Читать книгу Orion - Деон Мейер - Страница 13
8
ОглавлениеToe ek nege was, of agt of tien, iewers in daardie jare van nóg vis nóg vlees, het ek aan ’n wedstryd deelgeneem op die harde veld van die Laerskool Stilfontein. Ek het ’n stamp gekry in die getjommel van onaanskoulike, elkeen-is-’n-ster-rugby en my neus het gebloei. Die skeidsregter, ’n onderwyser, dink ek, was by.
“Ag nee, boetie, ’n man huil nie,” het hy troostend gesê.
“Nee,” het my ma se stem langs my opgeklink. Sy was kwaad. “Huil, my seun. Huil net soveel as wat jy wil. Mans kán huil. Regte mans kán huil.”
As ek terugdink, was dit tekenend van wie sy was en hoe sy my probeer grootmaak het.
Anders. Anders as Stilfontein en sy mense en hul sienings en doen en late.
Om die psige van ’n myndorp te beskryf, is moeilik, omdat ’n mens sal moet veralgemeen. Jong Afrikaners met die minimum opleiding en die maksimum inkomste is ’n gevaarlike kombinasie. Die lewe was vir hulle vinnig – hul verdienvermoë, hul spandeervermoë, hul motors, hul motorfietse en hul vroue. Vinnig. Hul drankinname, hul humeure, alles het gepas by die potensieel snelle dood in die diep donkertes van die aarde.
En tussen dit alles was daar die kulturele oasis van Joan van Heerden se huis.
Die myn het vir haar, vir ons, ’n kleiner huis gegee op Stilfontein. Ek weet nie waarom sy nie weggetrek het Pretoria toe nie, want haar ouers en haar vriende was daar. Ek vermoed dit was omdat sy naby my pa wou wees, naby die graf in die vaal begraafplaas op die windverwaaide vlakte langs die agterpad na Klerksdorp.
Daar was nie ’n tekort aan geld nie. Lewensversekering (by Sanlam) was in daardie jare mode onder Afrikaners. En my pa was sorgsaam, tot in die dood. Maar dit was ook my ma se skilderye wat stadig maar seker begin verkoop het – elke jaar het die pryse so bietjie opgegaan, elke jaar was daar ’n uitstalling by ’n groter, belangriker galery.
Miskien was ’n deel van haar besluit om op Stilfontein te bly juis dat sy wou wegbly uit die hoofstroom van die kunswêreld – sy kon veral die aangeplaktheid van die sogenaamde kunskenners en kritici nie verduur nie. En dan was daar die “kunstige tipes”, eienaardige mense wat geglo het eksotiese kleredrag en vreemde haarstyle is hul toegangskaartjie tot die dampkring van die kunste – al wat hulle nodig het om boheems en gekuiltiveerd te wees. Sy kon hulle hoegenaamd nie verdra nie.
Dit was dus ek en sy en Stilfontein. Daar was enkele vriende op die dorp – dokter De Korte, ons huisdokter, en sy vrou; die Van der Walts van die raamwinkel – en mense van Johannesburg en Pretoria en Potchefstroom wat naweke kom kuier het.
My ma het nie ander mans in haar lewe gehad nie, behalwe die eggenote van haar vriendinne en die gay mans van die kunswêreld, soos Tony Masarakis, die Griekse beeldhouer van Krugersdorp wat soms kom inloer het. Toe ek nege of tien was, het hy terloops opgemerk dat sy ’n mooi seun het. “Vergeet dit, Tony,” het sy met beslistheid gesê. Hy moet dit ter harte geneem het, want hulle was vir baie jare lank vriende.
Sy was ’n jong weduwee, in haar laat twintigerjare. En mooi. ’n Vrou met passie. Sou sy selibaat bly vir die res van haar lewe? Ek het nooit daaroor gewonder nie, tot in my eie twintigerjare – en selfs toe nog met gewetenswroeging, want sy was my ma en ek was Afrikaans.
Ek weet nie. As sy soms uitkoms gaan soek het, of dalk toevallig gevind het, was dit met die uiterste diskresie en moontlik met die strengste voorwaarde dat geen voortslepende verhouding daaruit moet spruit nie, asseblief. Dalk daardie naweke toe sy uitstallings in die Kaap of in Durban of aan die Rand gaan open het en ek nie saam was nie …
Die vraag is natuurlik of grootword sonder ’n pa, sonder ’n manlike rolmodel, ’n letsel op my sou laat. Ek sou dit so graag as ’n verskoning wou omhels. Dit deel maak van die groot verskoning, van die meesleurende golf wat my eindelik oor die afgrond gespoel het, dit opdis as ’n populêr sielkundige agterdeur vir die fokop van my lewe. Maar ek dink nie ek kan nie. My ma het my met gemak en geduld grootgemaak. My met respek en deernis en dissipline behandel, my gekoester en getug en versorg – al was ons stapelvoedsel, wanneer daar nie vriende gekuier het nie, vrugte en brood. Sy het Beethoven, Schubert, Haydn en Bach (J.S. en, in mindere mate, C.P.E.) gespeel sonder om dit op te dring en selfs later, toe ek na Bachman Turner Overdrive en Black Sabbath wou luister, haar musiek op die agtergrond gehou. Ek vermoed sy het geweet watter musiek op die lange duur die stryd sou wen.
Dit was veilige jare. Tot ek sestien was. Tot ek Mozart en boeke en kos en seks en die lang arm van die Gereg ontdek het.