Читать книгу Pad na jou hart - François Bloemhof - Страница 5

Оглавление

1

Elke mens het ’n pad wat hy moet stap. Of nee, ’n klomp van hulle. Hulle lê daar vir jou en wag wanneer jy die wêreld binnekom, sommiges onveranderbaar en sommiges wat jy self sal inslaan.

Soos daardie feit vir ander mense geld, so geld dit vir Basson van Rensburg, net nog iemand met ’n reis wat op hom wag. Een van miljoene, maar met sy eie, spesifieke doel en bestemming.

Jy kan beplan soos jy wil, glo wat jy wil, jy kan jou roete mooi uitwerk. Maar al jou keuses en besluite?

Wel, hulle kan dalk help.

Of jou net mooi van die spoor af trek.

Basson van Rensburg, 27, ryk, aantreklik. Dis ’n goeie wegspring daardie, die bates van jeug, genoeg geld en goeie voorkoms. As jy na ’n gelukkige einde soek, gee sulke eien­skappe jou ’n voorsprong.

Maar.

Dis nie hoe dit werk nie. Om by ’n gelukkige einde uit te kom, moet jy weet wat jy soek en kan uitwerk hoe om dit te kry. En die beste moontlike einde is die een wat jou bring by iemand anders se hart. Dit is die moeilikste pad daai, en die wêreld lê wyd en die wêreld lê oop. Enige plek kan jy verkeerd afdraai. Die slaggate is net so wyd.

En só wag die elemente om in plek te val. ’n Son wat opkom soos hy nog nooit opgekom het nie. ’n Kompas wat oopgemaak word sodat die naald kan soek, soek, nes elke mens sy ware noord soek. Briewe wat geskryf word, padkaarte wat oopgevou word, sleutels wat oorhandig word, lyste wat gemaak word, ’n hartklop wat deur ’n onpartydige masjien gemeet word. Indrukke en brokkies wat saam ’n geheel moet vorm wat jy nie nou al kan voorspel nie.

Jy is dan nog maar by die begin.

Pad na jou hart

Подняться наверх