Читать книгу Orion - Деон Мейер - Страница 8

4

Оглавление

Die skildery van my pa het jare lank teen die muur voor hul bed gehang – die lenige myner met sy rooiblonde hare en gespierde bolyf teen die wintervaal Wes-Transvaalse koppie. Die skildery was ’n simbool van hul unieke ontmoeting, hul eiesoortige romanse, die liefde-met-die-eerste-oogopslag wat skynbaar meer dikwels in daardie jare gebeur het as nou.

Ek bied Emile en Joan se ontmoeting nie aan as ’n amusante voorspel nie, maar as een van die groot faktore wat my gemaak het wie ek is.

Ek sou, vir die grootste deel van my lewe, in die skaduwee van hul romantiek op soek wees na ’n oomblik waarin ek dieselfde plotselinge en dramatiese sekerheid van liefde ontdek.

Dit sou, eindelik, bydra tot my ondergang.

My pa was ’n man van integriteit. (Hoe teleurgesteld sou hy nie gewees het as hy sy seun in volwassenheid geken het nie.) Dit – en sy lyf – was moontlik die fondament waarop hul huwelik gebou was. Want hulle het niks gemeen gehad nie. Selfs ná hul huwelik, drie jaar later, in die mynhuis op Stilfontein, het hulle in twee wêrelde geleef.

Ek moet beken dat ek nie veel van die eerste vier of vyf jaar van my lewe kan onthou nie, maar dit weet ek: sy, die kunstenaar, het voortdurend van haar skilder-, beeldhou-, drama- en musiekvriende om haar gehad, eienaardige mense wat kom kuier het – van Johannesburg en Pretoria en Potchefstroom – en die derde slaapkamer soms tot barstens toe beset het, selfs sommige naweke in die sitkamer bed gemaak het. Sy was die gesprekleier, altyd met ’n sigaret in haar hand, ’n boek wat nie te ver weg nie oop lê, musiek wat van krapperige langspeelplate opklink, Schubert veral, maar ook Beethoven en Haydn. (Mozart, het sy gesê, het nie genoeg passie gehad nie.) Sy was nie lief vir huishou en kosmaak nie, maar daar was altyd ’n ete vir hom, dikwels eksoties voorberei deur haar vriende. En hy was ’n randfiguur, die man wat met sy hardehoed en bliktrommel van skof af gekom en dan gaan rugby oefen het. Of gaan draf het in die somer. Hy was, jare voor dit mode was, ’n fiksheidsfanatikus. Hy het die Comrades gedoen, jaar na jaar, ander vergete marathonne ook. Hy was ’n stil man, en sy lewe het om sy liefde vir haar en sy liefde vir sport gedraai – en later sy liefde vir my.

In hierdie huishouding het die noodlot my gewerp, op 27 Januarie 1961, ’n seun met sy ma se donker gelaat en, klaarblyklik, sy pa se stiltes.

Dit was hy wat voorgestel het dat hulle my Zatopek noem.

Hy was ’n groot bewonderaar van die Tsjeggiese atleet Emil Zátopek en die feit dat hy ’n voornaam met hom gedeel het, al was die spelling effens anders, het seker ook ’n rol gespeel. Vir my ma was Zatopek anders, uitheems, boheems genoeg. Nie een van hulle, met hul meer alledaagse voorname, kon seker voorsien wat dit sou doen aan ’n seun wat op ’n myndorp grootword nie. Nie dat kinders se tipies onsensitiewe gespot ’n letsel gelaat het nie. Maar die irritasie van jou voornaam vir vorminvullers spel vir die res van jou lewe, daardie lig van die wenkbroue wanneer jy dit uiter, daardie “ekskuus” elke keer dat jy jouself voorstel … daarvoor het hulle in hul naamgewing nooit voorsiening gemaak nie.

Daar was net twee gebeurtenisse van my eerste ses jaar wat my lewenslank sou bybly.

Die eerste was die ontdekking van vroulike skoonheid.

Die toepaslikheid hiervan is meervoudig en jy sal geduld moet hê – my vergewe as ek hier van die narratiewe en chronologiese afwyk, maar die onderwerp sou my boei en betower en eindelik bydra tot die legkaart van wie ek is.

Die spesifieke van die gebeurtenis is vergete. Ek was vyf, dink ek, in die sitkamer van die mynhuis, sekerlik besig met speelgoed tussen die grootmense, toe ek opkyk na een van haar vriendinne, ’n aktrise (?), en in daardie oomblik die vrou se skoonheid besef, ongedefinieerd, net ’n alomteenwoordige iets dat sy mooi is, dat die somtotaal van haar gelaatstrekke aangryp en meevoer. Ek moet beken dat ek nie meer haar gesig kan oproep nie, bloot die feit dat sy tengerig, skraal was, moontlik bruin hare gehad het. Maar dit was die eerste van vele soortgelyke gewaarwordinge, elkeen ’n mylpaal op die pad na groeiende bewondering van en filosofering oor die skoonheid van vroue.

Die gevaar is natuurlik om objektiwiteit te verloor, want alle mans word immers deur ’n mooi vrou bekoor. Maar ek glo dat my aanvoeling daarvoor, my vermoë om daardeur beïndruk te word, bo die peil van die normale is. Moontlik, het ek destyds gewonder toe ek nog die energie en honger vir dink gehad het, is dit die enigste erfenis van my ma se kunstenaarsgene – om deur die vorm, die lyne, die brokstukke en somtotaal van ’n vrou betower te word, soos my pa se lyf haar aangegryp het. Die verskil is dat sy dit – en soveel ander mense se gesigte en posture – wou skilder. Ek was altyd bloot tevrede om te kyk en te dink. Om te wonder oor die onregverdigheid van die gode, wat skoonheid uitdeel op ’n lukrake grondslag. Oor die duiwels van die ouderdom wat skoonheid kom terugneem, sodat net die persoonlikheid wat dit geslyp het, oorbly. Oor die invloed van ware, verstommende skoonheid op ’n mooi vrou se karakter. Oor die eienaardigheid van skoonheid, oor sy vele, wonderbaarlike gestaltes van neus en mond en ken en wangbeen en oog. Oor die gode se sin vir humor, onnutsigheid en gemeenheid. Om vir sommige vroue die volmaakte lyf te gee en dit te weerhou by die setel van die mooie – die gesig. Of om ’n goddelike gesig aan ’n lyf te koppel wat afstoot. Of die geringste imperfeksie in die hutspot van skoonheid te gooi sodat dit daar in die ruimte tussen mooi en lelik hang. Dalk ’n profiel wat aangryp, maar ’n vooraansig wat nie aan die verwagtinge voldoen nie.

O, en die vermoë van vroue om met klere en kleursel, lipstiffie en kwas en kleine bewegings van hande en vingers die natuur se suinigheid aan te vul tot ’n mooier eindproduk.

Van daardie oomblik in die sitkamer op Stilfontein was ek die slaaf van skoonheid.

Die tweede onuitwisbare indruk uit my eerste ses jaar het begin met ’n aardbewing.

Orion

Подняться наверх