Читать книгу Liefde is vir altyd - Daniël Johannes Louw - Страница 13
ОглавлениеWatter soort huwelik het ons?
Daar is ook ’n tweede vraag ter sprake: watter soort huwelik het ons?
Om julle met hierdie evaluering te help, word nege moontlike huweliksmodelle in die onderstaande tabel beskryf. Kyk na elkeen en besluit watter een die naaste aan jul situasie kom. Trek jou kruisie daar. Vul elkeen die vorm apart in en ruil dan met mekaar. Dit is belangrik dat julle baie eerlik sal wees. Dit kan wees dat meer as een van dié kenmerke in jul verhouding voorkom. Jy kan dus by ’n paar plekke jou kruisie trek. Dit is egter belangrik om onderaan die vorm jou redes te verskaf waarom jy ’n spesifieke keuse gemaak het en hoekom jy só oor jou huwelik voel.
Blaai nou om vir ’n objektiewe evaluering van jul huweliksverhouding.
Huweliksevaluasie
Maak ’n kruisie in die toepaslike blok of blokke.
Die minimum huwelik: julle bly uit mekaar se pad en vermy mekaar. Julle voel neutraal teenoor mekaar en leef op die N.T.-lyn. | |
Die konflikhuwelik: stry is jul normale manier om sake te hanteer. Jy voel baie gefrustreerd en jou maat irriteer jou skreiend. Jy verloor dikwels jou humeur of kyf aanhoudend. | |
Die pap huwelik is lewensmoeg: die vonk is daaruit. Daar is geen opwinding of spontane vreugde in die huwelik oor nie, intimiteit is iets van die verlede. | |
Die fluktuerende huwelik: jul verhouding wissel tussen hoogte- en laagtepunte na gelang van omstandighede en jou of jou maat se buie. | |
Die skynhuwelik: julle bly by mekaar ter wille van die kinders, of ter wille van materiële belange, of ter wille van jou status en aansien in die samelewing. | |
Die ordentlike huwelik: julle tree hoflik teenoor mekaar op en kom al die basiese verpligtinge teenoor mekaar na, soos ekonomiese sekuriteit, die waarneem van die huishouding en so nou en dan geslagsgemeenskap. | |
Die konsensushuwelik: julle bewaar die vrede, maar die verhouding is sonder besondere hoogtepunte. Julle stel ook nie juis in verandering belang nie en leef met die “let sleeping dogs lie”-sindroom. | |
Die groeihuwelik: julle is baie betrokke by mekaar, kan oor baie dinge saam gesels, doen sekere aktiwiteite saam en geniet mekaar se teenwoordigheid (maar julle laat ruimte vir mekaar om te groei!). Julle volg dus ’n ons-benadering. | |
Die volwasse huwelik: julle soek mekaar se belange ter wille van Christus. Soms hou julle saam Bybelstudie en bid dikwels saam. Julle slaag daarin om mekaar te vergeef en onvoorwaardelik te aanvaar. Julle volg ’n diens- en versoeningstyl. |
Verskaf nou ’n rede (redes) vir jou keuse(s) hierbo. (Notaboek!)
Die keuse(s) wat julle hierbo by die evaluering van jul huwelik gedoen het, hoef jou nie sleg te laat voel nie. Julle was net eerlik. Die belangrike punt om te snap, is dat julle nog bo die N.T.-lyn verkeer en nie noodwendig so ver onder hierdie gevaarpunt gedaal het dat groei en verandering nie meer moontlik is nie. Slegs indien een party reeds besluit het om te skei, sal dit moeilik wees om verder aan die huwelik te werk.
Die spoorlynhuwelik met dwarslêers
Die grootste persentasie huwelike lê net bo die N.T.-lyn. So ’n verhouding kan beskryf word as ’n spoorlynhuwelik. Daarmee word bedoel dat man en vrou parallel soos twee spoorstawe langs mekaar ontwikkel. Die enigste binding tussen hulle is die noodsaaklike “dwarslêers” van kinders en familie, status, geld, besittings en huisvesting. Dié soort huwelik lyk so: