Читать книгу Orion - Деон Мейер - Страница 16

11

Оглавление

Durbanville Klassieke Meubels staan op die klein houtbordjie teen die muur, effens verweer. En onder die knoppie langs die staalveiligheidshek: Lui asseblief vir diens. Please ring for service. Hy druk dit en hoor die sagte, musikale klank, byna vrolik, dieng-dong. Voetstappe op die houtvloer binne, dan maak sy die deur oop.

“Meneer Van Rensburg,” sê Wilna van As sonder verbasing.

“Van Heerden,” sê hy.

“Ag,” sê sy en sluit die veiligheidsdeur oop. “Ek is gewoonlik so goed met name. Kom in.”

Sy stap voor hom in die gang af. Links en regs is vertrekke met meubels, almal van hout, almal swierig, tafels en kaste en lessenaars. Haar kantoor is die kleinste kamer van die huis. Haar lessenaar is nie ’n klassieke stuk nie, maar die stoele is van ’n hout wat gloei. Alles is pynlik netjies.

“Sit, asseblief.”

“Ek het eintlik net kom vra of jy Smit … meneer Smit se identiteitsdokument het.”

“Ek het,” sê sy en maak ’n melamienkas teen die muur oop.

Hy haal sy notaboek uit en blaai na die plek waar hy die identiteitsnommer neergeskryf het.

Sy neem ’n kartonkassie en plaas dit op die lessenaar. Sy lig die deksel en sit dit met netjiese, spaarsamige bewegings langs die kassie neer. Sy kyk nie na hom nie, vermy oogkontak. Omdat hy weet, dink hy. Omdat sy haar geheime met hom moes deel. Daarom kan sy nie sy van onthou nie.

Sy gee die boekie vir hom aan. Dit is van die ou soort met ’n blou omslag. Hy maak dit oop. Jan Smit se foto, jonger as die verwronge gesig wat hy in die polisiefotograaf se kunswerke gesien het. Hy hou sy vinger by die identiteitsnommer, gaan dit syfer vir syfer na. Die een wat hy neergeskryf het, is korrek.

Hy sug.

“Binnelandse Sake sê hierdie nommer behoort aan iemand anders. ’n Mevrou Ziegler.”

“Mevrou Ziegler?” sê Wilna van As meganies.

“Ja.”

“Wat kan dit beteken?” vra sy.

“Net twee dinge. Óf hulle maak ’n fout, wat baie moontlik is. Óf die I.D. is vervals.”

“Vervals?” Daar is vrees in haar stem. “Dit kan tog nie wees nie.”

“Die ander dokumente in daardie boks – wat is dit?”

Sy kyk traag terug na die kartonkassie, asof dit nou ’n nuwe dimensie aangeneem het. “Die maatskappyregistrasie en die huise se kontrakte.”

“Mag ek dit sien?”

Sy stoot die kassie oor die lessenaar na hom, teësinnig. Hy haal die inhoud uit. Durbanville Klassieke Meubels. Geregistreer as eenmansaak. 1983. Durbanville Klassieke Meubels. Geregistreer as Beslote Korporasie. 1984. ’n Herregistrasie? Akte van oordrag vir dié huis. 1983. Akte van oordrag van die woonhuis. 1983.

“Hier is nie verbanddokumente op die huise nie,” sê hy.

“O,” sê sy.

“Is hulle afbetaal?”

“Ek dink so.”

“Al twee?”

“Ek … Ja, ek dink so.”

“Die maatskappy se boeke. Die geldsake. Wie het dit hanteer?”

“Jan het dit gehanteer. En die ouditeur.”

“Het jy insae daarin gehad?”

“Ja. Ek het hom elke maand gehelp om die boeke te laat balanseer.”

“Is daar rekords beskikbaar?”

“Ja. Dit is alles hier.” Haar oë draai na die wit kas agter haar.

“Mag ek dit sien?”

Sy knik en staan op. Daar is ’n sekere afwesigheid by haar, dink hy.

Sy maak weer die kasdeur oop, dié keer wyer. “Hier is hulle,” sê sy. Hy kyk. Grootboeke en hardebandlêers staan in ’n netjiese ry oor twee rakke heen, elkeen duidelik in swart kokipen gemerk volgens hul jaartal, sedert 1983.

“Kan ek die eerste klompie sien. Sê tot ’86?”

Sy haal die lêers versigtig uit en gee hulle aan. Hy maak die eerste een oop. Handgeskrewe syfers in rye en kolomme, tussen die fyn blou en rooi lyne van boekhouding. Hy konsentreer, probeer sin maak, begrip kry. Inskrywings van datums en bedrae, die syfers nie groot nie, tientalle, ’n klompie honderde, maar in klaarblyklike wanorde. Hy gee moed op.

“Kan jy vir my verduidelik hoe dit werk?”

Sy knik. Sy neem ’n lang, heldergeel potlood en wys daarmee. “Hierdie is die debiteure en hier is die krediteure. Daar …”

“Wag,” sê hy. “Is dit die inkomste, die geld wat hy ontvang het?”

“En daar is die geld wat hy uitgegee het.”

“Ja.”

“Waar is die bankbalans?”

Sy blaai om en wys met die potlood. “Vir Augustus van 1983 was die balans van die boeke -R1 122,35.”

“Is dit hoeveel hy in die bank gehad het?”

“Ek weet nie.”

“Hoe kan jy nie weet nie?”

“Die bedrag wys dat die besigheid R1 122,35 meer uitgegee het as wat dit ingekry het. Die bankbalans kan minder of meer wees, afhangende van die oorspronklike saldo.” Geduldig, soos vir ’n kind.

“Wag,” sê hy. Hy was nog nooit sleg met syfers nie. Net onbelangstellend. “Hierdie is nie die bankbalans nie – net die verskil tussen inkomste en uitgawes.”

“Ja.”

“Waar wys die bankbalans?”

“Dit wys nie hier nie. Dit sal in die bankstate wys.” Sy staan op, haal nog leggers uit die kas.

“Het jy boekhou-agtergrond?” vra hy.

“Nee. Ek moes leer. Jan het my gewys. En die ouditeur. Dit is nie moeilik as ’n mens dit eers snap nie.” Sy blaai en soek. “Hier. Die bankbalans van Augustus 1983.”

Hy kyk na waar die potlood beduie. R13 877,65. “Hoe werk dit dat hy geld in die bank gehad het, maar die besigheid het ’n verlies gely?”

Sy blaai terug in die bankstate. “Kyk. Die openingsaldo van die bankrekening was R15 000. Die syfers met die minusteken voor was bedrae wat hy betaal het. As jy dit vergelyk met die syfers in die grootboek, sal jy sien dit is dieselfde as die debiteure. En die ander syfers is die inkomste, wat in die grootboek as krediteure aangedui is. Die verskil tussen die twee is R1 122,35. Trek dit af van R15 000 en jy kry R13 877,65.”

“Aaaaa …”

Hy trek weer die grootboek nader, blaai na September 1983. Die balans is -R817,44. Oktober: -R674,87. November: -R404,65. Desember: R312,05.

“Hy het in Desember 1983 begin wins maak.”

“Desember is altyd goeie maande.”

Hy trek die volgende jaar se grootboek en bankstate nader, bestudeer dit met sy nuutgevonde kennis. Hy maak aantekeninge. Die duiwel is in die detail. Sy leuse; Nagel se spotonderwerp. Wilna van As sit oorkant hom, haar hande op die tafel gevou. Hy wonder vlietend wat in dié vrou se kop aangaan.

Sy bied later tee aan. Hy aanvaar met dank. Sy staan op. Hy blaai verder. ’n Sakeonderneming wat konserwatief groei, pryse van kaste en lessenaars, tafels en stoele, hemelbeddens en kopstukke wat stelselmatig styg, ’n mikro-ekonomiese prentjie van ’n era. In 1991 verander die grootboekstelsel na rekenaardrukstukke wat hy van voor af moet ontsyfer, eindelik met die hulp van Wilna van As.

“Die huise. Is daar nêrens ’n rekord van die kooptransaksies nie?”

“Ek weet nie.”

“Sal jy kan uitvind?”

“Ek sal by die bank hoor.”

“Ek sal baie dankbaar wees.”

“Wat sê dit alles vir jou?” Sy wys na die syfers wat voor hulle oopgesprei is.

“Ek weet nog nie. ’n Voorgevoel. Maar laat ek eers seker maak.”

“’n Voorgevoel van wat?” Weer die angs in haar stem, in haar oë.

Mitchells Plain toe. Hy is in die voetheuwels van daardie eienaardige deurbraak-euforie, die Everest van insig nog agter mis en wolke versluier, data in sy kop gestoor, in sy notas. Die kolomme van die ondersoek-grootboek klop nog nie. ’n Teorie. Iewers tussen die syfers en die jaartalle en Wilna van As se vertellinge lê die waarheid en sluimer. Sy hart wat nou lig klop, sy kop wat hier en daar vat-vat aan dit alles. Hy voel lig. Fok, fok, fok. Dit is soos die ou dae, wat word van hom? Is dit só maklik? Verlossing, bevryding, vrymaking. Jy stap weer die ou paaie met die kompas van kennis en prosedures en voorskrifte en sintuie met Nagel se gekoggel oor jou skouer en jy skud dit alles af – jy skud Nagel af, jy skud háár af?

Ha! Sal nie só werk nie … Moenie daaroor dink nie. Soos ’n man wat opklim – moenie afkyk nie.

Wíl hy opklim? Wíl hy uit die veilige, stinkende drek van sy huidige bestaan opstaan?

Orlando Arendse se huis was vyf, ses jaar gelede hier. Dinge het verander. Veiligheidsmuur met lemmetjiedraad bo-op. Fort Mitchells Plain. Hy stop by die hek en klim uit. Agter die hek kom ’n man aangestap, groot pistool aan die gordel.

“Wat?”

“Ek soek vir Orlando.”

“Wie’s jy?”

Geen respek soos in die ou dae meer nie.

“Van Heerden.”

“Es Ay Pie Es?”

“Nie meer nie.”

“Wag.”

Es Ay Pie Es. Hulle het nog altyd die vermoë gehad om die gereg te ruik, selfs al is jy nie meer amptelik nie. Selfs al lyk jy nie na ’n poliesman nie. Hy kyk na die oordadige diefwering teen die vensters. Slagveld Mitchells Plain. Nou is dit die bendes én Pagad én Sjinese mafia én Colombiaanse en Nigeriese kartelle én Russiese mafia én solovlieëniers. Én alfabetsop-splintergroepe. G’n wonder die Es Ay Pie Es kan nie byhou nie. In sý dae was dit net die bendes – bang tieners en opgefokte tronkvoëls …

Die man kom teruggestap, maak die hek oop. “Jy beter die kar intrek.”

Hy ry in, parkeer en klim uit.

“Kom,” sê Pistool-aan-die-heup.

“Gaan jy my nie deursoek nie?”

“Orlando sê ek hoef nie, want jy kan nie ’n dubbeldeurkakhuis op twee tree raak skiet nie.”

“Dit is altyd lekker om onthou te word.”

By die voordeur in. Die sitkamer is ingerig soos ’n kantoor. Tuisbedryf van georganiseerde misdaad. In die hoek sit nog drie soldate; by ’n groot tafel sit Orlando Arendse. Ouer as wat hy onthou, grys aan die slape, lyk nou soos ’n skoolhoof, steeds die liefde vir roomkleurige driestuksnyerspakke.

“Van Heerden,” sê Orlando sonder verbasing.

“Orlando.”

“Jy wil iets van my hê.” Die soldate in die hoek is besig om papierwerk te doen, ore gespits, paraat.

Hy haal die identiteitsboekie uit sy sak en gee dit vir Arendse aan.

“Sit,” sê die man en beduie na ’n stoel. Hy maak die boekie oop en plaas die leesbril wat aan ’n toutjie om sy nek hang op sy neus. Hy trek die lamp nader, sit dit aan, hou die boekie onder die lig.

“Ek doen nie meer I.D.’s nie.”

“Wat doen jy nou, Orlando?”

“Jy’s nie meer official nie, Van Heerden.”

Hy grynsslag vir ’n oomblik. So fokken waar.

Orlando klap die boekie toe. “Dis oud. En dis nie my werk nie.”

“Maar dit ís vervals.”

Orlando knik. “Goeie jop. Kan Nieuwoudt s’n wees.”

“Wie’s Nieuwoudt?”

Orlando skuif die boekie oor die tafelblad na hom. “Jy kom hier in, Van Heerden, unannounced, asof ek jou skuld. Jy is vyf, ses jaar uit die Force, rumour has it jy is ’n bottom feeder going down – waar’s jou negotiating power?”

“Ek het nie negotiating power nie.”

Die man kyk na hom. Orlando is ’n bruin man met die gelaatstrekke van ’n Xhosa, die onsimpatieke, legendariese gene van sy wit wynboer-pa en swart huishulp-ma. “Jy was altyd eerlik, Van Heerden, I’ll give you that. ’n Straight shooter, solank dit net nie met ’n firearm is nie.”

“Fok jou, Orlando.”

Die soldate in die hoek raak stil.

Orlando vou sy hande voor hom, goue ringe aan elke pinkie. “Is jy nog touchy oor Nagel, Van Heerden?”

“Jy weet fokkol van Nagel, Orlando.” Sy stem is hoog en sy hande bewe. Hy sit op die punt van die stoel.

Orlando steun sy ken met sy gevoude hande, die oë swart en glinsterend, kalm. “Relax,” sê hy sag. Soldate se asem ingehou.

Stadig nou – kan nie nou, hier, beheer verloor nie. Die rooi gety wyk stadig. Hy haal asem, diep, voel sy hart wat klop. Stadig, stadig.

Orlando se stem is sag: “Jy sal moet let go, Van Heerden. We all make mistakes.”

Asem, stadiger. “Wie is Nieuwoudt?”

Orlando se oë en hande is lank stil, metend. “Charles Nieuwoudt. Boer. White trash. Sit al tien jaar, selfs Madiba se birthday bash amnesty gemis.”

“Vervalser?”

“One of the best. An animal, but an artist. Hy het sloppy geraak – te veel werk, te veel geld, te veel boom en vroumense. Tried to make a fortune, toe maak hy ses miljoen se twintigrandnote sonder watermerk en dump die drukker in die Liesbeek met ’n gat in die kop om sy deel van die profit ook te kry. Toe vang hulle hom vir moord én die geld.”

Die soldate in die hoek begin weer papiere rondstoot.

“En dit is sy werk daardie?”

“Looks like it. Hy was die blouboekie-koning. Die bloues was makliker om te fake. Die seventies en early eighties was goeie jare …”

“Nog een vraag, Orlando.”

“Ek luister.”

“Dit is 1983. Ek het dollars. Amerikaans. Baie dollars. Ek wil huis koop en ’n wettige besigheid begin. Ek het rande nodig. Hoe maak ek?”

“Vir wie werk jy, Van Heerden?”

“’n Prokureur.”

“Kemp?”

Hy skud sy kop.

“Jy’s nou ’n P.I. vir ’n prokureur?”

“Vryskut, Orlando.”

“Dis laer as kreefkak, Van Heerden. Hoekom gaan jy nie terug Force toe nie? We need all the opposition we can get.”

Hy laat dit van hom afrol. “Dollars in ’83.”

“Dis lank gelede.”

“Ek weet.”

“Ek was nog small time in ’83. Ek het nie geweet van dollars nie. Net fake I.D.’s”

“Wie sou geweet het?”

“Whitey black market. Jy sou moes 30 of 50 sent op die dollar vat, of so iets. Maar as jy name soek, kan ek jou nie help nie.”

Van Heerden staan op. “Dankie, Orlando.”

“Is daar nog dollars in dié ding?”

“Ek weet nie.”

“Maar miskien?”

“Miskien.”

“Dollars is nou big money.”

Van Heerden knik net.

“You owe me one, Van Heerden.”

Orion

Подняться наверх