Читать книгу Liefde is vir altyd - Daniël Johannes Louw - Страница 9
ОглавлениеElke huweliksverhouding bestaan uit twee pole:
(a) Daar is die behoeftepool,. Die behoeftepool kan ook die omdat-pool van die verhouding genoem word. Omdat ons mekaar liefhet en van mekaar hou; omdat ons aangetrokke tot mekaar voel …
Die behoeftepool werk soos vonk in sjampanje en soos rek in kougom. Konstruktiewe behoeftes en sinvolle behoeftevervulling saam met realistiese verhoudingsverwagtinge skep ’n ruimte van omgee vir mekaar. Wanneer iemand aanvaar en begryp voel in ’n verhouding, skep dit ’n gesindheid van deel (sharing) en behoort aan. Dit dra by tot ’n houding van plooibaarheid. Dit verskaf soepelheid wat nodig is vir opofferings en begrip vir mekaar. Die behoeftepool word verder onder andere bepaal deur elkeen se rolverwagtinge en ideale vir mekaar. Hierdie pool is herkenbaar aan uitdrukkings soos die volgende: Ek verkies dat jy …, Ek hou daarvan as jy …, Ek wil hê dat jy …, Ek verwag van jou …, Ek voel in jou teenwoordigheid …, Dit is vir my lekker en aangenaam as jy …, Ek wil graag vir jou …
(b) Dan is daar ook die saakpool. Die saakpool kan ook die sodat-pool van die huwelik genoem word. Sodat ons twee saam die volgende deur ons verhouding kan bereik … Sodat ons mekaar kan liefhê. Of, soos in die geval van gelowiges: sodat ons God in en deur ons verhouding kan verheerlik; sodat ons ander mense se lewens kan verryk en na ander se nood en behoeftes kan uitreik.
Die saakpool werk soos ’n anker, boei en kompas. Dit bind vas, red en gee koers en rigting aan die verhouding. Benewens die feit dat sekere behoeftes in ’n huwelik vervul word, is die Christelike huwelik ook ’n objektiewe, etiese saak. Die saakpool van die huwelik hou verband met die vrae: Wat is liefde en hoe behoort ’n mens in die huwelik op te tree? Wat is huweliksmaats se verantwoordelikheid teenoor mekaar? En as julle werklik toegewy is aan God, duik die vraag op: wat is God se wil vir die huwelik?
So sê die Bybel byvoorbeeld dat die Christelike huwelik onverbreekbaar is (Matt 19:6), en dat huweliksmaats wederkerig aan mekaar onderdanig/diensbaar moet wees uit eerbied vir Christus (Ef 5:21). Christene weet dat die huwelik nie net van “binne-faktore” afhanklik is, byvoorbeeld die willekeurigheid van emosies en die wisselvalligheid van seks nie. Daar is ook ’n “buite-faktor” ter sprake. Van “buite af” word ’n mens vasgehou deur die troue liefde van die Here; van “buite af” word ’n mens aangespoor: hê mekaar lief soos Christus. Daarom is ’n huweliksluiting tussen twee gelowiges eintlik ’n verbondskontrak wat bindend vir albei is solank hulle lewe.
Die saakpool is nou gekoppel aan die kerk. Die Bybel gebruik vir die kerk die beeld van die liggaam van Christus. Wat dus vir die liggaam van Christus geld, geld ook vir alle menseverhoudings. So byvoorbeeld sê Paulus in Kolossense 3:14: “Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat tot julle tot volmaakte eenheid saambind.” Die mekaar-tekste in die Bybel is ’n aanduiding van die verlossingsfeit: Christus het met my plekke omgeruil en in my plek gesterwe. Die vir-mekaar is nou op tussen-menslike vlak die neerslag van die heilsfeit: Christus het my verander en my met God versoen. Alle menseverhoudings, veral binne die gemeenskap van gelowiges, moet op hierdie model geskoei wees. Daarom dat mens kan sê dat die huwelik soos ’n mini-gemeente werk: ons doen aan mekaar en leef saam met mekaar op die beginsel van die versoeningsmodel. Ons is dus bereid om gereeld plekke met mekaar om te ruil; ruimte vir mekaar te maak; mekaar onvoorwaardelik te aanvaar en te vergeef. Met verwysing na Kolossense 3:15 kan ’n mens sê dat die huwelik ’n roeping is. Hierdie roeping tot die huwelik beteken om in vrede met mekaar saam te lewe en dankbaar vir mekaar te wees. “Wees altyd dankbaar.”
Die huwelik is inderdaad ’n kuns van die liefde en ’n guns van Gods genade.
Huweliksmaats wat besef dat die saakpool van die huwelik rigting moet gee aan die huweliksverhouding, is daarop bedag dat behoeftes en emosies nooit voorskriftelik en voorwaardelik kan wees vir die duursaamheid van die huwelik nie.
Dit is nou duidelik waarom die N.T.-lyn ’n gevaarsone vir die minimum huwelik is. As een party op dié punt sou besluit om die saakpool prys te gee, sou die norm, waarde en etiese betekenis van die huwelik daarmee saam verlore gaan. En wie so ver gekom het, het eintlik klaar boedel oorgegee. Dan het jy die huwelik bankrot verklaar en soek jy nou na ’n beter alternatief. Opsies soos onttrekking aan die verhouding en selfs egskeiding kom by jou op. Jy voel gedemp, gekrenk, verneder en minderwaardig in jou huwelik. As jy nou nee sê, is dit nie net nee vir jou maat nie, maar nee vir die huwelik self. Jy begin jou posisie as so onuitstaanbaar ervaar dat jy besluit om uit die huwelik weg te breek. Niemand en niks kan jou dan nog oortuig om te verander of terug te keer nie. Om op hiérdie punt aan die huwelik self te probeer werk, is by voorbaat tot mislukking gedoem.
Hoe kan jy voorkom dat jou huwelik deur die N.T.-lyn breek en die afdraande pad na algehele verbrokkeling en skeiding inslaan? Wat is ’n groeiende en volwasse huwelik? Hoe gemaak om te verhoed dat teleurstelling plek maak vir openlike weerstand en vyandigheid? Wees ’n slag eerlik met mekaar! Kyk met oop oë na jul huwelik en probeer die vraag beantwoord: wat is die huwelik? Miskien moet ek die vraag meer spesifiek maak: wat is ’n volwasse huwelik?
Wat is die huwelik?
Hoe lyk die prentjie van die huwelik? Wat is die karaktertrekke van dit wat ons ’n volwasse huwelik noem?
Die eerste wat ons van die huwelik kan sê, is dat dit ’n lewenslange proses is. Dit werk nie soos ’n skakelaar wat op ’n Saterdagmiddag aangeskakel word in die kerk of ’n landdroskantoor nie. Dit lyk soos ’n “sirkel” – jy weet nie waar en wanneer dit begin nie. Netso weet jy ook nie wanneer en waar dit eindig nie. ’n Ring het geen einde en geen begin nie.
Die tweede wat ons kan sê, is dat die huwelik permanent is. Dit is duursaam en vertoon die karaktertrek van ’n verbond; dit wil sê dit is ’n ooreenkoms wat vir Christene gekoppel is aan die duursaamheid van God se trou. God se verbondstrou lui: Ek sal vir jou ’n God wees; Ek sal jou nooit in die steek laat nie.
Die derde eienskap van die huwelik is dat twee individue ’n ons-ruimte (maatskap) betree waarin hulle mekaar verryk, bemagtig en ondersteun; met ander woorde hulle is nie net maar bevriend nie. Hulle word lewensmaats vir mekaar.
Die vierde eienskap is dat hulle liefde ’n binding van intimiteit skep. Met intimiteit word bedoel dat twee mense vir mekaar sê: “Ek aanvaar jou onvoorwaardelik vir wie jy is sonder dat jy ooit die angs vir verwerping mag hê, want verwerpingsangs vernietig die wese van die huwelik.” ’n Mens kan net menswaardig in ’n verhouding leef as jy onvoorwaardelik aanvaar word vir wie jy is sonder die angs vir verwerping. Die volwasse huwelik is ’n menswaardige huwelik wat bepaal word deur die kwaliteit van ’n lewenslange verbondenheid.
Die vyfde eienskap is dat mense in die huwelik mense vir mekaar gelykwaardige vennote word – buitekant die magspel om van bo en onder, belangrik en onbelangrik, man (baas) en vrou (slaaf). Albei is gelykwaardige vennote alhoewel hul nie gelyksoortige vennote is nie. As individue is elkeen andersoortig. Ook as man en vrou. Mans is wesenlik anders as vroue, en omgekeerd. Ons is fisiek, biologies en emosioneel andersoortig. Ook as gevolg van kultuurfaktore. Die feit is: twee mense is nie eenders nie. Die huwelik is nie bedoel vir ’n Siamese tweeling nie!
Konstitutiewe faktore (dit wat die huwelik kan maak of breek)
Met konstitutiewe faktore word bedoel daardie faktore wat daartoe bydra om die liefdesverhouding vas, onverbreekbaar en permanent te maak. Dit gee aan die lewensproses van die huwelik die karaktertrek van huwelikstrou en daarom die aanspraak: ons is nou met mekaar getroud.
Die volgende faktore maak ’n huwelik: dit wat ons noem die band van volmaaktheid.
1 Die sakramentele geloofsfaktor – Mense glo hulle is getroud. Dit beteken dat hulle die huwelik sien as ’n ruimte waarin hul houding, kommunikasie, gesprekke, woorde, taal, seksualiteit, seks, geslagsgemeenskap, liefkosing, liggaam en genitalieë almal as instrumente gesien word om God se genade en versoening ’n werklikheid te maak. Ons liggame word demonstrasiemateriaal van God se trou en liefde soos vergestalt in Christus. Ja, ons liggame word selfs tempels van die Heilige Gees genoem. Elke element van die huwelik is heilig. Ook die penis van die man en die vagina van die vrou; hulle is kanale van lewensvervulling en genadige lewensverryking en nie bloot fisiologiese anatomie vir penetrasie en klimaks nie. Die gewydheid van huwelikstrou verander huwelikskommunikasie in die spiritualiteit van heilige liefkosing, heilige geslagsgemeenskap en heilige taal. Alle vorms van menslike artikulasie vertaal en verwoord genade en goddelike, onvoorwaardelike liefde.
2 Die openbare faktor van bekendmaking en sosiale erkennings (openbare sanksie) – Dit is ’n mite van veramerikaanste demokrasie dat die huwelik privaat en ’n individuele saak is. Die verbintenis is wesenlik publiek. Ander mense is ook betrokke. Daar is ouers en familie, vriende en kollegas. Op ’n indirekte wyse het hulle almal ’n “sê” in die besluitnemingsproses van die huwelik. Die huwelik is nie ’n romantiese Robinson Crusoe-kuiertjie en eiland-uitstappie nie. Wat twee mense privaat doen, het onmiddellik sosiale implikasies. Ook die moontlike kinders wat uit so ’n verhouding kan voortspruit, het die reg op sosiale en openbare erkenning. Die huwelik is ontwerp om menswaardigheid te beskerm. Vir daardie beskerming is openbare sanksie ’n moet. Die openbare sanksie verander die individualiteit van keuse-maak en deelnemende besluitneming in die spiritualiteit van kommunaliteit: ons behoort aan ander en die Ander.
3 Die faktor van saamwees: samesyn – Nog ’n mite is dat mense bloot saamwoon of saamleef. Dit wat in saamwoon geskep word, is saamwees. Twee mense besluit om hul wese, hul “siel” aan mekaar toe te vertrou. Julle is wesenlik aan mekaar verbind en beoefen daagliks samesyn. En samesyn behels meer as bloot die kommunikasie van woorde. Dit verwys na die kommunikasie van deelnemende uitruiling van dit wat elkeen onder die sin van lewe verstaan. Samesyn is ’n vorm van singewing en sinneming in die lewe. Sonder ’n sinraamwerk verval die verhouding tot ’n toevallige ontmoeting en ’n tref-en-trap-oorlewingstryd. Die verhouding word ’n eksperiment wat opgeskort word deur die reserwe: as jy nie … dan gaan ek ook nie verder nie … So ’n reserwe verander die huwelik in die konkubinaat van saamkopulering. Buite die toeval om is daar min waarborg. Ons kernprobleem is natuurlik dat enige vorm van samesyn van binne-af uit bedreig word deur die werklikheid van verganklikheid, emosionele slytasie en die dood. Samesyn is ontwerp vir voorspoed en teëspoed, rykdom en armoede, lewe en dood: ons is aan mekaar gebind as verskansing teen die teleurstelling van emosionele verwerping. Te maklik sê mense vir mekaar “nee” wanneer hulle emosioneel verslyt en formuleer dan die boodskap, naamlik dat: dit nie uitwerk nie, dit werk nie meer vir my nie. Die sinraamwerk van samesyn verander die saamwees tot die koinonia van saam gemeenskaplik deel hê aan gedeelde geloofsoortuigings. In die geval van die Christelike verstaan: die beginsel van genade, versoening en vergifnis. Wedersydse gemeenskap met mekaar is dan gekoppel aan wat ’n mens kan noem die spiritualiteit van huweliks-koinonia (geestelike fellowship).
4 Die faktor van ’n wetlike binding: ’n juridiese kontrak – Enige samelewing word deur middel van wette en reëls georden. Die huwelik beteken dat mense binne ’n kultuurpatroon lewe waarin daar wetlike ordeninge bestaan om mense teen hulself en hul verraderlike wisselvalligheid te beskerm. Die juridiese dimensie van die huwelik het wesenlik te doen met die verskansing van menswaardigheid. Die huwelik is die geborgenheid van ’n ruimte wat ekstern deur ’n staat en kultuurkonvensie beskerm word ten einde menswaardigheid en menseregte te beskerm. Partye wat in ’n huweliksverbintenis staan, het die reg om menswaardig en gelykwaardig behandel te word. Die juridiese komponent beskerm mense teen uitbuiting, onreg en onbillike diskriminasie. Die wet tot huwelike wil verantwoordelike besluitneming koppel aan billikheid en regverdigheid. ’n Juridiese binding verruim verantwoordelikheid tot ’n lewenslange spiritualiteit van toewyding.
Die volgende diagram verduidelik die voorafgaande in ’n prentjievorm. Wanneer ’n mens iets “sien”, verstaan jy dit beter. Om jou huwelik te verryk, moet ’n mens die groter prentjie sien. Kom ons noem dit die mooi prentjie van huweliksvreugde.