Читать книгу Orion - Деон Мейер - Страница 9

5

Оглавление

“Ek het van Windhoek af gekom en Jan sou my op die lughawe kom haal het. Maar hy was nie daar nie. Ek het huis toe gebel. Hier was nie antwoord nie. Toe neem ek ’n taxi, nadat ek amper twee uur gewag het. Dit was al laat, seker tienuur die aand. Die huis was donker. Ek was toe al bekommerd, want hy was altyd, elke aand, vroeg by die huis. En die kombuislig het altyd gebrand. En toe maak ek die voordeur oop en stap in en toe sien ek hom, daar in die kombuis, dadelik, dit was die eerste ding wat ek gesien het. En ek het geweet hy was dood. Daar was so baie bloed. Sy kop het laag op sy bors gehang. Hulle het hom op die stoel vasgemaak, een van die kombuisstoele, ek het die stelletjie verkoop, ek kon dit nie hier hou nie. Sy arms was agter hom vasgemaak met draad, het die Polisie vir my gesê. Ek kon nie nader gaan nie, ek het net daar in die deur bly staan en toe het ek na die bure toe gehardloop. Hulle het die Polisie gebel, ek het skok gehad. Hulle het die dokter ook laat kom.”

Hy hoor in haar stemtoon dat sy die storie al dikwels moes vertel, die gebrek aan intonasie wat herhaling en onderdrukte trauma bring.

“Die Polisie het jou later gevra om na die huis te kyk.”

“Ja. Hulle wou baie dinge weet. Hoe die rowers ingekom het, wat alles gesteel is …”

“Kon jy hulle help?”

“Ons weet nie hoe hulle ingekom het nie. Die Polisie dink hulle het hom voorgelê toe hy by die huis kom. Maar die bure het niks gesien nie.”

“Wat was alles weg?”

“Net die kluis se inhoud.”

“Sy beursie? Televisie? Hoëtrou?”

“Niks behalwe die kluis se inhoud nie.”

“Hoe lank was jy in Windhoek?”

“Ek was vir die hele week in Namibië. Meestal op die platteland. Ek het net van Windhoek af gevlieg.”

“Hoe lank was hy reeds dood by jou terugkeer?”

“Hulle sê dit het die vorige aand gebeur. Voor ek teruggekom het.”

“Jy het nie daardie dag hiernatoe gebel nie?”

“Nee. Ek het twee dae tevore van Gobabis af gebel. Net om te sê wat ek gekry het.”

“Hoe het hy geklink?”

“Soos altyd. Hy het nie gehou van telefone nie. Ek het maar altyd die praatwerk gedoen. Ek het seker gemaak die pryse wat ek aangebied het, was reg, die adresse gegee vir die trok.”

“Hy het niks gesê wat anders as gewoonlik was nie?”

“Nee.”

“Die trok. Watter trok?”

“Dit is nie ons trok nie. Manie Meiring Vervoer van Kuilsrivier het vir ons die goed gaan haal, een keer per maand. Ons het vir hulle die adresse laat kry en die tjeks wat hy vir die verkopers moes gee. Dan het hy iemand gestuur met ’n vragmotor.”

“Hoeveel mense het geweet jy was daardie week uitstedig?”

“Ek weet nie … Dit was eintlik net Jan.”

“Is hier ’n huishulp? Tuinier?”

“Nee. Ek … ons het alles gedoen.”

“Skoonmaker by die kantoor?”

“Die Polisie het my ook gevra. Miskien was daar iemand wat geweet het ek is weg, maar ons het nie ander werknemers gehad nie. Hulle wou ook weet of ek elke maand dieselfde tyd weggaan. Dit was nooit presies dieselfde tyd nie. Soms was ek net weg vir ’n nag of twee, soms vir twee weke.”

“En Jan Smit het dan self wasgoed gewas en huis skoongemaak.”

“Daar was nie baie om skoon te maak nie. En hier is ’n wasgoedplek wat strykwerk ook doen in Wellingtonstraat.”

“Wie het almal van die kluis geweet?”

“Ek en Jan.”

“Geen vriende nie? Geen familie nie?”

“Nee.”

“Mejuffrou Van As, het jy enige idee wie hom sou voorlê en vermoor, enigiemand wat moontlik van die kluis se bestaan kon geweet het?”

Sy skud haar kop en dan, sonder waarskuwing, geluidloos, begin die trane teen haar wange afloop.

“Maar ek ken mos vir jou,” sê Mavis Petersen as Van Heerden by Moord en Roof se onaantreklike baksteengebou in Kasselsvleiweg, Bellville, instap.

Hy het nie uitgesien na dié terugkeer nie. Hy wou nie tel hoeveel jaar sedert sy uitstap by dié deure verloop het nie. Feitlik niks het verander nie. Dieselfde dowwe reuk van die winter, dieselfde teëlvloere, dieselfde staatsdiensmeubels. Dieselfde Mavis. Ouer. Steeds hartlik.

“Hallo, Mavis.”

“Dis dan die kaptein,” sê die bruin vrou en slaan haar hande saam.

“Nie meer nie, Mavis.”

“En kyk hoe lyk die oog. Wat het jy gemaak? Hoeveel jare is dit? Wat doen die kaptein deesdae?”

“So min as moontlik,” sê hy ongemaklik, onvoorbereid op die ontvangs, onwillig om hierdie vrou met die suurheid van sy lewe te slaan. “Is Tony O’Grady in?”

“Ek kan dit nie glo nie, kaptein. Jy’t maer geword, weet jy. Ja, die inspekteur is hier, hy sit nou op die tweede verdieping. Moet ek hom buzz?”

“Nee dankie, Mavis, ek stap sommer op.”

“Ek kan dit nie glo nie.”

Hy stap verby haar toonbank, in die buik van die gebou in, die herinneringe wat aan die deur van sy geheue hamer. Hy moes nie gekom het nie, dink hy. Hy moes vir O’Grady iewers ontmoet het. Speurders sit in kantore, stap verby hom, vreemde gesigte wat hy nooit geken het nie. Hy neem die trappe tot bo, loop verby die teekamer, sien daar is lewe en vra vir aanwysings. Dan kom hy by O’Grady se kantoor.

Die vet man agter die lessenaar kyk op as hy die klop teen die kosyn hoor.

“Hi, Nougat.”

O’Grady se oë vernou. “Jesus.”

“Nee. Maar dankie.”

Hy stap tot by die lessenaar en steek sy hand uit. O’Grady staan halforent, neem dit, gaan sit dan weer, sy mond steeds effens oop. Van Heerden haal ’n staaf ingevoerde lekkergoed uit sy baadjiesak. “You still eat this?”

O’Grady kyk nie eens daarna nie. “Where the fuck have you been?”

Hy plaas die nougat op die lessenaar.

“Here and there.”

“Jesus, Van Heerden, it’s been years. It’s like seeing a ghost.”

Hy gaan sit op een van die grys staalstoele.

“But I suppose ghosts don’t get black eyes,” sê O’Grady en neem die nougat. “What is this? A bribe?”

“Jy kan seker so sê.”

Die vet man begin pluk aan die plastiekomhulsel van die staaf. “Where have you been? You know, we’ve even stopped talking about you.”

“Ek was in Gauteng vir ’n ruk,” fabriseer hy.

“Not on the Force again?”

“No.”

“Jeez, wait till I tell the others. So what happened to the eye?”

Hy maak ’n handgebaar. “Ongelukkie. Ek het jou hulp nodig, Tony.” Hy wil die gesprek beperk.

O’Grady hap aan die nougat. “You sure know how to get it.”

“Jy het die Smit-saak gedoen. Verlede September. Johannes Jacobus Smit. In sy huis vermoor. Instapkluis …”

“So you’re a private eye now?”

“So iets.”

“Jeez, Van Heerden, that’s not a fucking living. Why don’t you come back?”

Hy haal diep asem. Hy moet al die vrees en woede onderdruk.

“Do you remember the case?”

O’Grady kyk lank na hom, die kake wat aan die nougat werk, die oë klein getrek. Hy lyk nog dieselfde, dink Van Heerden. Nie vetter nie, nie maerder nie. Dieselfde plompe polisieman wat sy skerp brein agter die rojale persoonlikheid en dik lyf wegsteek.

“So what’s your interest?”

“Sy houvrou is op soek na ’n testament wat in die kluis was.”

“And you must find it?”

“Ja.”

Hy skud sy kop. “Private dick. Shit. You used to be good.”

Van Heerden haal diep asem. “Die testament,” sê hy.

O’Grady loer oor die nougat vir hom. “Ah. The will.” Hy skuif die lekkergoed eenkant toe. “You know, that was the one thing that never really figured.” Hy leun terug, vou sy arms oor sy maag. “That fucking will. Because, at first, I was sure she did him. Or hired somebody. It fitted the whole damn case. Smit had no friends, no business associates, no other staff, but they got in, tortured him until he gave them the combination, cleaned out the safe and killed him. Took nothing else. It was an inside job. And she was the only one on the inside. Or so she says.”

“Tortured him?”

“Burned him with a fucking blowtorch. Arms, shoulders, chest, balls. It must have been murder, if you’ll pardon the expression.”

“Did she know that?”

“We didn’t tell her or the press. I played it close to the chest, tried to see if I could trick her.”

“Sy sê sy het die kombinasie geken, Nougat.”

“The blowtorch could have been for effect. To take suspicion away from her.”

“Wat van die moordwapen?”

“Now there’s another strange one. Ballistics say it was an M16. The Yankee army model. Not too many of those around here, are there?”

Van Heerden skud sy kop, stadig. “Net een skoot?”

“Yep. Execution style, back of the head.”

“Omdat hy hulle gesien het? Of geken het?”

“Who knows, these days? Maybe they shot him just for the fun of it.”

“Hoeveel dink jy was daar?”

“We don’t know. No fingerprints, no footprints outside, no neighbourhood witnesses. But Smit was a big man, in reasonable shape. It must have been more than one perp.”

“Forensies?”

O’Grady leun vooroor, trek weer die nougat nader. “Sweet Fanny Adams. No prints, no hair, no fibres. Just a fucking piece of paper. In the safe. Found a piece of paper, about the size of two match boxes. Clever guys in Pretoria say it was part of a wrapper. For wrapping little stacks of money. You know, ten thousand in fifties, that sort of thing …”

Van Heerden lig sy wenkbroue.

“But the funny thing is, they say, according to the type and all that shit, they are pretty sure it was dollars. US dollars.”

“Fok,” sê Van Heerden.

“My sentiments exactly. But the plot thickens. It was the only thing I had to go on, so I put a lot of pressure on Pretoria through the Colonel. Forensics has a money expert, Claassen or something. He went back to his books and his microscope and came back and said the paper indicates that it is old money. The Americans don’t wrap their money like that any more. But they used to. In the seventies and early eigthies.”

Van Heerden verteer die inligting vir ’n oomblik. “En jy het vir Wilna van As daaroor uitgevra?”

“Yep. And got the usual answer. She doesn’t know anything. She never took dollars as payment for that old fart furniture, never paid with it. Doesn’t even know what a fucking dollar looks like. I mean, shit, this woman lived with the deceased for a fucking decade or more, but she’s like the three little monkeys – hear, see and speak no evil. And that little sexpot lawyer of hers is all over me like a Sumo wrestler every time I want to ask some straight questions.” O’Grady byt gefrustreerd ’n stuk nougat en sak weer terug in sy stoel.

“Geen Amerikaanse kliënte of vriende of vyande waarvan sy weet nie.” Dit is ’n stelling, hy ken reeds die antwoord.

Die vet speurder praat met ’n vol mond, maar slaag daarin om elke woord duidelik uit te kry. “Not a one. I mean, with the rifle and the dollars, it just makes sense that there is some kind of a Yank involvement.”

“Haar prokureur sê sy is onskuldig.”

“Is that your new employer?”

“Tydelik.”

“At least get her into bed. Because that is all you’re going to get from this one. It’s a dead end. I mean, where’s the fucking motive for her? Without the will, she apparently gets nothing.”

“Behalwe as die ooreenkoms was dat sy haar deel van die buit later kry. ’n Jaar of twee. As die ding afgekoel het.”

“Maybe …”

“En sonder haar was daar geen ander verdagtes nie.”

“Zilch. Nothing.”

“Ek sal baie graag die dossier wil sien, Nougat.” Hoe haat hy dit nie om verleë te wees nie.

O’Grady kyk stip na hom.

“Ek weet jy is ’n goeie poliesman, Nougat. I have to go through the motions.”

“You can’t take it with you. You’ll have to read it here.”

Orion

Подняться наверх