Читать книгу Ena Murray Keur 9 - Ena Murray - Страница 12

9

Оглавление

Sy kyk uitdagend terug. “Dit lyk belowend.”

Hy kyk haar ’n oomblik lank stil aan, kom dan om die lessenaar gestap. “Petra, jy gaan dit nie doen nie.”

“Wát doen nie, dokter Wagner?” Haar kil stem en die formele aanspreekvorm wil hom op sy plek sit, maar dié man word nie maklik op sy plek gesit nie.

“Daar is geen vreugde in weerwraak nie. Jy gaan jouself die seerste maak van almal.”

Sy draai weg van sy deurborende blik, probeer gemaak onskuldig sê: “Ek weet nie eens waarvan jy praat nie!”

“Jy lei niemand om die bos nie.”

Die ergernis in haar vlam opnuut hoog en sy draai terug na hom. “Daar het ek nou jou tjek gegee en die saak is afgehandel tussen ons twee. Ons sal mekaar nie weer sien nie.”

By die deur roep sy stem haar tot stilstand: “Net ’n oomblik. Ons sal mekaar minstens nog een keer moet sien – dié dag wanneer jy my kom vertel jy het geluk gevind, sodat ek die tjek kan gaan wissel.”

Sy draai fronsend na hom. “Hoekom wil jy wag tot dan? Daardie tjek is vergoeding vir jou diens gelewer. Dit het niks verder …”

“Dit het alles verder daarmee te doen. Ek voel verantwoordelik vir dít wat ek geskep het. Ek het ongelukkig die nare gevoel dat ek hierdie keer regtig iets leliks geskep het, in plaas van iets moois. As die tyd bewys dat dit so is, kan ek geen vergoeding vir my diens aanvaar nie.”

Daar is ’n uitdrukking in haar oë wat hom vertel dat sy hom nou glad nie begryp nie. Sy knip hulle verward, vra dan stug: “Voordat ek gaan … Jy het eendag verwys na iets soos die waters van Silóa. Wat is dit?”

Dit lyk asof hy haar eers nie wil antwoord nie, maar hy sê dan tog: “Silóa was ’n fontein in die ou Jerusalem. By daardie fontein kon die inwoners kalm waters gaan put vir hul daaglikse lewe.”

“Ja? Wat nog?”

Daar is ’n vreemde trek om sy mondhoeke. “Jy is vir my ’n tipiese voorbeeld van die mense van daardie tyd. Wat nog? Niks was meer nodig nie. Wat wil ’n mens meer hê as die stil, kalm waters van Silóa? Hulle was nie tevrede en gelukkig met dít wat hulle gehad het nie, met die kalm waters wat God hulle geskenk het nie. Hulle het dit geminag. Dit was eers toe hulle in die stormwaters van die Eufraat beland het, dat hulle die waarde van die kalm waters van Silóa na regte kon waardeer. Maar toe was dit te laat …”

Sy draai sonder meer om en stap uit.

Op pad terug huis toe is daar ’n frons tussen Petra se wenkbroue, ’n onsekerheid en rusteloosheid in haar oë. Sy moes sy tjek gestuur het, dit nie self kom gee het nie. Hoekom het sy? Dit kriewel in haar.

Sy moes vooraf geweet het hy sou haar weer ontstig. Hy het die vermoë om haar te laat twyfel. Diep in haar hart, weet sy, het sy al begin twyfel. Dit wat sy beplan het, die dryfveer agter alles, was dit die moeite werd? Dis ’n onwelkome vraag wat die afgelope dae dikwels in haar gedagtes opduik. Dan het sy doelbewus die verre verlede weer in herinnering geroep en daarmee die tanende vasberadenheid in haar gevoed. Nee, sy sal nie afsien van haar oorspronklike planne nie. Dis om daardie planne se ontwil dat sy maande van pyn en hel deurgemaak het. Sy sál hulle wys …

Toe sy by die dwarsstraat kom waar sy na haar ouerhuis moet afdraai, swenk sy haar motortjie in die teenoorgestelde rigting.

Toe sy ’n ruk later by haar ma op die grasperk aansluit, laat sy kalm hoor: “Ek was netnou by die hospitaal. Ek gaan weer begin werk.”

Haar ma se kop ruk omhoog. “Waar?”

“By my ou hospitaal. Matrone sê ek kan so gou moontlik begin. Soos altyd het hulle ’n tekort aan personeel.”

“Petra, ek …” Sy het darem al geleer om haar gemaklik op die voornaam aan te spreek, maar sy is steeds nie op haar gemak in haar dogter se teenwoordigheid nie. Die ou spontaneïteit is weg. Vir die ou Petra kon sy altyd trompop haar mening gee. Vir hierdie nuwe een is sy … versigtig.

“Dink jy dis wys? Ek bedoel, die personeel is ou bekendes, maar jý is nou vir hulle ’n vreemdeling. Dan ook …”

Petra se oë vernou. Sy weet presies wat haar ma eintlik wil sê. Maar sy help haar nie, en Mara sien hoe die grys oë weer ’n vreemde hardheid aanneem. “Ja? Mams wou sê?”

Die woorde kom sukkelend uit. “Jy en Eugene … Julle sal weer soos voorheen heeldag saamwerk. Gaan dit nie vir jou … e … moeilik wees nie?”

Petra staar voor haar op die gras. Dis juis waarom sy weer as teatersuster aansoek gedoen het, al het sy nie nou al weer lus vir werk nie. Dit sal haar planne uitstekend pas as sy heeldag onder Eugene se oë kan wees, as hulle weer soos van ouds as span saamwerk. Haar mond trek wrang. En sy weet ook haar ma se bekommernis is hoofsaaklik nie oor háár gevoelens nie, maar oor Paula. Sy staan vinnig op, sê ongeërg: “Ag nee wat, Mamma. Dis mos dinge van die verlede daardie.”

Mara kyk haar agterna. Is dit?

Eugene Minnaar moet ’n tweede keer in die geamuseerde grys oë kyk voordat hy sekerheid kry. Hy voel sy hart ’n skop gee. “Dit is jý? Is jy terug by ons?”

Petra glimlag agter die masker. Terug by jou, ja. Dis duidelik dat haar ma en pa Paula-hulle nie vertel het sy is weer as teatersuster in haar ou hospitaal aangestel nie.

Natuurlik het dit moed geverg om weer die gang af te stap. Nie een bekende het haar gegroet nie. Hulle het haar nie herken nie! Daar het konsternasie losgebars toe hulle eindelik die waarheid agtergekom het. En nou staar Eugene diep in haar oë, duidelik verras, en sy glimlag tevrede. Alles verloop nog volgens plan, dokter Wagner, sê sy stilswyend.

In die daaropvolgende dae kom Petra agter dat dokter Minnaar die operasiesaal ook soms onnodig besoek. Op ’n dag, toe sy van diens af kom, vra hy haar om eers ’n koppie tee êrens saam met hom te gaan drink. Natuurlik willig sy in.

Sy sit doodstil terwyl hy haar openlik oor die teekoppie se rand sit en beskou. Laat hom kyk, dink sy tevrede.

Binne-in Eugene is dit chaos. Hy weet hy moes haar nie vandag gevra het om saam met hom te kom tee drink nie. Hy weet hy moet liewer van hierdie meisie af wegbly.

Maar hy is net ’n mens en ’n man. Tuis gaan dit nie so goed nie. Sedert Petra weer op die toneel verskyn het, het daar ’n verandering in Paula ingetree, ’n verandering wat hulle stadig maar seker van mekaar verwyder. Dis of sy ná daardie aand dat hy Petra huis toe gebring het, haar begin onttrek het. Sy is stil en ingetoë.

Hy kan sy oë nie van die pragtige vrou hier voor hom afhou nie. Paula … Paula het ook eens so gelyk. Maar deesdae gee sy min aandag aan haar uiterlike. Hy voel ’n skuldgevoel in hom oplaai. Dit is onregverdig om sy vrou met hierdie meisie voor hom te vergelyk. Paula is deur ’n moeilike tyd en dis nog lank nie verby nie. Spanning en kommer takel ’n vrou vinnig af, en sy voel siek en ongemaklik. Dit sal weer regkom. Alles sal weer regkom as … as hierdie meisie net nie op die toneel verskyn het nie.

Hy probeer hom die ou Petra voor sy geestesoog oproep, maar slaag nie daarin nie. Tog … dit ís Petra, net maar in ’n nuwe gedaante. Petra met wie hy amper getroud was. Petra wat eens op hom verlief was, met hom sou getrou het …

Dis die eerste van baie tee-afsprake. Die twee susters sien mekaar nooit meer nie. Op aandrang van Paula se ginekoloog mag sy glad nie meer motor bestuur nie en moet sy die grootste deel van die dag in die bed bly. Natuurlik is Mara meer by dié dogter van haar as tuis, en sien sy haar ander dogter selde.

Petra het kort nadat sy weer begin werk het nagdiens begin doen en die res van die gesin is nie bewus van die feit dat sy en haar swaer mekaar dikwels sien nie. Nie een van die gesin is bewus daarvan dat Petra met doelgerigtheid weer die bande optel waar sy dit meer as ’n jaar gelede gelaat het nie. Hulle weet nie dat Eugene, verskeur deur skuld en skaamte, ’n verbete stryd teen die lis van ’n vernederde vrou stry nie.

Daar is ’n ongeduld en rusteloosheid in Petra toe sy die Saterdagmiddag verklee vir tennis. Sy kan haarself nie begryp nie. Dít waarna sy so lank uitgesien het, is nou binne haar bereik. Tog is dit of sy geen bevrediging daaruit put nie. Tot dusver was haar en Eugene se teedrinkery onskuldig genoeg. Weliswaar het daar nog nooit werklik iets plaasgevind waaroor hy of sy skuldig of skaam hoef te voel nie, maar sy kon die afgelope tyd aan die uitdrukking in sy oë sien dat daardie fase vinnig aan ’t verbygaan is. Uit die aard van die saak sien hulle mekaar nie nou so dikwels vandat sy nagdiens doen nie. Maar hy het haar vanoggend voorgekeer voordat sy van diens af is.

“Sien ek jou vanmiddag?”

Sy het ontwykend geantwoord: “O, ek weet nie. Ek was van plan om tennis te gaan speel.”

“Tennis? Van wanneer af speel jy tennis? Jy het nooit …”

“Ek het intussen geleer,” het sy geglimlag.

Sy oë het bewonderend op haar gerus. “Wat het jy nog alles geleer?”

Die grys oë het hom openlik getart. “O, om goed te dans en … sommer baie ander dinge ook.”

“Ek wonder of dit die waarheid is. Mag ek ’n bietjie ondersoek instel?”

“As jy wil.”

“Ek kry ook nou skielik weer lus vir ’n potjie tennis. Ek het maande laas gespeel. Mag ek saamkom?”

“Natuurlik.”

“En daardie dansstorie van jou … mag ek dit ook toets? Vanaand?”

“Jy glo my nie?”

“Ek weet soms nie wat om te glo nie, Petra.”

Sy het gelag. “Nou goed. Jy kan self vanaand agterkom of ek die waarheid praat of nie.”

’n Ongemaklike frons het tussen sy wenkbroue verskyn. “Ek sal jou nie na ’n te weelderige plek kan neem nie.”

Sy het begrypend geknik. Natuurlik nie. Hy sal aan sy vrou moet verduidelik hoekom hy op ’n Saterdagaand skielik ’n aandpak aantrek.

Toe Eugene daardie Saterdagaand sy huis binnestap, tref hy sy skoonma nog daar aan. Hy buk en soen sy vrou.

“Lekker gespeel, my skat?” wil Paula weet en probeer glimlag. Haar ma is reg. Sy durf nie selfsugtig wees nie. Eugene het ontspanning nodig. Dis nou al maande dat hulle so gekluister in die huis sit. Weliswaar kom hy bedags uit, met ander mense in aanraking, nie soos sy wat dag ná dag teen die vier mure moet vaskyk nie. Maar ’n man is anders, het haar ma vanmiddag gesê. Eugene werk hard. Hy het ontspanning nodig. Sy kan nie verwag dat hy hier by haar moet sit nie.

“Dit was lekker, dankie. Ek gaan gou stort.”

’n Rukkie later lui die telefoon, net toe Mara op die punt staan om huis toe te gaan. Hy keer haar voor, lyk verleë. “Ek is jammer, maar ek het gewonder …”

“Ja, Eugene? As ek kan help …”

“Dis die hospitaal. Hulle soek my daar. Ek sal seker ’n rukkie uit wees. Kan u nie nog vertoef nie, asseblief?”

Mara glimlag gerusstellend vir haar skoonseun en sit haar handsak weer neer.

“Natuurlik sal ek, my kind. Ek bel net vir Kerneels om te sê hy moet ook hierheen kom. Dan maak ek sommer vir ons almal hier kos. Ek sal joune in die lou-oond bêre.”

“Dankie, Ma.”

Kerneels is op pad uit toe Petra in die sitkamer verskyn. “Is jy dan nie aan diens vanaand nie?”

“Nee. Dis my nag af. Ek gaan ’n bietjie uit … na vriende.”

Hy knik. “Ek gaan na Paula-hulle toe. Mamma het gebel. Eugene moes hospitaal toe. Ons sal daar by haar bly totdat hy terug is.”

“Goed. Paps kan maar sluit. Ek het die duplikaatsleutel. Ek gaan sommer nou.”

Net toe hy in sy motor wil klim, draai ’n vreemde motor by die hek in. Hy kyk die man wat uitklim ietwat verbaas aan, stap dan vriendelik nader.

“Dokter Wagner! Goeienaand. Dis ’n aangename verrassing. Kom gerus binne.”

“Dankie, meneer Prinsloo, maar ek sien u is op pad uit.” Die oë kyk oor Kerneels se skouer na die huis. “Petra tuis?”

“Nee. Ongelukkig nie. Sy is uit. Maar kom gerus ’n oomblik binne. Ek is nie haastig nie; was net op pad na my ander dogter. Dié verwag en haar man is hospitaal toe geroep. Hy is ook ’n dokter. Ons wil Paula nie graag in hierdie stadium lank alleen laat nie.”

“Wat makeer?” Die vraag is skerp.

Kerneels verduidelik en sê dan: “Ek is jammer Petra is vanaand uit. Sy is nou op nagdiens en dis haar nag af.”

“So? Dan het sy weer begin verpleeg? Waar?”

“In haar ou hospitaal. Sy is weer teatersuster. Het sy geweet u kom?”

“Nee. Ek … het sommer skielik besluit om te kom kyk hoe dit met haar gaan.” Hy glimlag vir die ouer man. “My eie skuld dat ek op ’n Saterdagaand hoog en droog sit! Petra sal natuurlik nie ’n tekort aan afsprake hê nie. Ek moes dit vooraf geweet het.”

Kerneels Prinsloo frons, sê amper meer tot homself as tot die dokter: “Dis juis die ding. Ek het haar nog nie een keer met ’n man sien uitgaan nie.”

“Nie? Maar u sê dan sy is vanaand uit.”

“Ja, maar sy is alleen hier weg.” Hy glimlag, voel skuldig dat hy sy dogter met hierdie vreemde dokter staan en bespreek. Dié man het maar net die reeks operasies op sy kind uitgevoer. Dis ál. “As u nie ’n ander afspraak vir vanaand het nie, kan ek u nooi om saam met ons te kom eet. My vrou het gesê sy maak sommer daar by my dogter kos, en ek kan u verseker sy is ’n puik kok. U is baie welkom …”

“Dankie, meneer Prinsloo. Dis vriendelik van u.” Hy frons, dink na. “Ek moet nog ’n draai in die stad maak, maar … gee my die adres. Miskien slaan ek tog daar uit. Ek sal graag Petra se familie wil ontmoet.”

Petra sou nie so gerus in Eugene se geselskap gesit het as sy moes weet watter “draai” dokter Klaus Wagner gemaak het voordat hy by haar suster se huis aanklop nie. Klaus Wagner kan ’n baie innemende mens wees as hy wil. Hy glimlag verskonend, baie sjarmant, toe die deur oopgaan.

“Ons het al by die kliniek ontmoet. Goeienaand, mevrou. Ek is jammer dat ek sommer hier instorm, maar u man het gesê u is ’n baie goeie kok!”

Mara glimlag en nooi hom vriendelik binne. “U is baie welkom, dokter. Kom maak u gerus tuis. Die kos is al gereed, maar ons wag nog om te kyk of my skoonseun nie betyds vir ete sal terug wees nie. Kom, laat ek u solank aan my dogter … my ander dogter voorstel. Sy is in die bed. Sy voel nie so goed nie.”

“So het ek by meneer Prinsloo gehoor. Ek sal haar baie graag wil ontmoet.”

Later eet hulle maar, en nog later staan Klaus op. “Dit was ’n aangename aand. Baie dankie. En mevrou, u man het geensins oordryf nie. U is ’n puik kok. Baie dankie.”

Die Prinsloo-egpaar glimlag hom vriendelik toe. Dit was werklik ’n baie aangename aand. “Kom kuier gerus weer, dokter. U sal Petra seker weer kom opsoek?”

“Baie beslis, mevrou. Ek sal haar beslis weer opsoek.”

Petra trek haar wenkbroue verbaas omhoog toe sy die volgende dag verneem dokter Wagner het onverwags kom besoek aflê. Dan skud sy dit van haar af. Klaus Wagner is nie van belang nie. Tog voel sy haar hart ruk toe sy daardie aand voor die hospitaal stilhou en ’n bekende gestalte reg op haar afgestap kom.

Sy klim uit haar motortjie, onbewus van hoe ’n pragtige prentjie sy in haar wit uniform met die aandskemering agter haar is.

“Ek wil jou spreek.” Geen groetwoord nie. Net die kortaf bevel.

“Ek moet aan diens gaan.”

“Daar is nog ’n kwartier oor. Klim in.” Sy het geen ander keuse nie as om terug in haar motor te klim, en hy skuif langs haar in. “Waar was jy gisteraand?”

Sy kyk hom onskuldig aan.”Ek het ’n afspraak gehad.”

“So het ek verneem … met Eugene Minnaar.”

Haar oë vernou, en dan kyk sy hom spottend aan. “Jy sal ’n swak speurder uitmaak.”

“’n Goeie een. Jy is alleen van die huis af weg en ene dokter Minnaar is nooit gisteraand deur die hospitaal ontbied nie.”

“En dit beteken nou …?”

“Dat hy ’n leuen aan sy vrou en skoonma vertel het, want hy het uitdruklik gesê die hospitaal het gebel en hy sal ’n hele ruk besig wees. Om elfuur was hy nog nie tuis nie. Dit help nie om my so onskuldig te sit en aankyk nie, Petra Prinsloo. Jy het gisteraand ’n afspraak met jou suster se man gehad.”

Sy kyk hom woedend aan, maar ook met ’n vae ongemak en vrees in haar. Toe sy vanoggend hoor Klaus Wagner het nie net na haar kom soek nie, maar ook saam met haar ouers en Paula geëet, tot elfuur die aand daar gekuier, het sy reeds ongemaklik begin voel, wetende dat hy nooit iets sonder ’n rede doen nie. Hy is nie die soort man wat hom sommer aan ander mense sal opdwing nie, nie sonder ’n baie goeie rede nie.

“Hoe ver het hierdie ding al gevorder?” is sy volgende vraag, en dit verg moed om op te kyk in sy oë.

“Ek kan nie begryp …”

“Ek het jou reeds gesê dit het alles met my te doen. Dis deur my toedoen dat jy vandag met ’n mooi gesig en verleidelike liggaam rondloop.”

Sy probeer die skyn van traak-my-nieagtigheid behou. “Dis mý saak. Moet asseblief tog nie vir my sê jy het nou ’n verwronge obsessie oor my ontwikkel nie. Dis heeltemal onnodig én ongevraag. Verskoon my nou …”

Sy hand gryp haar een skouer vinnig vas, hou haar teë.

“Nie voordat ek klaar is nie. Al wat jy besit, is ’n vals uiterlike skoonheid. Eugene Minnaar – en ander mans – sal ’n rukkie daardeur betower word en dan sal hulle deur jou sien – ’n mooi, leë pop. Wanneer die aardigheid van die popspelery verby is, sal jy agterkom ’n man wat sy sout werd is, soek na veel meer in ’n vrou as blote streling vir die oog. Dan gaan jou suster jou een voor wees.”

Sy is bleek toe sy na hom opkyk. “Jy dink nie ek is ook in staat om ’n man ’n kind te gee nie?”

Sy krimp voor die amper openlike bejammering in sy oë. “Jou arme, verdwaalde mens! Dis nie bloot deur ’n baba dat ’n vrou waarlik vrou vir haar man word nie. Daardie kind word groot, gaan later weg … en dan moet sy nóg haar man se lewe kan vul. Jy het geen benul wat dit alles behels om ’n vrou vir ’n man te wees nie. Jou suster weet dit. Sy is glad nie die leë, mooi vlinder waarvoor jy haar al die jare aangesien het nie; die vrou wie se man jy maklik kan steel nie. Jy het ’n sterk teenstander in jou suster, Petra. Dis jy wat eindelik die seerste gaan kry. Jy gaan die aftog moet blaas. Wanneer die toets kom, gaan jy faal en jou suster met vlieënde vaandels slaag. Al waarvan ek nie seker is nie, is of Eugene Minnaar die stryd werd is.”

Sy ruk haar skouer onder sy hand los, klim uit en buk dan weer sodat sy na hom deur die venster kan kyk. Sy sis die woorde uit: “Bly weg van my! Ek wil jou nooit weer sien nie!”

Petra is koel en afsydig daardie aand, selfs toe Eugene ná sy aandronde gou by die operasiesaal inloer. Gistermiddag toe hulle saam tennis gespeel het, en gisteraand toe hulle saam gedans het en diep in mekaar se oë oor die flikkerende kerslig gekyk het, het sy reeds die soet smaak van die komende oorwinning geproe. Dit sou nie meer lank wees nie, dan sou sy begeerte na haar sy skuldgevoel oor Paula oorwin. En dan …

Haar planne was mooi agtermekaar. Die eerste keer sou sy, Petra, die een wees wat iets van haar suster steel … soos sy, Paula, al die jare alles en almal van haar gesteel het. En dan, wanneer Eugene sy vrou, sy kind, sy huis, alles laat vaar het om háár te bekom, sal sy haar rug op hom draai; hom laat voel hoe dit voel om vir die gek gehou te word; hoe dit voel om tot in die stof verneder te wees. Dan sal haar weerwraak volkome wees. Sy sal die rug op hulle almal draai en dan eers haar nuwe toekoms werklik en met oorgawe tegemoetloop. Maar eers die afrekening …

Maar Klaus Wagner sê dis sý wat gaan verloor; dis sý wat op die ou end die seerste gaan kry … Na die duiwel met hierdie onmoontlike wysneus.

Sy frons geïrriteerd toe sy Eugene aangeloop sien kom. Dan laat sy haar oë sak. Sy kan haarself nie begryp nie. Selfs gisteraand al het sy bewondering haar verveel. En die genoegdoening terwyl hy haar baie subtiel die hof gemaak het, was nie so waffers soos wat sy verwag het nie. En dis alles daardie inmengerige Klaus Wagner se skuld! As hy haar net wil uitlos …

“Ek móét jou vanaand sien, Petra.”

“Ek is die hele nag aan diens.”

“Dan môreaand.”

Sy knik. “Goed. Ek werk ’n halfnagskof. Ek kom twaalfuur van diens.”

“Bel huis toe en sê die hospitaal soek my. Ek sal jou hier kry.”

Sy knik, kyk hom agterna. Hy eet klaar uit haar hand.

Toe sy die volgende oggend van diens gaan, ry sy nie reguit na haar ouerhuis nie. ’n Ruk later stap sy by Paula se kamer in, kyk af op haar suster wat duidelik nie gesond is nie.

“Môre. Ons het mekaar lank laas gesien. Hoe gaan dit?”

Paula kyk haar moeg aan, en Petra voel haar hart eienaardig saamtrek. Sy lyk so weerloos! Dis vreemd om Paula so kwesbaar te sien. “Goed. Dis nou nog net ’n maand. Eugene sê hulle sal probeer om die baba net oor agt maande aan te bring.” Dan rek haar oë. “Jy … jy verpleeg weer?”

“Ja.” Petra kyk haar verbaas aan. “Lankal. Het Eugene jou nie gesê nie?”

“Nee.”

“O, wel, ek het net kom inloer. Gaan jou goed. Is daar iets wat ek vir jou kan doen?”

“Nee, niks nie, dankie.”

“Dan stap ek maar.”

“Petra …”

“Ja?”

Die twee susters se oë ontmoet. “Toe ek met Eugene getrou het, was ek nie blind vir sy swakhede nie. Maar ek het hom opreg liefgehad. Ek het hom nie sommer net getrou om … om hom van jou te steel nie. Ek het my man lief … en ek gaan nie toelaat dat jy hom van my wegneem nie … Jy wil hom nie regtig hê nie … nie omdat jy hom liefhet nie. Petra, ek weet nou hoekom jy jou laat mooi maak het. Maar wat jy nie weet nie, en wat ek geleer het sedert ek getroud is, is dat ’n vrou nie hoef mooi te wees om ’n vrou vir haar man te wees nie. Die bande wat ’n man en vrou werklik bind, lê veel dieper as die vlees, het eintlik niks met uiterlike skoonheid te doen nie. Dit lê binnekant … en binnekant kon Klaus Wagner jou nie mooi maak nie.”

Ena Murray Keur 9

Подняться наверх