Читать книгу Orion - Деон Мейер - Страница 10
6
ОглавлениеDie aardbewing het my wakker gemaak, laat in die nag. Die diep, rollende donder uit die dieptes het die vensters laat bewe en die sinkdak van die mynhuis laat kraak. Ek het gehuil en my pa het kom troos, my in die donker in sy arms geneem en gesê dit is maar net die grond daar onder wat homself regskuif om gemakliker te lê.
Ek het reeds weer geslaap toe die telefoon ’n uur of wat later gelui het. Om hom weg te roep.
Die res van die gebeure is soos deur my ma aan my oorvertel, saamgeflanste brokkies uit die amptelike verklarings, die vertellinge van sy kollegas en haar eie verbeelding.
Hy was leier van een van die reddingspanne wat die veertien mans ’n kilometer onder die grond moes gaan uithaal nadat ’n tonnel in die laatnag ineengestort het.
Dit was warm en deurmekaar daar onder. Ander reddingspanne was al besig toe hulle daar aankom, diep in die skag afgesak in die ratelende, sidderende hysbak met hul grawe en pikke en noodhulptassies en bottels water. Niemand het die regulasie-hardehoed gedra nie, dit was net in die pad. Almal, swart en wit, het die oorpakke afgevou om kaalbolyf in die hitte te werk. Hul torso’s het geblink in die skerp elektriese kolligte wat hier helder skyn en daar sterk skadu gooi. Die swart mans se ritmiese gesing het die universele tempo verskaf waarteen almal gewerk het – die grawers, die grondverwyderaars, sy aan sy, die skerp skeidslyn wat gewoonlik daar onder tussen rasse en pligte getrek word skielik vergete. Want vier van die vasgekeerdes was wit en tien was swart.
Uur na uur in die ewige donker om ’n berg te verskuif.
Bo het die gesinslede van die wittes al begin vergader, wagtend op nuus, met die gewone steun van die gemeenskap, ook vriende en kollegas en familie van die reddingspanne, want ook hulle was nie veilig nie.
My ma het geskilder, in daardie ure, met Schubert se Lieder wat blikkerig op die radiogram draai, kalm.
Ek het niks geweet van die spanning van ’n hele dorp nie.
Net voor sy span sou opkom vir die einde van hul skof het hulle die dowwe noodkrete gehoor, moeë uitroepe van pyn en vrees en hy het hulle aangespoor, die dun punt van die wig wat stukkie vir stukkie die rots en klip en grond verskuif om ’n nou tonnel na die oorlewendes te dolwe, die ruskans skielik vergete in die adrenalien van ’n einde wat in sig is. Emile van Heerden heel voor, sy lenige lyf wat nou die fiksheid van ’n leeftyd tap om daar te kom.
Sy span het deurgebreek na die klein opening wat die vier oorlewendes met hul kaal hande, hul bloeiende vingers, gegrawe het,
Die nuus dat daar stemme was daar onder het vinnig die oppervlak bereik en die mense in die klein sportklubsaaltjie het hande geklap en gehuil.
Hy het die eerste drie self uitgetrek en hulle op die hout-en-seil-draagbare gelaai. Die vierde een was vasgeval tot by sy bors, ’n swart man met twee gebreekte bene wat die pyn met bomenslike inspanning onderdruk het, net die sweet wat uit hom pers en die bewing van sy liggaam. Emile van Heerden het krampagtig gegrawe, die grond om die man se bene nou met sy eie vingers beweeg, want ’n graaf was te groot en onhandig.
Toe skuif die aarde homself weer reg om gemakliker te lê. Hy was een van 24 wat hulle drie dae later uit die skag gebring het, in komberse toegedraai.
My ma het eers gehuil toe sy in die lykshuis die kombers oopgetrek en gesien het wat die drukking van ’n duisend ton grond aan haar man se lyf gedoen het.