Читать книгу Orion - Деон Мейер - Страница 5
1
ОглавлениеHy kom skielik uit die drankslaap en die pyn van sy ribbes is eerste in sy bewussyn, dan die seer van geswolle oog en bolip, die antiseptiese, dowwe reuk van die sel, die suur reuk van sy lyf, die sout smaak van bloed en ou bier in sy mond.
En die verligting.
Die aand se brokstukke in sy kop: Die uittarting, die beswaarde gesigte, die woede. Sulke normale, voorspelbare fokkers. Sulke ordentlike, konvensionele pilare van die gemeenskap.
Hy lê só, op die kant van sy torso – sonder pyn, stil, die babelas wat deur hom versprei.
Voetstappe in die gang buite, ’n sleutel wat in die grys staaldeur se slot draai, die geluid van metaal op metaal wat deur sy kop sny. Dan staan die uniform daar.
“Jou prokureur is hier,” sê die polisieman.
Hy draai stadig om. Hy maak sy een oog oop.
“Kom.” ’n Stem sonder respek.
Hy beur sy liggaam orent, swaai sy voete van die katel af. “Ek het nie ’n prokureur nie.” Sy stem klink ver.
Die polisieman tree nader, vat hom agter aan die kraag, trek hom orent. “Kom.”
Die pyn in sy ribbes. Hy strompel deur die seldeur, in die geplaveide gang af, na die aanklagkantoor.
Die uniform stap vooruit, wys met die sleutel die pad na die klein paradekamer. Hy stap moeisaam in. Kemp sit daar, met sy aktetas langs hom en ’n frons op sy gesig. Hy gaan sit op ’n diepblou stoel, sy kop in sy hande. Hy hoor hoe die polisieman die deur agter hom toetrek en wegstap.
“Jy is gemors, Van Heerden,” sê Kemp.
Hy sê niks.
“Wat word van jou?”
“Wat maak dit saak?” Sy dik lip vervorm die “s”.
Kemp se frons verdiep. Hy skud sy kop. “Hulle het nie eens die moeite gedoen om ’n saak te maak nie.”
Hy wil die verligting herleef, die vermindering van die druk, maar dit ontwyk hom nou. Kemp. Waar de fok kom Kemp vandaan?
“Selfs tandartse ken drek as hulle dit sien. Here, Van Heerden, wat word van jou? Jy pis jou lewe weg. Tandartse? Hoe dronk moet ’n mens wees om vyf tandartse te probeer aanvat?”
“Twee was algemene praktisyns.”
Kemp kyk hom op en af, dan staan die prokureur op. Hy is ’n groot man, skoon en netjies in die sportbaadjie en grys broek, die das se neutrale kleure net reg. “Waar’s jou kar?”
Van Heerden kom stadig orent. Die aarde is nie heeltemal stil nie. “By die kroeg.”
Kemp maak die deur oop en stap uit. “Kom.”
Hy stap stadig agterna, tot in die aanklagkantoor. ’n Sersant stoot sy besittings oor die toonbank, ’n plastieksak met sy dun beursie en sy sleutels. Hy neem dit sonder om oogkontak te maak.
“Ek vat hom weg,” sê Kemp.
“Hy sal terug wees.”
Die dag is koud buite, die wind sny deur sy dun baadjie. Hy onderdruk die drang om dit stywer om hom vas te trek.
Kemp klim in sy groot bakkie, leun oor en sluit die passasiersdeur oop. Van Heerden stap stadig om en klim in, trek die deur toe en leun daarteen aan met sy kop. Kemp trek weg.
“Watter kroeg?”
“Die Sports Pub oorkant Panarotti’s.”
“Wat het gebeur?”
“Hoekom het jy my kom haal?”
“Omdat jy gisteraand vir die hele Table View-polisiestasie vertel het dat ek vir hulle en die tandartse sal dagvaar vir enigiets van aanranding tot brutaliteit.”
Hy onthou, vaagweg, sy aanklagkantoor-tirade. “My prokureur.” Spottend.
“Ek is nie jou prokureur nie, Van Heerden.”
Die geswolle oog knip sy lag kort. “Hoekom het jy my kom haal?”
Kemp verwissel die ratte aggressief. “Die fok weet.”
Hy draai sy kop, kyk na man agter die stuur. “Jy wil iets hê.”
“Jy skuld my.”
“Ek skuld jou niks.”
Kemp ry, soekend na die kroeg. “Watter kar is joune?”
Hy wys na die Corolla.
“Ek ry agter jou aan. Ek moet jou skoon en respektabel kry.”
“Vir wat?”
“Later.”
Hy klim uit en stap oor die straat, klim in die Toyota. Hy sukkel om die deur oop te sluit, sy hand bewerig. Die enjin stotter en kerm, vat eindelik. Hy trek weg, ry na Koebergweg, links verby Killarney, uit op die N7. Die reën kom skielik in windvlae oor die pad. Links na Morningstar en weer links deur die kleinhoewe se ingang. Kemp se ingevoerde Amerikaanse Ford agter hom. Hy kyk na die groot huis tussen die bome, maar draai weg na die witgekalkte geboutjie, hou stil.
Kemp stop langs hom, draai sy venster net effens oop teen die reën. “Ek wag vir jou.”
Hy stort eers, laat die warm water oor sy lyf spoel, sonder genoegdoening, sy hande wat onnadenkend die skraal lyne van skouer na borskas na maag met die seep smeer, net die seep, sonder waslap, versigtig oor die beseerde deel van die ribbes, dan metodies die res. Hy leun met sy kop teen die muur om te balanseer as hy eers die een, dan die ander voet was, eindelik die krane toedraai en die handdoek van die reling aftrek. Die dun, uitgewasde wit handdoek – hy sal die een of ander tyd ’n nuwe een moet koop. Hy laat die wasbak se warm kraan eers loop, hou sy hande bak onder die temerige straal en gooi dan die water oor die spieël om die stoom weg te was. Hy druk die buisie skeerseep in sy linkerhand uit, doop die kwas daarin, laat dit skuim. Hy smeer die seep oor sy gesig.
Die oog lyk sleg. Nou rooi en opgehewe. Later bloupers. Die rofie op sy lip het afgewas. Net ’n fyn bloedstreep oor.
Hy trek die skeermes eers van langs die linkeroor na onder, al die pad met sy vel langs, oor die hoek van die kakebeen tot in die nek, begin dan weer bo. Sonder om homself te sien. Trek sy kakebeen en lippe om die vel te laat span vir die skeermes om die mond, doen dan die regterkant, spoel die skeermes af, was die wasbak uit met warm water, droog weer af. Borsel sy hare. Moet die borsel skoonmaak, die swart hare koek daarin.
Moet nuwe onderbroeke koop. Moet nuwe hemde koop. Moet nuwe kouse koop. Die een of ander tyd. Broek en baadjie nog redelik. Fok die das. Sit die lig af. Die vertrek is donker en koud, die reën teen die vensters, tien oor elf in die oggend.
Hy stap uit. Kemp hou vir hom die bakkie se deur oop.
Daar is ’n lang stilte, tot in Milnerton.
“Waarheen?”
“Stad toe?”
“Jy wil iets hê.”
“Een van ons P.A.’s het haar eie praktyk begin. Sy het hulp nodig.”
“Jy skuld haar.”
Kemp snork net. “Wat het gisteraand gebeur?”
“Ek was dronk.”
“Wat het gisteraand gebeur wat anders was?”
Daar is pelikane op die gholfbaan se vlei. Hulle wei ongestoord in die reën.
“Hulle was so vol van hulle fokken vier by viers.”
“Toe rand jy hulle aan?”
“Die vette het eerste geslaan.”
“Hoekom?”
Hy draai sy kop weg.
“Ek verstaan jou nie.”
Hy maak ’n geluid in sy keel.
“Jy kan ’n lewe maak. Maar jy het so ’n vet kak in jouself …”
Paardeneiland se nywerhede beweeg verby.
“Wat het gebeur?”
Van Heerden kyk na die reën, fyn, skarrelende druppels teen die voorruit. Hy haal diep asem, ’n sug vir die nutteloosheid daarvan. “Jy kan vir ’n man sê sy vier by vier gaan nie sy voël langer maak nie en hy hou hom doof. Maar praat oor sy vrou …”
“Jissis.”
Vir ’n vlietende oomblik voel hy weer die haat, die verligting, die oomblik van verlossing van gisteraand, die ses middeljarige mans se gesigte deur woede verwring. Houe, skoppe wat op hom reën, tot die drie kroegmanne hulle uitmekaar kry.
Hulle praat nie weer tot Kemp voor ’n gebou in die Strandgebied stilhou nie.
“Derde verdieping. Beneke, Olivier en Vennote. Sê vir Beneke ek het jou gestuur.”
Hy knik en maak die deur oop, klim uit. Kemp kyk vir hom, nadenkend.
Dan maak hy die deur toe en stap die gebou binne.
Hy sit-lê sonder respek in die stoel. “Kemp het my gestuur,” is al wat hy gesê het. Sy het geknik en die beseerde oog en lip ingeneem, voorgegee dat dit nie bestaan nie.
“Ek glo ek en jy kan mekaar help, meneer Van Heerden.” Sy vou haar romp in as sy gaan sit.
Meneer. En die poging tot gemeenskaplike grond. Hy ken dié aanslag. Maar hy sê niks. Hy kyk vir haar, wonder waar sy die neus en mond geërf het. Die groot oë en die klein oortjies. Die genetiese dobbelstene het vir haar op vreemde plekke geval, op die rand van skoonheid.
Haar hande is op die lessenaar, die vingers netjies verstrengel. “Meneer Kemp sê vir my jy het ervaring met ondersoekwerk, maar is nie op die oomblik in ’n betrekking nie. Ek het die hulp van ’n goeie ondersoeker nodig.” Norman Vincent Peale. Sy praat glad en behendig. Hy vermoed sy is slim. Hy vermoed sy sal langer neem om te ontsenu as die gewone vrou.
Sy trek ’n laai oop en haal ’n lêer uit.
“Het Kemp vir jou gesê ek is gemors?”
Haar hande weifel net ’n klein oomblik. Sy glimlag styf. “Meneer Van Heerden, jou persoonlikheid gaan my nie aan nie. Jou persoonlike lewe gaan my nie aan nie. Hierdie is ’n sakeproposisie. Ek bied aan jou ’n tydelike werksgeleentheid teen ’n professionele fooi.”
So fokken beheersd. Asof sy alles weet. Asof haar selfoon en graad al skanse is wat sy nodig het …
“Hoe oud is jy?”
“Dertig,” sê sy. Sonder skroom.
Hy kyk na haar ringvinger. Dit is kaal.
“Is jy beskikbaar, meneer Van Heerden?”
“Dit hang af van wat jy wil hê.”