Читать книгу Ena Murray Keur 9 - Ena Murray - Страница 9

6

Оглавление

In die daaropvolgende weke en maande ondervind Petra alles waarteen Klaus Wagner haar gewaarsku het.

Dae volg waarin sy haar in ’n hel van pyn en marteling bevind. Daar kom selfs tye dat sy met haar pa saamstem … sy het ’n groot dwaasheid begaan.

Maar soos dokter Wagner ook gewaarsku het, sy was verby die keerpunt. Van omdraai was daar nie sprake nie.

Wat sy nie weet nie, is dat die hele Wagner-kliniek, dokters én verpleegpersoneel, in byna ademlose afwagting verkeer. Hulle het al baie wonderwerke in hierdie kliniek sien gebeur – wonderwerke deur ’n meesterchirurg se hande bewerkstellig. Verdraaide, verwronge karikature het al by hierdie kliniek as normale mense uitgestap. En die man agter dié wonderwerke stel dit duidelik dat hy bloot die instrument is, dat sy hande deur die Hoër Hand gelei word.

Dat Klaus Wagner met die uitsonderlike gawe geseën is om dit wat krom is weer reguit te maak, is nie te betwyfel nie. En nou, die eerste keer, is daardie bekwame hande gebruik om ’n normale mens meer as normaal te maak – en die hele kliniek hou asem op.

Soos alombekend, is Klaus Wagner nie te vinde vir sulke operasies nie. Dit druis teen sy beginsels in om te probeer verbeter op dit wat God geskape het. Daarom het hy tot dusver geweier om aan “vroulike ydelheid” toe te gee. Maar hierdie keer het hy … en wat gaan die resultaat wees?

Maande lank hang ’n vraagteken oor die eindresultaat. Ook sy beweegrede vir die reeks operasies is vir sy kollegas ’n raaisel. Wat het hom oorreed om in die geval van Petra Prinsloo ’n uitsondering te maak?

Hulle het vergeefs hierdie vraag aan hulself en aan mekaar gestel, want die enigste persoon wat dit kon beantwoord, was besonder swygsaam. Ook in dié opsig het hy hierdie pasiënt anders gehanteer as enige ander. Hy het haar nie met sy kollegas of verpleegpersoneel bespreek nie. Sy is duidelik net sý pasiënt, en net in die operasiesaal het hy sy kollegas se hulp benodig. Die enkele kere dat hulle dit gewaag het om die een of ander opmerking oor pasiënt Prinsloo te maak, was sy stem kortaf en het hy duidelik getoon hy wou haar geval nie graag bespreek nie.

Hierdie byna “kleinserigheid” oor die Prinsloo-geval het Fritz en Alf verstom gelaat. Nog altyd het hierdie drie soos een man saamgewerk met elke pasiënt wat in die kliniek opgeneem is. Hul kollegas daar buite het dikwels na dié drie as die drie musketiers verwys. Maar nou was daar vir die eerste keer ’n geval binne die mure van die Wagner-kliniek wat uitsluitlik hul leier s’n was.

Petra het egter in die weke wat stadig maande geword het, agtergekom dié dokter bly ’n man van min woorde. Die noodsaaklike word gesê, maar nooit word die streng professionele houding teenoor haar verslap nie. Vir die ander in die Wagner-kliniek word sy ’n ou bekende. Wanneer dokter Wagner se ronde verby is, word daar gou by kamer 44 ingeglip om oor ditjies en datjies te gesels as die tyd dit toelaat.

Ook Fritz, aangespoor deur sy hoof se eienaardige houding, word ’n gereelde besoeker aan kamer 44, natuurlik wanneer hy seker is die grootbaas is elders besig.

Op ’n dag glip hy weer by die deur in, net soos ’n stout skoolseun wat weet hy bevind hom op verbode terrein, en Petra se oë vonkel geamuseerd tussen die wit verbande deur. Van haar gesig is net haar oë, neus en lippe sigbaar.

“Hoekom lyk jy elke keer so skuldig wanneer jy hier inkom, Fritz?” vra sy reguit en noem hom gemaklik op die voornaam. In die maande wat verby is, het hulle groot maats geword en het Petra begin besef sy voel baie gemakliker in hierdie dokter se teenwoordigheid as in dié van die beroemde dokter Wagner.

Hy lag, kom langs haar bed staan, en soos dit sy gewoonte geword het, neem hy haar een hand in syne. “Jong, ek weet dis verspot, maar ek kan nie van die gevoel ontslae raak dat die grootbaas nie daarvan hou dat ek hier by sy sterpasiënt inloer nie.”

Haar lippe lag, maar daar is ’n effense somberheid in haar stem. “Jy is verspot, Fritz. Ek is allesbehalwe die baas se sterpasiënt. Sê liewer ek is ’n doring in sy vlees!”

Hy bly glimlag, maar daar is tog ’n ondersoekende blik in sy goedige oë. “Vertel my, hoe het jy dit reggekry om hom te oorreed om op jou te opereer? Hy het ’n broertjie dood aan hierdie soort operasies en tog het hy in jou geval ’n uitsondering gemaak. Wat het jy gedoen? Doepa in sy koffie gegooi of wat?”

Oënskynlik is dit alles maar net ’n ligte geskerts, maar albei is bewus van die ondertoon van erns wat in die gesprek skuil. Dis nie net Fritz wat nuuskierig is nie, die hele Wagner-kliniek sou baie graag wou weet wat die beweegrede was. Maar nog nooit het sy enigiets laat blyk nie. ’n Ligte fronsie verskyn tussen haar wenkbroue en haar blik dwaal weg van Fritz se vraende oë.

Sy weet nie hoekom nie, maar sy sal nie graag wil hê dat sy kollegas en personeel moet weet hul held het ook voete van klei nie, soos alle mense ’n swak plek in sy byna volmaakte pantser. Sy wil nie hê hulle moet agterkom die onbesproke Klaus Wagner is met geld om te koop nie.

Haar frons verdiep. Dis iets wat sy nie aan haarself kan verklaar nie. Die naaste wat sy aan ’n aanvaarbare verklaring vir hierdie onwilligheid kan kom, is dat sy hom tog lojaliteit skuld. Hy het bitter teen sy sin – daaroor bestaan daar geen twyfel nie – ingestem tot ’n “mooimaak-operasie”, soos hy daarna verwys. Sy is hom baie dank verskuldig. Daarom moet sy nie laat uitlek sy het hom ’n fortuin daarvoor betaal nie.

Maar van die oomblik dat hy ingestem het om haar te opereer, was sy bewus van ’n teleurstelling diep binne-in haar. Natuurlik was sy verskriklik dankbaar en verlig, maar die feit dat ’n groot bedrag hom tot ander insigte gebring het, het tog hier binne-in gekrap. Dit knaag vandag nog. Soms, as sy so na sy sterk gelaatstrekke bokant haar kyk wanneer hy haar gesig ondersoek, kan sy kwalik glo dat hierdie man omkoopbaar is.

Dit het egter net haar verbittering en ontnugtering in die mansgeslag verdiep. Hulle is almal eenders, het sy besluit. Een het ’n swakheid vir ’n mooi gesig en liggaam, en die ander se swakheid is geld. Daar bestaan nie ’n man soos die een wat sy in haar verbeelding opgetower het nie.

Fritz se oë beskou haar ernstig. Hierdie meisie is nou al maande lank hier, maar alles oor haar is steeds in geheimsinnigheid gehul. En hy het nie netnou ’n grappie gemaak toe hy gesê het hy kry die gevoel Klaus Wagner hou nie daarvan dat die res van die kliniek sy pasiënt te goed leer ken nie.

Daar is skielik ’n stem agter hom en hy draai skuldig om, neem sy hand vinnig van Petra s’n weg, maar hy is bewus daarvan dat sy hoof reeds gesien het sy kollega hou sy pasiënt se hand vas. Daardie vreemde ligblou oë verdonker meteens, ’n teken dat hy ontevrede is oor iets.

Petra sien ook die duidelike ontevredenheid op haar dokter se gesig toe hy nader stap. Hy probeer nie die koelheid in sy stem en oë wegsteek nie toe hy kortaf sê: “Daar is ’n oproep vir jou in die kantoor.”

Fritz knik en maak hom haastig uit die voete, en Petra kyk vinnig weg, intens bewus van die blik wat op haar rus. Hy was al vanoggend by haar. Daar is geen rede vir hom om langer te vertoef nie.

“Dit lyk of jy en Fritz Kunneke goed oor die weg kom,” sê hy styf.

Haar verbaasde oë flits vinnig op na hom. Dan kyk sy weer weg. “Ja. Hy is ’n gawe mens.”

“Hm.” Dis ’n niksseggende geluid. “En verloof.”

Nou kyk sy openlik vererg op. “So het ek verneem.”

Sy blik gryp hare vas. “Solank jy dit net onthou.”

“Dokter, ek het nie na hierdie kliniek gekom om ’n man te soek nie.”

“Dis gerusstellende nuus. Bly net by daardie voorneme. Wat jy gaan doen nadat jy die kliniek verlaat het, is jou saak, maar ek gaan nie toelaat dat jy solank jy hier is … e … ontwrigting saai nie.”

Haar ergernis neem toe – en dan, skielik, vind sy sy woorde vreeslik komies. Hy is sowaar bang dat sý, Petra Prinsloo, sy kollega van sy verloofde kan afrokkel! Daar huiwer ’n geamuseerde glimlaggie om haar mondhoeke wat die kleur van sy oë net verder laat verdiep.

“Ek sou sê ek lyk kwalik na ’n femme fatale, dokter!”

Sy blik bly vasgenael op haar gesig. “Dan het jy in al hierdie maande nog niks geleer nie.”

“Wat bedoel jy?”

“Jy verag steeds die waters van Silóa.”

“Ekskuus?”

“Dit sal nie help om te verduidelik nie. Jy dink steeds net in een rigting en die onbelangrikste is nog vir jou die belangrikste.”

Sy kyk eerlik verward op in sy oë.

“Sê my, jy het tog ’n definitiewe rede gehad hoekom jy hierdie operasies wou laat doen? Is daardie dryfveer nog so sterk soos in die begin?”

Sy kyk fronsend weg. Is dit? Sy weet eerlik nie. Sy het die afgelope maande kontak met Paula en Eugene verloor. Sy is nie meer seker nie …

Sy stem klink droog. “Dan gaan daar tog miskien iets goeds uit hierdie ding voortspruit.” Voordat sy kan vra wat hy daarmee bedoel, vervolg hy: “Het jy die mense vertel hoeveel jy my betaal?”

Sy kyk koel terug, ’n tikkie minagting in haar stem: “Moet jou nie bekommer nie, dokter. Ek het niemand vertel nie, en is ook nie van plan nie.”

Hy grynslag. “Jy verkeer onder ’n wanindruk as jy dink dat jy daardeur aan my ’n besondere guns bewys, juffrou Prinsloo. Maar ek sê nietemin dankie, veral vir die feit dat jy ten minste een keer in jou lewe jou verstand gebruik het. Die geldelike sy van hierdie saak bly tussen ons twee.”

Sy voel skielik woedend en vreemd seergemaak. Dis op die punt van haar tong om hom te vra of hy haar tjek in sy persoonlike rekening inbetaal het of in die kliniek se bankrekening. Maar sy kry nie kans nie. Hy stap uit en sy kyk na die deur wat so beslis agter hom toegetrek word.

Sy en Klaus Wagner het uit die staanspoor nie goed oor die weg gekom nie. Daar was van die eerste oomblik af ’n vreemde antipatie tussen hulle. Maar sy was bitter verleë oor hom en hy het beslis belanggestel in die vergoeding wat aangebied is. In die maande wat verby is, het daar ook niks gebeur om haar meer van hierdie man te laat hou nie. Inteendeel. Op hierdie oomblik hou sy beslis niks van hom nie en sy wens die dag breek aan dat sy hier kan uitstap.

Sy weet nie wat dit in die man is wat alles binne-in haar laat styf trek sodra hy naby haar kom nie. Sy weet dat hy teen sy sin ingewillig het, haar in sy hart verag. Haar oë is kliphard terwyl sy voor haar staar. Wat gee sy tog om wat hierdie man van haar dink? Hy veroordeel sonder dat hy al die feite ken. Dit laat haar antagonisme jeens hom net sterker word.

Daar is ’n merkbare spanning in die kamer toe Klaus Wagner op ’n oggend oor Petra buk en die verbande begin afdraai. Sy stemtoon is weer eens so egalig en onpersoonlik soos sy dit leer ken het, terwyl hy verduidelik.

“Op die oomblik sal ’n mens niks kan wys word nie. Jou gesig sal baie geswel wees en dit sal ’n paar dae duur voordat dit herstel. Dan eers sal ons weet of daar verder gewerk moet word en of die werk klaar is.”

Sy antwoord nie, sit net doodstil terwyl hy met haar besig is, en voel dan hoe die laaste verband van haar afval.

Sy sluit haar oë terwyl sy arendsblik oor haar gesig gaan. Dan maak sy haar oë weer oop toe hy sê: “Dit lyk goed.”

“Kan ek sien?”

“Nee. Daar is op die oomblik niks om te sien nie. Jy sal jouself nie herken nie.” Die skewe, siniese glimlag speel weer om sy mond. “Jy sal jouself nooit weer herken nie, al het die swelsel gesak. Maar in dié stadium is jy so lelik soos wat ’n mens kan kom. Moenie eers probeer kyk nie.”

Twee dae later is daar ’n oproep vir Petra. Sy weet wie dit is. Dis net haar ouers wat haar hierheen sal bel. Sy is dankbaar dat hulle woord gehou en niemand anders vertel het waar hul dogter haar bevind nie. Nie een keer in die maande wat verby is, het sy of haar ma of pa ooit na Paula of Eugene verwys nie. Dit was soos ’n stille ooreenkoms tussen hulle dat daardie name verbode is.

“Hoe gaan dit, my kind? Dokter Wagner het gesê hy gaan jou verbande vanoggend afhaal,” hoor sy haar ma se bekommerde stem.

Haar eie is kalm. “Hy het dit al twee dae gelede afgehaal, Mamma. Ek het myself nog nie gesien nie, want my gesig is nog baie geswel, maar volgens hom lyk alles baie goed.”

“Het jy nog baie pyn?”

“Nee. Dis natuurlik nog baie seer, maar die ergste is verby.” In haar hart bid sy dat dit die waarheid is. Dis of sy deesdae nie meer daardie verbete drang in haar het nie. Sy sien net nie meer kans om weer ’n slag deur al daardie pyn en lyding te gaan nie.

“Hoe lank sal dit nog duur, my kind? Ons verlang ons morsdood na jou.”

“Seker nie meer so lank nie, Mamma, maar presies hoe lank nog, hang van baie dinge af.”

“Petra …” Haar ma se stem klink bekommerd, onseker.

“Ja, Mams?”

“Daar is iets wat ek jou moet vertel. Ai, my kind …”

“Wat is dit?” ’n Onheilsgevoel neem van haar besit.

“Eugene en Paula …”

“Wat van hulle?” Haar stem is kortaf.

Sy hoor haar ma aan die ander kant sug. “Hulle … gaan trou, my kind. Eerskomende Saterdag.” Dis lank stil. “Petratjie …”

“Ek het gehoor, Mamma.”

“My kind … Hulle is albei nog onder die indruk dat jy oorsee rondreis. Maar dis nou al so lank. Hulle sal begin agterkom …”

“Hou hulle nog ’n rukkie onder daardie indruk, asseblief.” Haar stem is toonloos. “Ek hoop om oor so twee, drie maande hier uit te kom. Sê … sê vir hulle ek sê baie geluk. Ek … ek moet nou eers gaan, Mamma. Ek word geroep. Liefde vir Paps en … dankie vir die bel.”

Sy sit die gehoorbuis dadelik neer, maar staar strak voor haar uit, onbewus daarvan dat ’n paar oë gesien het hoe sy enkele oomblikke gelede wasbleek geword het sodat die rooi merke op haar gesig lelik en onooglik uitstaan.

Dis eers toe hy haar arm aanraak dat sy na haar onmiddellike omgewing terugkeer, en Klaus Wagner trek sy asem saggies, vinnig in. Die grys oë wat in syne opkyk, sal enige hart aangryp. Hy frons ernstig.

“Wat skort?” Sy stem klink bruusk, en sy skud haar kop heen en weer as enigste antwoord. “Kom.” Toe haar kamerdeur veilig agter hulle toegaan, word haar bewende liggaam opgetel en op die bed neergelê. Sy weier om haar oë oop te maak, hoewel sy weet die man wag op ’n verduideliking … ’n verduideliking wat sy nie aan hom kan gee nie.

“Wat makeer, Petra?” Dis baie selde dat hy haar voornaam gebruik, hoewel sy al maande lank deur die ander in die kliniek so genoem word.

“Niks.”

“Dis nie niks nie!” Sy stem klink ongeduldig en die oë kyk kwaai op haar af. “Iets het jou geweldig ontstel. Wat is dit? Het jou ouers …?”

“Nee, niemand het iets oorgekom nie.”

“Wat is dit dan? In hemelsnaam, ek is nié so ’n … ’n ondier dat jy my nie kan vertel nie!”

Maar haar tong lê swaar in haar mond, net so swaar as wat haar hart op hierdie oomblik in haar binneste lê.

“Laat my asseblief alleen.”

Hy kom orent, kyk nog ’n oomblik op die geslote oë af en draai dan in sy spore om. Sy gesig is stroef toe hy ’n ruk later die gehoorbuis terugsit op die mik. Hy vou sy hande en leun met sy ken daarteen aan, kyk stip voor hom uit.

In die dae wat volg, kry selfs Fritz Kunneke dit nie reg om met die pasiënt in kamer 44 te gesels nie. Sy het haar heeltemal onttrek. Dis of sy selfs nie eens meer belangstel om te weet of die delikate operasies geslaag was wat Klaus Wagner op haar uitgevoer het nie. Dat daar in hierdie dae ’n ergerlike blik in dié man se oë is, weet sy nie eens nie … maar sy personeel kom dit deeglik agter. Sy personeel het dokter Wagner nog altyd as ’n streng maar redelike mens beleef om mee saam te werk. In hierdie dae word daar egter dikwels op hulle geblaf en te dikwels moet hulle agterkom dat hy ook erg onredelik kan wees.

Maar daarvan is Petra salig onbewus. Natuurlik het sy verwag dit gaan gebeur, maak sy haarself oor en oor wys. Daar was ’n tyd dat sy selfs gehoop het dit gáán gebeur. Ja, sy het selfs gewéns Paula en Eugene moet trou terwyl sy weg is. Dit sou die afrekening soveel soeter maak. Maar nou … noudat dit werklik gebeur het en sy steeds magteloos hier in die Wagner-kliniek onder ’n groot vraagteken sit …

Sy stap na die deur, maak dit oop en stap in die gang uit, wink na ’n verpleegster. “Bring asseblief vir my ’n spieël.”

Die suster lyk onseker. “Dokter het gesê …”

“Ek gee nie om wat dokter gesê het nie, suster. Ek wil ’n spieël hê.”

“Maar hy het uitdruklik gesê …”

“Na die duiwel met wat hy gesê het!” bars sy half histeries uit. “Dis mý gesig en as ek wil sien …” Sy swyg toe ’n lang gestalte skielik op die toneel verskyn. Hul oë ontmoet.

“Gaan terug na jou kamer, juffrou Prinsloo.”

Sy ignoreer die koue bevel. “Ek wil my gesig sien – nóú, onmiddellik!”

“Jy sal dit sien wanneer ék so sê. Gaan …”

Haar mond vertrek smalend. “Of moet ek eers ’n spieël van jou koop?”

Selfs hy lyk nou effens bleek. Dan word haar arm stewig vasgevat, sy by haar kamerdeur ingetrek en die deur hard en beslis voor die nuuskierige suster se oë toegedruk. Hulle staan soos ’n bul en stiervegter teenoor mekaar.

“Op hierdie oomblik is jy nog nie mooi genoeg vir jou suster se bruidegom nie. Moet dus nie nou al kyk nie.”

Haar oë rek. “Wat! Waar kom jy …?” Haar stem sterf weg en ’n siniese trek lê weer duidelik om sy mondhoeke.

“Ek het jou ma geskakel om te hoor wat dit is wat jou so ontstel het. As jou dokter het ek die reg om te weet. Toe het sy my die nuus vertel.”

“Hoe durf jy? Hoe durf jy jou in my private lewe inmeng en …”

“Ek het alle reg, omdat jy nou is wat ék van jou gemaak het.” Hy grim, sy oë blink hard. “Jy lyk heeltemal anders as die meisie wat ’n paar maande gelede lelik en vet hier ingestap het. En dis ék wat dit gedoen het. Daarom …”

“Jy het geen reg op enigiets nie, dokter!” verweer sy skor. “Ek het jou ’n fortuin betaal vir wat jy gedoen het. Of spruit hierdie skielike besitlike houding van jou uit die vrees dat ek nie die laaste paaiement ook sal betaal nie?” Sy swaai om, stap na die bedkassie, haal haar handsak uit en vroetel daarin. Met die tjekboek in haar hand draai sy terug na hom, die grys oë koud. “Ek sal jou nou dadelik die laaste paaiement gee …”

Die tjekboek word hardhandig uit haar vingers geruk en in die hoek van die kamer gegooi. Dan span sy vingers om haar skouers en sy hoor ’n vibrasie in sy stem wat haar vertel Klaus Wagner is op hierdie oomblik siedend van woede.

Hy sis die woorde tussen stywe lippe uit. “Dis net so jammer dat ek nie ook jou binnekant met ’n operasie kon regmaak nie. Want dis eintlik die plek waar dit werklik nodig is. Jy kort ’n mooimaakproses van binne honderd keer meer as een van buite.”

Sy kyk yskoud terug terwyl sy voel hoe die vernedering en woede soos ’n vuur in haar brand. Haar lippe gaan oop, maar hy gee haar nie kans nie. “Nou vra ek jou weer – en ek wil hierdie keer ’n antwoord hê. Hoekom wou jy hierdie operasies gehad het?” Sy swyg, en sy vingers knel pynlik stywer om haar skouerknoppe. “Ter wille van Eugene Minnaar? Ter wille van ’n man wat dit nie werd is nie?”

“Wat weet jy of hy dit werd is of …?”

“Hy ís nie! Want geen man wat ’n vrou bloot om die uiterlike wil hê, is werd om ’n man genoem te word nie! En nou? Nou is dit te laat …”

“Nee, dit is nie …” Sy swyg vinnig en kan gerus haar tong afbyt toe sy die vinnige vernouing van sy oë sien.

“O nie? Hy is twee dae gelede al met jou suster getroud, weet jy?” Sy kyk weg, en hy skud haar liggies. “Het jy daarvan geweet of maak dit nie saak nie? Petra, antwoord my!”

Sy lig haar ken op, druk dit parmantig na vore. “Ek het nie nodig om jou te antwoord nie, want jy het niks met my persoonlike sake te doen nie, dokter. Jy vergeet jou plek, Klaus Wagner!”

Hy grynslag weer. “Die dag dat ek my plek regtig nie meer ken nie, Petra Prinsloo, sal jy jammer wees.” Hy los haar skielik. “Jy moet begin bid dat die laaste operasie die finale een was, want of dit ’n sukses was of nie, ek weier om verder op jou te opereer.”

Sy kyk hom verbysterd aan. “Maar … jy kan nie! Jy kan my nie net so los … jy het self gesê …”

“Ek weet wat ek gesê het, juffrou Prinsloo. Ek weet ook wat ek nou sê. Ek gee nie om hoe jy lyk nadat daardie swelsel gesak het nie, maar ek sal nie weer my hand oplig om aan jou te raak nie. Dis finaal!”

Sy hardloop hom by die deur in, kry hom aan die arm beet. “Jou gemene, onbetroubare … Ek het jou betaal!”

“Het jy?”

Sy kyk verward na hom op. “Natuurlik het ek! Ek het jou nog voordat jy ’n vinger op my gelê het ’n groot bedrag gegee en ek is bereid …”

“Jy begaan ’n fout, juffrou. Dis blykbaar jou gewoonte.”

’n Yskoue gevoel stoot in haar op. Nou eers onthou sy dat hy haar nog nooit ’n kwitansie vir die eerste paaiement gegee het nie! Sy kyk hom ongelowig aan. Is hierdie man, behalwe ’n geldwolf, nog ’n afperser ook? Dis of hy haar gedagtes kan lees en sy gesig, indien moontlik, word nog stywer.

“Dis tyd dat jy ’n slag weer na jou geldsake omsien, voordat jy jou suster se man begin afrokkel.”

“Waarvan praat jy?” roep sy ontsteld uit, en hy druk haar hand van sy arm weg, kyk uit die hoogte na haar, sy blik vernietigend.

“Gaan skakel jou bank en vind uit of daar ’n tjek gewissel is. Dan praat ons weer.”

’n Rukkie later sit sy die telefoon verslae neer. Toe hy daardie aand op sy ronde langs haar bed kom staan, is dieselfde verwarring nog in haar oë. Gewoonlik maak sy haar oë toe wanneer hy haar gesig bestudeer, maar vanaand kyk sy vas in die blou oë wat so digby hare is.

“Hoekom het jy dit gedoen?”

“Wat gedoen?”

Sy stoot sy hande weg. “Jy weet wat ek bedoel. Hoekom het jy nog nooit daardie tjek gewissel nie?”

“Jy sal graag wil weet, of hoe?” is sy tartende teenvraag. Dan kom hy orent. “Dis my saak. Goeienag, juffrou Prinsloo.”

Die volgende twee dae weier hy om na haar te luister. Die derde oggend stap hy met ’n spieël in sy hande haar kamer binne.

Hul oë ontmoet en dan sê hy op daardie haatlike toon: “Die lang verwagte oomblik het aangebreek. Is jy gereed daarvoor?” Sy verbleek, en hy kom nader, hou die spieël voor haar omhoog. “Kyk na jouself, Petra, en sê my of dit aan al jou verwagtinge voldoen.”

Ena Murray Keur 9

Подняться наверх