Читать книгу Orion - Деон Мейер - Страница 7
3
ОглавлениеSy kyk af na die lêer en trek haar asem stadig in. “Johannes Jacobus Smit is op 30 September verlede jaar, tydens ’n inbraak by sy huis in Morelettastraat, Durbanville, noodlottig gewond met ’n grootkalibergeweer. Die volledige inhoud van ’n instapkluis word sedert die voorval vermis, onder meer ’n testament, waarin hy na bewering sy besittings aan sy vriendin, Wilhelmina Johanna van As, bemaak het. Sou die testament nie opgespoor word nie, sal wyle meneer Smit as intestaat gesterf beskou word en die boedel sal uiteindelik na die staat gaan.”
“Hoe groot is die boedel?”
“In dié stadium lyk dit na net onder die twee miljoen.”
Hy het dit vermoed. “Van As is jou kliënt.”
“Sy het elf jaar lank saam met meneer Smit gewoon. Sy het hom in sy sakebelange ondersteun, sy etes voorberei en sy huis skoongemaak, sy klere versorg ... en op sy aandrang hul baba laat aborteer.”
“Hy het nooit aangebied om met haar te trou nie?”
“Hy was nie … ’n voorstander van die huwelik nie.”
“Waar was sy op die aand van die …”
“Dertigste? In Windhoek. Hy het haar gestuur. Vir sake. Sy het op 1 Oktober teruggekeer en hom dood aangetref, vasgebind op ’n kombuisstoel.”
Hy skuif verder af in die stoel. “Jy wil hê ek moet die testament opspoor?”
Sy knik. “Ek het elke moontlike uitweg wat die reg ons toelaat, reeds gevolg. Oor sewe dae is die finale sitting by die Meester van die Hooggeregshof. As ons nie teen daardie tyd ’n geldige dokument kan verskaf nie, kry Wilna van As nie ’n sent nie.”
“Sewe dae?”
Sy knik.
“Dit is … amper tien maande. Sedert die moord.”
Die prokureur knik.
“Ek neem aan die polisie het nie vir ’n deurbraak gesorg nie.”
“Hulle het hul bes gedoen.”
Hy kyk na haar, dan na twee sertifikate teen die muur. Hy voel weer die pyn in sy ribbes. Hy maak ’n geluid, kort en obseen, deels vir die pyn, deels vir die surrealisme van die oomblik. “Sewe dae.”
“Ek ...”
“Het Kemp jou nie gesê nie? Ek doen nie meer wonderwerke nie.”
“Meneer Van …”
“Dit is tien maande ná die man se dood. Dit is ’n mors van jou kliënt se geld. Nie dat dit ’n prokureur seker veel sal bekommer nie.”
Hy sien haar oë vernou. ’n Klein rosige vlek, soos ’n sekelmaan, vorm stadig teen haar wang. “My etiek, meneer Van Heerden, is bo verdenking.”
“Nie as jy vir mevrou Van As laat verstaan daar is nog ’n kans nie,” sê hy en wonder hoeveel selfbeheersing sy sal hê.
“Mejuffrou Van As is ten volle ingelig oor die sinvolheid van die stap. Ek het haar geadviseer oor die potensiële nutteloosheid van die oefening. Maar sy is bereid om jou te betaal, omdat dit haar laaste kans is. Die enigste oorblywende uitweg. Tensy jy nie daarvoor kans sien nie, meneer Van Heerden. Daar is klaarblyklik ander mense met dieselfde talente …”
Die sekelmaan gloei rooi, maar haar stem bly afgemete en onder beheer.
“Wat maar te bly sal wees om saam met jou mejuffrou Van As se geldjies te neem,” sê hy en wonder of die vlek nog rooier kan skyn. Tot sy verbasing glimlag sy stadig.
“Ek stel nie regtig belang waar jy jou wonde opgedoen het nie …” Sy beduie met haar gemanikuurde hande na sy gesig en leun vorentoe. “Maar ek begin nou verstaan wáárom.”
Hy sien die sekelmaan verdwyn stadig. Hy dink ’n oomblik na, teleurgesteld. “Wat was nog in die kluis?”
“Sy weet nie.”
“Sy weet nie? Sy slaap elf jaar saam met hom en sy weet nie wat in sy kluis aangaan nie?”
“Weet jy wat in jou vrou se klerekas aangaan, meneer Van Heerden?”
“Wat is jou naam?”
Sy huiwer eers. “Hoop.”
“Hoop?”
“My ouers was ietwat … romanties.”
Hy rol die naam in sy mond rond. Hoop. Beneke. Hy kyk na haar, wonder hoe ’n mens, ’n vrou, dertig jaar lank met die naam Hoop saamleef. Hy kyk na haar kort hare. Soos ’n man s’n. Hy wonder met watter lyn van haar gesig die gode van gelaatstrekke die pot mis gesit het. ’n Ou spel, vaag onthou.
“Ek het nie ’n vrou nie, Hoop.”
“Ek is nie verbaas nie … Wat is jóú naam?”
“Ek hou van die ‘meneer’.”
“Sien jy kans vir die uitdaging, meneer Van Heerden?”
Wilna van As is iewers in haar onpeilbare middeljare, ’n vrou sonder skerp hoeke, kort en rond. Haar stem is sag terwyl sy in die voorkamer van die huis in Durbanville vir hom en die prokureur vertel van Jan Smit.
Sy het hom aan Van As voorgestel as “meneer Van Heerden, wat vir ons die ondersoek gaan doen”. Ons. Die term wat medici en prokureurs gebruik wanneer daar trauma is. Hy haat dit. Hy het vir koffie gevra toe drinkgoed aangebied is. Hulle het in die voorkamer gaan sit, vreemd vir mekaar, formeel en styf.
“Ek weet dit is omtrent onmoontlik om die testament betyds op te spoor,” het Van As verskonend gesê en hy het vir die vroueprokureur gekyk. Sy het die blik sonder uitdrukking beantwoord.
Hy het geknik. “Jy is seker van die testament se bestaan?”
Hoop het haar asem ingetrek asof sy iets wil sê, beswaar wil aanteken.
“Ja. Jan het een aand daarmee by die huis aangekom.” Sy wys met haar hand in die rigting van die kombuis. “Ons het by die tafel gesit en hy het my stap vir stap daardeur geneem. Dit was nie ’n lang dokument nie.”
“En die strekking daarvan was dat jy alles sou erf?”
“Ja …”
“Wie het die testament opgestel?”
“Hy het dit self geskryf. Dit was in sy handskrif.”
“Het getuies geteken?”
“Hy het dit by die Polisiekantoor hier in Durbanville laat beëdig. Twee van die mense daar het geteken.”
“Daar was net een afskrif.”
“Ja,” sê Wilna van As, gelate.
“Jy het dit nie eienaardig gevind dat hy nie ’n prokureur die testament laat opstel het nie?”
“Jan was só.”
“Hoe?”
“Privaat.”
Die woord hang in die lug. Van Heerden sê niks, wag dat sy meer moet sê.
“Ek dink nie hy het mense baie vertrou nie.”
“O?”
“Hy … ons … het eenvoudig gelewe. Ons het gewerk en huis toe gekom. Hy het soms van sy huis as sy wegkruipplek gepraat. Daar was nie juis vriende nie …”
“Watse werk het hy gedoen?”
“Klassieke meubels. Wat ander mense as antieke meubels beskryf. Hy het gesê in Suid-Afrika is daar nie regtig antieke meubels nie, die land is te jonk. Ons was groothandelaars. Ons het die meubels opgespoor en aan handelaars verskaf, soms direk aan versamelaars.”
“Wat was jou rol?”
“Ek het so twaalf jaar gelede by hom begin werk. As ’n soort … sekretaresse. Hy het toe gery om na meubels te gaan soek, op die platteland, op plase. Ek het die kantoor beman. Ná ses maande …”
“Waar is die kantoor?”
“Hier,” beduie sy. “In Wellingtonstraat. Agter Pick ’n Pay. Dit is ’n ou huisie …”
“Daar was geen kluis by die kantoor nie.”
“Nee.”
“Ná ses maande …” herinner hy haar.
“Ek het die besigheid gou leer ken. Hy was in die Noord-Kaap toe iemand van Swellendam gebel het. Dit was ’n klerekas, as ek reg onthou, ’n jonkmanskas, negentiende-eeus, ’n mooi stuk, met inlegsels … In elk geval, ek het hom gebel. Hy het gesê ek moet gaan kyk. Ek het gery en dit vir ’n appel en ’n ei gekoop. Hy was beïndruk toe hy terugkom. Toe het ek dit al hoe meer gedoen …”
“Wie het toe die kantoor beman?”
“Eers het ons om die beurt gegaan. Later het hy by die kantoor gebly.”
“Jy het nie omgegee nie?”
“Ek het daarvan gehou.”
“Wanneer het julle begin saambly?”
Van As huiwer.
“Mejuffrou Van As …” Hoop leun vooroor, soek vir ’n oomblik na woorde. “Meneer Van Heerden moet ongelukkig vrae vra wat moontlik .…ongemaklikheid kan veroorsaak. Maar dit is noodsaaklik dat hy soveel inligting as moontlik bekom.”
Van As knik. “Ek verstaan. Ek gee nie om nie. Dit is net dat … Ek is nie gewoond daaraan om oor die verhouding te praat nie. Jan was altyd … Hy het gesê mense hoef nie te weet nie. Omdat hulle altyd stories het.”
Sy besef hy wag vir ’n antwoord. “Dit was ’n jaar nadat ons saam begin werk het.”
“Elf jaar lank.” ’n Stelling.
“Ja.”
“In dié huis.”
“Ja…”
“En jy was nooit in die kluis nie.”
“Nee.”
Hy kyk net na haar.
Die vrou maak ’n beweging met haar hand. “Dit wás net so.”
“As Jan Smit onder ander omstandighede te sterwe gekom het, hoe sou jy die testament uit die kluis kry?”
“Ek het die kombinasie geken.”
Hy wag.
“Jan het dit verander. Na my geboortedatum. Net nadat hy die testament vir my gewys het.”
“Hy het al sy belangrike dokumente in die kluis gebêre?”
“Ek weet nie wat alles daarin was nie. Want dit is nou weg.”
“Kan ek dit sien? Die kluis?”
Sy knik en staan op. Hy volg haar in die gang af, woordeloos. Hoop stap agterna. Tussen die badkamer en die hoofslaapkamer, op regterhand, is die groot staaldeur met die draaiknop van die kombinasieslot daarop. Dit staan oop. Sy klik ’n skakelaar teen die muur en ’n fluoorlamp flits en skyn dan helder. Sy stap in en gaan staan in die kluis.
“Ek dink hy het dit self aangebou. Nadat hy die huis gekoop het.”
“Jy dink so?”
“Hy het nooit gesê nie.”
“En jy het nie gevra nie?”
Sy skud haar kop. Hy kyk na die kluis se binnekant. Daar is drie houtrakke, tussen die vloer en die dak, links, regs en agter teen die muur, nou leeg.
“Jy het geen idee wat alles hierbinne was nie?”
Sy skud weer haar kop, klein langs hom in die engte van die kluis.
“Jy het nooit verbygestap terwyl hy binne besig was nie?”
“Hy het die deur toegemaak.”
“En dié geheimsinnigheid het jou nooit gepla nie?”
Sy kyk na hom, byna kinderlik. “Jy het hom nie geken nie, meneer Van Rensburg …”
“Van Heerden.”
“Ekskuus.” Hy sien die vrou bloos. “Ek is gewoonlik goed met name.”
Hy knik.
“Jan was … Hy was net baie privaat.”
“Het jy hier skoongemaak ná die …”
“Ja. Ná die Polisie klaar was.”
Hy draai om en stap uit, verby Hoop wat in die deur staan, terug na die voorkamer. Die vroue kom agterna. Hulle gaan sit weer.
“Jy was die een wat op die toneel afgekom het.”
Die prokureur lig haar palm. “Kan ons ’n oomblik asemskep?”
Van As knik. Van Heerden sê niks.
“Ek sal baie graag nog tee wil hê,” sê Hoop. “As u nie omgee nie.” Sy glimlag fyn en simpatiek vir die ander vrou.
“Met graagte,” sê Wilna van As en stap kombuis toe.
“’n Titseltjie deernis met haar sal nie onvanpas wees nie, meneer Van Heerden.”
“Noem my dan liewer net Van Heerden.”
Sy kyk net vir hom.
Hy leun terug in die stoel. Die seer van sy oog is besig om die pyn in sy ribbes te oorheers. Die babelas klop dof in sy slape. “Sewe dae laat my nie veel tyd vir deernis nie, Hoop.” Hy kan sien die gebruik van haar voornaam irriteer haar. Dit gee hom genoegdoening.
“Ek dink nie dit sal tyd of moeite kos nie.”
Hy haal sy skouers op.
“Jy laat dit klink asof sy ’n verdagte is.”
Hy bly ’n oomblik stil. Dan sê hy stadig, moeg: “Hoe lank is jy al ’n prokureur?”
“Amper vier jaar.”
“Hoeveel moordsake het jy in dié tyd hanteer?”
“Ek kan nie sien dat dit enigsins iets te doen het met jou gebrek aan basiese ordentlikheid nie.”
“Waarom dink jy Kemp het my aanbeveel? Omdat hy vir die Blou Bulle skree en Moaner my kleinneef is?”
“Wie?”
Hy ignoreer die vraag. “Ek weet wat ek doen, Beneke. Ek weet wat ek doen.”