Читать книгу Orion - Деон Мейер - Страница 15

10

Оглавление

My ma het gedink dit was Nagel se dood wat die kentering gebring het. Almal het gedink dit was Nagel se dood.

Waarom, wanneer mense aan ander se lewe dink, tel hulle net ’n paar groot getalle bymekaar om die oordeel te vel? Maar met die somme wat hul eie lewe bepaal, is hulle bereid om ’n duisend syfers te maal, te deel, op te tel en af te trek, tot die boeke só gekook is dat die eindtotaal hulle pas.

Is ek ook daaraan skuldig? Ek weet nie. Ek probeer om die niksseggende syfers hier uit te laat. En die negatiewes net soveel te laat tel. Maar kan ons ooit betroubare boekhouers van ons eie lewe wees?

Ek sal steeds probeer:

Ek was sestien jaar oud toe sy een aand vir my in die sitkamer laat sit en sê sy wil ernstig met my praat. Sy het ’n whiskybottel en twee glase op die koffietafel gesit en ’n vinger of wat in elkeen gegooi.

“Ek drink nie daai goed nie, Ma.”

“Al twee is vir my, Zet. Ek wil met jou praat oor seks, my kind.”

“Ma …”

“ Jy is nie die enigste een vir wie dit ongemaklik is nie. Dit is net iets wat ons sal moet doen.”

“Maar Ma …”

“Ek weet jy weet al van seks. Ek het ook by my skoolmaats alles gehoor lank voor my ma met my gepraat het …”

“Ma …”

“Ek wil net seker maak jy hoor die ander kant ook, die regte kant.”

En toe sluk sy die eerste whisky weg.

“Die mensdom is oud, Zet. Miljoene jare. En dit wat ons is, is nie gister gemaak nie. Ons is gevorm en geskaaf en gebeitel toe ons nog wild was, toe ons nog in klein groepies oor die vlaktes van Afrika en Europa getrek het agter kos aan, met klipmesse en velklere. Toe dit nog glad nie seker was dat ons die spesie gaan wees wat gaan oorheers nie. Ons moes net oorleef. En om dit te kon doen, moes elkeen sy deel bydra. Man en vrou. Die man het gejag en baklei en beskerm. En soveel vroue as moontlik bevrug, want die genepoel mag nie stagneer nie en môre is hy dalk leeukos. En vroue moes hul groepie bymekaar hou en seker maak sy verlei die sterkste, vinnigste, slimste man, sodat haar kinders ’n beter kans het om te oorleef. Die drange is nog in ons, Zet. Dit lê daar en ons weet dit nie, want ons ken onsself nie meer nie en dit is niemand se skuld nie, want die probleem is ons het dit nie meer nodig nie. Ons is aan die bopunt van die voedselketting en ons het te veel geword en as die helfte van ons nooit weer voortplant nie, sal dit nie skade wees nie.”

Sy sluk die tweede whisky.

“Die probleem is dat dié situasie nog nie mooi na ons natuur deurgedring het nie. Iemand het vergeet om ons instinkte te vertel ons het gewen. En een van die dae gaan jou hormone heeltemal oorneem en dan wil jy jou saad begin uitdeel …”

“Ma …”

“Nee, Zet, ek weet jy masturbeer al, maar laat ek sommer nou vir jou sê dit is nie verkeerd nie …”

“Ma, ek wil nie …”

“Dit is vir my net so ongemaklik, Zatopek van Heerden, maar jy gaan stilbly en jy gaan luister. Jou oupa Van Heerden het vir jou pa gesê masturbasie maak ’n mens blind en jou pa het vir my gesê toe hy op koshuis was, het hy elke oggend sy oë stadig oopgemaak, omdat hy so bekommerd was. Ek wil nie hê jy moet ook sulke twak hoor nie. Masturbasie is normaal en gesond en doen nie kwaad nie, dit maak niemand swanger nie en dit is teen niemand se wil nie. As dit jou help, dan gaan jy aan. Dit is oor regte seks wat ek vanaand moet praat, my kind, want jou instinkte weet nog nie ons het gewen nie. Jy het twee- of drie- of tienmiljoen jaar se oorlewingsdrang wat jy in jou saamdra, wat elke dag aan jou deur gaan kom klop en as jy daardie deur oopmaak, moet dit nie ’n vreemdeling wees wat voor jou staan nie.”

Sy het nog van die drank geskink.

“Ma moet stadig met daardie goed.”

Sy het geknik. “Jy weet ek gebruik dit nooit, Zet, maar vanaand is anders. Ek het net een geleentheid om dié ding reg te doen en as my senuwees in die pad kom, gaan dit lol. Ek moet vir jou sê seks is lekker. Die natuur het dit so verskriklik lekker gemaak sodat ons kan aanhou voortplant, nog so ’n ekstra geelwortel voor ons neuse, net om seker te maak. Dit is lekker vanaf die oomblik dat ons daaraan begin dink tot die laaste oomblik van orgasme, met die voorspel en die opbou en alles tussenin. Lekker en wonderlik en intens. Dit is soos ’n goddelike koors, ’n heerlike beswyming wat ons kan oorrompel en elke ander gedagte uit ons koppe dryf. En as jy nou ons stokou natuur én die lekker én die koors bymekaar tel, dan is seks sterker as enige ander drang wat ons het, Zet. Dit moet jy weet.”

Nog ’n sluk.

“En dan het die natuur nog ’n ander troefkaart ook. Hy maak ons vir mekaar mooi. Hier van vyftien, sestien, sewentien gee hy vir mans en vroue lywe wat vir mekaar onweerstaanbaar is, wat mekaar trek soos die sterkste magnete. Al dié dinge saam.…

“Die probleem met seks, my kind, is die produk. Dit is nie net vir die lekker nie. Dit maak babatjies. En babatjies maak moeilikheid, as jy nog nie heeltemal reg is daarvoor nie. Ek wil jou vanaand net drie goed vra, Zet. Voor jy met ’n meisie of ’n vrou seks het – dink. Dink of jy saam met haar ’n baba wil hê. Want om ’n baba te hê beteken jy is die res van jou lewe aan haar gebind. Dink. Sien prentjies in jou kop van in die middel van die nag opstaan om bottels te gee, om wakker te lê en bekommerd te wees oor waar die geld vandaan gaan kom vir kos en klere en ’n ordentlike huis. Dink of jy elke oggend vir die res van jou lewe wil wakker word met die verantwoordelikheid, of jy elke oggend saam met dié vrou wil wakker word, wanneer jy haar sonder grimering en gedoende hare en ’n vars asem sien, wanneer haar lyf nie meer so jonk en so mooi is nie. Dink, my kind, of jy lief is vir haar. Die natuur vra nie of jy lief is vir haar wanneer jy die eerste keer vir haar wil vat nie. Hy gee vir jou ’n kitsliefde soos ’n weerligstraal, maar as jou saad gesaai is, is daardie kitsliefde weg. Vra vir jouself of jy regtig lief is vir haar. Want een ding kan ek vir jou sê: seks met iemand vir wie jy regtig lief is, is ’n duisend maal lekkerder as seks daarsonder.”

Op daardie oomblik was daar ’n heimwee in haar stem wat ek nie wou hoor nie, maar nooit sou vergeet nie – die eerste glimp wat ek as semivolwassene gekry het van haar liefde vir en verhouding met my pa.

“Die tweede ding wat ek vir jou wil vra, is om nooit ’n vrou te dwing nie. Daar is mans daar buite wat vir jou sal sê elke vrou het ’n heimlike wens dat ’n man haar sommer net moet vat, maar laat ek vir jou sê dit is absolute twak. Vroue is nie so nie. Dit maak nie saak hoe hoog jou koors is nie, dit is die een ding wat jy nie mag doen nie.

“En die derde ding is om ’n ander man se vrou uit te los.”

Ek het vir drie weke ná dié gesprek nie hand aan eie liggaam geslaan nie, uit skaamte omdat my ma geweet het. En daarna het die natuur sy loop geneem. En soos ’n jong seun seker is, het ek een deel van haar boodskap die maklikste onthou: Ek moet vir jou sê, seks is lekker.

Die res het ek van voor af geleer, op die harde manier.

In die winter van 1978 het ek op Marna Espag verlief geraak – my eerste liefde, in standerd nege, met al die wonderlike intensiteit van die puberteit. Dit was asof ek haar een oggend vir die eerste keer gesien het, met haar swart hare en groen oë en mooi, laggende mond. Sy het my denke en my drome gevul, my fantasieë van heldhaftige dade – waarin ek haar telkens uit doodsgevaar red – aangevuur.

Dit het my drie maande geneem om haar vir die eerste keer uit te vra, ná die gewone tienerproses van uitvind of sy van my hou en verskuilde boodskappe stuur dat ek belang stel. Ons het gaan fliek by die Leba op Klerksdorp. My ma het ons gedienstig gaan aflaai en weer gaan haal nadat ons melkskommels by die steakhouse langs die teater gedrink het. My ma het van haar gehou. Álmal het van haar gehou.

Ek het haar die eerste keer gesoen tydens ’n motorhuispartytjie op Stilfontein, op die close dance-maat van Gene Rockwell se “Heart” – die lig wiegende voorspel wat my skoolvriend Gunther Krause so onromanties “knopskuur” genoem het. Ek onthou haar oordadige parfuum en die sagtheid van haar mond. En ook my eie lighoofdigheid toe ek die eerste keer ’n vrou se tong in my geproe het, as ’n voorsmaak van die geheimenisse en goddelike potensiaal van wat daarop kon volg.

Ons het gevry met die verbete geesdrif en toewyding van baanbrekers – buite haar voordeur, by die tuinhekkie, by partytjies en, soms, in my ma of haar ouers se sitkamer wanneer die geleentheid hom voorgedoen het. Daar was ’n natuurlike, versigtige vordering wat deur weke en maande plaasgevind het. In November het ek my hand vir die eerste keer versigtig na die deining van haar bors laat sak, my kloppende hart smagtend dat sy dit nie moet afkeur nie. In die roekelose tyd tussen Kersfees en Nuwejaar, terwyl die res van haar gesin by Potch-dam gaan braai het, het ek die eerste keer in hul voorhuis haar bloes oopgeknoop, haar klein borste gestreel en ’n tepel in my mond voel groei. En in Februarie het my vinger die eerste keer die heilige graal onkundig en onbehendig bereik en het ons saam gesidder oor die waaghalsigheid en die oorweldigende genot.

Twee weke later het ek gesê my ma gaan die Vrydagaand Pretoria toe vir die openingsaand van Die Huwelik van Figaro. En ek gaan alleen by die huis wees.

Marna het lank na my gekyk. “Dink jy ons moet dit doen?”

“Ja,” het ek gesê, die koors reeds besig om te styg.

“Ek ook.”

Ek het in die daaropvolgende paar dae ’n wêreldrekord in masturbasie opgestel. Dit was skrikwekkend soos die afwagting my hele bestaan oorheers het. Ek het die Groot Oomblik oor en oor in my kop sien afspeel en in my fantasieë was dit perfek. Ek kon aan niks anders dink nie. Ek het die dae – en eindelik die ure – afgetel, my ma by die hek gaan afsien met groot ongeduld en ’n reusagtige leuen dat ek “verantwoordelik” sal wees.

Marna was laat en ek was byna van my sinne af. Sy was effens bleek.

“Ons hoef dit nie te doen nie,” het ek weer gelieg.

“Dis okay. Ek is ’n bietjie bang.”

“Ek ook,” was my finale leuen van die aand.

Ons het koffie gedrink en sonder geesdrif oor skoolwerk en skoolmaats gesels en ek het haar eindelik saggies omhels en vasgehou en stadig begin soen. Dit het ’n uur, selfs meer geneem vir haar om te ontdooi, om van ietwat verstok en verskrik te vorder tot die sagte, verwelkomende Marna wat ek geken het, vir haar asem om in tempo toe te neem tot die wonderbaarlike galop van totale gereedheid en vir haar hartklop om sigbaar en byna hoorbaar teen haar borsies te hamer.

Ek het haar kledingstukke een vir een versigtig uitgetrek. Tot sy eindelik mooi en bleekwit en reg op my ma se reusagtige sitkamerbank gelê het.

En skielik was dit tyd. Ek het opgestaan en koorsagtig uitgetrek en teruggedraai na haar en haar daar sien lê en die hele veertien dae se afwagting en fantasieë was soos ’n meesleurende golf en my lyf was aan die brand en ek het skouspelagtig oor my ma se sitkamermat gekom.

Orion

Подняться наверх