die kankerkrom oom in die siersteenhuis op die hoek het hulle gebid. Daagliks het hulle hom in hul gebede aan die Here opgedra. Toe sterf die oom een middag agter ’n toegetrekte Venesiese blinding in daardie huis. En toe bid hulle vir die weduwee en dié wat agtergebly het, en hulle begin maak frikkadelletjies en reën­boogbroodjies vir die begrafnis.

Dit alles het hulle gedoen omdat hulle hul lewe volgens die Bybel probeer rig het: Bid sonder ophou. Hê jou naaste lief soos jouself. In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood verdien. Nou ken jy slegs ten dele, eendag sal jy ten volle ken.

Hy weet nie of sy ma nog aan die ACVV behoort nie, sê Fanie. Hy vermoed so. Sy gaan nog elke Sondag kerk toe. Sy lees knaend die Bybel en onderstreep teksverse en bid vir al wat leef en beef.

Alles het juis begin, sê Fanie, toe sy ma vir hom gesê het sy sal bid dat hy ’n ander werk kry.

Hy moes seker maar stilgebly het, sê Fanie. Hy het mooi vir haar probeer verduidelik hoekom hy nou ’n ateïs is, dat die Bybel nie meer oral vir hom sin maak nie.

Hy kry sy ma jammer, sê Fanie. Sy is ’n goeie mens.

Onder die radar

Подняться наверх