Читать книгу Orion - Деон Мейер - Страница 20

14

Оглавление

Daar was altyd boeke in die huis. Dikwels skrywers en digters en lesers. Argumente, gesprekke – twee vroue het laat een Saterdagaand amper handgemeen geraak oor Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins, ’n voorlees en bespreking van Van Wyk Louw se “Die hond van God” het regdeur die nag aangehou tot Sondagmiddag ná ete.

Ek het nie van kleins af gelees nie. Daar was, dink ek, veel interessanter dinge om te doen. Soos my ma my groter vryhede toegelaat het, was daar die gewone skoolaktiwiteite en die meer informele seunspel (hoeveel bendes het ons nie gevorm nie), die Voortrekkers (!), visvang in die Vaalrivier se stroomversnellings (saam met oom Shorty de Jager van langsaan, lewende krieke, sonder sinker), die verkenning van Oosskag se vervalle mynhope, die ewige bou en herbou van Schalk Wagenaar se boomhuis …

Toe, die ontdekking van fotoverhale. Gunther Krause het Marc Condor gelees. Ruiter in swart. Don le Meer. Kaptein Duiwel. Met sy ouers se toestemming. (Sy ma het Kyk/See, Verdwaalde harte en Dr. Conrad Brand gelees en sy pa was nie veel by die huis nie.) Saterdagoggende het ek saam met hom gery na Don’s Book Exchange sodat hy vir hom en sy ma nuwe voorraad kan kry en dan is ons na sy huis toe om dit te gaan verslind. Tot in standerd agt, toe ek halfbelangstellend die Louis L’Amour in Don’s optel, na die vurige groen oë van die held op die voorblad kyk en lui-lui, niksvermoedend die eerste twee paragrawe lees en vir Logan Sackett ontmoet.

My ma het my ’n paar rand sakgeld per maand gegee. Die boek het 40 sent gekos. Ek het dit gekoop. En kon vir die volgende drie jaar nie genoeg kry nie.

My ma het my laat begaan. Miskien het sy gehoop dit sou oorgaan in die lees van ander, dieper werk. Sy het nie geweet dit sou aanleiding gee tot my eerste botsing met die Gereg nie.

Dit was nie L’Amour se skuld nie.

My ma het vir my en Gunther en nog ’n skoolvriend een vakansie-oggend in Klerksdorp gaan aflaai sodat ons in die dorp kon rondstap voor ons gaan fliek. Die CNA was in die hoofstraat, op twee vlakke – speelgoed en skryfbehoeftes onder, boeke bo, met die trap op. Ek was sekerlik al voorheen in die CNA, maar op daardie dag het ek hul ryke voorraad van Louis L’Amours ontdek, nuwe, ongeleesde boeke met spierwit bladsye – nie die verbleikte, effens vergeelde tweedehandse eksemplare van die Book Exchange nie. Boeke wat nuut rúik.

My hande het gebewe, dit kan ek onthou. Soveel ongeleesde titels, nuwe uitreikings van ou bekendes met nuwe, kleurvolle voorblaaie, ’n skatkis van ontsnappingsliteratuur, ’n Monomotapa van eerbare, onwrikbare helde.

Ek kan nie onthou hoeveel geld ek in my sak gehad het nie. Maar dit was te min. Te min vir fliek én ’n melkskommel én ’n L’Amour. Sekerlik genoeg vir net ’n boek, maar dan sou ek nie saam met Gunther-hulle kon gaan fliek het nie. Genoeg vir ’n fliek en ’n melkskommel, maar dan sou ek nie hierdie nuutgevonde oorvloed kon benut nie. En in ’n enkele oomblik van koorsige begeerte het ek my besluit geneem: om ’n boek te steel, is nie steel nie.

Ek het die grens tussen onskuld en skuld so maklik oorgesteek, so vinnig en onnadenkend. Die een oomblik ’n leser met vreugde gevul deur die verskeidenheid van nuwe keuses, die volgende oomblik ’n voornemende dief, met angstige blikke na ander om hom, soekend na ’n geleentheid.

Ek het twee boeke gevat en voor by my hemp ingedruk. En toe by die trappe afgestap, stadig, nonchalant, maag ingetrek om die bult weg te steek, effens vooroor vir bykomende kamoeflering, met ’n hart wat klop en hande wat sweet, al hoe nader aan die voordeur, die drumpel tot misdaad. Nader, nader, oor, sug van verligting. Tot sy my aan die arm trek en die woorde gebruik waarmee so baie Afrikaners ’n gesprek tussen vreemdelinge begin, daardie hoeksteen van ons volk se minderwaardigheidsvrese: “Verskoon my …”

Sy was vet en lelik en op die CNA-naamhouertjie teen haar magtige bors het Monica gestaan. Sy het my teruggetrek, die winkel in. “Haal uit daardie boeke,” het sy gesê.

Agterna het ek aan ’n duisend dinge gedink wat ek kon doen, wat ek kon sê: losruk, weghardloop. “Ek het net ’n grap gemaak.” “Watter boeke?” “Fok jou.” As ek haar gesig en haar houding van selfvoldaanheid onthou, het ek later jare dikwels daarna gesmag om “fok jou” te kon sê.

Ek het die boeke uitgehaal. My knieë was lam.

“Kry vir meneer Minnaar,” het sy vir die meisie by die kasregister gesê. En vir my: “Vandag sal jy ’n les geleer word.”

Die vrees en die vernedering was groot – en geduldig om wasdom te bereik. Die implikasies van my daad het hulself nie as ’n groep kom voorstel nie, maar as ’n lang ry van individuele, onwelkome, doelgerigte boodskappers. Lank voor meneer Minnaar, die man met die bleskop en die bril, iewers vanuit sy hokkie verskyn het, het ek hulle elkeen geken.

Ek het gehoor dat sy hom vertel hoe sy my bo gesien het, hoe sy gewag het dat ek by die deur uitgaan.

“Tsk, tsk, tsk,” het hy gesê en my met groot weersin aangekyk. En toe sy klaar was: “Bel die Polisie.”

Terwyl sy besig was, het hy weer snedig na my gekyk. “Julle sal ons rot en kaal steel.”

Julle. Met een sin was ek deel van ’n groep. Asof ek dit al voorheen gedoen het. Asof ek gereeld met ander misdadigers heul.

Ek dink ek was te bang om te huil. Toe die jong konstabel in die blou uniform inkom en ons in Minnaar se hokkie gaan sit en hy hulle verklaring afneem. Toe hy my aan die arm na die geel vangwa weglei. Toe hy my by die Polisiekantoor in die onderdorp, langs die Indiese winkelsentrum, weer uithaal en na die aanklagkantoor lei. Te bloedstollend bang.

Hy het my op ’n stoel laat sit en vir die sersant agter die toonbank gesê om ’n oog te hou. En minute later met ’n speurder teruggekom.

Hy was ’n groot man. Groot hande en dik wenkbroue en ’n neus wat al moeilikheid gesien het.

“Wat is jou naam?” het die groot man gevra.

“Zatopek, oom.”

“Kom saam met my, Zatopek.”

Ek het hom gevolg tot in sy kantoor, ’n vaal vertrek gevul met staatsdiensmeubels, waar stapels lêers en memorandums in netjiese hopies gerangskik was.

“Sit,” het hy gesê.

Hy het op die lessenaar se punt gaan sit, met die verklarings van die konstabel in sy hand.

“Hoe oud is jy?”

“Sestien, oom.”

“Waar bly jy?”

“Stilfontein, oom.”

“Standerd nege?”

“Ja, oom.” “Stilfontein Hoër?”

“Ja, oom.”

“Jy het boeke gesteel.”

“Ja, oom.”

“Louis L’Amours.”

“Ja, oom.”

“Hoeveel keer het jy al boeke gesteel?”

“Dit was die eerste keer, oom.”

“Wat het jy al voorheen gesteel?”

“Niks nie, oom.”

“Niks?”

“Ek … een keer, oom, ek het Gunther Krause se liniaal gesteel in die klas, oom, maar dit was meer ’n poets, oom, ’n grap. Ek sal dit vir hom teruggee, oom.”

“Hoekom het jy die boeke gesteel?”

“Dit was verkeerd, oom.”

“Ek weet dit was verkeerd. Ek wil weet hoekom.”

“Ek … oom, ek wou hulle so graag gehad het.” “Hoekom?”

“Want ek hou so van hulle, oom.”

“Het jy Flint gelees?”

“Ja, oom.” Ietwat verbaas.

“Kilkenny?”

“Ja, oom.”

“Lando?”

“Ja, oom.”

“Catlow?”

“Nog nie, oom.”

“Cherokee Trail?”

“Nee, oom.”

“The Empty Land?”

“Ja, oom.”

Hy het gesug en opgestaan en omgestap, agter sy groot lessenaar gaan sit.

“Het enige van die goeie ouens in enige L’Amour gesteel, Zatopek?”

“Nee, oom.”

“Wat dink jy sal jou pa doen, hoe sal hy voel as ek nou moet bel en sê sy seun is ’n dief?”

Hoop, ’n sprankie, ’n vonkie. “As ek” … nie “wanneer ek hom bel” nie. “My pa is dood, oom.”

“En jou ma?”

“My ma sal baie hartseer wees, oom.”

“Ek vermoed jy het ’n gawe vir die eufemisme, Zatopek. Jou ma sal gebroke wees. Het jy broers en susters?”

“Nee, oom.”

“Jy is die enigste wat sy het?”

“Ja, oom.”

“En nou steel jy.”

“Dit was verkeerd, oom.”

“Sê hy nou. Noudat dit te laat is. Waar is jou ma?”

Ek vertel hom van die fliekplanne en dat my ma ons sou kom haal het, vyfuur, ná die fliek.

Hy kyk vir my. Lank, en in stilte. Dan staan hy op. “Jy wag hier, Zatopek. Verstaan jy?”

“Ja, oom.”

Hy het uitgestap en die deur toegemaak. Ek was alleen, met my vrees en my vernedering en my grashalm van hoop.

Hy het ná ’n leeftyd teruggekom en weer op die lessenaar se punt gaan sit.

“Hier is ’n leë sel hier onder, Zatopek. Ek gaan jou nou daarin opsluit. Dit is ’n vuil plek. Dit stink. Daar is mense wat al daarin gekots en gepis en gekak en gebloei en gesweet het. Maar dit is die paradys in vergelyking met wat met diewe gebeur as hulle tronk toe gaan … Ek gaan jou in die sel sit, Zatopek. Sodat jy oor al dié dinge kan nadink. Ek wil hê jy moet probeer om vir jouself ’n prentjie te maak terwyl jy daar sit, van hoe dit sal wees om die res van jou lewe só te leef. Net erger. Tussen ander diewe en moordenaars en swendelaars en verkragters en al die skuim van die aarde. Manne wat jou keel sal afsny vir vyftig sent. Ouens wat sal dink so ’n jong man soos jy is net reg om te … om te … om te vry, as jy verstaan wat ek bedoel.”

Ek het nie mooi verstaan nie, maar ek het my kop geesdriftig geknik.

“Ek het nou met CNA op die telefoon gepraat. Hulle sê die mense steel vreeslik daar by hulle. Hulle wil hê ek moet ’n voorbeeld van jou maak. Hulle wil hê jy moet in die hof gaan staan, voor die landdros, met jou arme ma wat sit en huil oor jou, sodat almal kan sien dit help nie om by CNA te steel nie. Hulle wil hê die mense van die Klerksdorp Record moet kom skryf oor jou, sodat die jong aspirantdiewe van Suid-Afrika daardeur afgeskrik kan word. Verstaan jy dit?”

Ek het nie woorde gehad nie. Net my kop laat “ja” sê.

“Ek het met hulle gestry, Zatopek. Ek het vir hulle gesê ek dink dit is jou eerste keer, want ek is dom genoeg om jou te glo. Ek het mooigepraat, want ’n ou wat van Louis L’Amour hou, kan nie net sleg wees nie. Hulle het vir my gesê ek mors my tyd, want ’n man wat een keer steel, sal wéér steel. Maar ek het hulle omgepraat, Zatopek.”

“Oom?”

“Ons het ’n ooreenkoms bereik. Ek sluit jou toe tot halfvyf. Dit is jou vonnis, want jy is ’n skuldige klein bliksem. En dan vat ek jou Leba toe en jy sê vir jou ma dit was ’n mooi fliek, want om haar hart te breek, is nie reg nie. Dit is nie sy wat gesteel het nie.”

“Ja, oom.”

“En as jy ooit weer steel, Zatopek, dan kom haal ek jou en ek slaan jou gat so warm dat jy dit vir ewig net sal kan gebruik om ’n broek aan te hang. En ek sluit vir jou toe saam met ouens wat jou oogballe sal uitsuig voor hulle jou ander balle met ’n stomp mes uitsny net omdat hulle effens verveeld is. Verstaan jy dit?”

“Ja, oom.”

“Elke ou is geregtig op een kans in die lewe, Zatopek. Ons kry dit nie almal nie, maar ons verdien dit.”

“Ja, oom.”

“Gebruik joune.”

“Ja, oom.”

Hy staan op. “Kom.”

“Oom …”

“Wat?”

“Dankie, oom.” Toe huil ek sodat my hele lyf ruk en die groot man het sy groot arm om my gespan en my nader getrek en my vasgehou tot ek klaar gehuil het.

En toe gaan sluit hy my toe.

Orion

Подняться наверх