Читать книгу Ena Murray Keur 9 - Ena Murray - Страница 10

7

Оглавление

Met oë vol vrees kyk sy na hom, maar sy gesig versag nie. “Kyk of jy hou van die mooi, leë gesiggie in die spieël.” Natuurlik het sy in die dae wat verby is by die verpleegpersoneel probeer uitvis hoe sy lyk. Maar almal was ontwykend, en sy het intuïtief geweet dit was in opdrag van dokter Wagner. Selfs Fritz wou nie juis iets kwytraak nie. Sy kon later gil van pure frustrasie. Maar noudat die oomblik aangebreek het, is sy bang … ontsettend bang.

Eindelik sak haar oë af en sy staar na die vreemde vrou wat uit die spieël na haar terugkyk. Daar is niks wat sy herken nie, behalwe die oë. Net die grys oë het dieselfde gebly. Maar die res …

Sy trek haar asem stadig, moeisaam in. Sy kyk na die gesig van ’n vreemde maar beeldskone vrou. ’n Volslae vreemdeling. Sy het hierdie vrou nog nooit gesien nie. Nie eens die haarkapsel het dieselfde gebly nie. In die afgelope maande het haar hare lank gegroei en nie sy of enigiemand anders het daaraan gedink om dit te laat sny en in die ou kapsel te kam nie.

Die grys oë bestudeer die vreemde gesig voor haar. Dis ’n skraal, fyn gesiggie met klassieke gelaatstrekke wat na haar terugkyk, met golwende lang hare wat tot oor haar skouers hang. Dis ’n asemrowende mooi gesig wat voor haar oë in ’n spieëlbeeld vasgevang is, ondanks die merkies van die operasies wat nog duidelik sigbaar is.

Asof van ver hoor sy sy stem na haar aankom. “Die merkies sal mettertyd heeltemal verdwyn. Oor sowat ’n week of twee sal dit met die regte grimering glad nie meer sigbaar wees nie.” Sy bly staar en ná ’n rukkie gaan die emosielose stem voort: “Wat die res betref, hoef jy nie eens in ’n spieël te kyk nie. Die vet het reeds lankal verdwyn, soos jy seker self al agtergekom het. As jy in die toekoms reg eet, sal jy nie weer gewigsprobleme ondervind nie. Eintlik is jy nou na my smaak te maer, maar ek weet natuurlik nie hoe Eugene Minnaar sy … e … vriendinne verkies nie.”

Haar oë rek geskok en sy laat die spieël sak. Hy draai om, beduie met die hand. “Dit kan nou maar hier bly. Ek veronderstel jy sal graag na jouself wil kyk terwyl jy jou planne agtermekaar kry.”

“Watter planne?”

Sy hand is steeds op die deurknop. “Jou toekomsplanne, natuurlik. Jy het mos besliste planne met jou en jou suster se man, nie waar nie?”

Klaus Wagner laat Petra weer eens verslae, woedend en verneder agter. Sy stoot die spieël van haar af weg, spring op van die bed en begin rusteloos rondstap. O, daardie man! Hy het daarin geslaag om al die vreugde wrang te laat smaak wat sy op hierdie oomblik behoort te voel.

Dan stoot sy haar ken uit. Na die duiwel met die ewige dokter Wagner en wat hy ook al dink of voel. Dis bitter swaar en pynlike maande wat agter haar lê. Maande van vrees, frustrasie en hartseer soos sy nog nooit geken het nie. Maar sy het deurgedruk met ’n doel, en nie hy of enige ander mens sal haar nou daarvan laat afsien nie. Sy tel weer die spieël op.

Ek is mooi, asemrowend, dink sy byna koorsig. Klaus Wagner het woord gehou. Ek is mooier as Paula. Dan sak haar blik af na haar liggaam. Tot nou toe het sy kwalik daaraan aandag gegee. Sy was bewus daarvan dat sy baie gewig verloor het. Haar eetlus was swak terwyl sy deurtrek van die pyn was. En nadat die ergste pyn begin verdwyn het, was dit asof die ou behoefte aan kos vir goed verdwyn het. Sy was ook bewus daarvan dat hulle haar ’n spesiale dieet laat volg het, ’n dieet wat nie moeilik was om vol te hou nie. Sy vat haar nagklere agter haar rug saam en wat sy sien, laat haar na haar asem snak. Haar lyf kan nou by dié van haar pragtig geboude suster kers vashou! En met die regte grimering en klere behoort sy haar suster dalk nog die loef te kan afsteek!

Sy tel weer die spieël op. Sy kan dit nie glo nie! Dan versomber die oë wat na haar terugkyk. Klaus Wagner het hierdie volmaakte prentjie ’n mooi, leë gesiggie genoem. Dan glimlag sy skrams. Dis wat hý dink! Hy weet nie dat sy al die jare ’n slim kind op skool was nie en ’n ewe skrander teatersuster. Hy weet nie dat sy in dié een opsig haar pragtige suster uitgestof het nie. Maar nou is daardie aspek nie van belang nie. Wat van belang is, is haar mooi gesig en slanke liggaam – dis mos waarin mans belangstel, dan nie? Waarin Eugene sal belangstel wanneer hulle mekaar weer van aangesig tot aangesig sien.

’n Wilde opgewondenheid pak haar beet. Maar sy moet die prentjie vervolmaak. Daar het nog ’n stukkie skaafwerk oorgebly. In die verlede, toe sy nog lelik en vet was, het sy geen moeite gedoen om te leer hoe ’n meisie haar reg grimeer nie. Sy kan ook net so effentjies dans, want sy het selde ’n maat gehad. En sy gaan ook leer tennis speel. Sy sal haar suster oortref op elke gebied waarin sy uitgeblink het. Dit behoort baie interessant te wees, dink sy en besef nie dat haar lippe op dié oomblik byna op dieselfde siniese wyse vertrek as dié van die vermaarde dokter nie. Ja, dit behoort baie interessant te wees om op gelyke voet met haar suster mee te ding. Dit behoort te vergoed vir al die maande van eensame afsondering en smart.

Tot haar verbasing en latere ongemak sien sy haar dokter, soos sy aan hom dink, twee dae lank glad nie.

“Waar is dokter Wagner? Is hy weg?” wil sy die derde dag van Fritz weet.

“Nee. Hy is hier. Hoekom?”

“Nee, ek … ek het gedink hy is dalk weg.”

“O, nee, hy is beslis hier. Wat deesdae met daardie man aangaan, sal ek graag wil weet. Ons moet net mooi in ons spoor trap. Ek het nooit geweet hy kan so humeurig word nie.”

Petra frons en haar ongemak neem toe. Volgens haar eie en ook die res van die kliniek se mening is sy gereed om huis toe te gaan. Maar die grootbaas het haar nog nie formeel kom ontslaan nie. Sy kry amper die indruk dat hy skoon vergeet het sy is nog in sy kliniek. Sy het besluit om hom vandag te gaan spreek as hy nie opdaag nie, maar sy voel effens lugtig noudat Fritz haar vertel het hy is deesdae soos ’n beer met ’n kopseer.

Dan besluit sy. Wat die groot dokter ook al pla, dit het niks met haar te doen nie. Sy is ’n pasiënt en sy betaal hom goed genoeg om aandag en hoflikheid van hom te verwag. Enkele oomblikke later klop sy aan sy kantoordeur in die kliniek en stap binne.

Sy vererg haar opnuut toe hy geen woord sê nie en haar net sit en aankyk asof sy iets is wat die kat ingedra het.

Hy lyk beslis soos ’n ou beer, dink sy vlugtig toe sy teen sy hewige frons vaskyk. Sy trek haar kamerjas werktuiglik stywer om haar, asof dit haar teen die deurdringende blik sal beskerm. Sy is bewus daarvan dat haar kamerjas seker nou drie keer om haar kan gaan, maar aangesien hierdie meneer so duidelik in die verlede getoon het ’n vrou se uiterlike laat hom koud, steur sy haar ook nie daaraan hoe sy nou vertoon nie.

“Die berg het toe maar besluit om na Mohammed te kom.” Sy kan dit nie verhelp om sarkasties te wees nie, maar as sy verwag het hy sou reageer, wag sy vergeefs. Haar ergernis neem met nog ’n graad toe. “Ek het net kom hoor … is ek nog ’n pasiënt hier of nie?”

“Jy is.”

Sy sluk vinnig. As hy eers met hierdie meerderwaardige nuk van hom begin …

“Regtig? Ek het gedink ek is al twee dae gelede ontslaan, want …”

“Jy is nie.”

Sy trek haar asem in, kyk onverskrokke in die koue oë. Sy het nou al twee dae gehad om aan haar nuwe self gewoond te raak, en haar selfvertroue het toegeneem. Wat meer is, sy is nie meer verleë oor hierdie man nie.

“Fritz dink ek is gereed vir ontslag en ek ook …”

“Dokter Fritz Kunneke se mening is nie gevra nie,” word sy in die rede geval, met die nadruk op die “dokter”. “Joune ook nie.”

Sy trek haar asem in. Hierdie man was nog nooit oorvriendelik met haar nie, maar sy optrede teenoor haar word elke keer erger. Hy is byna openlik onbeskof!

“Daar is geen rede hoekom ek langer hier moet bly nie.” Hy is stil en sy vervolg kwaad: “Dit kos net geld …”

“Is joune op?”

“Nee. Maar dis onnodig.”

“Ek sal daaroor besluit.”

“Ek wil uitgaan. Ek het beter dinge om te doen as …”

“Soos om jou suster se man te gaan afvry, byvoorbeeld?”

“O! Jy … kan net aan een ding dink!”

“Soos jy. Jy het my aangesteek.” Skielik is hy meer spraaksaam. “Met watter soort strategie beoog jy om te begin?”

Sy kan gerus stik. “Dit gaan jou nie aan nie!”

“Dan kan dit nie so belangrik wees nie … dit kan wag.” Hy kyk weer na die papier voor hom en dis duidelik dat die gesprek – as ’n mens dit so kan noem – wat hom betref afgehandel is.

Sy kyk hom magteloos aan, sê dan verbete: “Ek gaan nou aantrek en dan …”

“Wat?” Sy knip haar oë en hy vra weer: “Wat gaan jy aantrek?” met sy blik steeds op die papier voor hom gerig.

“My klere natuurlik, en dan gaan ek ry …”

“Jy het nie klere nie.” Vlugtig rus sy oë op die groot kamerjapon. “Jy sal verdrink in jou ou klere …”

“Dit maak nie saak nie!”

“En ek het gedink jy sal nie omgee as ons die hele ou spul op ons maandelikse rommelveiling verkoop nie.”

Sy kyk hom met groot, geskokte grys oë aan en het geen benul watter pragtige prentjie van vroulike skoonheid sy in haar algehele verbystering slaan nie. Maar die man voor haar se oë bly uitdrukkingloos.

“Jy het my klere op ’n … rommelveiling gaan verkoop?”

“Ja, die hele onooglike spul. Ek moet jou nog bedank vir jou bydrae.”

Sy sluk vinnig die spontane woorde terug wat na haar lippe borrel. “Jy bedoel ek het nie ’n draad klere om aan te trek nie?” vra sy dan afgemete.

“Nee. Behalwe jou nagklere en daardie … e … ding wat jy nou daar dra.”

Haar lippe sluit op mekaar. “Baie slim, dokter Wagner, maar nie slim genoeg nie. Ek sal klere vir my oor die foon bestel en …”

“Wat net ’n verkwisting van geld sal wees, want jy is nie ontslaan nie.” Hulle oë meet kragte met mekaar en hy glimlag byna toe hy byvoeg: “Jou motor se battery is vanselfsprekend ná soveel maande se stanery pap.”

Sy hyg na asem. Haar pa het op ’n dag haar motor gebring vir ingeval sy dit nodig sou kry. “Ek sal ’n taxi ontbied. As jy dink ek gaan jou meer betaal, begaan jy …”

“Ek sal jou ontslaan sodra jy my vertel wat jy van plan is om te gaan doen – as dit natuurlik my goedkeuring wegdra.”

Die snork wat opklink, pas gans en al nie by die fyn, nuwe meisie wat voor hom staan nie.

“Jy het niks met my te doen nie …”

“Jy is verkeerd. Ek is die man wat jou ’n nuwe gesig gegee het, en daarom voel ek verantwoordelik. Daarom stel ek belang in wat jy met daardie nuwe gesig gaan doen en het ek ook ’n sê daaromtrent.”

Sy is totaal verbyster. “Luister, ek hét jou betaal. Jy het my nie gekoop nie!”

“Nog nie.”

“Ekskuus?”

“Jy het my nog nie betaal nie.”

’n Lig gaan vir haar op. Natuurlik! Hy is bang sy gaan nou verdwyn en hy kry nie sy geld nie. Die geldwolf!

“Ek sal jou nou dadelik ’n tjek vir die hele bedrag gee, dokter Wagner,” sê sy styf. “Ek veronderstel jy is bekommerd dat jy deur jou eie nalatigheid nog nie daardie eerste tjek inbetaal het nie en dit het reeds verval. Ek sal jou gerusstel. Ek sal nou dadelik my tjekboek gaan haal …”

“Geen haas nie. Jy kan my betaal die dag wanneer jy ontslaan word.”

Sy bal haar vuiste en roep uit: “Nou wat wil jy hê?”

“Ek wil weet wat jy van plan is om te doen wanneer jy hier uitgaan.”

Ten einde raad sis sy deur haar tande: “As jy dan móét weet, ek wil vir my eers gaan klere koop. Dan wil ek ’n kursus gaan volg …”

“Watse soort kursus?”

“’n Modelkursus – hoe om reg te grimeer, reg aan te trek en so meer.”

Hy knik. “Dit klink veilig genoeg. Wat nog?”

As sy haar sonde nie ontsien nie! “Ek wil by ’n dansskool aansluit en ook leer tennis speel.”

Hy trek sy oë op skrefies. “Baie wys, veral die tennis; dit sal jou help om jou figuur te behou, maar …”

“Maar wat?”

“Dis alles ter voorbereiding van iets groters, nè?” Sy swaai in haar spore om, maar voordat sy die deur woedend kan oopruk, druk ’n hand dit vas en Klaus Wagner sê hier bokant haar kop: “Jy kan al daardie dinge vanuit die kliniek doen. Ek gee jou toestemming om al die kursusse te volg, maar jy bly steeds my pasiënt hier.”

“Maar hoekom? Ek is tog al gesond …”

“Dis wat jy dink. Miskien is jy nou op jou siekste.” Sy oë flikker waarskuwend. “Moenie probeer wegloop nie, Petra. Dit sal niks help nie. Ek sal jou deur die polisie laat terugbring.”

“Jy sal dit nie waag …”

Hy kyk peinsend op haar af. “Jy was en is bereid om tot elke uiterste te gaan. Ek stel dit nou baie duidelik aan jou: ék ook. As jy wegloop, sal ek net eenvoudig die polisie in kennis stel dat ’n vrou wat geestesversteurd is uit my kliniek weg is en dat hulle jou onmiddellik moet opspoor en terugbring. Dit het al in die verlede gebeur en ek verseker jou ek het nog altyd die volle samewerking van ons polisie gehad.”

“Jy is van jou sinne beroof!” sê sy afgemete en tot haar verdere skok glimlag hy vir haar.

“Seker, so effens. Maar nie so erg soos jy nie. Daarom bly ons albei maar nog ’n rukkie lank in hierdie kliniek aan.”

“Dis ’n kliniek vir plastiese snykunde dié – nie ’n neurokliniek nie!”

“Jy sal jou verbaas! Ons begryp mekaar goed, nè?”

As antwoord gee sy hom ’n moordende kyk en stap so statig as wat die wye, lang kamerjas haar toelaat die gang af, en hy kyk haar geamuseerd agterna. Maar toe die deur weer agter hom toegaan, is die diep frons terug tussen sy oë, ’n frons wat niks goeds vir die pasiënt in kamer 44 voorspel nie.

Tog vind sy in die daaropvolgende dae dat dokter Wagner se eienaardige, onverklaarbare optrede haar planne uitstekend pas. Nie net verg dit ’n rukkie om aan te pas by haar nuwe uiterlike nie, maar is sy bly dat sy die laaste afrondingswerk aan haarself liewer vanuit die veiligheid van die kliniek as haar ouerhuis kan doen. Sy besef maar te goed dat daar nog baie skaafwerk aan haar is voordat sy met volle selfvertroue weer in die openbaar sal kan verskyn. Daar moet niks oorbly van die ou Petra wanneer dit gebeur nie. Daar moet niks wees waaroor sy skaam of selfbewus voel wanneer sy die dag haar verskyning voor Eugene en Paula maak nie.

Die nuwe belangstelling laat ’n interessante wêreld vir haar oopgaan. Tot haar verbasing ondervind sy ook, saam met die nuwe selfvertroue, geen moeite met haar kursusse nie. Sy word ’n uithalerstudent in die modelskool, en hoewel sy nooit ’n briljante tennisspeelster sal word nie, is haar leermeester heeltemal tevrede met haar vordering. Ook by die dansskool is sy baie gewild.

Dat haar kom en gaan baie stip vanuit die voorste kantoorvenster betrag word, is sy heeltemal onbewus van. Eers toe sy een middag rooi in die gesig van die tennis en vergesel van haar leermeester die voorportaal van die kliniek binnekom, kry sy ’n vermoede dat haar bewegings deeglik dopgehou word. Die afgelope twee weke het sy net glimpe van die enigmatiese chirurg gekry. Sy word nie meer by sy formele kliniekrondes ingesluit nie, iets waaroor sy baie dankbaar is. Hoe minder sy daardie man sien, hoe beter vir haar bloeddruk.

Vanmiddag kom sy van aangesig tot aangesig met hom, en soos gewoonlik voel sy iets in haar verstyf. Moet die man altyd lyk asof hy haar wil vermorsel?

“Dis Henk Naudé, my tennisafrigter. Dokter Wagner,” stel sy hulle bekend, maar laasgenoemde erken kwalik die bekendstelling. Sy blik gaan ontevrede oor haar rooi, warm gesig.

“Ek het geweet jy het nie veel verstand nie, maar ek het darem gedink jy sal genoeg hê om te weet jy kan nie op ’n bloedige warm middag soos vandag gaan tennis speel nie. Gaan dadelik na jou kamer toe en gaan rus.”

Verontwaardig blits haar oë. Sy is nie ’n kind om só aangespreek te word nie! “Ek makeer niks nie.” Sy draai na die ongemaklike jong man langs haar. “Net ’n oomblik, Henk. Ek is nou terug.”

“Jy gaan vandag nêrens anders nie. Jy gaan na jou kamer en jy gaan rus.” Hy draai ysig na Henk. “Goeiemiddag, meneer Naudé. Voor u haar in die toekoms kom haal, meld u asseblief eers by my aan. Ek sal besluit of sy mag gaan of nie.”

Henk Naudé kan natuurlik niks anders doen as om om te draai en druipstert na die motor terug te stap nie.

“Luister, dokter Wagner,” vaar Petra uit, “ek sal nie toelaat dat jy langer my lewe reël nie, begryp jy?”

“Wat jy nie begryp nie, is dat ek jou al hierdie nuwe lawwigheid summier sal verbied as jy nie na my luister nie. Gaan na jou kamer – onmiddellik – of moet ek jou self daarheen dra?”

Fritz tref Petra siedend van woede in haar kamer aan toe hy ’n oomblik later skelmpies insluip. Sy oë vonkel. Hy en ’n paar van die personeel het op ’n veilige afstand na die onderonsie in die voorportaal geluister.

Hy skud sy kop. “Ek kan julle twee nie kleinkry nie. Ná alles wat julle saam deurgemaak en bereik het, behoort julle eintlik verlief te raak, nie elke tien minute mekaar aan die keel te gryp nie.”

Sy vergeet weer van haar nuwe waardigheid en snork hard. “Ek raak liewer op ’n slang verlief, dankie.”

“Die gevoel is wedersyds.” Selfbewus draai hulle om na die man wat in die deur verskyn het. “Dokter Kunneke …” Fritz staan dadelik op van die bed waarop hy plaasgeneem het. As Klaus Wagner sy kollegas so formeel aanspreek, moet jy weet jy is in die warm water. “Dokter Kunneke, ek het gesê die pasiënt moet rus, nie staan en ginnegaap nie.” Fritz beweeg gehoorsaam deur toe en die bytende stem volg hom: “Vir ’n man van jou intellek kan jy soms die onsinnigste goed kwytraak.” Fritz trek die deur vinnig agter hom toe en dis nou Petra se beurt om haar te staal vir wat voorlê. “Kom dat ek na jou gesig kyk.”

“My gesig makeer …”

“Sal jy ophou teëpraat?” bulder hy en sy word met taamlik min ontsag nader getrek. Hy kyk op die woedende gesiggie af. “Jy stel jou gesig minstens drie dae lank nie weer aan die son bloot nie.” Sy staan hom net stom van ontsteltenis en aankyk, en sy oë vernou. “Hierdie klomp mans wat jy om jou aan die vergader is …”

Haar grys oë waarsku hom dat ’n klein oorlog aan die oplaai is. “Ja, dokter? U wou weet?”

“Hm. Ja. Ek het maar net gewonder – is dit ’n teken dat jou belangstelling in Eugene Minnaar begin afneem het?”

’n Rooi blos skiet onder die rooi sonverbrande vel op en haar oë blits, maar haar stem is tartend: “Dis vir my om te weet …”

Sy hande skuif meteens oor haar ore en vou om haar kop. “Ek wou maar net sê, as dit sal help om jou van dwaasheid te red, is ek ook bereid om by die tou in te val.”

Sy frons verward, knip haar oë.

“Hoe nou?”

Daar speel skielik ’n duiwelse glimlaggie, soos dit vir haar lyk, om sy mondhoeke en sy sien hoe daardie moedswillige haartjies weer oor sy voorkop tuimel toe sy kop laer buk. Sy hoor hom fluister: “Ek het nog nooit daaraan gedink om ’n slang te soen nie, maar ek is skielik nuuskierig …”

Die eerste keer sedert sy die nuwe Petra is, voel sy ’n man se lippe vol op hare. Sy staan versteen. Haar bewegingloosheid moes hy verkeerd vertolk het, want skielik word sy in ’n omhelsing vasgevat en gesoen soos Eugene Minnaar haar nog nooit gesoen het nie.

Selfs toe hy haar laat los, is sy nog te verslae om iets anders te doen as om net na hom te staar. Die glimlaggie is nog om sy mondhoeke toe hy sê: “My fout. Ek moes geweet het hoe ’n slang sou soen. Geen wonder Eugene Minnaar het ander weivelde gaan soek nie …”

Hy gryp haar hand net betyds vas en nou grinnik hy openlik. “Daar is een kursus wat jy nog sal moet volg, Petra. Hoe om vrou te wees: ’n warm, hartstogtelike vrou. ’n Mooi gesig alleen kan ’n man nie bevredig nie.” Met hierdie verdoemende woorde stap hy uit en sy weet nie hoekom daar meteens nat strepe teen haar wange verskyn nie.

Daardie aand doen sy besonder baie moeite met haar voorkoms. Don, haar leermeester van die dansskool, neem haar vanaand uit. Maar dis nie ter wille van hom dat sy die nuwe aandrok oor haar skraal lyfie laat glip en sorgvuldig haar grimering aanwend nie. Dis om die skade wat daardie man, soos sy na hom verwys, aan haar selfbeeld gedoen het te herstel.

Don wag haar by die voordeur in en die bewondering in sy oë laat ’n bietjie warmte in haar terugsypel.

Maar weer, soos vanoggend, gaan die kantoordeur van dokter Wagner skielik oop.

“Het ek jou nie gesê dat jy drie dae lank nie mag uitgaan nie?”

Sy trek haar asem in. As hy nou wéér gaan begin … “Jy het net gesê die son mag nie op my skyn nie.”

“En ook nie die maan nie. Jy gaan nêrens heen nie.” Die kil blik wat op Don gerig word, laat hom versigtig ’n tree terug gee. “Nag, meneer. My pasiënt is nie vanaand beskikbaar nie. Ook nie môreaand nie en ook nie oormôreaand nie.”

Don blaas die aftog en dokter Wagner keer hom na die stil, beweginglose meisie. Soos soveel kere tevore meet hul oë kragte. Dan is dit of hy meteens belangstelling verloor. “Indien jy jou die volgende drie dae gedra, mag jy die dag ná oormôre ontslaan word.” Die deur gaan agter hom toe.

Toe die lang verwagte dag aanbreek, vra sy Fritz gedurende sy oggendbesoekie: “Hy het belowe ek sal vandag ontslaan word. O, as hy my weer gaan kul …”

“Nee, jy word vanoggend ontslaan. Hy het al eergister die vorms geteken voordat hy weg is.”

“Weg is? Klaus Wagner weg? Waarheen?”

“Na ’n kongres. Hy sal eers oor ’n week terug wees, maar jy mag vanoggend al huis toe gaan, het hy gesê.”

Petra se pragtige, nuwe gesig is uitdrukkingloos toe sy voor haar ouerhuis stilhou en uit haar motor klim.

Ena Murray Keur 9

Подняться наверх