Читать книгу Pad na jou hart - François Bloemhof - Страница 12

Оглавление

8

Die oomblikke is soos ’n kaleidoskoop van indrukke wat verskillend lyk en eenders voel. Hy staan in die storthokkie onder die warm, amper kokende water en … ervaar niks. Net hitte wat sy lyf brand, niks hier binne nie. Die water stroom soos trane oor sy gesig, dis die naaste wat hy aan tjank gaan kom.

In die half toegewasemde spieël is sy gesig verwronge. Hy kan nie sien wat daardie mens dink nie, indien enigiets. Hy doen verwoed opsitte, verbete.

En dit raak eenuur en tweeuur en hy slaap nog nie. Maanlig stroom by die venster in. Die alarm langs sy bed lees 03:42, maar hy kyk skaars daarna. Hy lê en staar na die plafon.

Dan is hy uit die bed, trek ’n hemp oor sy kop en haal sy skoene uit die kas uit.

Gooi goed in ’n tas. Jy kan nie reis sonder ’n goeie tas nie.

In wat voel na die volgende oomblik, is hy in sy motor. Dit kan nie werklik net die volgende oomblik wees nie, maar hy kan nie onthou dat hy by die voordeur uit is en met die hysbak ondertoe en dat hy na die Aston toe geloop het nie, hy’s sommer net hier in dit. Jaag deur die stil strate met klipharde musiek.

’n Verkeerslig is groen … raak oranje. En rooi.

Hy trap die petrolpedaal harder in en skiet oor.

Op ’n manier het hy by die gebou gekom. In sy kantoor. Hy wil bewe, sy hande is nie flink genoeg om sy brein se bevele te gehoorsaam nie. Hy gaan sit agter sy lessenaar en wil homself kalm dwing. Skakel die lampie aan.

Langs die portret van hom en sy ma gewaar hy die goue voorwerp, en skielik is daar stilte in hom. Hy weet dis ’n rustigheid wat nie kan hou nie, maar tog, hy kalmeer. Sy pa moes die kompas hier gelos het.

Hy tel dit op, wil dit oopmaak. Dit wil nie. Hy draai dit om, kyk na die inskrywing agterop:

VIND JOU WARE NOORD

’n Uitdaging.

Goed dan. Hy aanvaar dit.

Hy druk dit in sy sak. ’n Deel van sy pa sal hy die volgende paar dae met hom saamdra.

Hierdie keer is hy bewus van elke tree na sy motor toe. Die twee van hulle gaan immers die volgende klompie dae baie tyd in mekaar se geselskap deurbring.

Hy klim in. Dis nog donker, maar die dag kom nou vinnig nader. Op ’n manier het die nag toe tog verbygegaan.

En hy vat die pad.

Pad na jou hart

Подняться наверх