Читать книгу Pad na jou hart - François Bloemhof - Страница 16

Оглавление

11

Dis seker ’n mooi huisie, maar op ’n klein en nederige manier, wat beteken dit is nie vir hóm mooi nie. Hy het lankal agtergekom nederigheid is ’n verloorder se beste poging tot waardigheid. Afgepleister en met ’n rietdak en houtpilare op die sementstoepie staan dit daar.

Teen die muur is ’n groot skoen wat as advertensiebord dien, en dit verklaar:

TOE-MA-SHOE’S

Hmm. Basson weet nie wat hy verwag het nie, maar nie dít nie. Toe-ma-shoe’s?!

In sy lewe was sy pa ’n man vol verrassings. Hy kon seker nie verwag het dit sou ophou met sy dood nie.

Hy hou voor die huisie stil, net betyds om te sien hoe ’n groep mense van verskillende ouderdomme by die voordeur uitkom. Hulle hou boeke vas en Basson lei af hulle was hier vir onderrig … en dat die aansienlik ouer man wat nou sy verskyning maak dit gegee het. Moet hy wees.

Inderdaad. ’n Jong meisie groet: “Thank you, Mister Ndlovu.”

Nog een: “See you, Mister Ndlovu.”

Hy glimlag: “And remember …”

“Knowledge is power!” voltooi hulle die mantra.

“Oh, I almost forgot!” sê die man. “Remember to bring your assignments on business marketing for next week. Tell the others as well.”

Nou sukkel hy egter om hulle aandag te kry, want hulle het Basson en Lucky opgemerk. En die Aston.

“Mister Ndlovu,” laat Lucky hoor, ingenome om die draer van sulke nuus te kan wees, “this rich man is here to see you.”

“Thanks, Lucky.” Die man kom nader gestap. Sy grys hare laat hom nie ouer lyk nie; inteendeel, daardie grysheid teen die donker vel gee hom ’n statige voorkoms wat nie getemper word deur die trui wat minder verslete dae geken het nie. Hy het diep kepe tussen neus en mond, moet wees van dikwels so breed glimlag soos nou.

Basson steek sy hand uit en glo darem hy lyk nie so skepties as wat hy voel nie. Die man ignoreer egter sy hand, gryp hom aan die skouer en slaan oor in Afrikaans:

“Jy lyk net soos jou pa, man!”

Die skouergryp word ’n hartlike druk en Basson kry ’n kloppie teen die blad op die koop toe.

Thomas Ndlovu staan terug. “Kom in.”

“I’ll watch your car, sir,” verklaar Lucky.

Basson stap ongemaklik by die voordeur in, die man se arm om sy skouer. Hy dink nié hy lyk soos sy pa nie.

Die interieur is nederig en is ’n gekombineerde sitkamer en werkswinkel, met oral teen die mure, absoluut oral, portrette en foto’s en sertifikate en al wat ’n ding is. Maar die eerste iets wat behoorlik sy oog vang, is ’n klein vertoonkas vol antieke asook moderne modelmotortjies.

Astons.

“ ’n Meesterstuk,” sê Thomas Ndlovu. “By verre die Britte se beste werk. Sit, asseblief.”

Nederige stoel ook, maar Basson maak so. “Dit klink asof jy my verwag het en my pa geken het?”

Hy kry nie ’n antwoord daarop nie, tog is die stilte nie ongemaklik nie. Die man het twee koppies uitgehaal.

“Melk, twee suikers?”

“Uuuhhh … Ja. Dankie.”

When in Rome, herinner Basson homself.

Thomas begin tee maak. “Ek en jou pa kom al ’n lang pad. Saam gestudeer. Hy’t vir my gesê jy gaan kom kuier. Net nie gesê wanneer nie.”

Basson wonder of die man geweet het só ’n besoek sal na sy pa se dood wees.

“Hy het ook vir my gevra om vir jou ’n paar skoene te maak. Nommer nege, nè?”

“Skoene?” vra Basson wat nou moeiliker sy verbasing wegsteek. Maar laat hy eers iets anders opklaar: “Julle het saam geswot?”

Thomas knik en gee sy koppie vir hom aan.

Basson gaan voort: “My pa het by Oxford studeer.”

Hy vermoed sy agterdog het gewys. Maar wat gaan hier aan? Vir iemand wat skoene maak om voor te gee dat hy aan Oxford gestudeer het …

Uit Thomas se reaksie is dit duidelik dat hy dit opgemerk het, al is die breë glimlag nog daar.

“Ek weet, ons het albei in daai jaar die Internasionale Rhodes-besigheidsbeurs gewen.”

O. Oukei dan. Hy gaan nie in die bek geruk voel nie, hy’t maar net nie al die feite gehad nie. Hy kyk hoe Thomas beduie na ’n foto teen die muur:

Dis die twee van hulle by ’n gradeplegtigheid, hierdie man en Basson senior. Die portret hang tussen ’n sertifikaat en ’n groot familiefoto – dit móés ’n groot foto wees om al daardie mense in te kry.

“So,” sê-vra Basson, “jy’t ook ’n doktorsgraad in besigheid, wat de hel soek jy dan hier?”

Thomas Ndlovu lag. “Wel, ek het ook ’n vrou, en kinders, en ’n wonderlike, groot, uitgebreide familie … My pa was ’n skoenmaker. Hy het hierdie klein besigheid begin nog voor ek gebore is. En ek het, hoeka by Oxford, besef wat dit vir my en ons familie beteken het, so nou is ek hier.”

Hy kan seker sien Basson sukkel nog om dit alles klein te kry, daarom voeg hy by: “En met die hulp van mense soos jou pa, ontwikkel ek my eie gemeenskap en ons jeug.”

Basson weet nou: die man weet nié wat hierdie besoek teweeggebring het nie.

“Meneer Ndlovu, ek is jammer, maar my pa is gister oorlede.”

Die man raak stil. Dit vat ’n oomblik vir die nuus om in te sink, dan knik hy met ’n eerlike hartseer op sy gesig wat hy nie probeer verbloem nie.

Hy staan op. Loop uit.

Toe hy terugkom, is dit met ’n koevert en ’n paar skoene.

Vellies, sien Basson.

Vellies is só nie hy nie.

“Ek is regtig jammer oor jou pa. Hy was ’n merkwaardige man, en vriend. Hy het hierdie vir jou gelos.”

Basson neem die koevert by hom. Hy kan die aangedaanheid in die man se stem hoor, maar wil hom nie in die oë kyk en dit sien ook nie.

Hy maak die koevert oop. ’n Silwersleutel gly uit in sy handpalm, groot, maar nie die soort wat jy vir ’n deur gebruik nie. Dalk ’n kluis.

Hy vou die brief oop, herken daardie handskrif.

Begin dan lees:

Liewe Junior

Ek is bly jy kon vir Thomas ontmoet. Hy is een van my vriende by wie ek al die meeste geleer het.

Minder as ’n minuut later storm Basson by die huisie uit, na waar Lucky nog trots die Aston staan en oppas. Hy spring in, moet net hier wegkom.

Die motor jaag stof op, dit lyk of ’n tornado hom volg soos hy die huisie agterlaat. Maar sy pa se woorde, dié in die brief, dié oor Thomas Ndlovu, bly by hom.

Hy het ’n kans op wêreldse rykdom verruil vir iets baie meer waardevol.

Frustrasie! As daar een ding is wat Basson haat, is dit wanneer iemand hom ’n les probeer leer.

Hy het my gewys dat sukses op baie ander maniere as geld gemeet kan word. En my daardeur geleer dat ’n mens nie iemand se keuses in hierdie wêreld kan veroordeel nie. Nie voor jy ’n dag in hulle skoene geloop het nie. So haal diep asem …

Hy háál asem. Slaan rem aan. Die motor gly tot stilstand.

Basson spring uit. Skop die grondpad. Asof dit sal help! Die nutteloosheid, die sinloosheid van die gebaar krap hom net nog meer om, so, hy skop weer, skop met sy netjiese skoene. Dêmmit!

Hy gee ’n kreet, wat gesluk word deur die mooi omgewing. Maar niks is mooi aan ’n plek waar so iets van jou gevra word nie.

Haal diep asem, dink hy. Soos sy pa in die brief aanbeveel. Hy moet in gedagte hou dat sy pa seker maar dieselfde les moes leer as wat hy nou vir hóm wil leer. Sy pa het nooit voorgegee hy is volmaak nie. Baie foute, tot op die laaste.

Basson klim terug in die Aston en gee die instrumente­paneel nog ’n klap om die irritasie uit sy sisteem te help kry, of dit ten minste te onderdruk.

Ruil jou sleutels vir die skoene.

Ja. Regtig. Dis wat daar gestaan het, in daardie handskrif. Te laf om waar te wees, maar dis hoe sy pa die brief afgesluit het. Sy wens.

Die sleutels van dié ryding ruil vir skoene waarin hy nie dood gesien wil word nie!

Hy maak egter ’n driepuntdraai en ry terug na waar die paar vellies wag.

Hy’s weer by die huisie.

TOE-MA-SHOE’S

Weer by die voordeur. Lucky is daar om te sien hoe hy die kosbare sleutels in Thomas Ndlovu se hand lê. Ongeloof staan op die man se gesig geskryf, al is dit slegs die seun wat “Jô!” maak.

En net so raar is dit vir Basson. Is hy regtig besig om dit te doen?!

Maar die twee mans kyk mekaar in die oë. Al weet Basson hy verloor hier, en verloor geweldig, het ’n oomblik lanklaas vir hom so werklik gevoel.

Pad na jou hart

Подняться наверх