Читать книгу Ena Murray Keur 9 - Ena Murray - Страница 8
5
ОглавлениеPetra wag tot Sondagoggend voordat sy haar ouers van haar plan vertel.
Sy is dankbaar dat Paula nie dié naweek huis toe gekom het nie, en ewe dankbaar dat Eugene ’n kongres bywoon. Nou sal haar ouers, wanneer sy hulle die nuus meedeel, nie miskien uit desperaatheid met hom in verbinding tree sodat hy haar tot ander insigte kan bring nie.
En later as vanoggend kan sy nie wag nie, want vanmiddag om sesuur moet sy haar by Klaus Wagner se kliniek aanmeld.
Terwyl hulle ná kerk in die tuin sit en tee drink, laat sy die bom los. Daar heers eers ’n volslae stilte ná haar kortaf aankondiging. Dis haar pa wat eerste sy tong terugkry.
“Wat het jy gesê? Waarheen gaan jy?”
Sy kyk hom stip aan, haar gesig ’n masker van vasberadenheid. Sy verwag teenkanting. Sy verwag kwaai teenkanting, maar sy is onverbiddelik.
“Ek het gesê ek vertrek vanmiddag na ’n kliniek vir plastiese snykunde.”
“Hoekom? Wat …? Petratjie, wat wil jy doen?” kom haar ma se ontstelde stem nou by.
Sy kyk met ’n strak gesig na haar ma. “Ek gaan my laat mooi maak.”
“Laat wat?” Twee paar oueroë staar hul dogter aan. “Petratjie! My kind! Hoekom? Daar is niks verkeerd met …”
“Daar is, Mamma. Ek is lelik. Lelik en vet. Ek is moeg daarvoor om lelik en vet te wees en nou gaan ek iets daaraan doen. Ek gaan tante Petronella se geld gebruik om my só te laat verander dat ’n man daarvoor sal kans sien om met my saam te lewe.”
“Petra!” Kerneels kyk wanhopig na sy vrou, dan weer terug na sy dogter. “Jy ruk hierdie hele ding uit verband. Eugene Minnaar het jou klaar gevra om met hom te trou. Dis nie nodig dat jy …”
Koel, beslis val sy hom in die rede: “Daar is alle rede. En ek weet ook hoekom Eugene my gevra het om met hom te trou. ’n Lelike vrou is … ’n veilige vrou.”
Man en vrou kyk vinnig na mekaar. Hulle het nog altyd vermoed daar lê meer agter die verbreking van haar verhouding met Eugene as wat sy wou voorgee. Die kommer van ’n moederhart lê vlak in Mara se oë.
“Wat presies het tussen jou en Eugene skeefgeloop, my kind? En dis dit wat jou nou na hierdie dwaasheid dryf, nie waar nie?”
Petra spring uit die tuinstoel op, keer haar rug vinnig op hulle. “Is dit so swaar om te begryp hoekom ek wil doen wat ek wil doen?” vra sy skor. “Julle weet … van al die vernederings deur die jare …” Haar kop sak laag. “Ek kan nie meer só lewe nie! Ek sal van my verstand af raak! Ek het nou die geld om dit te kan doen …”
“Maar wat presies wil jy laat doen?” vra haar pa hard, sy stem bruusk van ontsteltenis.
“Ek gaan vir my ’n nuwe gesig kry …”
“Gesig! Gaan jy aan jou gesig laat … werk?”
Sy draai terug en haar stem is hard van vasberadenheid. “Ja, Paps. Ek gaan aan my gesig laat werk. En ek gaan ’n streng dieet volg, of wat die dokter ook al voorskryf om van hierdie onooglike vet lyf ontslae te raak.”
Haar pa is ook nou op sy voete. “Ek verbied jou! Ek verbied jou ten strengste om sulke dwaasheid aan te vang en dit net vir … vir …”
Sy woordeskat laat hom in die steek, maar Petra voeg in haar gedagtes by: vroulike ydelheid? “Pa kan my nie verbied nie. Ek is mondig en my eie baas.”
Mara tree vinnig tussenbeide, kom staan by haar kind en neem ’n bewende hand in hare. “Petratjie, ons het jou lief soos jy is. Ag, my kind …”
“Ek weet, Mamma, maar dis nie genoeg nie. Ek gaan dit laat doen en niks wat u of Paps sê of doen, gaan my keer nie.”
“Maar sê nou maar jy kom iets oor? Om so onnodig met jou gesondheid te speel …”
“Ek sal niks oorkom nie. Ek is sterk en gesond. En dit is nodig … vir my is dit nodig, want ek sien nie meer kans om op dié manier te bly lewe nie. Dis kortliks waarop dit neerkom, Mamma. Dis iets wat julle moet begryp. Ek sien nie kans om langer te bly lewe as ek nie iets aan myself kan doen nie!”
Dikwels is daar oomblikke van stomme verbasing in ouers se lewens. Dié is een van daardie oomblikke.
“Het jy … het jy al die reëlings getref? Ek bedoel, is alles al klaar …?”
“Ja. Alles is klaar gereël. Die behandeling begin môreoggend.”
“Waar?”
Sy aarsel, kyk hulle onseker aan. “Ek … dink nie ek moet julle sê nie.”
“Petra! Maar ons móét weet! Hoekom wil jy nie …?”
“Omdat ek nie wil hê julle moet my kom besoek terwyl ek daar is nie. Niemand moet my besoek nie. Niemand nie.”
“Nie eens ek en Pappa nie? Ons is jou ouers, Petra, en ons het jou lief, my kind. Ons is bekommerd oor jou. Ons belowe ons sal nie vir Eugene … en ook nie vir Paula sê as jy dit so verkies nie, maar …”
“Is dit ’n belofte, Mamma? Op u woord van eer?”
“As jy dit werklik so verkies. Op my woord van eer. Maar ons, Petratjie, ons móét weet, asseblief!”
Petra sug hoorbaar. “Nou goed dan. Ek gaan na die Wagner-kliniek net hier buite die stad.”
“Die Wagner-kliniek? Maar dis ’n private kliniek. Dis peperduur daar!” protesteer haar pa en sy glimlag skrams, ’n glimlaggie wat die moederhart laat skeur.
“Wat maak dit saak? Ek het sakke vol geld, onthou Paps nie?”
“Maar, my kind …”
“Dis net dokter Klaus Wagner wat sal kan doen wat ek gedoen wil hê. Dis net hý wat aan my sal werk.”
Haar pa skud sy kop, sug diep en gaan sit weer. “Dis alles so onnodig, Petra. Dis ’n verkwisting van geld, tyd en … alles! En dit gaan seer ook wees, nie waar nie? As hy gaan sny …”
“Hy gaan sny en dit sal seker seer wees, ja. Maar dis niks nie. Hy gaan nie my kop afsny nie. Hy gaan my ’n nuwe gesig gee, dis al.”
Sy probeer dit weglag, maar die ma se oë is skerp. “Wat presies gaan hy doen?”
“O, ek weet nog self nie. Dit sal hy eers môre besluit nadat hy my ondersoek het. Mamma, asseblief, ek het bedoel wat ek gesê het. Ek wil nie hê julle moet my daar kom besoek nie. Ek sal gereeld huis toe bel en verslag lewer wanneer ek kan. En as ek nie kan nie, sal ek dokter Wagner of een van die personeel vra om julle te skakel en in te lig oor my vordering. Maar julle kom my hoegenaamd nie daar besoek nie, asseblief!”
“Maar hoekom nie? O, Petra, jy weet ons sal nie gerus voel voordat ons jou met ons eie oë gesien het nie!”
“Nee, Mamma. Julle kom nié. Ek wil dit so hê. Ek … ek wil julle eendag kom verras. Asseblief!”
“Hoe lank gaan dié spulletjie duur?” wil haar pa kortaf weet, duidelik bitter ontevrede met die verloop van sake.
“O, ek … weet nie. Dit hang af van wat hy besluit gedoen moet word,” antwoord sy vaag en wend haar weer vinnig na haar ma. “Moenie vir Paula of Eugene vertel waar ek is nie, asseblief. Sê ek is op reis … oorsee.” Haar oë pen haar ma s’n vas. “Asseblief, Mamma.”
“Petra, voordat ek so ’n belofte doen, wil ek eers ’n eerlike antwoord op een vraag hê. Gee jy nog vir Eugene om? Het jy hom nog lief en is dit om sy ontwil dat jy hierdie … ding gaan doen?”
Die oë huiwer nie. “Ek gee nie meer vir hom om nie, het nooit nie, nie werklik nie. Ek gaan hierdie ding doen vir myself, om my eie onthalwe.”
“Is jy baie seker, Petra? Wat as Eugene dalk intussen trou terwyl jy in daardie plek lê? Wat as ’n ander meisie …?”
Albei weet van watter ander meisie Mara praat, maar nog kom die antwoord onverskrokke: “Dan vat hy haar, Mamma.”
“Bedoel jy dit werklik?”
“Ja. Hy kan haar maar vat.”
Mara draai weg, gaan neem ook plaas, kyk hulpeloos na haar man, dan terug na haar dogter. “Het jy regtig finaal besluit, Petratjie?”
“Ja. Finaal.”
Toe sy daardie middag haar tasse aandra motor toe, wil haar pa weet toe hy dit by haar neem: “Hoekom so baie? Dit lyk of jy vir ’n jaar weggaan.”
Miskien is dit ’n jaar, dink sy dogter, maar sê hardop: “’n Mens gebruik baie nagklere as jy pal lê. En die japonne neem so baie plek op. Die aande word soms koel en dan moet ek iets warms ook hê.”
Die ouers is stil, verslae, toe hulle voor die kliniek stilhou. Een vergunning kon hulle darem uit haar kry – dat hulle haar self by die kliniek aflaai. Petra soen hulle vinnig, klim dan oorhaastig uit en skud haar kop toe dit lyk asof hulle haar wil volg.
“Nee. Ek gaan alleen in. Daar sal iemand wees om my tasse te kom haal. Ek sit dit sommer eers op die trap neer.” Sy doen dit en draai dan terug. “Ry nou, asseblief. Asseblief, Pappa!”
“Petra, my kind, laat staan hierdie ding! ’n Gesig en ’n liggaam is nie alles in die lewe nie. Dit is maar net die dop vir die werklike mens diep binnekant. Vergeet …”
Maar sy luister nie verder nie, draai om en stap blindelings oor die stoep die hoofingang binne.
Deur die venster sien sy hoe die motor eindelik wegtrek; dan eers stap sy na die vrou agter die toonbank. “Ek is Petra Prinsloo.”
Toe sy die gang af gelei word na ’n kamer, kan sy agter verskeie deure ’n sagte gekreun of gekerm, een keer selfs gille, hoor. Sy byt op haar tande, glimlag vir die verpleegster toe die kamerdeur oopgemaak word.
“Dankie, suster.”
“Maak u solank tuis. U kan u goedjies uitpak. Hier is u tasse ook nou.” Sy blik vlugtig na ’n kaart in haar hand. “Ek sien dokter Wagner wil u môreoggend al spreek. Daar is geen spesifieke opdragte oor u gegee nie, u kan dus vanaand nog lekker eet. Die kos sal nou hier wees.”
Petra knik, glimlag steeds. Vreemd, die afgelope dae is sy skielik nie meer honger nie. Waar sy in die verlede haar frustrasie met ’n sny brood probeer bevredig het, voel sy nou glad nie meer honger nie. Daar waar die honger altyd knaag, lê nou ’n swaar, harde ysterklip.
Die suster bereik die deur net toe ’n man met ’n lang, wit jas in die gang verbykom. Sy gesig is vriendelik, belangstellend, toe hy gaan staan en na binne kyk.
“’n Nuwe pasiënt? O. Dis juffrou Prinsloo. Ons het mos al ontmoet. Hoe gaan dit?”
Sy neem dokter Fritz Kunneke se hand, kyk op in sy vriendelike oë. “Goed, dankie.”
“Dis gaaf. Maak u tuis. Baie welkom. Het u alles wat u nodig het?”
“Ja, dankie.”
“Goed. Suster, het dokter miskien iets voorgeskryf vir haar vir die nag?”
Petra sal nog in die dae wat kom, leer dat daar net een “dokter” in hierdie kliniek is. As iemand in hierdie kliniek van “dokter” praat, beteken dit net een man. Sy twee vennote word vollediger op hul titel en naam genoem.
“Nee, dokter Fritz.”
“Hoe voel u? Wil u miskien ’n slaappilletjie vir die nag hê?”
“Ek … ek weet nie.”
“Hoe slaap u snags? Goed?”
“Ek … soms …”
Die suster laat aarselend hoor: “Dokter het gesê niks moet aan haar gegee word sonder sy toestemming nie.”
Fritz frons vlugtig, glimlag dan gerusstellend vir Petra. “In daardie geval sal hy seker self nog vanaand hier ’n draai maak. Wederom.”
Toe hulle die deur agter hulle toetrek, vra suster Verwey: “Hier is omtrent niks op haar kaart ingevul nie. Wat moet aan haar gedoen word?”
Fritz frons. “Ek weet self nie. Hy het net gesê sy kom vandag in, maar het geen besonderhede verskaf nie. Ek sien niks verkeerd nie.”
Toe dokter Wagner sy aandronde doen, sluit dokter Kunneke by hom aan. By al die pasiënte word ingeloer en dan sê die junior vennoot: “Dis nou nog net juffrou Prinsloo. Sy het vanmiddag ingekom.”
“O ja. Dankie, Fritz. Jy kan maar gaan.”
Fritz kyk hom fronsend agterna. Volgens gebruik besoek al drie vennote ’n nuwe pasiënt, maak kennis met die persoon en bespreek saam die geval. Hulle is immers ’n driemanskap wat ten nouste met mekaar saamwerk. Maar vanaand, vir die heel eerste keer, toon die meesterchirurg duidelik dat hy nie een van sy vennote by die nuwe pasiënt wil hê nie.
Tot sy verdere verbasing sien hy ook dat dokter Wagner by die nuwe pasiënt se kamerdeur verbystap. Fritz stap agterna en hy hoor hom aan die suster sê: “Niks vir juffrou Prinsloo nie, suster. Ek sal môreoggend by haar inloer.” Hy draai om, bly dan weer staan asof iets hom byval. “Ook geen slaapmiddels nie.” Dan stap hy uit.
Die in wit geklede, indrukwekkende figuur verdwyn by die deur uit en Fritz en die suster kyk mekaar kopskuddend aan. “Dié man is al van gister so snaaks. Weet jy wat met hom aangaan?”
Die suster haal haar skouers op. “Geen benul nie.” Sy frons. “Gelukkig het ek haar nog nie die slaappil gegee wat ek vir haar uitgehaal het nie.”
“Ek kan nie dink dat dit kan kwaad doen nie. Sy behoort een te kry. Sy is geweldig gespanne, dit kon ek sien.”
“Ja, ek het dit ook opgemerk en daarom het ek ’n slaappil uitgehaal. Dis tog maar eintlik roetine. Nou ja, as die grootbaas sê dit mag nie …”
Petra lyk verwese, bleek en moeg toe dokter Fritz, soos hy meer algemeen by die personeel en pasiënte bekend staan, die volgende oggend uit blote nuuskierigheid by haar kamerdeur inloer. Die gebruiklike vraag of die pasiënt goed geslaap het, stel hy nie. Hy kan sien dat dit nie die geval is nie.
Klaus Wagner verskyn ook in die deur en Fritz voel om die een of ander rede soos ’n skoolseun wat op heter daad betrap is.
“Ek het net kom môre sê,” verduidelik hy onnodig.
Klaus knik, maar sy hele houding vertel sy vennoot dat hy verkies dat hy moet loop. Half vererg, half geamuseerd verlaat Fritz dan maar die kamer en sien hoe die deur toeswaai soos dit van binne toegemaak word.
“Jy het die hele nag tyd gehad om die saak te heroorweeg,” hoor Petra hom sê en sy is nie bewus daarvan dat sy kennersoog die spore van ’n slapelose nag duidelik op haar gesig sien nie. “Bly jy nog by jou besluit?”
“Ja.”
Hy gaan neem stelling voor die venster in, sy hande in sy broeksakke, terwyl sy blik na buite dwaal. “Wat sê jou mense hiervan?”
“Hulle het geen sê nie. Ek het hulle ook verbied om my hier te kom besoek.”
Hy frons, maar hy bly na buite kyk. “Hoekom? Jy sal jou mense nodig hê.”
“Ek wil alleen wees.” En sy is bang haar pa sal, veral as hy moet agterkom wat hierdie “dwaasheid” werklik behels, al haar planne verydel en dit met geweld dwarsboom. En dit mag nie! Sy móét deurdruk!
Dis ’n oomblik stil. Dan draai hy om, stap deur toe. “Ek sal jou netnou laat haal.”
As sy twee vennote hom nie so goed geken het nie, sou hulle in die loop van die oggend kon sweer Klaus Wagner voel ongemaklik. Dis eers toe hulle by die laaste van die ry pasiënte kom, dat Fritz oortuig raak dit is wel die geval. Die grootbaas lyk nou beslis ongemaklik.
“Wat juffrou Prinsloo betref …” Die ander twee wag en Klaus aarsel. “Sy het na my gekom met die versoek dat ek haar … dat ek plastiese snykunde op haar gesig moet toepas.”
“Haar gesig makeer niks nie,” laat Fritz vinnig, verbaas hoor. “Sy is nou wel nie ’n skoonheid nie, maar …”
“Dis juis die punt. Dis dáároor dat sy hier is.”
Die twee vennote kyk mekaar verbaas aan, dan terug na hul spanleier. “Maar ons doen nie sulke operasies nie,” protesteer Fritz hardop en sien weer tot sy verbasing ’n ligte rooi gloed oor die ander man se gesig spoel.
“Ek het dit ook so pertinent aan haar gestel, maar sy het blykbaar ’n obsessie daaroor en wil hê juis ék moet dit doen.”
Dokter Alf Bouwer kyk die ander man peinsend aan. “En toe?”
“Ek het besluit om dit te doen.” Dis doodstil in die vertrek. Nie een van die vennote waag dit om iets te sê nie, en ná ’n oomblik stap Klaus na die deur en maak dit oop. “Kom binne, juffrou Prinsloo.” Hy hou die deur nog oop nadat Petra reeds binne is. “Ek sal jul hulp net in die teater nodig hê, dankie.”
Die twee dokters kyk weer vlugtig na mekaar, maar stap dan gehoorsaam uit. Fritz uiter sy verbasing in die gang: “Jy kan my met ’n veer omslaan! Daardie man wat altyd so giftig is teenoor die ‘mooimaak-operasies’, soos hy dit noem … Nou gaan hy self een doen!”
Alf glimlag. “Sy moet besondere oorredingsvermoë hê!”
“Dít kan jy weer sê,” lag Fritz.
Die dae wat volg is vir die beroemde dokter en sy pasiënt ewe uitputtend. Ure van konsentrasie word geverg van die man wat ’n nuwe gesig aan haar moet gee. Haar gesig word tot vervelens toe gemeet en gepas en in daardie ure moet sy haar gesig roerloos hou. Die voorbereidingsproses wat sy nou moet deurmaak, laat haar egter in geen twyfel oor wat gaan volg nie. Klaus Wagner het geen ydel woorde gebruik toe hy haar gewaarsku het dat ’n hel op haar wag nie.
Veltoetse, bloedtoetse, allerhande soorte toetse volg, en sy weet hy hou haar fyn dop, maar nie een keer laat sy blyk sy wil tou opgooi nie. Snaaks dat die eintlike dryfveer agter alles in hierdie dae effens begin vervaag. Dit is eerder die gedagte aan Klaus Wagner en die tevredenheid in sy vreemde ligblou oë as sy sou tou opgooi, wat haar op haar tande laat kners en deurdruk.
Daar word in hierdie lang ure saam nie veel gepraat nie; niks behalwe ’n paar kortaf bevele of ’n paar professionele feite wat verduidelik word nie. Selde is iemand anders by. Sy personeel sou verbaas gewees het as hulle moes agterkom dat hy met dié geval geen moeite doen om alles oor die agtergrond van die persoon te wete te kom nie. Dis iets waarop hy gewoonlik baie gesteld is. Die geskiedenis van elke geval, die hoekoms en waaroms moet nie net op die pasiënt se lêer aangebring word nie, maar ook sielkundig ontleed en begryp word. Want die mens bestaan tog nie net uit ’n liggaam nie, en so dikwels is die gees die oorsaak van baie fisieke gebreke. Net so dikwels is dit absoluut noodsaaklik vir die dokter om die gees as bondgenoot te wen om sodoende die swakker vlees te help om sy tekortkominge te oorwin.
Maar in die geval van Petra Prinsloo bly die lêer eienaardig leeg en is net die minimum besonderhede op die kaart aangeteken. Klaus Wagner het duidelik geen ander belangstelling in hierdie pasiënt nie, behalwe om die taak uit te voer wat teen ’n groot vergoeding aan hom opgedra is – om ’n onaantreklike gesig asemrowend mooi te maak. In die res stel hy nie belang nie.
Petra leer sy gesig so goed soos haar eie ken. Later ken sy elke fyn plooitjie om die oë wanneer hy diep konsentreer. Sy ken elke spikkel in die ligblou oë en weet ook dat die kleur verdonker wanneer hy diep dink. Sy ken sy hele haarlyn en dié stukkie wat moedswillig vorentoe wil tuimel wanneer sy kop oor hare buk. Ná ’n paar dae weet sy selfs van die effense onegaligheid van sy ondertande en dat daar in sy regtermondhoek soms ’n siniese kepie verskyn wat sy mond effens skeef laat trek. En sy leer die aanraking van sy hande ken, die lang kunstenaarsvingers op haar vel.
Soms kan sy nie anders nie as om te wonder of hy al daardie tjek gewissel het wat sy hom in sy spreekkamer in die stad gegee het. Maar sy vra nie. Sy het nie die vrymoedigheid nie. Sy was nog altyd selfbewus in mans, en veral vreemde mans, se teenwoordigheid. Ná ’n week van ure lange saamwees in die ondersoekkamer, is Klaus Wagner nog ’n vreemde man vir haar. Noudat sy gekry het wat sy wou hê, het haar tong weer swaar geword en sy antwoord in dieselfde kortaf toon net die nodigste op die vrae wat hy stel.
Sy leer nog iets in verband met dié onpeilbare man. Hy verras haar toe hy aan die einde van die week ’n skets na haar uithou.
“Dis min of meer hoe jy gaan lyk as ons klaar is.” Sy kyk stil daarna. “Tevrede? Ek is nie ’n goeie kunstenaar nie.”
Haar verbasing maak haar tong los. “Het jý dit gedoen?”
“Ja.”
“Dis … pragtig gedoen.”
“Die skets is nie van belang nie. Is die gesig … e … mooi genoeg na jou sin? Onthou, dis net ’n voorbeeld wat ek jou gee. Net tyd sal leer.”
Sy knik, sit die skets vinnig neer. Dis ’n eienaardige gevoel om na ’n gesig te kyk en te dink dit gaan joune wees … eendag.
“Wanneer gaan jy begin?”
Hy vee oor sy voorkop en oë. “Ons het reeds begin. Hierdie voorbereidingsproses is net so belangrik soos die operasies. Ek moet weet wat ek wil doen en hoe die eindresultaat gaan lyk wanneer ek langs die operasietafel staan.”
“Maar wanneer gaan jy met die eerste operasie begin?”
Hy aarsel, kyk haar dan reguit aan. “Maandagoggend om agtuur. Jy het nog ’n naweek oor om tot besinning te kom.”
Hul oë staar stip na mekaar. “Dis steeds teen jou sin om my te help, of hoe?”
“Gaan ek jou help?”
“Wat bedoel jy?”
“Gaan ek jou regtig help deur jou gesig mooi te maak?” is die teenvraag, en sy swyg. Hy leun vorentoe. “Ek het jou dit nog nooit gevra nie. Ek vra dit nou: Wat lê regtig agter hierdie ding, Petra?”
Sy hoor haar naam die eerste keer van sy lippe val en kyk vinnig weg. Sy antwoord nie, skud net haar kop.
“Om watter rede, Petra?”
“Jy … jy sal nie begryp nie.”
“Miskien tog. Waarom vertel jy my nie maar nie?”
Maar sy staan op. As sy hom moet vertel, sal hy haar hier uitjaag soos daardie vrou van wie Fritz haar vertel het – een van die vet, ryk stadsvrouens wat hom gevra het om ’n stuk van haar maag weg te vat. Sy antwoord was: “Eet en drink minder en werk meer, dan sal jou maagvet vanself weggaan. Ek is hier vir mense wat my werklik nodig het, nie vir vet, ryk, ledige vroumense wat hul vriendinne se mans wil verlei nie.”
O nee! Sy sal hom nooit vertel nie. “Is ons klaar vir die dag?”
Hy knik en sy sien sy gesig verstrak. Sy stap uit en wonder hoe sy hierdie lang naweek gaan omkry tot Maandag.
“Petra …” Hy kom tot langs haar. “Jy kan die naweek eers huis toe …”
“Nee dankie. Ek bly liewer.”
Sy oë is stip, gesluier terwyl hulle haar die gang af volg.
Hulle lyk weer só toe sy Maandagoggend stiptelik om agt-uur die teater binnegestoot word. Haar oë ontmoet die paar bokant die masker.
“Ons het die keerpunt bereik. Jy kan nog omdraai as jy wil.”
“Ek wil nie omdraai nie. Gaan voort.”
Sy sluit haar oë toe sy sien hy knik vir dokter Bouwer, die narkotiseur.