Читать книгу Orion - Деон Мейер - Страница 18
13
ОглавлениеSpitsverkeer uit Mitchells Plain. Hy ry met die N7, haastig huis toe. Hy moet nog vir Wilna van As bel.
Hy verwonder hom aan die wêreld waarin hy leef. Hy en Kemp en hy en Orlando en wie skuld vir wie, die meganismes van sosiale en professionele interaksie, die elfde gebod: wees die een vir wie geskuld word. Kemp: Jy is gemors, Van Heerden. O’Grady: Jeez, Van Heerden, that’s not a fucking living. Why don’t you come back. Orlando: … a bottom feeder, going down … Dis laer as kreefkak, Van Heerden. Hoekom gaan jy nie terug Force toe nie?
Algemene konsensus oor sy lewe, maar hulle weet nie, hulle verstaan nie, hulle het nie insig nie. Hulle het nie begrip vir sy vonnis nie – hy moet dit uitdien. Lewenslange gevangenisstraf.
En dan, in die oomblik van ondersoek-euforie, het hy gewonder of hy vrygelaat gaan word, amnestie gaan ontvang. Hoe belaglik, fok, soos ’n man in ’n sel wat droom hy is buite, net om die volgende oggend wakker te word …
Hy stop in Goodwood vir brandstof, sien die telefoonhokkie. Hy bel vir Wilna van As.
“Die bank sê daar was geen verbande op die eiendomme by hulle nie. Ek het die oordragdokumente gekry en die prokureursbriewe, maar ek verstaan dit nie alles nie,” sê sy.
“Wie was die oordragprokureurs?”
“Hou aan, asseblief.”
Hy wag, sien in sy geestesoog die vrou in haar kantoor na die melamienkas stap vir die dokumente.
“Merwe de Villiers en Vennote.”
Hy ken nie die firma nie. “Kan jy die dokumente vir Hoop faks?”
“Ja.”
“Dankie.”
“Die identiteitsboek. Het jy iets uitgevind?” vra sy.
“Ek weet nog nie,” lieg hy. Want dit is Hoop Beneke se werk om die slegte nuus oor te dra. Hy is maar net die gehuurde hulp.
“O.” Nadenkend. Bekommerd.
“Totsiens,” sê hy.
Hy blaai terug in sy notaboek, kry Hoop se nommer en gooi nog ’n muntstuk in voor hy bel.
“Sy is in konsultasie,” sê die ontvangsdame.
Soos ’n fokken dokter, dink hy.
“Gee vir haar ’n boodskap, asseblief. Wilna van As gaan vir haar die oordragdokumente van Jan Smit se twee huise faks. Ek wil weet of daar verbande op die huise was. Sy kan my by die huis bel.”
Hy ry haastig na Table View se groentemark, want dit is toemaaktyd. Hy soek vars knoffel en pietersielie.
Wanneer hy uitklim en opkyk, sien hy die son ondergaan agter die volgende koue front wat van die see af inkom, die uitgestrekte wolkbank swaar en swart en oorweldigend.
Hy braai die knoffel en gesnipperde pietersielie lig en stadig in die groot pan. Die geure kom los en styg saam met die stoom op om die vertrek te vul. Hy adem dit met genot en ’n vae, vlietende verbasing dat hy iets nog kán geniet. Verdi op die klein luidsprekertjies, La Traviata. Kookmusiek.
Jan Smit is nie Jan Smit nie.
Iewers in of voor die jaar van Onse Heer 1983 verkry die man voorheen bekend as X Amerikaanse dollars. Wederregtelik. Só wederregtelik dat hy ’n nuwe identiteit moet bekom. Vir ’n nuwe lewe. As Johannes Jacobus Smit. ’n Lewe van klassieke meubels, ’n lewe binne die wet, ’n private wegkruiplewe.
Hy maak die blikke tuna oop en gooi die soutwater versigtig in die wasbak af.
Jy verkoop ’n vuis vol van jou dollars op die swartmark om die huis en die sakeperseel te bekom, om die eerste meubels aan te skaf. Dit gaan goed met die besigheid. Jy het nie jou oorskotdollars nodig nie. Jy bou of laat bou ’n instapkluis vir die restant. Hoe groot is dié restant? Baie groot. As jy ’n instapkluis nodig het. Of wil jy ook iets anders bêre? Amerika – die bakermat van dwelmafset, die bron van alle dollars. Wil jy ’n instapkluis bou om jou stapels wit sakkies heroïen of kokaïen netjies op die rakke te stapel, langs die dollars? Kleinhandelaar, groothandelaar, middelman?
Wapenhandel. Nog ’n betroubare bron van groot bedrae dollars. In ’82 of ’83 – die bloeijare van Krygkor en sy duisend obskure filiale, en Afrika met sy terreurakronieme wat ’n onversadigbare honger vir wapens het.
Die instapkluis is nie heeltemal so groot nie. Miskien nie wapens nie.
Waarom? As dit so goed gaan met die besigheid van klassieke meubels, waarom verbrand jy nie bloot die inkriminerende bewysstukke nie? Omdat jy arm grootgeword het en iets wil bêre vir die onvoorspelbare toekoms? Omdat jy jou dalk eendag kan vasloop in die oorspronklike eienaar van die dollars en/of die dwelms – en dan kan aanbied om dit terug te gee in ruil vir jou lewe?
Hy voeg die tuna by die knoffel en pietersielie. Hy kap ’n paar okkerneute en voeg dit ook by, sit die ketel aan.
Sestien jaar later sterf Jan Smit, voorheen bekend as X. Finaal. Amerikaanse geweer, een skoot, laksmanstyl, van agter deur die kop.
Die terugkoms van die oorspronklike eienaar van die dollars? ’n Hernieude poging om die wit sakkies te verkwansel – wat skeef loop?
Vat dit alles en vra wat jou guts sê, Van Heerden.
Nagel.
Kookwater in die pastapot. Steek die gasplaat aan. Wag dat dit weer kook. Spaghetti gereed. Sny die botter in stukkies. Sny die suurlemoen in die helfte. Parmesaan en rasper gereed.
Jan Smit alleen by die huis. Klop aan die deur? Maak oop. Hallo, X, long time no see. Ek wil graag gesels oor my dollars.
Hy hoor iets, bo die musiek.
Sy ma klop nooit. Sy kom net in.
Hy stap deur toe, maak dit oop.
Hoop staan daar. “Ek het gedink ek kom sommer hierlangs. Ek bly in Milnerton.” Die eerste, senuagtige rukwinde van die front waai haar kort hare deurmekaar. Sy het ’n aktetas in haar hand.
“Kom in,” sê hy.
Hy wil haar nie in sy huis hê nie.
“Dit gaan reën,” sê sy as hy die deur agter haar toemaak.
“Ja,” sê hy, ongemaklik. Niemand kom hier in nie. Hy draai die musiek vinnig sagter.
Sy kyk vlugtig rond in die vertrek, sy sit-eet-kookvertrek. Hy sien die versletenheid van die stoele en die mat, die verbleikte witgeel van die mure, sy ma se skilderye teen die muur basuine van skone kontras teen die verval.
“Liewe land, iets ruik lekker,” sê sy. Sy plaas die aktetas op ’n stoel neer en knip dit oop.
Hy sê niks.
Sy haal die dokumente uit. Sy kyk na die gasplate. “Ek het nie geweet jy kan kook nie.”
“Dit is net pasta.”
“Dit ruik nie na ‘net pasta’ nie.” Daar is iets in haar stem wat hy herken.
“Hoe het jy geweet waar ek bly?”
“Ek het vir Kemp gebel. Ek het eers hiernatoe gebel, maar hier was nie antwoord nie.” Daar is deernis, geduld in haar stem wat nie voorheen daar was nie. Hy ken dit. Die reaksie van mense wat weet, wat die openbare deel van Zatopek van Heerden se geskiedenis ken.
Kemp. Kemp het haar vertel. Fok Kemp, wat niks vir homself kan hou nie. Hy het nie haar jammerte nodig nie.
Al sit Kemp – en nou sy – die pot lelik mis.
Sy gee die velle papier vir hom aan. “Marietjie het gesê jy wil weet of daar verbande op die huise was.”
“Ja.” Hy voel die ongemak van staan en praat tussen die meubels van die vertrek. Hy wil haar nie vra om te sit nie. Hy wil hê sy moet ry.
“Dit lyk nie so nie. Daardie is die gewone brief en rekening wat prokureurs uitstuur nadat ’n eiendom oorgedra is op die koper se naam. Om te bevestig dat die registrasie by Aktes afgehandel is. As daar verbande was, sou die rekeninge dit gemeld het. Gewoonlik volledige syfers oor die uitstaande bedrae, of die oorskot as die verbande groter as die koopprys was.”
Hy staar na die dokumente. Hy verstaan nie heeltemal nie.
“Hier staan niks daarvan nie.”
“Dit is waarom ek dink daar was nie verbande nie.”
“O.”
Hy kyk na die rekeninge. Dit gee die pryse van die twee huise. R43 000 vir die sakeperseël. R52 000 vir die woonhuis.
Die water in die pot kook oor met ’n eksplosiewe sis. Hy stap haastig na die stoof, draai die plaat af.
“My tydsberekening is sleg,” sê sy. “Jy verwag seker mense.”
“Nee,” sê hy.
Hy moes “ja” gesê het.
“Kon jy iets uitvind van die identiteitsdokument?”
Hy staan in die niemandsland van sy kombuis, sy ongemaklik tussen sy stoele.
Fok.
“Jy sal moet sit,” sê hy.
Sy knik en glimlag effentjies, vou haar romp netjies onder haar bene in en gaan sit op die vaal stoel met die rafels op die armleuning. Sy kyk na hom, met empatie en verwagting.
“Smit is nie Smit nie,” sê hy.
Sy wag.
“Die I.D. is vervals.”
Hy sien haar oë rek effens.
“Professionele vervalsing. Moontlik die werk van ene Charles Nieuwoudt, waarskynlik gedoen in die laat jare sewentig of vroeë tagtigs.” Hy sal haar nou die hele ding moet vertel. Sy sit daar en sy wag, haar volle aandag op hom.
“Daar’s meer,” sê hy. “Ek het ’n teorie.”
Die knik van haar kop byna onsigbaar, wagtend, beïndruk.
Hy trek sy asem stadig in. Hy vertel haar van sy dag, chronologies, Binnelandse Sake, Ngwema se telefoonoproep, sy besoek aan Van As, die boekhouding, die datums en bedrae, Orlando. Hy gee haar die hooftrekke, verduidelik die denksprong gebaseer op ’n stukkie papier wat meer as sestien jaar gelede dollars in ’n netjiese pakkie gehou het, koppel dit aan die instapkluis, die tydsberekening, alles in 1983, die kontantkoop van twee eiendomme, die R15 000 waarmee die onderneming begin is. Hy is daarvan bewus dat sy na hom kyk. Hy kyk verby haar, na die deur, lê sy teorie voor haar uit.
“Sjoe,” sê sy as hy klaar is. Sy trek haar vingers deur haar kort hare.
“Iemand het geweet,” sê hy. “Alles dui daarop. Iemand het ’n M16 en ’n blaasvlam saamgebring met voorbedagte rade. Dit is nie standaardtoerusting by inbrake nie. Hulle moet minstens geweet het dat Jan Smit ’n fortuin in die een of ander formaat het en dat dit ’n sekere mate van oorreding sou verg om dit by hom te kry. Iemand wat hom geken het in sy vorige lewe.”
Sy knik.
’n Windverwaaide vlaag reën dreun teen die venster.
“Dit beteken Jan Smit het geweet waar om ’n vals I.D. te kry. Dit beteken hy het geweet hoe om van warm dollars ontslae te raak. Dit beteken hy het die kluis gebou om weg te steek, nie om te beveilig nie. Dit beteken Van As het hom nie regtig geken nie. Of sy lieg, maar ek dink nie so nie.”
Hy leun terug teen ’n kombuiskas, vou sy arms voor hom.
“Jy is baie goed,” sê sy.
Hy vou sy arms stywer. “Dit is ’n teorie.”
“Dit is ’n góéie teorie,” sê sy.
Hy haal sy skouers op. “Dit is al wat ons het.”
“En môre?”
Hy het nog nie regtig aan môre gedink nie. “Ek weet nie. Die dollars is die sleutel. Ek wil uitvind wie in 1983 die valuta-swartmark bedryf het. En wie die groot dwelmspelers was. Maar miskien is dit iets heeltemal anders. Hy kon die geld in Amerika gesteel het. Of dit kon ’n wapentransaksie gewees het. Wie weet, in hierdie fokken land van ons.”
En dan wonder hy of sy weer op sy vloek sal reageer. Sy moet nou ry, dink hy. Hy gaan nie vir haar koffie of iets aanbied nie.
“Ek sal gaan krap. Daar is ’n paar plekke. ’n Paar mense.”
“Is daar iets wat ek môre vir jou kan doen?”
“Jy moet besluit wat jy vir Van As gaan vertel.”
Sy staan op, stadig, asof sy moeg is. “Ek dink nie ons moet vir haar enigiets sê nie.”
“Dit is jou keuse.”
“Daar is nog te veel onsekerhede. Ons kan met haar praat as ons meer het.”
Sy tel haar aktetas op. “Ek moet ry.”
Hy ontvou die arms voor sy bors. “Ek sal jou bel as ek iets kry.” Moet net nie weer na my huis toe kom nie, dink hy. Maar hy sê dit nie.
“Jy het my selfoonnommer?”
“Nee,” sê hy.
Sy maak haar tas weer oop, haal ’n visitekaartjie uit, gee dit vir hom. Dan draai sy om en stap deur toe. Hy sien sy het mooi, ronde boude onder die romp.
“Ek het nie ’n sambreel nie.” ’n Stelling, byna aanvallend.
Sy staan by die deur en glimlag vir hom. “Is dit Domingo?”
“Wat?”
“Die musiek.”
“Nee.”
“Ek dag dit is die fliek se klankbaan. Jy weet, Zeffirelli se …”
“Nee.”
“Wie is dit?”
“Pavarotti en Sutherland.” Sy moet loop. Hy wil nie met haar oor musiek praat nie.
“Dit is mooi,” sê sy.
“Hulle is weergaloos.” Onmiddellik spyt dat hy uitgelok is.
Sy bly ’n oomblik stil. Dan kyk sy na hom met ’n frons. “Jy is ’n snaakse man, Van Heerden.”
“Ek is gemors,” sê hy vinnig. “Gaan vra vir Kemp.” Dan maak hy die deur vir haar oop. “Jy moet nou loop.”
“Jy het goeie werk gedoen,” sê sy en trek haar kop skeef teen die reën. Sy hardloop by die trappies af. Hy hoor hoe sy lag, een kort geluid. Dan gaan die BMW se dakliggie aan wanneer sy die deur oopmaak. Sy klim in en wuif vir hom voor sy wegry. Hy maak die voordeur toe.
Hy stap na die CD-speler en sit die musiek af. Sy weet fokkol van musiek. Domingo. Ha.
Hy moet haar môreoggend bel. Vir haar sê hy sal elke dag na haar kantoor toe kom, net voor sy huis toe gaan, vir ’n volledige verslag. Sy moet nie weer hiernatoe kom nie.
Of hy sal elke aand ’n verslag kom skryf en dit vir haar bring. Sy telefoon lui.
“Van Heerden.”
“Goeienaand,” sê ’n vrouestem. “My naam is Kara-An Rousseau. Ek weet nie of jy my sal onthou nie.”