Читать книгу Liefde is vir altyd - Daniël Johannes Louw - Страница 7

Оглавление

Wanneer twee mense gaan trou, is daar duidelik twee moontlike lyne wat die verhoudinsgrafiek en liefdesdinamika kan volg:

 Die verhouding kan groei en opwaarts ontwikkel in die rigting van intimiteit. Met intimiteit word bedoel ’n gevoel van warmte, nabyheid en begrip; julle ontsluit spontaan in mekaar se teenwoordigheid en deel emosies en ervarings. Julle voel dat julle mekaar verstaan.

 Die verhouding kan ook ’n dalende lyn toon. Hierdie lyn van vervreemding toon aan dat daar weerstand teenoor mekaar aan die opbou is weens voortdurende konflik en vyandige gevoelens. Een of albei maats voel dat die ander party nie aan hul verwagtinge voldoen en nie hul behoeftes vervul nie. Die eerste virus wat dan intree, is dié van teleurstelling. Hierdie virus word binne die emosionele spens van maats weggebêre. Hulle praat nie daaroor nie en dink: as my maat my regtig liefgehad het sou hy of sy mos geweet het. Die onvervulde behoefte en teleurstelling as gevolg van verwagtings wat nie realiseer nie word nou die toetsterrein vir egte liefde. Wanneer die boodskap “hy of sy het my nie regtig lief nie” in die emosionele gedagtewêreld geformuleer word, word die eerste kiem geplant vir die emosionele verbrokkeling van die verhouding. As dit betyds geartikuleer kan word, kan baie gedoen word om ’n verstandhouding van begrip te bou en verhouding­slytasie te voorkom.

Soos iemand opgemerk het: “Ek het so ’n behoefte dat hy my net sal vashou voor ons gaan slaap.” Toe ek opmerk: “Maar het jy dit al vir hom gesê,” was die antwoord: “Ek sal beslis nie, want as hy my lief het, sou hy mos geweet het.” My raad was: “Sê dit vir hom.” Ná drie weke toe ek weer die persoon sien, was die antwoord: “Ek het hom dit gesê en dit is wonderlik, want hy het eenvoudig nie geweet nie.” Die probleem was toe nie ’n liefdesprobleem nie, maar doodeenvoudig ’n probleem van “sê” en duidelike artikulasie van behoeftes en verwagtinge.

Net tevrede? Die nulpunt

“Net tevrede” beteken eintlik daar gaan niks aan nie. Dit is ’n soort neutrale punt. Ons voel niks vir mekaar nie en oorleef daagliks. Die net-tevrede bottom line is die punt van indifferensie: verhoudingsonverskilligheid en liefdesafkoeling as gevolg van langtermyn­slytasie. Die boodskap word dan vertaal met die woorde: ons het eintlik niks vir mekaar te sê nie. Ek voel niks meer nie.

Die punt van “ook maar net tevrede wees” in jou verhouding is uiters gevaarlik. Hoekom? Omdat jy hier op die grens van die besluit staan: ek is nie meer lus vir dié huwelik nie. Ek het geen motivering om met die verhouding voort te gaan nie. Ek wil nie meer met my maat getroud wees nie.

Wat jy eintlik op dié gevaarpunt doen, is om te sê dat jy geen gemeenskaplike doel meer in jul verhouding ervaar nie. Daar is niks meer wat julle saambind nie. Jy het die “ontwerp” van liefde verloor. Jy gee trouens die saak van jul huwelik prys. Dit beteken jy besluit sommer ook dat God se bedoeling met die huwelik misluk het. Jóú gebrek aan motivering om die saak te probeer red, interpreteer jy dan maklik as: “Eintlik was dit nie God se wil dat ons getrou het nie. Hierdie huwelik is nie meer God se wil nie.” Wie so redeneer, het heimlik reeds besluit: dié huwelik kan maar ontbind word. Wat nou kan gebeur, is dat die verantwoordelikheid van die huwelik laat vaar word op grond van onvervulde behoeftes en emosionele frustrasies wat pla.

Hierdie N.T.-lyn is so gevaarlik omdat jy hier op die punt staan om die beginsel van duursaamheid en permanensie in te boet omdat jy jou eie posisie in die huwelik as onuitstaanbaar ervaar. In hierdie stadium kan negatiewe emosies – weerstand teen jou maat of die pyn van verwerping – die oorhand kry en die huwelik prysgegee word aan die verder verbrokkelende proses van vervreemding en afstand.

Wie op die N.T.-lyn van die huwelik staan, moet dus waak teen die gevaar om emosies normatief te maak vir die “sukses” van die verhouding self. Gevoelens is te wisselvallig om as betroubare maatstaf te dien. Om ’n verhouding te laat werk, hoef ’n mens nié noodwendig goed oor en geborge in die verhouding te voel nie. Nieteenstaande negatiewe emosies kan daar steeds bindende faktore wees wat die verhouding dra. Dit is hier waar die geloofsperspektief ’n motiverende rol kan speel en die huwelik steeds ’n bindende faktor bly. Veral as albei huweliksmaats besef dat emosies nie deurslaggewend is vir die sukses van die verhouding nie, maar wel geloof in die trou en liefde van God.

Dit mag wees dat jy op die N.T.-lyn van die huwelik staan en waardeloos en onaanvaarbaar voel, maar dit onthef jou nie van jou verantwoordelikheid teenoor die huwelik self nie. As gelowige moet jy steeds glo dat jou lewe op grond van die beloftes van God in Christus waardevol en kosbaar is. ’n Vrou wat verworpe voel in haar verhouding met haar man, kan hom steeds aanvaar en na hom uitreik – as sy glo dat haar huwelik ’n guns van Gods genade is. ’n Man wat bedreig voel deur sy vrou of gefrustreerd is in sy verwagtinge van die huwelik, kan haar steeds, ondanks haar negatiewe optrede en reaksies, in liefde onvoorwaardelik aanvaar – as hy glo dat hy deur God tot die huwelik geroep is. Op die N.T.-lyn van die huwelik is God se troue liefde die waarborgfaktor, onafhanklik van die vraag of jy so daaroor voel. Dit beteken nie dat God se liefde ’n soort strooisuiker oor onaanvaarbare houdings en liefdelose gedrag is nie. Geloof in hierdie opsig “bedek” nie alles nie, maar bring alles juis aan die lig. God se liefde werk egter soos ’n periskoop. Dit laat jou om die doodloopstraat van lustelose, ongemotiveerdheid en opgekropte emosies kyk met die vraag: watter moontlikhede is daar nog oop om die verhouding te laat werk? Hoe kan ek my houding en gesindheid verander? Dit versterk motivering wat dan nie negatiewe emosies en destruktiewe gedrag as die norm gebruik nie, maar wel verantwoordelikheid en konstruktiewe besluitneming.

As ’n mens toelaat dat onbevredigde emosionele behoeftes jou verstrik, begin jy voorwaardelik optree. Jy dink: ek sal verantwoordelikheid vir ons huwelik aanvaar, maar dan moet my maat eers my emosionele behoeftes vervul. Jy besluit om jou maat eers dop te hou om te sien of hy of sy aan jou verwagtinge en/of voorwaardes voldoen. Jy speel ’n kat-en-muis-speletjie: “As jy … dan sal ek.” Misluk jou maat dan in hierdie wag-en-kyk-speletjie, onttrek jy jou aan die verhouding. Wat is dit anders as ’n magspel? Besef jy dat jy, deur voorwaardes te stel, jou maat in ’n posisie plaas om nie daaraan te voldoen nie en dus dinge waaraan jy ’n behoefte het van jou te weerhou? Dié “mag” wat jy sodoende aan jou maat toeken, stel hom of haar in staat om jou te vernietig. In die proses raak julle opponente van mekaar en sluip gevoelens van angs, onsekerheid en verwerping die verhouding binne. Nou begin behoeftes so ’n belangrike rol in jul verhouding speel dat die saak van jul verantwoordelikheid teenoor die huwelik verlore gaan.

Die vraag duik nou op: maar gaan dit dan nie in die huwelik om die gevoel van liefde en die sensasie van “ai-dit-is-baie-lekker” nie? Liefde, hou van, verlief wees, omhelsing, liefkosing en seksualiteit moet tog immers aangenaam en lekker wees?

Die behoeftepool (omdat) en saakpool (sodat) van die huwelik

Dit wat ons “die huwelik” noem, behels meer as net lekker saamleef en hou van mekaar. Huwelikstrou en huweliksliefde is ten diepste ’n etiese daad van toewyding aan mekaar. Dit beteken: ek het vir my maat JA gesê en mag nooit weer NEE sê nie. Jy kan natuurlik nee sê as jy wil, maar jy behoort nie. Dit is die uitdaging van huwelikstrou. Verhoudingsvolhoubaarheid is direk afhanklik van die integriteit van trou sweer en die beginsel van “my woord is my eer”.

Die raamwerk vir dit wat ’n mens die spiritualiteit en Christelike karakter van die huwelik kan noem, beskryf wat bedoel word met verhoudingsvolhoubaarheid. Nes ’n nasionale pad ’n roetekaart het met heelwat bordjies om mense in te lig oor die roete sodat die roete sinvol voltooi kan word, besit die huwelik twee sulke roetebordjies: die sodat-rigting en die omdat-spoed. Die roetebordjies beskryf die twee pole van dit wat ’n mens ’n Christelike huwelik noem.

Liefde is vir altyd

Подняться наверх