Читать книгу Liefde is vir altyd - Daniël Johannes Louw - Страница 24
ОглавлениеDie netwerk van identiteitsdinamika bestaan basies uit twee polêre asse, naamlik die vertikale as en die horisontale as.
Die vertikale polariteit-as van identiteit: outonomie en doelwit (verantwoordelike besluitneming) – passie (sensitiewe toewyding en deernis)
Identiteit is gekoppel aan die pole van selfstandige doelgerigtheid aan die een kant en passievolle toewyding aan die ander kant. ’n Mens kan dit die vertikale lyn van bemagtiging noem. Selfstandige doelgerigtheid en passievolle toewyding bemagtig mense, en laat hulle met gefokusde en omlynde identiteit optree. Hulle weet wat hulle wil doen en hulle het hulself daartoe verbind. Identiteitsmense weet waarvoor hulle in die lewe staan.
Selfstandigheid (outonomie) en doelgerigtheid
Wat die vertikale komponent van identiteit betref (sien grafiese voorstelling) kan ’n mens sê dat identiteit aan die een kant te make het met selfvertroue, selfstandigheid en ’n eie verantwoordelikheidsin. ’n Mens leef dan doelgerig. Hierdie pool van identiteit laat ’n mens doelgedrewe lewe. Dit hang ook nou saam met die kwaliteit van keuses wat ’n mens maak en met normatiewe besluitneming. Identiteit, verantwoordelikheid en integriteit bepaal die graad van volwassenheid in selfinsig.
Passie en toewyding
Aan die ander kant gaan dit om die vraag: wat maak jou opgewonde oor die lewe? Met ander woorde, wat is jou passie in die lewe (die wysheidspool)? ’n Mens se passie is gewoonlik ’n aanduiding van insig en wysheid; dit vertel iets van jou lewenswaardes en norme. Wyse mense weet waaroor dit in die lewe gaan en leef vanuit ’n sinraamwerk. Hulle leef met patos, met ander woorde met deernis. Hierdie pool van identiteit laat ’n mens met sensitiwiteit, empatie en simpatie leef.
Die horisontale polariteite van identiteit: gesonde self-kritiek en differensiasie (wat maak my uniek?) – samesyn binne verbondenheid (die behoort-aan-faktor)
Identiteit is ’n daaglikse ervaringswerklikheid. Dit speel af binne die netwerk van menseverhoudings. Omdat dit nou gekoppel is aan ervaring, is identiteit ’n emosionele saak van hoe ’n mens jouself daagliks binne verhoudings ervaar. Dit is gekoppel aan hoe behoeftes gerealiseer word, die mate van ooreenstemming tussen verwagtinge en die werklikheid, die toepaslikheid van verskillende rolfunksies binne huweliksverband, gesinsverband, die vriendekring, werkverband en die ontspanningsmilieu. Almal vestig voortdurend ’n vorm van ervaringsidentiteit. Dergelike ervarings laat ’n mens krities na jouself kyk. Dit vertel ook meer van jouself binne verskillende sfere van samesyn; dit gee boodskappe deur van koppelinge en “ek behoort aan”.
Selfkritiek en differensiasie
Die een pool op die ervarings-as het te doen met wie ek is in onderskeiding van ander mense. Daarom dat differensiasie aan die een kant van die horisontale as belangrik is: wat maak my anders as ander mense, wat is my gawes en waar lê my tekortkominge? Selfkritiese insig en voortdurende gesonde introspeksie is deel van groei tot volwassenheid.
Selfaanvaarding binne samesyn en behoort
Identiteit word geslyp binne die saamwees met ander mense. Identiteit is ’n vormende proses en word dus bepaal deur die gehalte van interaksie met ander mense, dit wat ons gemeenskaplike samesyn noem. Die behoort-faktor, naamlik aan wie en aan wat ’n mens behoort, is belangrik vir identiteitsontwikkeling. Kennis van jouself is derhalwe verweef met kennis van ander mense. ’n Mens noem dit interspeksie: jy kyk na jouself deur die oë van die ander. Dit bring ’n mens by selfaanvaarding. Identiteit is konteksgebonde en word deur kultuur, taal, gebruike en gewoontes bepaal. Die “behoort” vertel iets van plek en konteks.
Die vier pole van selfstandigheid, selfaanvaarding, passievolle toewyding en selfkritiese differensiasie is in ’n wisselwerkende verband met mekaar geskakel. Hulle speel ’n deurslaggewende rol in daaglikse oriëntasie, naamlik in jou gesindheid en lewensingesteldheid. ’n Mens kan ook gesindheid en lewensingesteldheid die posisies van die menslike ek binne verhoudingsverband noem. Posisies behels meer as persoonlikheid en karaktertrekke. Posisies sê wie jy is terwyl jy praat, kommunikeer, werk en leef. Posisies kan beskryf word as die weesfunksie van menswees. Dit bepaal die gehalte van doen-funksies (aksie), weet-funksies (kennis) en voel-funksies (sensoriese en emosionele belewing).
Identiteit as posisionering
Dit behoort nou duidelik te wees dat identiteit ’n netwerk-aangeleentheid en ’n verhoudingsaak is. Binne die netwerke wat identiteit bepaal en wat ek hierbo bespreek het, kan ’n mens vyf posisies inneem.
Posisie A: Die doelwit- en taakgeoriënteerde posisie. Die lewe het vir jou ’n sinraamwerk (taak-posisie).
Posisie B: Jy waardeer die lewe in dankbaarheid. Liefde bepaal jou identiteit en jy reik graag in naastediens na ander mense uit (hart-posisie).
Posisie C: Jy ervaar die lewe aan die skadukant en voel verneuk. Jy is ’n tipe slagoffer en die lewe, ander mense en God skuld jou iets. Dit is die posisie van iemand met ’n swak selfbeeld (slagoffer- of drenkelingposisie).
Posisie D: Jy wil verantwoordelikhede ontduik en beweeg geluidloos soos ’n skim. Jy is daar, maar ook nie. Jy is aanwesig, maar eintlik afwesig. Dit is ’n posisie van ontkenning en selfsugtige isolasie. Jy leef net vir jouself. Dit is dus vir jou gerieflik om te onttrek en verskonings uit te dink dat iets of iemand anders belangriker is as jou basiese verpligtinge en verantwoordelikhede (afwesige skim-posisie).
Posisie E: Jy neem ’n neutrale posisie in. Jy tree onverskillig op en onderdruk alle emosies. Posisie E kan ook positief wees. Dit kan ’n aanduiding wees van tevredenheid en rustigheid of harmonie en vrede. In hierdie posisie wys jy selde jou ware kleur (ongeërgde posisie).
Binne verhoudings kan ’n mens dus doel- en taakgedrewe wees (’n doener), dankbaar-waarderend, weerloos-destruktief en broos, ontkennend-onttrekkend en heeltemal neutraal-ongeërg (niks pla jou of raak jou eintlik meer nie).
Dit is belangrik om hierdie prentjie van identiteitsposisies deeglik te bestudeer. Niemand is ooit net suiwer een posisie nie. Identiteit is ’n mengsel van almal en al die pole is altyd terselfdertyd ter sprake. Die posisies moet nie as of-of gesien word nie, maar as en-en met bepaalde tendense na ’n spesifieke kwadrant. Die tendense is óf na links, die skadukant van die verhoudingsdinamika, óf na regs, die ligkant van verhoudingsdinamika.
Beweeg jy meer na die skadukant of na die ligkant?