Читать книгу Liefde is vir altyd - Daniël Johannes Louw - Страница 4
Inleiding
ОглавлениеSmoorverlief:
wat maak regtig saak?
Liefdesintimiteit begin altyd met die sprokiesverhaal van die prins op die wit perd en die prinses in die kasteel. Hulle is smoorverlief, trou, en toe? Wel, al hoe minder vier saam ná vyftig jaar hul “goue bruilof”. Of die verhouding is teen daardie tyd in elk geval so verslete of reeds verbreek dat min nog saak maak. Hulle het toe nie vir altyd gelukkig saam gelewe nie.
Wat maak dan saak in liefdesintimiteit?
Hoe sinvol is liefde tussen twee mense wat lewenslank trou aan mekaar gesweer het?
En tog, liefdesintimiteit kan ook sinvol en lewensvervullend wees.
Wie verwonderd staan oor die genadige guns om sinvol op ’n menswaardige wyse saam te leef en getroud te wees en hul dáárop toelê om die liefdeskuns te bemeester, kan inderdaad die sleutel tot liefdesvreugde ontdek.
Die punt is: mense kan mekaar verryk, verhoudings kan groei en verslete huwelike kan weer nuut raak.
Dit is waaroor hierdie “verhoudingspadkaart” en “huweliksgids” gaan. Verloofdes wat gaan trou, kan dit in hul wittebroodtasse pak. Getroudes kan dit op die bedkassie bêre en gereeld daaruit lees en werk. Mense wat ’n permanente verbintenis van trou aan mekaar gesweer het en opreg bedoel om toegewy aan mekaar te lewe, kan die boek gebruik om mekaar se lewens te verryk. Selfs ná veertig of vyftig getroude jare kan ’n mens met so ’n boek weer die liefdesvlam hoog blaas en opgewonde raak oor nuwe moontlikhede vir die bou van verhoudings.
Ten spyte van die feit dat jy soms oor jouself onseker voel, wonder of die verhouding ooit gaan uitwerk, indringende vrae het oor seks en seksualiteit, selfs oor die aard van die liefde en jou maat se motiewe skepties is, interessant genoeg, die Bybel wil mense se lewens verryk anderkant die begrensings van menslike potensiaal, kultuur, openbare klassifikasies en die vooroordele van diskriminasie en stigmatisering.
Vanuit ’n Christelike geloofsperspektief: wat maak regtig saak as jy binne ’n vaste verhouding sê: ons hou van mekaar, ons is lief vir mekaar, ons sweer trou aan mekaar? Wat jy dan sê, is: die huwelik is ’n kuns van die liefde en ’n guns van Gods genade.
Wat regtig saak maak, is wie ons in Christus is, en hoe ons hierdie verstaan gebruik om tot volwassenheid te groei en die lewe, asook die lewens van ander mense, mooi en heel te maak, te bemagtig en te verryk.
Is die liefde noodwendig lekker?
Die liefde vra nie en eis nie. Die liefde gee en reik uit sonder om iets terug te verwag. Die liefde offer op sonder selfmarteling en verwyte. Die liefde kan dus soms ook pynlik wees. Dit is ook nie altyd “lekker” om lief te hê nie. Dit waarborg ook nie kitsgeluk nie.
Die liefde belê genade in die lewe van ’n ander omdat dit die ander nie wil rehabiliteer nie, maar wil afrond en heelmaak sodat hy of sy in jou teenwoordigheid menswaardigheid kan ontdek; kan groei tot geestelike volwassenheid; sin in die lewe kan ontdek. Dit is hoekom ’n mens trou.
Die liefde is nie altyd “lekker” nie, maar kan wel verrykend, mooi en helend wees.
Die liefde stigmatiseer en diskrimineer nie. Anderkant die grense van menslike vooroordele, selfs ten spyte van menslike beperkinge en tekortkominge, ontsluit die liefde in die ander ’n ervaring van “ek is uniek en onvervangbaar en waardevol”. Dit is hoekom ’n mens getroud bly.
Maar, so sou jy kon vra: is die rede waarom die liefde soms ’n pyn is, nie die onbeskoftheid van buffel-man en die gekyf van Liewe Heksie-vrou nie? As ons mans kon verander in gentlemen en vroue in Mej. Heelal, sou die prentjie van liefdesintimiteit nie radikaal verander kon word nie?
Verrassend, maar tog ook vreemd in terme van ons menslike, natuurlike en sosiale vooroordele, verklaar Paulus in Galasiërs 3:28 “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.”
Dit is natuurlik moeilik vir mense wat vanuit die raamwerk van kultuurkwalifikasies oor manlikheid en vroulikheid dink, om in die eerste plek nie oor mekaar te dink uit die oogpunt van manwees en vrouwees nie, maar uit die oogpunt van menswaardigheid en lewenswysheid. Kort-kort herinner die media ons aan mans as ruwe sporthelde en kragtige, dominerende, Zeusagtige figure. Mans moet gespierd en sterk wees en nie sommer huil nie. “Cowboys don’t cry.” Voorblaaie van vrouetydskrifte wys opgemaakte vroue sonder plooie en rimpels. Vroue moet verleidelik glimlag, subtiele halslyne hê en soos mooi prikkelpoppe en opgemaakte, weerlose mannekyne optree. Advertensies maak mense kunsmatig mooi. Films projekteer kitsseks en Hollywoodagtige romantiek.
Die Christelike beginsel vir sinvolle menswees is egter nie status, ras, kultuur of seksuele oriëntasie nie, maar wie ek en jy reeds in Christus is. “Of ’n mens besny is of nie, is nie van belang nie, maar dat jy ’n nuwe mens is” (Gal 6:15). In Paulus se tyd was die harde neut vir die kerk om te kraak die vraag of besnydenis ’n kwalifikasie is vir Christenskap al dan nie. Hieroor het die vroeë Christelike kerk verskriklik gestry en selfs die eerste sinode bymekaar geroep.
Waarom gaan dit dan eintlik in ’n Christelike spiritualiteit en in sinvolle menseverhoudings? Wat maak dan nou eintlik saak wanneer twee mense mekaar ontmoet en in ’n omhelsing sê: ek sal jou vir altyd liefhê?
In ’n Christelike verstaan van die huwelik is die kernvraag, wie is jy as jy sê: ek het jou baie lief? Jou identiteit en integriteit plaas jy dan op die spel. Want liefde beteken dat iemand jou woorde glo en jou vertrou; liefde wil vir altyd wees.
Ek dink die basiese vertrekpunt en kernvraag is: leef jy anders en nuut? Nuwe mense maak die lewe leefbaar en kan mekaar in verhoudings koester, vertroetel en verryk. Befoeterde mense wat so beduiweld kan raak dat hulle vloek, skel en raas, maak die lewe onleefbaar en breek dikwels verhoudings af. “Beduiwelde mense” en aggressiewe mense verkrag, rand aan en breek huwelike op. Die wysheid van die Bybel wil egter die lewe leefbaar, heel en mooi maak. Dit is waaroor dit in lewensverryking, verhoudingsbou en huweliksgroei gaan.
Nog ’n boek oor verhoudings, liefde en die huwelik?
Om teleurstelling te voorkom, moet ek versigtig waarsku.
(a) Die boek bied nie ’n kitsresep vir “huweliksgeluk” en “suksesvolle verhoudings” nie. Dit is nie geskryf met die bedoeling dat die deurlees van die inhoud ’n gelukkige verhouding gaan waarborg nie.
Geluk in die lewe bestaan in elk geval nie. Die meeste mense soek geluk. Tog kan geluk nie “gekoop” word nie. ’n Mens kan nie na ’n inkopiesentrum stap en in ’n plastieksak geluk gaan koop nie. In die sogenaamde “geluk” wat mense in verhoudings soek, gaan dit ten diepste om die vraag van lewensvervulling en die sin van menswees. As jy ’n ongelukkige mens is, gaan jy ook ander mense “ongelukkig” maak. Jy gaan jou verhouding misbruik as stortplek vir al die ongelukkige ervarings wat jy tot dusver opgedoen het. En die huwelik is nie die stortplek of asblik vir al die emosionele vullis wat ’n mens in jou ronddra nie. Jou maat is nie ’n stofsuier wat al jou lewensvullis moet opsuig en jou moet verdra nie.
Selfs versoening is nie ’n vinnige opwasmiddel nie; vergifnis werk nie blitsvinnig soos Omo in ’n wasmasjien nie. Liefde en trou is “harde werk”. Die woord “huwelik” spel verantwoordelikheid en lewensroeping. Respondeo ergo sum: ek is verantwoordelik en ver-antwoord-baar; daarom is ek. Ek kan sinvol respondeer (antwoord gee) op die feit dat daar iemand bestaan wat vir my gesê het: ek het jou lief vir altyd.
Die eintlike vraag in verhoudings is: wie is ek? Is ek ’n wyse mens met insig in die liefde of ’n kortsigtige dwaas met ’n onversadigbare sug na die liefde?
Om in ’n vaste verhouding te gaan, moet ’n mens eers jouself uitpluis. Mense met “unfinished business” moet nie trou en dan verwag die huwelik moet hul lewensprobleme uitpluis en oorbrug nie. Die huwelik is nie ontwerp as rehabilitasiesentrum vir onverantwoordelike lewenskeuses en gedrag wat tuis hoort in die kleuterfase van die lewe nie. Die huwelik is ontwerp vir “volwasse mense”.
Om die soeke na sin en verhoudingstevredenheid te verduidelik, moet ’n mens vra: waarvoor is ’n verhouding (wat ’n mens die huwelik noem) gemaak; waarvoor is dit ontwerp? Vir “geluk”, “na aksie satisfaksie” of vir “verryking”?
Gemors met ’n tandeborsel of musiek met ’n snaarinstrument?
Met ontwerp word nie bedoel ’n vaste voorskrif nie. Ontwerp verwys na die verstaan van die doel en funksie van iets. Ontwerp verwys na die vraag: waarvoor kan ek iets gebruik sodat dit vir my sin maak? Met verwysing na die onderwerp van die boek: wat is die sin van die liefde en die huwelik?
Byvoorbeeld: ’n tandeborsel is ontwerp om jou tande mee te borsel en nie om jou hare te kam nie. ’n Mens kan natuurlik wel jou hare met ’n tandeborsel probeer kam. Ongelukkig misbruik jy dan sowel die tandeborsel as jou kop en jou hare “voel” ongelukkig.
Baie mense trou, maar verstaan nie waarvoor die huwelik ontwerp is nie. Onkunde oor die aard van liefde en die huwelik dra by tot die misbruik van die huwelik en die liefde. In plaas van ’n prentjiemooi verhouding ontaard die huwelik in ’n lelike gemors.
As ’n mens tennis wil speel, moet jy weet wat ’n tennisbaan is en waarvoor ’n raket en ’n bal ontwerp is. As jy op die baan stap met die “idee” dat die tennisbaan ’n swembad is en jy begin swem, gaan jy van jouself ’n spektakel maak en van tennis ’n gemors. ’n Mens moet die basiese spelreëls van tennis verstaan om sinvol tennis te speel. As jy weet wat tennis is, word die spel van tennis vir jou mooi.
Omdat baie mense die huwelik betree, maar nie weet waarvoor dit ontwerp is nie, maak hulle ’n gemors van hul verhouding. As ’n mens die ontwerp van die huwelik verstaan, word die verhouding sowel as jou maat vir jou mooi, amper soos musiek met ’n snaarinstrument.
Wat word dan met die “idee” van die huwelik en die liefde bedoel? Waarvoor is huweliksliefde ontwerp?
Dieselfde vrae geld vir die “idee” van seks en seksualiteit. Wat is die konstruktiewe waarde van seks en waarvoor is die genitalieë ontwerp? Om kinders te maak en om bloot seksuele drange te bevredig?
Aan hierdie vrae moet ons aandag gee ten einde die geheim van huweliksgeluk en verhoudingsvreugde te ontsluit en te ontdek. Die boek wil help om weer die groter prentjie van die huwelik, die liefde en seksualiteit raak te sien sodat egpare se verhouding weer mooi kan raak.
Dit gaan dus in hierdie boek om die vraag: waarvoor is die huwelik, liefde en menslike seksualiteit ontwerp? Hoekom verbind ’n mens jou tot ’n ander mens met die bedoeling om lief te hê en aan mekaar trou te sweer? Hoekom beoefen jy seks en is seksualiteit so ’n belangrike en opwindende element van menslike en sinvolle lewe?
Dit gaan ook oor ’n tweede belangrike vraag: wie is jy en is jy werklik verhoudingsmateriaal met die oog op sinvolle verhoudingsbou? Is jy volwasse genoeg vir ’n vaste, bindende verhouding met verantwoordelikhede en opgewasse vir ’n verhouding waarin jy jou individuele lewensruimte met dié van iemand anders moet deel? Wie is jy as jy in seksualiteit betrokke raak? Is jy ’n “liefdevolle skoonlief” (Beauty) of is jy die “monsteragtige ondier” (Beast)?
Die vraag na huweliksgeluk is nou gekoppel aan die vraag van houding. Met watter gesindheid, behoefte en verwagtinge gaan jy die verhouding binne? Wat is jou lewensoortuiging en lewensfilosofie? In wie en waarin glo jy? Wat glo jy?
(b) Die boek is ook nie geskryf om een keer te lees en dan in ’n boekrak staan te maak nie. Dit moet langs jou bedkassie lê soos ’n saam-gesels-ipod om telkens net te kontroleer en te luister: is ek nog in pas met my pasmaat; is ons in ritme met mekaar se eiesoortige ritmes?
Die huwelik is eintlik ’n eiesoortige verhouding, want “huwelik” sê mense verbind hul “solank as wat hulle lewe” saam: ek sweer permanent trou aan jou. Dit wil sê: die huwelik is ’n lewensproses van opregte trou. Jy weet nie presies wanneer dit begin nie, en dit het dus ook nie ’n einde nie. ’n Mens maak nooit klaar met die huwelik nie.
Soos hond en kat met sterte vasgebind?
Dit wat ons die huwelik noem, gebeur nie soos ’n tref-en-trap-ongeluk nie. Jy toets dit ook nie uit met die houding van kom-ons-probeer-en-kyk-of-dit-gaan-uitwerk nie. Om saam te leef, of saam te woon, is nog nie ’n huwelik nie. ’n Hond en ’n kat kan heerlik in die son snoesig saamlê en droomverlore saamslaap. Bind nou, soos die ou oom gesê het, hul sterte styf aan mekaar vas. Dan gaan jy ’n gemors sien! Dit is die aard van die saambinding wat “huweliksgeluk” en volhoubare “lewensvreugde” bepaal.
Mense kan seepglad met mekaar “kopuleer” (tydelike en lekker seksuele gemeenskap met mekaar hê met die idee: ná aksie heerlike satisfaksie) en dink: dit werk fantasties. Sukses onder die lakens en ’n quickie onder die stort of agter ’n duin, is egter nie ’n waarborg vir ’n sinvolle lewensverbintenis nie. Die punt is: die huwelik is ’n verbintenis tot ’n lewensproses van mekaar-verryking. Jy maak nooit met die “huwelik” klaar nie, al maak die huwelik jou ook klaar en gedaan.
Sommer kamma-kamma kinderspeletjies?
Baie mense is wel getroud, maar nie toegewy aan mekaar nie. Hulle toewyding of commitment lê totaal buite die verhouding op ’n ander vlak. Sommige mense wil geld maak of steeds net los leef soos playboy met ’n playgirl en omgekeerd.
Liefdesintimiteit is egter nie kinderspeletjies nie. Jy speel nie huwelik-huwelik soos toe jy as kleuter pop gespeel het of speletjies op die rekenaar gespeel het nie. Ek en my broer het in die agterplaas onder die lang takke van die wilgerboom skool-skool gespeel voor ons in die skool was en my suster reeds in graad 1 was. Skool-skool was ’n kamma-spel, so asof dit werklik is sonder dat dit regtig egtig was. In die huwelik speel jy nie liefde-liefde nie. Jy moet dit doen en leef. Die huwelikspel is die ernstige spel van liefde. En hierdie spel het te make met die erns van die lewe, die lewe van ’n ander mens. Iemand anders het hom of haar aan jou toevertrou; iemand anders glo in jou en vertrou jou; iemand anders belê sy of haar “siel” en “liggaam” in jou “siel” en “liggaam” en jy moet dit kan versorg en vertroetel. Dit is die rede waarom ’n selfsugtige mens met die fokus op “ek” en “myne” nie goeie troumateriaal is nie.
Woeste, brutale of vloekende “brekers” en sensuele, verleidelike of uitlokkende prikkelpoppe, “huwelik” nie maklik en lekker saam met sensitiewe en volwasse mense nie.
Waarmee kan hierdie boek help?
Roetine of wonderwerk?
Dit wil jou heel eerste help om die gehalte van jou huidige verhouding te bepaal. Dit is daarom belangrik om eerlik en krities te kyk of jy en jou maat enige groei in jul huwelik toon. Indien jul verhouding neerdrukkend neutraal geword het of so koud, dood en oninteressant is dat ’n mens selfs van agteruitgang moet praat, is dit vanselfsprekend tyd om iets aan die saak te doen. Julle kán voorkom dat jul verhouding vodde raak of die prooi word van dodelike roetine. Al sê die sinici wát: elke huwelik het die potensiaal om anders en beter te word.
Los of vas?
As jy jou verhouding wil laat groei, is dit belangrik om met jou hele wil en denke ’n besluit te neem: hierdie verhouding kan werk. Dit gáán werk. Om dit te kan doen, is drie dinge nodig: geloof, trou en ’n hernieude verbintenis. Dié boek wil jou riglyne gee oor hoe om gemotiveerd verder aan jou verhouding te werk en ’n “kontrak” met God en met jou maat aan te gaan. ’n Los verhouding is eintlik ’n tydelike eksperiment; ’n vaste verhouding word ’n gesamentlike lewensreis; pasmaats as lewensmaats.
Beplan of toeval?
Die boek wil jou ook help om ’n plan en doel vir jul huweliksverhouding te ontdek. Dit worstel met die vraag: waarvoor is die huwelik ontwerp en bedoel? Of werk alles sommer outomaties en toevallig uit? Geen organisasie of maatskappy kan goed werk tensy daar betyds beplan, besluite geneem en volgens ’n vasgestelde doelwit gewerk word nie. Dieselfde geld vir die huwelik. Huweliksvernuwing begin die dag wanneer gelowige huweliksmaats ontdek wat God se wil (ontwerp) met liefde, met seksualiteit en die ons-verhouding is.
Ysterploeg of kougom?
Die huwelik is ten diepste ’n verhouding tussen twee persone met verskillende behoeftes, verwagtinge en gevoelens. Elkeen het sy of haar eie gewoontes, eie manier van dink en doen – wat net so onafskeidelik deel is van elke mens soos jou skaduwee. Nou is die belangrike vraag egter: ken ek myself of is ek vir myself soos ’n geslote boek? Is ek byvoorbeeld ’n selfsugtige mens of ken ek die geheim van onbaatsugtige diens? Is ek baie buierig of is ek ’n aangename mens en maklik om mee saam te leef? Is ek onbuigsaam en onaanpasbaar? Soos gesê word: iemand is so rigied, jy kan met hom of haar net ploeg. Of kan ek soepel optree, rekbaar soos kougom? As ek my verhouding wil verryk, moet ek leer om eerlik met myself te wees. Kennis van myself is ’n voorvereiste vir kennis van my maat. En dikwels is my maat die persoon wat my die beste ken. Met die wedersydse kennis van mekaar as hoeksteen, kan daar verder aan die ons-verhouding gebou word. Binne die verband van ’n Christelike verstaan van menseverhoudings en die huwelik is kennis van jouself en jou maat baie eensydig sonder ’n sinvolle en bruikbare Godskennis. Vir groei in jouself moet ’n mens ook in jou geloof groei. Daarvoor is geloofsvolwassenheid en ’n besef van wie God werklik is nodig. Hierna sal ons kyk in die hoofstukke wat volg.
Sement of dryfsand?
Liefde is die sement vir sinvolle verhoudingsbou. Maar dit wat mense liefde noem, is dikwels niks anders nie as die bevrediging van selfsugtige behoeftes. Daarna syfer dit weg in die dryfsand van wispelturige emosies. Soms is “liefde” bloot ’n sinoniem vir ’n aangename of lekker gevoel wat met behoeftebevrediging of seksuele opwinding gepaardgaan. Die liefdeskuns waarvan ons hier praat, is veel meer as ’n aangename emosie of die genot van orgasme. Wat sinvolle menswees en volwasse huweliksliefde is, is die onderwerp van hierdie boek.
Vloek of seën?
Die probleem in baie verhoudings is dikwels nie dat mense nie met mekaar kan praat nie, maar dat hulle hopeloos te veel – en verkeerd – praat. Ons praat wel, maar vloek meer as wat ons mekaar seën. Ons sê die verkeerde ding op die verkeerde tyd: woorde wat afbreek en seermaak. Te veel negatiewe kommunikasie breek ’n verhouding stukkend. Daarom is dit belangrik om opnuut te leer hoe om te praat en te luister. Vir huweliksgroei en ware intimiteit is dieptekommunikasie nodig, dit wil sê kommunikasie waarin jy werklik in kontak kom met jou maat se behoeftes en gevoelens. Ons sal kyk hoe dié kuns bemeester kan word.
Twispunt of groeipunt?
Verskille is ’n natuurlike deel van elke verhouding. Dikwels ontaard doodgewone verskille egter in geskille en dan pak maats mekaar in plaas van die probleem. So ’n konflik ontaard gou in ’n rusie. Wat net ’n twispunt was, word gebruik om mekaar te beskuldig en af te kraak. Op die ou end voel iemand óf baie skuldig óf baie minderwaardig en seergemaak. Is dit hoegenaamd moontlik om probleme op ’n ander manier op te los as net deur middel van beskuldigings? Hoe kan ’n mens ’n saak uitpraat en werkbare oplossings vir jou probleme vind? Hieraan sal ons heelwat aandag gee.
Vullisblik of beleggingsbank?
Spanning is een van daar die spreekwoordelike klein jakkalsies wat die lewensvreugde verniel. Spanning veroorsaak dat mense hul lewensmaat as weerligafleiers misbruik wanneer hulle gefrustreerd is oor iets anders. In baie huwelike is die probleem dat die verhouding misbruik word as stortterrein vir die emosionele frustrasies en vullis wat by die werkplek opgegaar word. Dit is ’n feit dat spanning dikwels onvermydelik is, ’n daaglikse lewenswerklikheid wat ons moeilik kan ontduik. Tog kan ons probeer om dié dinge wat spanning skep te verwyder, beter te hanteer of ten minste ons houding daaroor te verander. In plaas van ’n vullisblik-verhouding kan die verhouding ’n ruimte word waarin jy liefde belê: vir altyd!
Vieslik of lied?
Die diepte- en hoogtepunt van seksuele liefde is onder meer beslis geslagsgemeenskap en seksuele bevrediging. Die kwaliteit van seksualiteit en sensualiteit is ook die seismograaf van die gehalte van verhoudingsliefde en ’n sinvolle huwelik. Soos die seismograaf mense betyds kan waarsku dat ’n aardbewing aan die kom is, so vertel haakplekke in die gemeenskapsdaad dat daar waarskynlik êrens op ’n ander plek in die verhouding iets verkeerd is. As ’n mens eers bewus gemaak is van ’n probleem, kan jy immers iets daaraan begin doen. Seksuele probleme kán oorkom word, en maats kan opnuut die wonder van mekaar se liggame ontdek en geniet. Seksualiteit is nie sondig, vieslik of vuil nie; dit is ’n geskenk aan die mens. Adam het reeds in ekstase daaroor gesing: “Uiteindelik … been van my been en vlees van my vlees!” Raamwerke oor hoe om mekaar se liggame te geniet, word in hoofstuk 9 vervat.
Roes of opvryf?
’n Permanente lewensverbintenis het voortdurende aandag en versorging nodig, anders roes liefde gou. Werk aan jou verhouding en jou verhouding sal vir jou werk. As daar een ding in die lewe is wat nooit as vanselfsprekend aanvaar moet word nie, is dit die liefde. Liefde is ’n onvanselfsprekende wonder wat opgepas, vertroetel en telkens opgevryf moet word. Dit wat ons so maklik die “huwelik” noem, is ’n verhouding wat gehelp moet word om voortdurend te groei en te ontwikkel. Die laaste hoofstuk in die boek wil jul daaraan herinner om die vlam van jul verhouding brandend te hou deur groei, samewerking, intimiteit en versoening jul gesamentlike mikpunt te maak. Die leser moet immers onthou dat die voorveronderstelde raamwerk vir die lees van die boek ’n Christelike verstaan van verhoudingsbou is. Ander geloofsraamwerke wat ook werk met die beginsel van permanente trou as bousteen vir sinvolle huwelikstrou kan ook van die inligting gebruik maak. Selfs mense wat verklaar dat hulle nie “glo” nie, maar tog oortuig is van die feit dat mense se idee of lewensfilosofie oor liefde deurslaggewend is vir sinvolle, volhoubare, langtermyn-verhoudingsbou, sou met vrug van die gegewens in die boek gebruik kon maak.
Die lees en gebruik van die boek
Hierdie boek is met ’n tweeledige doel geskryf. Aan die een kant wil dit inligting verskaf oor sinvolle verhoudingsbou en die aard van liefdesintimiteit. Aan die ander kant wil dit egpare leer en help om self aan hul ons-verhouding te werk. Daarom is daar telkens, nadat inligting oor ’n bepaalde faset van die verhoudingsbou verskaf is, ’n vorm van evaluering ingebou. Die gedagte is dat lewensmaats deur middel van evalueringslyste gehelp word om aktief na te dink oor die stand van hul verhouding. Deur ’n kruisie op ’n vorm te trek of ’n paar sinne in ’n notaboek te skryf, word ’n mens beter bewus gemaak van die belangrikste fasette van die verhouding waarin jy staan.
Die eintlike motief agter hierdie boek is dat dit lewensmaats moet aanspoor om na te dink en te praat oor dinge wat deel is van hul verhouding, maar waaroor hulle selde gesels. Deur saam of afsonderlik evalueringsvorms in te vul, word kommunikasie bevorder en verdiep. Die vorms wil niks toets of bewys nie. Dit is ontwerp om maats sensitief te hou en bewus te maak vir mekaar en vir dit waarmee hulle lewenslank besig is. Wat gebeur elke dag tussen ons?
Die boek wil ’n woordeskat help skep vir die wat-vraag van verhoudingsontwikkeling.
Party mense hou natuurlik nie daarvan om evalueringsvorms in te vul nie. As jy een van hulle is, dink só daaroor: jy het tog hierdie boek bekom omdat jy jou verhouding wil verryk. Hoe kan jy dit doen as jy nie éérs jul verhouding op ’n manier evalueer nie? Jy het miskien nog nooit oor sekere aspekte van jul verhouding besin nie; daarom voel dit vir jou vreemd om ’n mening daaroor te ontwikkel of ’n standpunt in te neem. Maar niemand behalwe jy self of jou maat gaan lees wat jy afgemerk of geskryf het nie! Sê dus net eerlik wat by elke vraag in jou gedagtes opkom. Dit sal jou werklik help om jouself, jou verhouding, jul liefde en God se bedoeling met die verryking van jul verhouding beter te verstaan. Omdat daar vandag ook ander vorme van openbare, permanente verbintenisse bestaan soos dieselfde-geslag-verbintenisse, kan die term man-vrou ook uitgebrei word na ons-twee-saam-verbintenisse. Terme in die boek soos man, vrou en huwelik in die tradisionele sin van die woord is ook van toepassing op ander verbintenisse met die aanspraak van permanente toewyding voor God.
Dié boek handel oor sowel verhoudingsverryking as huweliksverryking. Met “verryking” word hier bedoel die groei van jul verhouding, die optimale ontwikkeling van jul verhoudingspotensiaal en die tydige raaksien en uitskakeling van haakplekke en frustrerende probleme.
Pap wiel of opgeblaasde ballon?
In hierdie boek gaan ek uit van die standpunt dat elke ons-verhouding en huwelik ’n onontginde en onontwikkelde dimensie het en daarom met die nodige “werk” kan en behoort te verbeter. ’n Wiel wat pap geraak het, kan weer opgeblaas raak; ’n afgeblaasde ballon het weer “wind” nodig en kan groter groei.
Die ons-ruimte van liefdesintimiteit besit eintlik onbeperkte opblaas-moontlikhede en pare hoef nie bang te wees dit sal “bars” wanneer liefde sinvol gebruik word nie. ’n Verhouding kan verander. Namate mense verander, moet die verhouding ook dienooreenkomstig verander. Ek reken ook dat mense verander soos hul verhoudingsdinamika en behoeftes deur verskillende fases beweeg. Daarom is dit nodig om voortdurend aanpassings te maak om verstarring en agteruitgang te voorkom.
Eienaardige optelsom: 1 + 1 + 1 = 2
Verryking is nie net afhanklik van die eie potensiaal en begrensde vermoëns van elke persoon in die verhouding nie. In hierdie boek beteken verryking óók dat geloof in Christus en die Christelike verstaan van die liefde ’n moontlikheid in menseverhoudings vrystel wat versoening kan bewerkstellig en lewensvreugde in werking stel. Daarom is hierdie boek ’n poging om ’n Bybelse perspektief op die huwelik te gee sonder om mense se menslike behoeftes en rolverwagtinge uit die oog te verloor. Op hierdie wyse kan egpare vrygemaak word vir mekaar omdat hulle vry word vir God. Hier word gewerk met die voorveronderstelling dat geloof in die trou van God aan menseverhoudings ’n sinraamwerk verskaf wat kontinuïteit waarborg en ’n duursame lewensverbintenis tussen lewensmaats moontlik maak.
Pare wat die moeite doen om hierdie boek deur te werk, sal vind dat hulle ’n gesonde ons-verhouding ontwikkel en dat hulle samewerking verbeter. Hulle mag ontdek dat dit baie belangriker is om te sê: ek en jy, as myne en joune. Wie in die liefde met ’n myne-en-joune-benadering werk, is voortdurend besig om vir hom- of haarself ’n kleim in die verhouding af te steek; eintlik verkeer hulle in voortdurende kompetisie met mekaar. Op die ou end is so ’n paartjie net ingestel op selfbehoud en selfverdediging en dit loop uit op ’n geveg: ek wil wen sodat jy kan verloor. ’n Verhouding wat gewikkel is in so ’n wen-of-verloorstryd is by voorbaat gedoem.
As ek sê dat ’n verstandige of sinvolle permanente ons-verhouding of huwelik begin by die ontdekking van ’n ons-persoonlikheid, beteken dit nie dat lewensmaats ’n replika van mekaar moet wees nie. ’n ONS-persoonlikheid beoog ook nie ’n Siamese tweeling nie. Die ons-persoonlikheid in ’n liefdesverhouding tussen gelowiges werk wel met ’n driehoek: tussen man en vrou staan – nie ’n derde persoon nie, maar – Christus. Hierdie ons-faktor word as volg bereken:
ek + Christus + my maat = twee (maar één vlees!).
Drie is dus nodig om waarlik permanent één te word.
Raamwerk vir dié boek
Die boek is so saamgestel dat die eerste drie hoofstukke veral konsentreer op egpare se motivering om hul verhouding te verryk. Wanneer die wil ontbreek, sal geen kommunikasietegniek immers ’n doel dien nie. Nadat God se bedoeling met dit wat ons “huwelik” of “permanente saamwees” noem, aan die orde was, beweeg die boek na die individue self. Daarna kom ons by die sement van verhoudingstrou, naamlik die liefde. Vervolgens praat ons oor die verhouding self en veral oor belangrike aspekte soos kommunikasie, konflik, seksualiteit en groei. Die belangrikste temas in die boek is die volgende:
Verstaan wat die huwelik is en wees eerlik met mekaar: die nugterheid van die liefde – identifisering van knelpunte en onsekerhede: die wat-vraag.
Leer ken jouself en maak seker of jy troumateriaal is: die boumateriaal van die liefde – selfbeeld, liggaamsbeeld en volwassenheid.
Jul verhouding en huwelik kan werk: die avontuur en reisverhaal van die liefde – behoeftebepaling, rolverwagting en langtermyn motivering.
Sien die groter prentjie raak: die kunstige netwerk van die liefde – waarvoor is die huwelik ontwerp en wat is die huwelik bedoel om te wees?
Ontdek God se plan en ontwerp met jul ons-verhouding en huwelik, en gebruik jou geloof konstruktief: die verrassende nuwe begin van die liefde – oor versoening en vergifnis.
Wees lief vir mekaar deur telkens die geheim vir volhoubare huweliksvreugde te verklap: die mooi van die liefde – liefde, verliefdheid en maatskap.
Praat met mekaar en luister na mekaar: die taal van die liefde – dieptekommunikasie.
Gebruik verskille en botsings om te groei: die uitdaging van die liefde – konflikhantering en heling.
Leer om spanning betyds te hanteer: die uitlaatkleppe van die liefde – streshantering.
Geniet mekaar se liggame: die opwinding van die liefde – seksualiteit en die sakramentele (heilige) waarde van die manlike geslagsorgaan (penis) en vroulike geslagsorgaan (vagina).
Hou aan om te groei: die ontdekkingstog van die liefde – die proses van verryking en ontwikkeling.
Mag julle groot vreugde put uit die “liefdeswerk” wat voorlê en nooit klaarkry nie. Onthou: liefde kan vir altyd wees!
Daniël Louw