Читать книгу Liefde is vir altyd - Daniël Johannes Louw - Страница 21
ОглавлениеGedurende die embriostadium is die gebied van “my belang” en “jou belang” baie groot. Wanneer mense egter ontdek dat die liefde eintlik gerig moet wees op die belange van die ander party, kan die ons-persoonlikheid tydens die ontdekkingstadium begin groei. Huweliksmaats leer dan om al meer van mekaar se positiewe eienskappe raak te sien en openlik waardering daarvoor te toon. Hierna kan die aanvullingstadium volg, wanneer vennote in ’n volwasse verhouding hul huwelik begin gebruik as diensgeleentheid tot voordeel van die nood en behoeftes van die gesin, die gemeente en die groter gemeenskap.
Benader jou huwelik positief!
Om bogenoemde groei te bewerkstellig, is ’n warm en geborge huweliksklimaat noodsaaklik en dit word bewerkstellig wanneer ’n egpaar leer om mekaar positief te sien en te benader. Om hiermee te help, kan jy begin deur vir jou maat ’n brief te skryf. Die inhoud daarvan kan moontlik vier paragrawe bevat wat onderskeidelik met die volgende reëls kan begin:
LIEFDESBRIEF
Wat ek die meeste in jou waardeer, is dat jy …
Ek het jou lief omdat …
Ek het jou liefde nodig sodat ek kan …
Ek het jou besonder lief wanneer jy …
Ek beleef ons huwelik as …
Ek het jou lief sodat jy kan …
Nadat julle mekaar se liefdesbriewe deurgelees (en paslik daarop gereageer het!), kan dit met dié belangrike drie-dinge-oefening opgevolg word:
Die drie-dinge-huweliksoefening
(Dit sal beter werk as jy dié sake werklik neerskryf in ’n notaboek eerder as om net vlugtig daaroor te dink.)
1 Skryf drie dinge in jul verhouding neer waarvan jy baie hou.
2 Skryf drie dinge oor jul huwelik neer wat goed is, maar wat kan verbeter.
3 Skryf drie dinge neer wat jy kan doen om jul huwelik te laat groei en aangenaam te maak, maar wat jy wéét jy selde doen of heeltemal nalaat om te doen.
4 Skryf die drie belangrikste behoeftes van jou maat neer (soos jy dit sien).
Hierdie oefening was bedoel om julle meer positief na die huwelik te laat kyk. Daar bestaan geen huwelik wat nie sy pluspunte het nie. Dit kan wees dat een van jul foute in die verlede was dat julle byna uitsluitlik op knelpunte en probleme gekonsentreer het. Ek wil nie sê dat mense hul oë vir probleemareas moet sluit nie, maar julle moet eers daaraan aandag gee nádat julle (eers weer) deeglik bewus geraak het van die positiewe moontlikhede in jul verhouding.
Knelpunte in die huwelik
As ons nou ’n paar knelpunte in die huwelik gaan identifiseer, is die bedoeling juis dat dit julle moet help om van belangrike groei-areas bewus te raak en om mekaar beter te verstaan. Let wel! Die bedoeling is nié dat julle dit moet gebruik om mekaar aan te val of te beskuldig nie. Indien julle bewus raak van verskille en daaroor gesels, gee mekaar die geleentheid om oplossings voor te stel. Só groei mense nader aan mekaar.
Identifisering van knelpunte in die huwelik
Die onderstaande vraelys (skaal) beskryf knelpunte wat baie algemeen in huwelike voorkom. As julle sekere van dié probleme in jul huwelik herken, beteken dit nié dat julle ’n ongelukkige huwelik het nie. Talle van die knelpunte wat in dié lys genoem word, kom in gelukkige, goed aangepaste huwelike voor. Dit is egter belangrik om vas te stel in watter van die volgende sewe areas daar knelpunte voorkom: duik die meeste probleme op by probleemoplossing en besluitneming, by kinderopvoeding, by familiesake, in die area van persoonlike versorging en voorkoms, by geldbesteding, vriendskappe, of dalk by jul godsdienstige oortuigings?
Wanneer jy antwoorde verskaf, moet jy regtig eerlik wees en seker maak dat jy by elke item ’n antwoord verskaf. Sommige van die items sal moontlik nie op jou verhouding van toepassing wees nie. As julle byvoorbeeld geen kinders het nie, sal items 11-18 nie vir julle geld nie. Indien ’n bepaalde item nie van toepassing is nie, maak dan jou merk onder die rubriek: “Dit is nooit ’n probleem nie”. By die res moet jy telkens jou keuse aandui met ’n kruisie in die kolom A, B of C.
Onthou: man en vrou vul op aparte velle papier by elke nommer die antwoorde in (of op ’n fotostaat van die vraelys), dan die subtotale van elke afdeling se C-kruisies, en uiteindelik word dié subtotale saamgetel om die algehele totaal van C-antwoorde te bereken. Hierna word die man en vrou se onderskeidelike subtotale van C-kruisies apart op die telkaart ingevul, waarna julle eers jul subtotale vergelyk en dan die ingevulde vraelyste omruil om te bespreek wat julle as verskillende of ooreenstemmende knelpunte geïdentifiseer het.
Identifiseer moontlike knelpunte
A = Dit is nooit ’n probleem nie
B = Dit is ietwat van ’n probleem; of skep by geleentheid of in sekere omstandighede probleme
C = Dit is ’n ernstige probleem of skep eintlik voortdurend probleme
Items | Antwoorde | ||
---|---|---|---|
A | B | C | |
1. Jy voel dat jy altyd vir jou maat moet toegee. | |||
2. Jy voel dat jy deur jou maat bedreig word. Jy word versmoor deur sy of haar teenwoordigheid/persoonlikheid en kan dus nie individueel groei tot selfstandigheid nie. | |||
3. Julle het verskillende ideale vir jul huwelik en elkeen wil iets anders met die huwelik bereik. Julle kom dus nie by mekaar uit nie. | |||
4. Jou maat demp alle persoonlike inisiatief en voorkom dat jy dinge doen wat van jou ’n gelukkiger en meer tevrede persoon sou kon maak. | |||
5. Jy voel dikwels dat jy nie verstaan waarom jou maat ontsteld of ontwrig voel nie. | |||
6. Julle twee kan nie verskille op ’n kalm manier uit die weg ruim nie. Bespreking loop gou op ’n argument en ’n twisgesprek uit. | |||
7. Daar is sluimerende haakplekke in jul huwelik waarvan jy bewus is sonder dat julle daarin slaag om dit op te los of selfs in diepte daaroor te gesels. | |||
8. Daar is dikwels argumente in jul huwelik sonder dat julle kan vasstel wat die werklike kernprobleem of oorsaak is. | |||
9. Klein verskille ontaard maklik in ’n hewige krisis. | |||
10. In plaas daarvan dat julle saamwerk om ’n gemeenskaplike doel te bereik, werk julle dikwels teen mekaar en dwarsboom mekaar. | |||
SUBTOTAAL (Dui aan hoeveel kruisies verskyn in kolom C.) | |||
11. Julle verskil oor hoeveel en vir watter take die kinders verantwoordelik is in en om die huis. | |||
12. Julle verskil in jul opvoeding oor wat reg en verkeerd of wat goed en sleg is. | |||
13. Julle verskil oor die opvoeding van ’n kind(ers) uit ’n vorige huwelik. | |||
14. Julle verskil oor hoeveel en hoe dikwels ’n kind geprys en beloon moet word, veral wanneer die kind dit verdien. | |||
15. Julle verskil oor die metode en hoeveelheid tug, dissipline of straf wat julle moet toepas. | |||
16. Julle verskil oor hoe jul kinders hul vrye tyd mag bestee (bv. die bywoon van partytjies, kampe, sport, fliek, musiek, dans en disko’s). | |||
17. Julle verskil oor wat en hoeveel julle die kinders mag toelaat (bv. met verhoudings, kerkbywoning, gebruik van die motor). | |||
18. Julle bots dikwels voor die kinders oor sake rakende hul opvoeding. | |||
SUBTOTAAL (Dui aan hoeveel kruisies verskyn in kolom C.) | |||
19. ’n Familielid hanteer jul kinders op ’n wyse wat jul albei afkeur. | |||
20. Skoonouers meng in en skryf voor oor hoe julle jul huishouding en opvoeding moet hanteer. | |||
21. Julle het ’n familielid wat dinge doen wat die familie in die verleentheid bring of almal ontstig. | |||
22. Jou ouers hou nie van jou huweliksmaat nie. | |||
23. Jy en jou maat is baie afhanklik van jul ouers vir geldelike en emosionele steun. | |||
24. Jou maat kritiseer voortdurend jou familie en sien op hulle neer. | |||
25. ’n Familielid veroorsaak probleme deur ongevraagd raad te gee of jou en jou maat teen mekaar te probeer afspeel. | |||
SUBTOTAAL (Dui aan hoeveel kruisies verskyn in kolom C.) | |||
26. Julle verskil oor wie wat in en om die huis behoort te doen. | |||
27. Jou maat maak voortdurend negatiewe opmerkings oor jou kleredrag, byvoorbeeld dat jou klere slordig is of van swak smaak getuig. | |||
28. Jou maat maak voortdurend beswaar teen sekere fisieke aspekte, byvoorbeeld jou gewig, hare, liggaamsbou. | |||
29. Jou persoonlike higiëne en netheid dra nie die goedkeuring van jou maat weg nie. | |||
30. Jou maat het irriterende gewoontes wat ekstra werk of ongerief veroorsaak: gooi byvoorbeeld vuil klere op die vloer, het nooit geld nie, rook in jul slaapkamer. | |||
31. Julle verskil oor hoe en waar jul gaan vakansie hou. | |||
SUBTOTAAL (Dui aan hoeveel kruisies verskyn in kolom C.) | |||
32. Jy of jou maat bestee geld sonder om eers die ander een te raadpleeg. | |||
33. Julle verskil oor die maandelikse begroting: hoeveel julle moet spaar en hoeveel julle kan bestee. | |||
34. Jy voel jou maat bestee te veel geld op onnodige dinge terwyl ander belangrike sake agterweë bly. | |||
35. Julle leef bo jul vermoë en maak heelwat skuld. | |||
36. Julle bestee te veel geld aan materiële dinge (koop byvoorbeeld luukses soos ’n CD-speler/kleurtelevisie/rekenaar/videomasjien) en te min aan noodleniging en geestelike werk. | |||
37. Jou maat voel jy bestee te veel geld aan onnodige sake en te min aan noodsaaklike dinge. | |||
SUBTOTAAL (Dui aan hoeveel kruisies verskyn in kolom C.) | |||
38. Albei van julle voel onbevredig ten opsigte van die tipe toenadering tussen julle wanneer julle by ander mense is (byvoorbeeld hande vashou, soen, strelende aanraking). | |||
39. Albei van julle voel ontevrede oor die hoeveelheid fisieke toenadering en ander liefdesuitinge wat in die openbaar gewys word. | |||
40. Jy of jou maat het ’n flirtasie met of troetel ’n geheime hunkering na ’n ander persoon of ’n ou liefde. | |||
41. Jou maat maak beswaar teen jou vriende van dieselfde geslag. | |||
42. Die vrou voel die man stel nie belang in dit wat gedurende die dag met haar gebeur nie, en omgekeerd. | |||
43. Die vrou voel die man deel nie inligting en probleme by sy werk met haar nie, en omgekeerd. | |||
SUBTOTAAL (Dui aan hoeveel kruisies verskyn in kolom C.) | |||
44. Julle bots oor belangrike godsdienstige kwessies, soos die doop, kerkverband. | |||
45. Julle gaan nie saam kerk toe nie. | |||
46. Julle kan nie saam stiltetyd hou en bid nie. | |||
47. Jou maat verkleineer jou godsdienstige oortuigings. | |||
48. Jou maat beskuldig jou van onverskilligheid teenoor godsdiens. | |||
SUBTOTAAL (Dui aan hoeveel kruisies verskyn in kolom C.) | |||
ALGEHELE TOTAAL VAN KOLOM C: |
Onthou: as julle nie uiteindelik bogenoemde vrae en julle antwoorde gaan bespreek nie, gaan die hele oefening nie juis ’n doel dien nie!
Telkaart – Skaal vir identifisering van huweliksknelpunte
Subtotale | Man se telling | Vrou se telling | |
1. | Probleemoplossing en besluitneming (1-10) | ________ | ________ |
2. | Kinderopvoeding (11-18) | ________ | ________ |
3. | Familie (19-25) | ________ | ________ |
4. | Persoonlike versorging en voorkoms (26-31) | ________ | ________ |
5. | Geldbesteding (32-37) | ________ | ________ |
6. | Vriendskappe en toenadering (38-43) | ________ | ________ |
7. | Godsdiens (44-48) | ________ | ________ |
’n Egpaar met ’n goed funksionerende huwelik teken ongeveer 13 tot 16 items aan as ernstige wrywingspunte (kolom C). Egpare met ’n swak funksionerende huwelik wat binne die gevaarsone van die N.T.-lyn verkeer, dui ongeveer 34-36 items as problematies aan.
Noudat julle vasgestel het wat die stand van jul huwelik is, moet julle besluit hoe julle dit gaan hanteer. Soek saam oplossings vir knelpunte, moet dit nie gebruik om mekaar aan te val nie. Beskou probleemgebiede as terreine van groei, nie as rede vir verdere vervreemding nie.
Die gehalte van jul huweliksverhouding
Die kern van ’n huwelik is nie die huis waarin julle woon, jul kinders se prestasies of jul status in die gemeenskap nie, maar die verhouding tussen jou en jou huweliksmaat. ’n Huwelik groei wanneer die verhouding groei, en andersom. Daarom is alle huweliksprobleme basies verhoudingsprobleme. ’n Verhouding word opgebou uit gesindhede, behoeftes, rolverwagtinge, kommunikasie, gewoontes, take, geslagsgemeenskap, interaksie, verbintenisse, waardes en geloofsoortuigings. Dit is belangrik dat huweliksmaats van tyd tot tyd hierdie sake met mekaar sal bespreek.
Die doel van die volgende tabel is om jul oë oop te maak vir die werklikhede in jul verhouding. Dit is belangrik om te onthou dat die invul van so ’n tabel nie vir jou presies kan sê hoe jul huweliksverhouding lyk nie. Dit wil jou net help om te probeer vasstel wat regtig elke dag in jul verhouding aangaan.
Die gehalte van jul huidige huweliksverhouding
Dink na oor elke stelling. Wees baie eerlik. Omkring die syfer wat volgens jou oordeel ’n korrekte weergawe van jul huidige huweliksverhouding is.
Die syfers het die volgende betekenis:
1 = Nee (nie op ons van toepassing nie)
2 = Ek twyfel (onseker)
3 = Soms wel (die stelling is gedeeltelik waar)
4 = Ons probeer (ons wend darem ’n poging aan)
5 = Ja, beslis (dit is wel op ons van toepassing)
1. Ons praat van tyd tot tyd oor ons verhouding en evalueer dit.
5 4 3 2 1
2. Ons pas goed by mekaar aan omdat ons met mekaar se moontlikhede werk en nie met mekaar se tekortkominge nie.
5 4 3 2 1
3. Ek aanvaar my maat onvoorwaardelik en volledig soos hy of sy is.
5 4 3 2 1
4. Ek is bereid om eerste te verander omdat ek graag onselfsugtig wil optree.
5 4 3 2 1
5. Ons het ’n gemeenskaplike doelwit in ons huwelik en is deur die jare gemotiveer om dit te bereik.
5 4 3 2 1
6. Ons besluit saam oor belangrike sake en volg ’n ons-benadering.
5 4 3 2 1
7. As my maat my teleurstel, sê ek dit sonder om hom of haar te verkleineer.
5 4 3 2 1
8. Ons stem saam oor wat ons uiteindelik met ons verhouding wil bereik.
5 4 3 2 1
9. Ons doen baie dinge saam, gaan gereeld uit en gesels lekker as ons alleen is.
5 4 3 2 1
10. Ons beoefen ’n gemeenskaplike stokperdjie en stel belang in dieselfde dinge.
5 4 3 2 1
11. Ons stem saam oor die hantering van geldsake.
5 4 3 2 1
12. As ons tydens konflik van mekaar verskil, bly ons nie stil nie, maar soek langs die weg van samewerking ’n oplossing wat albei pas, sonder om mekaar te beskuldig.
5 4 3 2 1
13. Ons soen en liefkoos mekaar graag. Ons put baie vreugde uit geslagsgemeenskap. Dit kom spontaan.
5 4 3 2 1
14. Ons lees dikwels saam opbouende lektuur soos byvoorbeeld uit die Bybel en ons bid saam.
5 4 3 2 1
OPDRAG 1: Bepaal jul telling!
Tel nou die syferwaardes wat elkeen omkring het bymekaar. Kyk eers na jou eie totaal. Hoe het julle gevaar?
Tussen 56-70? Julle is van mening dat jul huweliksverhouding baie goed is. Julle handhaaf ’n groeikoers van minstens 80%. Jul huwelik besit al die basiese eienskappe vir groei tot ’n volwasse huwelik. Daar is ’n stewige verhoudingsfondament waarop voortgebou kan word.
Tussen 35-56? Jul huwelik is middelmatig. Daar heers ’n neutrale toestand sonder veel opwinding. Julle handhaaf ’n roetine van 50%-bevrediging. Maak jul eerste uitdaging ’n 55%-huwelik. En stoot die syfer gedurig op! Hierdie boek kan jou help om uit te breek uit ’n sieldodende roetinegang.
Minder as 35? Jul huwelik lê baie na aan die minimum van die N.T.-lyn. Daar is gevaartekens wat nie geïgnoreer behoort te word nie. Gee ernstig aandag aan elke afdeling van hierdie boek. As julle vind dat julle nie meer self die saak kan beredder nie, soek asseblief betyds professionele hulp. Jul predikant sal kan help, of kan julle verwys na ’n huweliksberader, maatskaplike werker of kliniese sielkundige.
OPDRAG 2: Bepaal die verskil
Kyk nou na die verskil tussen jou totaal en dié van jou maat. Hoeveel beloop dit?
0-5 punte? Julle besit albei goeie insig in die gehalte van jul huwelik. Julle verstaan mekaar. Moet nou nie selftevrede oor jul verhouding voel nie. Dit is steeds nodig om knelpunte te identifiseer en daaraan te werk. Gebruik die goeie eienskappe om die gebreke uit te skakel.
6-15 punte? Moenie sleg voel oor die verskil in syferwaardes nie. Dit toon net aan dat jul beoordeling van die stand van jul huwelik redelik verskil. Die vraag is: waarom? (Kan julle dit verklaar? Gesels daaroor.) As julle hierdie boek saam deurwerk, kan dit julle help om beter insig in mekaar se denke, motiewe, gevoelens, oortuigings en gedrag te kry. Mense wat mekaar begryp, kommunikeer beter – ook oor probleme.
Meer as 15 punte? Daar bestaan ’n beduidende verskil van mening oor die gehalte van jul huwelik. Dit is moontlik dat julle die stellings verskillend geïnterpreteer het, of dat een van julle nie genoegsaam erns gemaak het met die invul van die antwoorde nie. ’n Groot verskil is gelukkig nie ’n onoorbrugbare verskil nie. Die insig wat julle kan bekom as julle ’n dieptegesprek oor al dié aspekte sou voer, kan jul help om te groei en te verander.
’n Balansstaat van die huwelik
Hier aan die einde van die hoofstuk is dit belangrik om ’n globale evaluering van jul huwelik te maak. Julle het kans gehad om na die positiewe moontlikhede in jul verhouding te kyk. Julle het ook die geleentheid gehad om eerlik na die gehalte van jul verhouding te kyk. Sekere belangrike haakplekke is geïdentifiseer.
Doen nou die moeite om kortliks ’n balansstaat soos dié hieronder ten opsigte van jul huwelik op te stel. Skryf die minuspunte (remmende faktore) teenoor die pluspunte (positiewe moontlikhede) neer. Waar lê die oorwig? Gaan dit goed in dié huwelik? Nie so goed nie?
Minuspunte | Pluspunte |
In myself … | In myself … |
In ons verhouding … | In ons verhouding … |
In ons liefde vir mekaar … | In ons liefde vir mekaar … |
In ons omgewing … | In ons omgewing … |
In ons binding aan mekaar | In ons binding aan mekaar |
Voor God … | Voor God … |
Wat is jul gevolgtrekking?
Indien daar net een pluspunt in jul verhouding en talle minuspunte is, kan julle besluit dat dit nie die moeite werd is om verder aan die huwelik te werk nie.
Die vraag is egter of so ’n besluit deur verantwoordelike, gelowige mense geneem behoort te word? Al is daar selfs nie eens één pluspunt wat julle kan opnoem nie, maar julle is oortuig van God se onvoorwaardelike liefde vir julle albei, is daar hoop vir groei. God werk in sy genade in elk geval uitsluitlik met minuspunte. Toe daar geen rede was om vir jou as sondaar lief te wees nie (toe jy op die absolute nulpunt van verdienste gestaan het weens jou sonde en jy totaal magteloos gevoel het), het Christus vir jou verlossing aangebied. Romeine 5:6 sê dit duidelik: “Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe.” Die guns van God se genade word geleer by die nulpunt, ja, die minuspunt van jou eie hulpeloosheid.
Wanneer die balansstaat van jul verhouding jou moedeloos maak, skep moed. Dié verhouding of huwelik kán uitwerk, maar dan moet jy bereid wees om jou nulpunt in te ruil vir die Kruispunt: die guns van God se genadige liefde en vergifnis. Aanvaar Christus se verlossende genade ook vir jul huwelik en begin dan daaraan werk om die kuns van onvoorwaardelike liefde vir jou lewensmaat te bemeester.