Читать книгу Ena Murray Keur 9 - Ena Murray - Страница 13

10

Оглавление

Paula se oë is stil en verraai niks van haar gevoelens terwyl sy kyk hoe haar man vinnig aantrek nie.

Dit was pas middernag en daar was ’n oproep van die hospitaal. Een van sy pasiënte het dadelik sy aandag nodig. Dan sê sy skielik: “Ek het nie geweet Petra het weer begin verpleeg nie.”

Sy sien sy kop omhoog ruk, maar sy hou haar blik op hom. Hy lyk so skuldig! Ten spyte van die pyn in haar hart verteder haar blik. My arme man, hoe goed ken ek jou nie …

“O, dit … het my net ontgaan om jou te vertel.”

Sy glimlag selfs effens. “Sy is seker op nagdiens, want sy was vanoggend hier by my.”

Sy vinnige, bekommerde blik ontgaan haar nie. Sy hoor sy ongeërgde stem, effens te ongeërg: “Ja.” Hy buk oor haar, soen haar vlugtig. Maande lank is sy liefkosings al beperk tot ’n piksoentjie. Sy het dit begryp. Uit die aard van die saak kon hulle nie meer ’n normale huwelikslewe lei tot ná die geboorte nie, en sy het van haar kant moeite gedoen om dit nie vir hom moeiliker te maak nie. Maar nou wonder sy tog …

“Tot siens. Ek sal probeer om gou terug te wees,” groet hy.

Sy kyk hom agterna en sluit haar oë toe sy die voordeur hoor toegaan. Hoe magteloos en weerloos is ’n vrou in haar posisie. Sy weet sy lyk glad nie meer soos die meisie met wie Eugene ’n paar maande gelede getrou het nie. Sy glimlag – ’n effens bitter glimlaggie. Teen sy sin! Hy het geglo ’n meisie soos sy sal nie ’n goeie vrou vir haar man kan wees nie. En nou?

Binne-in haar kook en woel die onrus. Nou lyk dit of die bordjies skielik verhang is. Is Eugene ’n goeie man vir ’n vrou? is die vraag wat eerder gestel moet word.

Miskien was dit ’n fout dat sy so onmiddellik ná hul huwelik swanger geraak het. Maar hulle was tog albei so in ekstase daaroor. En as Petra nie op die toneel verskyn het nie, sou dit geen verskil gemaak het nie. Maar nou … Hy kon die pragtige Paula nie weerstaan nie. En nou weer nie die pragtige Petra nie!

In elke getroude vrou se lewe kom hierdie oomblik van openbaring – dié oomblik wanneer sy besef die man met wie sy getrou het, is nie die volmaakte godjie waarvoor sy hom aangesien het in haar verliefdheid nie. Dié oomblik wanneer sy besef hy is maar net ’n mens met swak kante soos enige ander mens. Dié oomblik wanneer sy besef hy is nie anders as enige ander man nie.

Haar gesig is bleek en klein teen die wit kussing. Dit help nie om haarself te probeer wysmaak dat hierdie gevoel in haar net op vermoedens berus nie, want die Skepper het ’n spesiale radar in elke vrou ingebou, iets wat haar vertel ’n ander vrou het in haar man se lewe verskyn, sonder dat sy enige bewyse daarvoor hoef te hê. Jy wéét dit net, soos sy dit meteens nou weet …

Sy skuif haar swaar liggaam omhoog en reik na die telefoon. Haar hand aarsel. Is dit nie beter om liefs in die hel van onsekerheid te lewe as om die verdoeming van sekerheid te smaak nie? Is dit nie beter om liefs die marteling van daardie intuïtiewe wete in jou rond te dra as om dit as ’n voldonge feit te ervaar nie? Is dit nie verstandiger om jouself wys te maak dat jy verkeerd gehad het nie, eerder as om dit wat jy hierbinne wéét aan jouself te bewys?

Maar dan skakel haar vingers tog die nommer, en toe sy die gehoorbuis weer ná ’n oomblik terugsit op die mik, weet sy dat sy nie moes nie … maar dat dit nou te laat is. Sy het haar vermoedens bevestig. Die hospitaal sê dokter Minnaar is nie daarheen ontbied nie en suster Prinsloo is ’n paar minute gelede van diens.

Sy lê roerloos. Die lang wag het begin … die lang wag van ’n vrou wat weet haar man is by ’n ander vrou.

Petra kyk op daardie oomblik na die man se gesig hier naby hare en sy kan nie begryp hoekom sy so koud gelaat word deur dít wat sy hoor nie. Dis tog wat sy wou hoor. Dis dieselfde woorde wat sy meer as ’n jaar gelede uit sy mond gehoor het en wat haar hart op daardie oomblik verguis het, want dit was woorde wat toe aan haar suster, die pragtige Paula, gesê is. En op daardie oomblik het sy gesweer: Eendag, eendag sal hy daardie woorde ook aan háár sê. Nóú hoor sy dit … en dit laat haar vreemd koud.

“Petra, hoor jy wat ek sê? Ek kan aan niemand anders as jy dink nie. Jy is soos ’n vuur in my!”

Haar stem is eienaardig beheers, amper sonder emosie. “Wat van Paula?”

Dis ’n oomblik stil – ’n swaar, swanger stilte, met net sy harde, onegalige asemhaling hoorbaar. “Ek … weet nie. Ek weet nie! Ek weet net een ding en dis dat ek jou begeer soos ek nog nooit ’n vrou begeer het nie. Petra!” Hierdie kilheid van haar dryf hom tot raserny. “Moet my nie verstoot nie. Jy weet ek het jou eens liefgehad. Jy weet ons was amper verloof en toe het jy …”

Sy luister skaars. Hy het haar nooit werklik liefgehad nie, want soos die meeste mans kon hy nie iets liefkry wat lelik en oorgewig is nie. Hy kon nie ’n vrou net om haar innerlike liefhê nie. Nee. Dit was haar mooi suster met haar pragtige liggaamsbou wat sy liefde gewen het. En daarom kan hy nou so maklik sy liefde, soos hy dit noem, verplaas na ’n mooier een – ’n uiterlik mooier een, want van binne hét sy lelik geword. Paula het gelyk gehad. Sy het innerlike skoonheid ingeboet vir die uiterlike. Sy het die kalm waters van Silóa verruil vir die stormwaters van die Eufraat …

Sy kyk op na die verwronge gesig bokant haar, maar sy sien hom skaars. Wat het Klaus nou weer gesê? Silóa was ’n fontein; ’n stil, kalm fontein waar die volk van God koel waters vir hul daaglikse lewe in Jerusalem kon gaan put. ’n Fontein wat nooit opgedroog het nie. ’n Fontein wat altyd daar was, wat van ’n onuitputlike bron diep uit die aarde sy stil vloeiende waters na bo laat styg het vir hulle om te geniet en lafenis by te vind.

Maar hulle was nie tevrede nie. Hulle het dit verruil vir die stormwaters van die Eufraat … stormwaters wat meedoënloos meesleur, wat vernietig, verwoes en verniel op sy vinnige, tydelike pad na die Persiese Golf. Het sy ook die waters van Silóa verruil vir stormwaters wat haar gaan meesleur, gaan vernietig?

“Petra!” Dis ’n uitroep gelaai met emosie; wilde, ongetemde gevoelens wat breekpunt bereik in die man en uit hom losskeur. Sy voel hoe hy haar vasgryp, hoe sy lippe hare hartstogtelik opeis. Dis wat sy begeer het, ook daardie tyd toe hulle ’n verhouding gehad het. Maar toe het hy haar nooit só gesoen nie. Dit was Paula wat hy so hartstogtelik gesoen het. “Petra, het daar dan nie eens ’n stukkie gevoel vir my in jou oorgebly nie? Onthou jy nie …?”

“Ek onthou alles, Eugene. Ek het niks vergeet nie.” Haar arms gaan om sy nek, en sy druk haar lippe doelbewus op syne vas. Dis wat sy wou hê, wou bereik. Hierdie eienaardige gevoel van teësin, op hierdie oomblik byna walging, moet sy onderdruk. Dis vir dié oomblik dat sy maande lank beplan het, gely het.

Maar later, toe sy liefkosings ongetemd word, druk sy hom weg, vee oor haar hare. “Nee, Eugene. Nee! Los my!”

Daar is paniek in haar. Sy het doelbewus hierdie storm in hom aangewakker … maar nou voel sy skielik bang.

Sy stem klink onvas. “Ek gaan jou nie weer prysgee nie.”

Sy kyk na hom. “Wat bedoel jy?”

“Jy moes nooit weggegaan het nie, Petra. Ons twee sou ’n wonderlike huwelik gehad het. Jy het aan my behoort – eenkeer. Jy gaan weer aan my behoort. Ek wil jou bo alles hê. Noudat ek weet jy voel nog so oor my … Ek gaan nie weer van jou afstand doen nie!”

“Bo alles, Eugene? Jy het ’n vrou … en julle verwag ’n kind.”

“Ek weet, maar … Paula … sy het my doelbewus van jou weggelok. Ek het haar gesê ek wil met jou trou, maar sy het aangehou.”

Daar is skielik ’n mislikheid in haar en sy skuif nog verder van hom weg. Maar haar stem is beheers, koel: “As jy dink ek gaan ’n ongeoorloofde verhouding met jou hê terwyl jy my suster se man is, moet jy weer dink, Eugene. Ek is nie te vinde vir so iets nie. Ek het nie nodig om ’n ander vrou se man in die geheim te ontmoet nie. Ek wil ook trou, kinders hê, ’n man van my eie, ’n eerbare lewe.”

Eerbaar? Die woord lê swaar in haar keel. Sy hoor hom sê: “Ek … sal ’n plan maak, Petra. Ek sal met Paula praat. Sy kan my nie kwalik neem nie. As sy nie tussenbeide gekom het nie … Sy moes my nooit probeer afrokkel het van jou nie.”

Sy draai haar kop weg. Dit voel vir haar of sy versmoor. “Neem my nou terug na my motor, asseblief. Ek sal jou nie weer ontmoet voordat jy in eerbaarheid na my kan kom nie.” Weer daardie woord. Hoekom gebruik sy dit?

“Ek sal so gou moontlik sake tot ’n punt bring. Ek belowe. Maar jy moet my intussen nie vergeet nie, Petra. Ek móét jou hê!”

Sy is dankbaar vir die donkerte in die motor, want sy weet die veragting wat sy vir die man langs haar voel – én vir haarself – moet in dié oomblik vlak in haar oë lê. “Ek raai jou aan om daarmee te wag tot ná die kind se geboorte.” Sy lag kortaf. “Daar is darem so iets soos menslikheid.”

Menslikheid. Sy gebruik vanaand woorde wat heiligskennis is. Sy kan dink wat Klaus Wagner daarop te sê sou hê as hy haar moes hoor. Maar soos ’n paar maande gelede, is sy verby keerpunt. Sy het reeds te ver gevorder op haar pad van weerwraak om nou om te draai. Jy bereik ’n punt waar jy nie meer op jou voetspore kan teruggaan nie. Eugene se oë vertel haar dat sy die vuur wat sy in hom aangesteek het, nie sommer geblus sal kry nie.

Dan verhard sy haar hart weer. Paula het gesê sy sal nie daarin slaag om haar man van haar te steel nie. Paula … die meisie wat in die verlede altyd alles van háár gesteel het. Ons sal sien, my sussie. Ons sal sien …

Toe Petra en Eugene die hospitaal bereik, merk sy tersluiks op dat ’n ambulans voor die ingang staan en dat hulle iemand indra. Hulle klim uit en wil net aanstap na haar motortjie, toe een van die nagportiere opkyk en hulle gewaar. Hy kom vinnig nader, verligting op sy gesig.

“O, dan het iemand u tog in die hande gekry, dokter. Sy het so pas aangekom.”

“Wie?”

“U vrou, dokter. Sy het skielik siek geword, maar sy kon darem nog die hospitaal bel. Hulle het haar ingebring. O, daar is dokter Van Schalkwyk ook nou net.”

Petra voel hoe haar voete haar werktuiglik na die ginekoloog dra wat haastig nader gestap kom, sy gesig stroef. “Ek is jammer om te hoor daar het skielik komplikasies ingetree. Ons moet liewer dadelik gaan kyk. O, goeienaand, suster.”

Petra knik net, stap saam met hulle die gebou binne, alles in haar tot ’n vreemde onheilstilte geruk. Paula …

Dis vir niemand in die operasiesaal vreemd dat suster Prinsloo haar by die groep om die operasietafel voeg nie. Dis haar suster. Natuurlik wil sy by wees. ’n Ruk later sien sy hoe die ginekoloog die klein, nuwe lewetjie omhoog hou. Sy hoor die skril geskree, en sy staan soos ’n standbeeld toe die stukkie mens skielik in haar hande geplaas word. “Jy sal verder hier sorg, nè, suster?” Hy draai dadelik terug na die pasiënt op die tafel en sy draai om, gehoorsaam soos sy geleer is. Paula en Eugene se kind … Hierdie klein bondeltjie lewe in haar hande is haar suster en Eugene se kind.

Lank daarna kyk sy op die stil, rustige kreukelgesiggie af waar hy in die broeikas lê. Dan draai sy om, stap oomblikke later ’n kamer binne. Paula is nog nie by haar bewussyn nie. Sy lê stil en bleek, en skielik weer so pragtig soos van ouds, teen die kussing.

Petra stap uit, loop haar ouers in die gang raak, sien die kommer in hul oë. Sy probeer glimlag.

“Alles is onder beheer. Kom, ek gaan wys julle gou jul eerste kleinkind.”

Saam kyk hulle op die nuwe lewetjie af. Mara kyk bekommerd op. “Hy is so vreeslik klein! Sal hy …?”

Sy glimlag gerusstellend. “Natuurlik sal hy! Net ’n rukkie in die broeikas en hy is piekfyn. Moenie bekommerd wees nie. Gaan nou huis toe en gaan rus. Ek sal hier bly en later kom.”

Sy kry Eugene, kop tussen die hande, in die ruskamer van die operasiesaal. Sy probeer haar stem saaklik hou. “Jy moet gaan rus. Kom, ek neem jou gou huis toe.”

Maar toe hulle by sy motor kom, klim hy self agter die stuur in, kyk haar moeg aan. “Ek sal regkom.”

Haar hartspiere trek saam. Hy lyk ellendig … en sy het ’n aandeel daaraan. Dis nie Paula en wat vannag gebeur het wat hom so laat lyk nie. Dis sy, Petra. Sy was die afgelope weke doelbewus daarop uit om hierdie man te vernietig.

“Eugene …”

Hy skud net sy kop, skakel die motor aan, sê dan skor, hees: “Ons praat liewer later.”

Sy sien hom wegry, kyk hom agterna. Nou weet sy: Hy is ’n swakkeling. Jy kry mans soos Eugene Minnaar wat so maklik omvergegooi word deur ’n mooi gesig, ’n mooi liggaam. Arme Paula … Die wêreld is vol mooi Paulas en mooi Petras. En elke keer wanneer een van hulle oor sy pad kom, gaan dit hom van balans ruk. Sy was maar die eerste ná sy huwelik, maar sy sal nie die laaste wees nie. Daar gaan nog ander kom wat ook ’n rukkie lank sy voete onder hom gaan uitruk. En elke keer gaan dit ’n stukkie van sy vrou se hart verteer.

Ek ken my man se swak kante, het Paula gesê. En tog het sy met hom gaan trou, het sy hom lief genoeg om te baklei vir hom, hom te wil behou. Petra skud haar kop in bewondering. Dan het Paula weer eens iets meer as sy van die lewe ontvang – die gawe om lief te hê, ondanks …

Sy skuif agter haar eie motortjie se stuurwiel in, maar skakel dit nie dadelik aan nie. Sy kyk voor haar uit. Is dit ware liefde? Om lief te hê ten spyte van en nie ter wille van nie? Is dit wat Klaus Wagner bedoel het toe hy gesê het haar suster is haar een voor? Want noudat sy die ware man ontdek het in dié man wat sy eens so bewonder het, verag sy hom, bejammer sy die vrou wat met hom getrou het.

En nou … is al die maande van smart en lyding sinloos. Ook in dié opsig het Klaus haar gewaarsku: Is Eugene Minnaar dit werd? Dít waarvoor sy die offer gebring het, was nie ’n enkele sekonde werd van die hel wat sy moes deurmaak nie! Pêrels voor die swyne … dis wat dit was!

Maar Klaus Wagner het ook gewaarsku: “Jy gaan uiteindelik jouself die grootste kwaad aandoen!” Toe het sy hom uitgelag. Maar vannag, in hierdie donker uur, lag sy nie meer nie. Want hy was reg! Die grootste kwaad het sy haarself aangedoen! Sy is ’n beeldskone vrou vandag, en sy sal nooit weet of dit bloot die uiterlike is wat bekoor nie. In die toekoms sal sy nooit weer seker wees of sy nie maar net met nog ’n Eugene Minnaar te doen het nie, en of dit ’n … Klaus Wagner is nie.

Haar hart ruk in haar keel. Sy sien die twee mans teenoor mekaar en sy weet daar is geen vergelyking nie. Klaus Wagner is nie ’n man wat deur ’n beeldskone gesig en ’n verleidelike liggaam aan die neus gelei sal word nie. Hy is ’n man wat dieper kyk, dieper soek, verby die verganklike dop waarin die ware mens gehul is. As hy eendag trou, sal hy na iemand soek wat mooi van binne is voordat hy eens na die uiterlike sal kyk. Hy is ’n man wat met ander oë as Eugene Minnaar na ’n vrou kyk.

En hy verag haar. Sy weet dit. Hy het dit in byna soveel woorde gesê. Háár sal hy nooit kies nie. Dan veel eerder haar suster, Paula …

Petra is moeg en tam toe daar die middag ’n ligte kloppie aan haar deur is. Sy het gedurende die dag net kort-kort ingesluimer en dan met ’n sametrekking van spiere weer wakker geskrik. Sy kyk op die wekkertjie op die spieëltafel. Halfvyf. Oor net meer as twee uur moet sy weer aan diens wees. Sy staan met ’n sug op, gaan maak haar kamerdeur oop.

Haar ma kyk haar verskonend aan. “Ek is jammer, my kind. Het jy nog geslaap?”

“Nee. Ek was al wakker.”

“Dokter Wagner is hier. Hy het gesê hy sal wag as jy nog slaap.”

Haar gesig verstil, en sy sê kortaf: “Ek is nou daar.”

Sy is so wit soos haar uniform toe sy in die sitkamer verskyn. Albei gesigte is uitdrukkingloos toe hulle reg voor mekaar staan.

“Ek is jammer as ek steur.”

“Ek was al wakker.”

Sy sien dat hy sy hande vinnig in sy broeksakke steek. Dis ’n gebaar van hom wat sy geleer ken het in sy kliniek. Dis wanneer hy ergerlik is dat hy dit doen, asof hy sy eie hande nie vertrou nie.

“Ek het net kom hoor hoe dit gaan.”

“Goed.”

“So goed dat ek die tjek maar kan gaan wissel?”

Haar oë vlieg op na syne. Dan draai sy vinnig van hom af weg.

“Jy kan dit enige tyd gaan wissel, dokter.”

“Maar daar was ’n voorwaarde aan verbonde.”

“’n Voorwaarde wat jy self gestel het, nie ek nie. Gaan wissel die tjek en kry klaar!”

“Ek neem dus aan dat jy eindelik geluk gevind het … by Eugene Minnaar?”

Sy draai na hom terug. “Ja.”

“Jy lyk nie so nie.”

Sy probeer ongeërg voorkom. “Ek het gisternag nooit geslaap nie, dis ál. Met Paula se dinge … Mamma het jou seker daarvan vertel?”

“Dat sy gisternag, toe sy alleen was, siek geword het? Ja. Ook dat hulle moes opereer, en dat sy ’n seun het … sy en Eugene.”

Sy probeer hom koel in die oë kyk. Die veroordeling in sy oë en stem gaan soos ’n swaard deur haar, maar sy laat blyk dit nie. Sy moet vasklou aan die klein bietjie trots wat sy nog in haar oorhet.

“As jy dan alles weet …”

“Dis nie ál nie. Die res kan jou ma my nie vertel nie, net jy.”

“Wat wil jy nog weet?”

“Wat julle toe besluit het. Of liewer, jý besluit het.”

“Waaroor?”

Dis asof dit vir hom te veel word om langer na haar te kyk, en sy sien hom wegstap na die venster, na buite kyk toe hy sê: “Oor die toekoms. Noudat die kind daar is … Teen hierdie tyd, veronderstel ek, behoort jy al sekerheid oor sy pa te hê?” Hy grynslag. “Hy eet seker al uit jou hand, nie waar nie?”

“O ja.”

“En hy is seker teen hierdie tyd bereid om sy vrou en sy kind vir jou op te offer? En jy is seker nou nog meer as ooit oortuig dat hy die man is wat jy wil hê?”

“Ja.”

Hy draai stadig na haar. Dan steek hy sy hand in sy baadjiesak, haal iets uit. Stadig, doelgerig skeur sy fyn kunstenaarshande die tjek aan repies. Dan gooi hy dit voor haar op die tafel neer.

“Jy skuld my niks nie, juffrou Prinsloo.”

Hy is reeds by die deur toe sy hom roep. “Klaus … hoekom het jy dit gedoen?”

Die ligblou oë wat ’n oomblik lank hare vaspen, het sy nog nooit so donker gesien nie. Dis of hulle skielik diepblou is. “My kliniek kan sonder gewetensgeld klaarkom, dankie.”

“Gewetensgeld?”

“Ja. Ek bou nie my vreugde op ander mense se trane nie. Wat meer is, die voorwaarde in ons ooreenkoms sal nooit nagekom kan word nie. Jy sal nooit ware geluk vind nie.”

Petra is dankbaar dat sy haar swaer nog by sy spreekkamer aantref toe sy daar aankom. Die ontvangsdame is reeds weg, maar sy motor staan nog daar en sy stap sonder meer binne.

Toe hy na haar opkyk, kan sy sien dat hy nog nie ’n oog toegemaak het nie.

“Eugene, ek wil met jou praat.”

Hy staan vinnig op, trek sy doktersjas uit. “Nie hier nie. Laat ons wegkom hier.” Hy lei haar na sy motor toe hulle buite kom. “Ek sal jou terugbring om jou motor te kry.”

Hulle praat nie ’n woord nie, ook nie toe hy by die uitkykpunt oor die stad stilhou nie. Haar gedagtes gaan terug na daardie dag toe sy ook hier gesit het, op hierdie selfde plek. Daardie dag toe sy moes hoor haar mooi suster is soos ’n vuur in sy are. Sy was nog nooit so na aan selfmoord as daardie dag nie.

Sy kyk peinsend af na die afgrond voor hulle. Miskien sou dit beter gewees het as sy maar liewer daardie dag toegegee het aan die drang in haar. Soveel smart, soveel ontnugtering sou haar en ander mense gespaar gewees het.

“Wat wou jy sê, Petra?”

Sy sug saggies, probeer haarself tot kalmte bring. Sy is die sterkere van hulle. Sy weet dit nou. Dis sý wat die leiding sal moet neem, die pad van die toekoms sal moet aanwys. En daar is net een pad.

“Eugene, ons was dwaas … ek nog meer as jy, want ek het met oop oë in hierdie ding gestap. Maar as ’n mens dwaas was, beteken dit nie dat jy die res van jou lewe ’n dwaas moet bly nie.”

“Wat presies wil jy sê, Petra?” Sy stem is skor, gespanne, en sy kyk bekommerd na hom. Hy lyk verskriklik sleg!

“Jy moet tog weet dat … noudat die kind daar is …”

Hy kyk haar met bloedbelope oë van die min slaap aan. “Die kind was altyd daar, Petra. Hy is nou maar net gebore. Al hierdie weke het ons albei geweet daar is ’n kind. Watter verskil maak dit nou?”

Sy kyk vinnig weg. Die aanklag is teen haar en sy kan haar nie verweer nie. Natuurlik het sy al hierdie weke geweet daar is ’n kind, maar hy was nog aan die kom, iets vaags in die toekoms, iets sonder gestalte, sonder ’n klein, rooi plooigesiggie, klein handjies, ’n tuitende mondjie. Maar nou is hy ’n werklikheid, ’n mensie … ’n afhanklike, klein, weerlose mensie wat sy ouers nodig het, sy ma en sy pa.

“Dit maak ’n groot verskil, Eugene. Gisteraand toe ek hom by die dokter geneem het, toe ek na hom gekyk het daar in die broeikas …” Sy skud haar kop, ’n weemoedige glimlaggie om haar mond. “Ook toe ek later op Paula se bleek, stil gesig afgekyk het … Ek kan dit nie aan hulle doen nie, Eugene! Ek wil nie!” Sy aarsel, sê dan baie stil: “Ek kan nie my geluk op hul trane bou nie, Eugene.” Dit klink so bekend in haar ore, só vreeslik bekend.

“Maar jy kan my nie nóú in die steek laat nie! Paula weet. Ek is seker sy weet en …”

“Sy weet, ja. Maar dit sal geen verskil aan haar maak nie, Eugene, want sy het jou werklik lief. Sy is werklik ’n vrou vir jou … soos ek nooit kan wees nie.”

“Maar jy kan dit wees! Petra, ek kan nie sommer net van jou afskeid neem nie!”

Sy kyk hom verbysterd aan en die volle betekenis van wat sy gedoen het, tref haar die eerste keer werklik. Sy het hierdie man so van sy voete af met haar mooi gesig en mooi liggaam dat hy selfs sy eie vlees, sy eie seun, vir haar sal opoffer! En sy wil dit nie hê nie! Want net soos in haar geval, sal sy offer dit nie werd wees nie. Sy is dit nie werd nie.

“Nee, Eugene. Dis finaal. Neem my nou terug.”

Sy leun terug en sluit haar oë. Sy hoor hom die enjin aanskakel en die motor in rat sit. Die volgende oomblik klink haar gil hard en deurdringend op toe die motor oor die afgrond stort.

Ena Murray Keur 9

Подняться наверх